'n Bruid vir Graaf Debussy. Ena Murray

'n Bruid vir Graaf Debussy - Ena Murray


Скачать книгу
nie. Haar hande gaan omhoog, kruip deur sy swart krulle. Sy kreun saggies toe sy mond die holte in haar nek vind.

      2

      Die volgende oggend wag Simone tot die laaste minuut voordat sy dit waag om die kamer te verlaat. Sy weet dat hulle haar al seker aan die ontbyttafel vermis het, maar gelukkig het niemand kom soek nie. Sy kan egter nie langer wegkruip nie. Die koets gaan nou elke oomblik vertrek.

      Sy druk die deur oop, stap in die gang uit en sien die herbergier nader kom. Sy probeer hom nonchalant in die oë kyk, maar terselfdertyd lees sy in sy oë wat sy gevrees het. Hy weet! Hy, en seker ook die res, weet wat verlede nag gebeur het! Daar is ’n mislike draai in haar ingewande.

      “Die koets wag, mademoiselle! Is u gereed?”

      “Ja, dankie.”

      Hy neem haar klein tassie, die enigste bagasie wat sy het, by haar en wys dat sy voor hom moet stap, en weer is die veelbetekenende glimlag om sy mondhoeke. Sy stap met oë strak voor haar gerig die gang af, kyk nie links of regs nie.

      Die koetsier kom nader toe hy in die koel oggendlug uitstap. Daar is ’n frons tussen sy oë.

      “U het nie kom ontbyt eet nie? Voel u gesond?”

      Haar oë fladder sywaarts. “Ja, dankie. Ek eet nooit ontbyt nie.”

      “U lyk bleek.”

      “Dis maar my kleur.” Sy neem sy arm toe hy haar die treetjies ophelp. Die egpaar sit reeds en kyk haar vanoggend anders aan as gister. Hulle is ordentlike mense. Arm, maar ordentlik.

      Hulle het gedink sy is ook soos hulle. Gisteraand was hulle bly dat sy ’n bietjie vrolik was. Sy het hulle gister op pad vertel dat sy onlangs haar ma verloor het en dat sy heeltemal alleen op die aarde is, nou op pad na vriende van haar oorlede moeder. Hulle was bly dat daar so ’n galante heer verskyn het wat haar ’n bietjie kon laat lag. Maar lag en vrolik wees is een ding. Wat hulle vanoggend moes aanhoor, is iets anders. En sy het so ordentlik gelyk. Wys jou maar net, vandag se dae kan ’n mens nie meer peil trek op wat die oog sien nie.

      Sy trek die hoofbedekking van haar mantel weer oor haar en verskuil so haar bleek gesig teen die amper vyandige blikke van haar medereisigers toe die koetswiele begin draai.

      Strak staar sy na die landskap, maar sien niks raak nie.

      Toe sy vanoggend wakker word, was sy alleen in die kamer. Sy het vervaard orent gesit en kon nie haar omgewing dadelik plaas nie. Toe het herinnering teruggespoel, het sy onthou dat sy gister in ’n koets was op pad na die landgoed waar die Vilars arbeiders in diens van ene graaf Debussy is. Haar blik het deur die kamer gedwaal waar sy in die middel van die groot bed regop gesit het. Sy kon dit glad nie onthou nie. Maar sy het dadelik iets anders onthou. En eers het ’n warm gloed en toe ’n koudheid oor haar liggaam gesprei, en sy het die lakens hoog teen haar ken opgetrek, bewus daarvan dat haar naakte liggaam daaronder aan die bewe gegaan het.

      Haar oë het beangs deur die kamer gesoek, maar daar was geen teken van ’n man of ander bagasie behalwe haar eie powere tassie langs die bed nie. En daar langsaan het haar klere in ’n bondel op die vloer gelê …

      Dit was of haar verstand geweier het om te aanvaar wat met verblindende skok tot haar deurgedring het. Sy het teruggeval teen die kussings, haar oë gesluit, die bewerasie en verskriklike naarheid in haar ingewande probeer ignoreer. In haar slape het ’n hoofpyn begin klop.

      In die eerste oomblikke van besef was sy verlig en dankbaar dat hy weg was, vir goed weg was, soos die afwesigheid van bagasie getuig het. Daarna, toe nugter verstand die newels van skok begin deurdring het, het verligting en dankbaarheid plek gemaak vir ontsteltenis en skaamte, ’n gevoel van verguising wat sy nog nie by die naam kon noem nie, omdat dit iets is wat tot op hierdie oomblik aan haar onbekend was. Maar nou, terwyl die koetswiele haar al nader na die landgoed van die Debussys bring, kan sy die naakte feite nie omseil nie. ’n Vreemdeling – een wie se naam sy nie eens ken nie – het haar verlede nag gebruik, en vanoggend toe sy wakker word, was hy reeds weg!

