'n Bruid vir Graaf Debussy. Ena Murray
die vaagste benul waaroor dit gaan nie. Al wat sy van die Vilars weet, is dat hulle en haar ma groot vriende was, hoewel die kontak die laaste jare hoofsaaklik per brief geskied het. Sy kan onthou dat die Vilars by hulle gekuier het toe sy ’n meisie van twintig, een en twintig was. Maar dis al. Wat op die landgoed van graaf Debussy kon plaasgevind het wat haar ma en veral háár raak, kan sy nie dink nie. Sy skud dit van haar af. Die ou mense oordryf seker maar. Sy voel skuldig dat sy hulle nie van haar ma se dood laat weet het nie. Sy kyk peinsend voor haar op die grond. Daar was soveel dinge wat haar besig gehou het, soos watter pad haar lewe vorentoe moet neem. Want dit het baie duidelik geword dat sy nie hier op die kleinhoewe sal kan aanbly nie. Sy sal moet verkoop en êrens ’n ander heenkome vind. Hoe en waar weet sy nog nie.
Maar môre is die vendusie, word alles waarvoor sy al die jare so hard gewerk het, in ’n paar frank omgeskep, en dan moet sy padgee.
Hoekom nie op die brief van die Vilars reageer nie? Sy kan net sowel in daardie rigting beweeg as in enige ander. Miskien kan sy nog werk kry in die kasteel. Dan sal sy darem by bekendes wees en nie so heeltemal verlore in die wêreld voel nie.
Die koets wat haar twee dae later wegvoer van Marseille en die klein wêreldjie wat sy tot dusver geken het, moet op pad oornag. Dit gaan eers die volgende dag by die Château D’Ussé van die Debussys verby. Sy voel geestelik en liggaamlik uitgeput toe hulle by die herberg langs die pad stilhou.
Sy en die twee ander passasiers, ’n getroude paar, wend hulle dadelik na waar ’n oop kaggelvuur in die groot herd hulle verwelkom. Daar word slaapplek vir die gaste gereedgemaak, en terwyl hulle daarvoor wag en vir kos wat voorberei word, gaan sit Simone by die kaggel met die hoofbedekking van haar mantel nog oor haar kop. Sy hou haar gesig afgewend na die vuur, want sy voel nie lus vir gesels nie. Noudat die spanning verby is, haar ma begrawe ná ’n lang siekbed, en die vendusie agter die rug, begin die besef van hoe hopeloos haar situasie werklik is, ten volle tot haar deurdring.
Die herbergier skink solank soetwyn vir die verkluimde gaste. Ná ’n oomblik van aarseling neem sy ’n glas. Sy is nie gewoond aan drank nie, maar vanaand gaan sy ’n uitsondering maak. Miskien sal die wyn ook die koue van die eensaamheid hier diep binne verdryf …
Dan, skielik, saam met ’n windvlaag, staan ’n vreemdeling in die deur. Hy stroop sy mantel van hom af. Dit is nat, want buite het triestige reënvlae teen die ruite begin val. Sy klere wys dat hy nie van die gewone hoipolloi is nie. Sy donker hare hang krullerig langs sy gesig af en in die lig van die lampe blink dit swart-blou. Sy oë flits vererg na die herbergier wat nie gou genoeg die nat mantel by hom neem nie.
“ ’n Bottel wyn – van jou beste! Wat ’n vieslike aand!”
Hy stap reguit na die kaggel en hou sy hande na die vlamme uit, en Simone kry kans om sy gesig duidelik te sien. Dis ’n ontevrede, onvergenoegde gesig, hoewel baie aantreklik. Sy kyk na die hande. Mooi en sag en goed versorg. Die hande van ’n edelman. Haar blik sak af na haar eie hande. Gebreekte naels, vel gebars, grof …
Sy sug sag, dan ruk haar asem in haar keel vas.
’n Hand het hare skielik vasgevat en trek dit nou na die lig van die vlamme. Sy kyk verskrik op en haar mantel val terug oor haar skouers, laat haar gesig weerloos oop. Stom kyk sy in die fronsende oë.
“Hoekom lyk jou hande só? ’n Jong dame se hande durf nie so lyk nie!”
“Ek …” Sy probeer haar hand loskry, maar al wat gebeur, is dat hy op een knie voor haar neersak en ook haar ander hand beetkry.
“Morbleu, maar jy is pragtig!”
Sy kyk hom ongelowig aan. Dan trek sy haar hande beslis uit syne. Sy kan nie onthou dat iemand al vir haar gesê het sy is pragtig nie. Daar was nog nooit tyd of geld om haarself pragtig te maak nie. Die vreemdeling spot met haar. Sy weet nie dat sy werklik ’n mooi prentjie in die lig van die vlamme vorm nie, dat sy heel besonders vertoon in haar somber roudrag en met haar grimeringlose gesig nie. Dat daar ’n eteriese skoonheid aan die maer, bleek gelaat kleef nie.
