'n Bruid vir Graaf Debussy. Ena Murray
dat hierdie delikate saak tussen hulle uitgestryk moet word. Dit kan nie langer so voortgaan nie. Jean-Paul is dertig. Voordat hy sy kop vir goed neerlê, wil hy weet sy seun is met ’n goeie vrou getroud, en indien moontlik, wil hy nog die draer van die volgende geslag Debussys in sy arms vashou.
Maar Gustave Debussy moes lank op sy seun wag. Die ou klok het hom vertel dat dit reeds lank ná middernag was toe hy die voordeur hoor oopgaan en sy seun in die deur sien verskyn het. Jean-Paul het eerlik verbaas gelyk om sy pa so laat nog op te sien.
“Waar was jy?”
“Is dit van belang? Van wanneer af moet ek rapporteer oor my kom en gaan? Ek is dertig, nie dertien nie.”
“Presies. Jy was al dertig. Elke man van dertig is getroud en het kinders en is hierdie tyd van die nag by sy huis. Maar jy flenter rond.”
“Waaroor gaan dit, Pa? Ek wil gaan slaap.”
“Dit gaan oor die feit dat jy nie getroud is nie en blykbaar nie van plan is om te trou nie. Behalwe as jy dit dalk in jou kop kry om Frances Malraux te vra, en dit, kan ek jou sê …”
“Is ondenkbaar. Dit weet ek. Dan vrees ek Pa sal maar geduld moet gebruik. Ek is nie van plan om my in hierdie saak te laat voorskryf nie. Ek sal trou wanneer ék wil.”
Die vader het net ’n oomblik geaarsel, en toe vasbeslote sy ultimatum gestel. Nou is dit stil tussen hulle. Wat gesê moes word, is gesê. Hulle verstaan mekaar duidelik. Met ’n kortaf naggroet verdwyn die seun in die gang af en die ou man laat sy kop op sy hande sak.
“Monsieur …”
Gustave Debussy lig sy kop. “A, Marguerite! Wat maak jy hierdie tyd van die nag nog hier?”
“Ek het gewag dat u moet gaan rus, monsieur. Ek het vir u melk warm gemaak sodat u kan slaap.”
Hy neem haar hand en gee dit ’n drukkie. Sy gesig is moeg, en so ook sy stem. “Jy is jou gewig in goud werd, my liewe Marguerite. Wat sou ek sonder jou en Antoine gedoen het? Sê my, Marguerite, het jy vreugde van jou kinders, of maak jy joune ook net groot vir moeite en verdriet?”
Die ou Franse vrou glimlag, maar daar is erns in haar oë. “Verdriet het baie vorme, my heer. Dié wat die gewete bring, is die ondraaglikste, maar dit het u nie. U het u plig as vader gedoen.”
Die ou graaf skud sy kop, sug weer diep. “Daarvan is ek nie altyd so seker nie. Ek het Jean-Paul sonder ’n moeder laat grootword. Dit was ’n fout. Ek moes maar weer getrou het. Ag, wel, dis te laat om nou sulke foute te wil regmaak. Die dae van trou is verby. Vir my, altans. Tog … As Jean-Paul nie gehoor gaan gee nie, sal ek dalk weer daaraan moet dink. Dankie vir die melk, Marguerite. Gaan rus jy nou ook.”
“Ja, monsieur. Slaap gerus.”
Terwyl graaf Debussy beslis nie rustig slaap nie, en ook nie die jong Jean-Paul nie, is daar nog iemand op die landgoed wat rusteloos rondrol.
“Wat is dit met jou, vrou? Hoekom slaap jy nie?” Marguerite Vilar gee die stryd gewonne, steek die kers op en sit regop in die bed.
“Ek kan nie. Daar het vanaand dinge in die kasteel gebeur, dinge is gesê wat my bang maak.”
Antoine sit nou ook regop. Hy lyk ietwat potsierlik met sy slaapmus skeef oor sy kop. “Watse dinge?”
Sy vertel haar man van die heftige woordewisseling tussen vader en seun en die troefkaarte wat gespeel is. Die twee ou mense kyk mekaar bekommerd aan.
“Jean-Paul is koppig. Hy kan nie gedwing word nie. Hy sal eerder onterf word as om gedwing te word om met ’n vrou te trou wat hy nie gekies het nie. Die alternatief is ewe ondenkbaar. Graaf Gustave weer getroud op sy ouderdom …”
“Dis nie so erg nie. Maar om weer pa te word op sý ouderdom!”
Ou Antoine se oë rol. “Parbleu! Dit klink onbehoorlik!” Die ou vrou sug so diep soos haar heer en meester ’n rukkie gelede. “As Jean-Paul tog net verlief kan raak!”
