Die ding in die riete. Jean Lombard
‘Die baba! Die baba! Die slang! Die slang!’
Al vier van ons het gelyk opgespring en, saam met Juanita, die gang opgestorm. Toe ons by die deur van die slaapkamer kom, het ek vir die eerste maal opgemerk dat Boy ’n dubbelloopgeweer in sy hande had. … Nooit sal ek die verskriklike skouspel vergeet wat ons in die dof verligte slaapkamer aanskou het. … klein Marie was op die groot bed – waarskynlik slegs tydelik – aan die slaap. Ek kon haar klein gesiggie duidelik sien, met die lippies half oop en die skyn van ’n glimlaggie op haar mondjie. Sy was in die middel tussen die slaapplekke van haar moeder en vader, wat aangedui word deur die plasing van die nagklere. Op Marie, ons gasvrou, se kussing, waar haar geborduurde nagrok opgevou was, sien ons die vreeslikste slang wat ek ooit in my lewe teëgekom het. Ek dink die ontsettende omgewing het daartoe bygedra om die dier in ons verbeelding te vergroot en sy wrede en dreigende voorkoms meer afskuwekkend te maak. Dit was ’n swart mamba van ongeveer twaalf voet lank. Hy was in twee kringe op Marie se nagrok opgerol met die orige van sy lyf in die lug omhoog, wat hom ’n hoogte gegee het van minstens ses voet bo die ledekant. Die nek was gebuig, met die oop bek in ons rigting. Ons kon dadelik die glinstering van sy oë en die glans van sy slagtande sien. Hy swaai stadig van kant tot kant, wat elke keer sy vreeslike kop direk bo die slapende kind bring.
En te midde van ons radelose geraas en vasklou, tree Juanita skielik oorheersend te voorskyn. Ek had haar tevore nie opgelet nie. Wat ek eerste gesien het, was dat sy tussen ons deurdruk sonder om ’n woord te sê. Met een hand ruk sy van Marie se skouers ’n wit tjalie – dieselfde tjalie wat oor die stoel gehang het die nag van die gebeurtenis op die veranda. Sy stap die kamer binne met die tjalie in een hand, en toe sy voor die bed kom, begin sy dit met altwee hande na die slang toe te waai. Haar gedrag het ons almal tydelik versteen en van alle krag beroof. Ek dink ons het almal die gevoel gekry dat sy kennis besit wat haar tydelik meesteres van die situasie maak. Stadig sak die reuse-slang in een vou op die ander inmekaar, en net toe die laaste kring op die kussing neersak, gooi Juanita die tjalie oor hom. Sy gryp die kussing tesame met die nagrok en slang in een bondel en loop na die venster, wat onder oop was. Met een beweging gooi sy die hele drag deur die venster en skuif vinnig die raam toe. En nog was sy die eerste om die kind op te tel en in haar arms vas te druk. Daar was ’n kort worsteling tussen haar en die moeder, want Juanita wou die kleintjie nie loslaat voordat sy die gesiggie met soene bedek het nie. Daarna was daar ’n algemene omhelsing; ek onthou dat ek gesien het dat Boy die jong vrou in sy arms neem en herhaaldelik op die wange soen, met die uitroep: ‘Juanita, jy het my kind gered!’
’n Omruiling van rolle vind plaas: die “halfbloed” is nou die “meesteres” van die slang en sy beskik oor kennis wat lewens kan red of vernietig. Deur middel van die slang word morele en politieke kwessies van daardie tyd gekompliseer en die leser word bewus gemaak van die fyn lyn tussen geloof (soort hoort by soort) en bygeloof (toordery met slange) en die verreikende gevolge wanneer dié sake verwar word.
Met ’n volgende uitstappie hoor hulle ’n beeldskone lied wat in Portugees gesing word. By ’n groepie hutte, oftewel ’n kraal, kom hulle op Juanita af:
Om die heupe was gebreide beesvel-voorskote wat tot aan die knieë reik. Haar hele mondering was met skitterende krale uitgewerk, en om hals, arms en enkels was die gewone versameling koper- en ysterringe. Sy staar ons geruime tyd verbysterd aan, en ek dink nie dat ek ooit in my lewe iets so mooi en so passend by die wilde natuuromgewing gesien het nie. … Die lyne van buuste, arms en bene was beeldskoon. Daar was nie die minste beweging of poging om die boesem te bedek nie; daar was in hierdie opsig die volstandige natuurlikheid van die gewone swart vrou. Haar houding, haar gebare, die nadrukskeppende geluide wat haar woorde vergesel, was dié van ’n gewone inboorling. … Sy beantwoord De Ville se uitroep met ’n skel gelag, waarvan die geluid alleen genoeg sou gewees het om haar as ’n naturel te bestempel.