’n Glasie wyn skuif voor haar neergeslane oë in. “Kom drink ’n glasie wyn saam met my.”
“Dankie. Ek drink nie.”
“Jy was besig om te drink toe ek ingekom het. Kom. Nog ’n glasie sal jou warm maak. Jou hande is nog yskoud.”
Sy neem die aangebode drankie aan net om nie verder met hom te redeneer nie.
“Jy het met die koets gekom?” Sy knik net, neem ’n slukkie wyn en hou haar blik stip op die vlamme. “Waar is jou man?”
“Ek het nie een nie.”
“Is hy dood?”
Sy sluk weer, moet dan die vreeslike erkentenis doen: “Ek was nog nooit getroud nie.”
“Nog nooit?” Hy klink eerlik verbaas. “Hoe oud is jy?”
Sy pers haar lippe op mekaar, kyk dan uitdagend op. “Dertig.”
“Ongelooflik! Net ongelooflik!” Sy oë lag in hare af, die slegte bui van vroeër vergete. “Dan moet jy baie minnaars hê.”
Sy voel hoe haar wange verkleur. “Natuurlik!”
Sy hartlike lag weerklink deur die herberg. “Bravo, mademoiselle! Die lewe is daar om te geniet!” Hy hou sy glasie na haar toe uit. “Ons drink daarop – en op ons ontmoeting!”
’n Skielike roekeloosheid neem van haar besit. Hoekom nie? Die lewe is daar om te geniet, en wat het sy tot dusver daarvan gehad? Net harde werk en armoede. Sy kyk op, klink haar glasie teen syne en glimlag in sy oë: “Op ons ontmoeting!”
Later, toe die kos voorgesit word, kyk haar twee reisgenote goedkeurend na die vrolike geselskap aan die onderpunt van die tafel. Dis goed dat die stil meisie wat so treurig gelyk het op die lang reis, lag en vrolik is. ’n Mens is net een maal jonk. En haar metgesel is so ’n galante heer!
Sy hou haar hand oor haar glasie toe hy weer die bottel nader bring.
“O nee, regtig! Ek dink ek het genoeg gehad!”
Maar hy neem haar hand, druk ’n innige soen daarop en gooi weer haar glasie vol. “Jy is te pragtig om te dink! Laat mý toe om vanaand vir jou te dink. Kom ons speel ’n speletjie – ek en jy.”
Haar oë lag in syne. Ook vir speletjies was daar nog nooit tyd nie.
Hy leun nader, sy stem intiem sodat net sy dit kan hoor: “Kom ons speel dis net ek en jy hier. Daar buite guur die wind en swiep die reënvlae neer. Maar ons twee is veilig en warm hier binne voor die vuur, en gister het nooit bestaan nie. Al die dinge wat ons hinder, wat ons kwel, het saam met die wind verdwyn. Dis net ek en jy …”
Net sy en hy, en gister is verby, en daar is geen bekommernisse nie … Geen môre nie, net vandag en hy en die wyn wat warm deur haar bloedstroom gaan …
Die moeë egpaar wend hulle ná die aandete dadelik bedwaarts. Die herbergier, met ’n beterweterige glimlag, sit nog ’n bottel binne bereik van die man wat weer in die diep stoel voor die kaggel neergesak het met die mooi vrou onder sy blad ingekruip. Hy buig, sê goeienag en verdwyn diskreet.
Buite loei die wind om die herberg se hoeke, slaan die reën woedend teen die ruite aan. Maar binne gloei die kaggelhout warm, en word nog ’n leë wynbottel eindelik eenkant toe gesit. Toe haar ken opgelig word, kyk sy met dromerige oë op na die gesig wat oor hare buig, laat hulle dan toeval toe sy lippe hare stadig, meesterlik in besit neem.
Toe sy ’n rukkie later bewus word daarvan dat sy op ’n bed neergelê word, is dit of daar iets vaag in haar benewelde verstand roer. Maar sy hand druk haar saggies terug teen die kussings en sy stem is warm in haar oor.
“Jy is moeg. Jy het ’n ver pad gery vandag. Maak toe jou oë en slaap. Jy is veilig. Ek sal na jou kyk.”
Sy gehoorsaam instinktief. Hy sal na haar kyk. Iemand sal na haar kyk. Sy is nie alleen nie. Daar is eindelik iemand wat na haar sal kyk.
Sy voel koel, skoon lakens teen haar vel.