“Wat van die Frances-vroumens?”
Marguerite snork. “Sy? Ek dink graaf Gustave is onnodig bekommerd oor haar. Jean-Paul het te veel verstand om hom deur háár te laat vang. Nee, hy is nog nie getroud nie, omdat hy nog nie die regte meisie ontmoet het nie. Maar om die regte meisie …” Sy swyg vinnig, kyk haar man veelseggend aan.
Antoine frons verward, en dan gaan daar ’n lig vir hom op. “Vrou, dink jy …?”
“Ons dink eenders, my man. Ek dink ons moet Jean-Paul help om die regte vrou te ontmoet. En ek dink ons albei dink aan dieselfde meisie.”
“Dit sal die wonderlikste ding wees wat kan gebeur, maar dink jy dis verstandig om haar hierheen te laat kom? Sê nou maar …”
“Sê nou maar niks! Dis dinge van dertig jaar gelede, en dis net ek en jy wat daarvan weet.”
“Ja, maar …” Ou Antoine frons diep. “Hoe gaan jy haar in elk geval hier kry? Onder watter voorwendsel?”
“O, daar is altyd ’n plan te maak.”
“Ja, ’n plan te maak. Soos dertig jaar gelede. En nou wil dinge skeefloop. Ek was nog nooit gerus oor daardie ding nie, Marguerite. As dit ooit moet uitkom …”
“Ag, Antoine, hou op met sanik! Dinge gaan nog reg uitwerk. Wag en kyk.”
Antoine Vilar en sy vrou weet nie dat die noodlot op hierdie oomblik besig is om die pad vir hul nagtelike ingewing oop te maak nie.
In ’n kamer op ’n kleinhoewe buite Marseille brand daar ook ’n kers hierdie late uur van die nag. ’n Vrou is besig om te sterf.
“Ma …?”
Dit lyk nie of die vrou op die bed haar hoor nie. Maar dan gaan die oë tog oop en die meisie moet vooroor buig om te hoor wat die bleek lippe fluister.
“Simone – jy moet na graaf Debussy se landgoed gaan … ná my dood. Na Marguerite Vilar en haar man. Jy moet vir hulle sê … sê ek …”
“Rus eers ’n bietjie, Mamma. Moenie Ma vermoei nie.”
“Nee, ek moet jou sê. Belowe jy sal gaan … na die Château D’Ussé. Daar sal jy … jy …”
“Ma!”
“Dis te laat. Sê … sê hulle moet jou …”
Dit ís te laat. Die vrou sluit haar oë vir ewig, en die jong meisie besef dit oombliklik. Nou is sy heeltemal alleen.
Sy vou die twee werkmoeë hande oormekaar, staan op en stap na buite. Haar oë is droog. Te lank het sy haar ma sien ly om haar nou nie die rus te gun nie. Maar sý lewe nog. Wat gaan van haar word? Aanbly op hierdie kleinhoewe waar sy sedert haar kinderdae soos ’n man werk? Altyd maar die wolf voor die deur hoor en nie seker wees waar môre se kos vandaan gaan kom nie?
Haar ma het gesê sy moet na die Vilars gaan. Sy het dikwels van hulle gepraat. Maar om by ander mense te gaan bly en genadebrood te eet … Dis nie sy, Simone Claudel, nie. Trou? Dis blykbaar die enigste ander uitweg vir haar. Maar met wie? Tog nie met een van die mans wat sy ken nie! Weggaan van die kleinhoewe af? Waarheen? Sy ken skaars Marseille, wat nog te sê die res van die groot wêreld buite die eng grense waarin sy haar lewe lank vasgevang was.
Dis eers nadat die begrafnis verby is dat sy, terwyl sy besig is om haar ma se goedjies uit te sorteer, op die brief afkom. Die handskrif is haar ma s’n en dis geadresseer aan Antoine en Marguerite Vilar. Dis verseël. Sy sit dit eenkant. As sy eendag by die Vilars uitkom, sal sy dit vir hulle gee.
In die daaglikse stryd om voortbestaan word hierdie brief vergeet. Sy onthou dit eers weer toe sy op ’n dag ’n ander brief ontvang. Dis geadresseer aan haar ma, en sy skeur dit oop. Dis ’n uitnodiging aan haar en haar ma om by die Vilars op die landgoed van graaf Debussy te gaan kuier.
Hier het belangrike wendinge gekom waaroor ons met jou moet gesels. Dis belangrik dat Simone saamkom. Beskou die saak as dringend en van groot belang.