Saam met haar vertaal hulle hierdie pragtige lied wat met sy wanhoop, “groot verlange” en nimmerbereikbare liefde later as een van die credo-gedigte van Marais bekend sou word. De Ville huiwer ook nie om die Diep Rivier, die donker stroom, as die slang te verklaar nie, simbool van sowel die dood as die uiteindelike omhelsende droom waarin alle smart en verlange tot ’n einde kan kom:
O Diep Rivier, O Donker Stroom,
hoe lank het ek gewag, hoe lank gedroom,
die lem van liefde wroegend in my hart?
– In jou omhelsing eindig al my smart;
blus uit, O Diep Rivier, die vlam van haat; –
die groot verlange wat my nooit verlaat.
Ek sien van ver die glans van staal en goud,
ek hoor die sag gedruis van waters diep en koud;
ek hoor jou stem as fluistering in ’n droom,
kom snel, O Diep Rivier, O Donker Stroom.
Die rol van water in baie slangverhale is eintlik logies. Wanneer ’n mens die kronkelinge van riviere deur ’n landskap bekyk, is dit nie moeilik om die verband tussen “slang” en “water” raak te sien nie. Wanneer droë rivierlope ná ’n goeie reënbui stromend afkom, is daar eweneens ooreenkomste met die gekronkel van ’n slang, en altyd stel dit beweging en transformasie voor.
Dit is egter eers met die ondervraging van Juanita dat die volle konteks van haar dilemma duidelik word.
‘Hoe sal ek ’n vryer hê of aan liefde dink? ’n Blanke sou my verag en ek verag ’n kaffer. Ek staan op ’n spits tussen twee afgronde. Daarom is die liefde vir my ’n verbode ding. Sien u, kolonel De Ville, dit is die swart bloed in my are. Die wit bloed tel nie. Miskien is die swart bloed in my are die Donker Stroom waarvan die lied melding maak!’
Juanita beskou die slang as ’n simbool van die swart bloed in haar are, maar sy gebruik die slang om haar lewe, wat deur ’n politieke struktuur vernietig word, fisiek te transformeer sodat sy die man en die kind wat sy liefhet, kan behou, terwyl die een wat in haar pad staan deur ’n verdoemende beeldskone verteenwoordiger van die natuur verwyder moet word.
Die verhaal betrek die numineuse wanneer die skrywer begin om die slang te “verklaar”, en dán begin die leser ook Juanita se dilemma begryp. Die twee vriende kan wel die slange se teenwoordigheid wetenskaplik analiseer en verklaar, maar dit is eers ’n werklike konfrontasie met die slang, asook Juanita se optrede tydens dié voorval, wat hulle die tragedie van haar lewe laat verstaan, ’n tragedie veroorsaak deur die land se kleur- en ras-obsessie.
Ek het gevoel dat haar Donker Stroom iets simbolies agter in haar gemoed was en dit het my skielik te binne geskiet dat haar Donker Stroom die swart mamba was. En toe het stadigaan die hele tragedie van haar lewe in my verbeelding ontvou. Ek kon die storie van haar ongelukkige liefde maklik besef; ek kon begryp wat in so ’n onstuimige siel te voorskyn mag kom; en bo alles was die sonderlinge verdubbeling van persoonlikheid, waaronder die ongelukkige skepsel belas gegaan het, ’n toestand wat gestrek het om haar gemoedstorms veel meer ingewikkeld te maak.’
Ek moet nog net dit byvoeg: twee dae later is die lyk van Juanita in die populierbos gevind met twee slagtandmerke op haar skouer. Sy was in haar naturellekleding en had nog ’n sakkie met klierstof in haar besit. So het sy haar Diep Rivier eindelik self deurwaad.
In die tweede laaste paragraaf word geïnsinueer dat “die sonderlinge verdubbeling van persoonlikheid” die hoofoorsaak was vir haar tragiese einde – dit was dus haar lot as “halfbloed”. Maar dit is juis deur die slang, deur haar gebruik van die slang op grond van suiwer wetenskaplike kennis sowel as sangoma-advies, en daarmee saam die elemente van skoonheid, mag, vernietiging, liefde en kreatiwiteit, dat die kompleksiteit van die verhaal tuisgebring word. Die leser kom algaande onder die besef dat daar vir iemand wat nie “inpas” nie, ongeag ’n verbysterende skoonheid, of intelligensie en kennis en die vermoë om ’n aangrypende lied te skryf, geen toekoms is in ’n bedeling waar oor multikulturele veeltaligheid gefrons word nie.
Op hierdie wyse word die gewone folkloristiese rol van die slang ’n nuwe konteks, vorm en inhoud gegee, naamlik om in gesprek te tree (en nie noodwendig om te veroordeel nie) met die manier waarop die Afrikaner destyds alles in terme van die “suiwer ras” hanteer