      Nou, terwyl nugterheid en realiteit weer terugkeer, kan sy nie glo dat dit werklik sy was wat te veel wyn gedrink en toegelaat het dat ’n naamlose vreemdeling haar optel en kamer toe dra nie. Alles wat gisteraand en gedurende die nag gebeur het, druis in teen haar opvoeding en haar beginsels, teen alles wat haar ma haar geleer het, al die jare by haar ingeskerp het. Haar ma …

      Die trane rol stil, geluidloos oor die bleek wange, en sy laat hulle ongehinderd rol, sodat die oë in die oorkantste hoek niks sien nie. Op hierdie oomblik moet haar ma in haar graf omdraai. Sy probeer verskoning soek. Sy het so bitter alleen en verlate en verlore gevoel. So verdwaal buite die grense van die klein wêreldjie wat sy geken het. Sy het so verskriklik behoefte gehad aan simpatie en begrip, aan teerheid en beskerming.

      Maar die verskonings is nie bestand teen die groot aanklag van haar gewete nie. Wat haar amper die slegste laat voel, is dat sy nie eens die man se naam ken wat haar onteer het nie! En weer sidder sy voor die enigste verskoning wat sy kan aanbied – dat haar verstand benewel was van al die wyn wat vir haar geskink is! Sy kan nie eens aanvoer dat sy jonk en onskuldig is nie! Sy is al dertig en sy ken die feite van die lewe. Daar was al ’n paar mans wat met haar wou trou, maar sy was nie gretig om een van hulle as haar man te aanvaar nie. En Moeder, liewe Moeder, het ook altyd gekeer, altyd gesê dat daar iets beters vir haar in die lewe wag as ’n kleinhoeweboer van Marseille. As sy maar geweet het … Goddank, sy is dood. Sy sal nooit weet hoe hierdie dogter vir wie sy sulke hoë idea-le gekoester het, geval het nie. Sý is nou nie meer goed genoeg vir die kleinhoeweboere wat haar ma destyds nie goed genoeg vir háár geag het nie. Sy is nie eens goed genoeg om in ordentlike geselskap, soos dié van die egpaar saam met haar in die koets, te verkeer nie! Dit vertel die oë haar wat op haar rus en dan vinnig wegkyk. Vandag probeer hulle geensins ’n geselsie aanknoop nie. Hulle doen hulle bes om haar teenwoordigheid te ignoreer.

      Soos die koetswiele voortrol, droog die trane op haar wange, kry sy dit reg om die verskriklike skaamte en skuldgevoel terug te druk in die seer, geskokte hart. En dáár begin iets ontkiem, iets wat eendag net ’n bitter vrug kan dra, so bitter soos die smaak wat op hierdie oomblik in haar mond is – want wrok en weerwraak het nog nooit ’n soet vrug gedra nie. Eendag, eendag sal sy die vreemdeling van gisteraand weer raakloop. Hy sal haar waarskynlik nie onthou nie, want sulke mense het gewoonlik ’n kort geheue. Vir hom was dit net ’n tussenspel, ’n grappige insident. Nee, hy sal haar nie eens herken as hy haar na ’n ruk weer sien nie. Maar sy sal hóm herken. O, sy sal hom onmiddellik herken. ’n Mens vergeet nooit die persoon wat jou selfrespek skielik aan skerwe om jou laat lê nie.

      Toe die koetsier die perde inhou en die koets tot stilstand bring, kyk sy met ’n onverskillige blik op toe hy die deur oopmaak.

      “U wou by die Château D’Ussé afklim. Ons is nou hier. Moet ek inry?”

      Sy skud haar kop, tas na haar sak. “Dis nie nodig nie, dankie. Ek stap sommer hierdie entjie.”

      Sy klim uit, draai halfpad om om haar medereisigers te groet, en het dan nie genoeg moed daarvoor nie. Met ’n kopknik en ’n gedempte dankie aan die koetsier begin sy stadig aanstap na waar die kasteel tussen talle bome voor haar lê. Dis ’n pragtige toneel, maar die mooi het vir haar uit die lewe verdwyn en sy loop en kyk net reg voor haar voete. Dis moeite om net voort te beweeg. Sy het sedert gisteraand nog niks oor haar lippe gehad nie. En dit kos haar die bietjie moed wat sy nog het om aan te hou loop in die rigting van die kasteel. Sy het eerder lus om om te draai en onder die eerste die beste bos in te kruip en daar te bly lê en te bid dat sy liewer moet doodgaan.

      “As jy só bly voortstap, gaan jy die kasteel mis – as dit jou bestemming is,” sê ’n stem skielik skuins voor haar. Sy ruk tot stilstand en kyk op.

      Gustave Debussy stap nader en glimlag gerusstellend in die groot oë af terwyl hy haar sak by haar neem. “Ek neem aan jy is op pad na die kasteel?”

      “Ja.”

      “Ek sal saam met jou terugstap. Jy het afgedwaal van die pad.” Graaf Debussy kyk skuins na haar af, gee voor dat hy nie die geweldige spanning op die bleek gesig sien nie.


Скачать книгу