Die skuilplek. Corrie ten Boom
>
Die
skuilplek
CORRIE TEN BOOM
Saam met
John en Elizabeth Sherrill
Lux Verbi
Voorwoord
Terwyl ons die navorsing vir God se smokkelaar gedoen het, het een naam herhaaldelik opgeduik: Corrie ten Boom.
Dié Hollandse vrou – wat reeds iets in die 70 was toe ons die eerste keer van haar gehoor het – was Broer Andrew se gunsteling reisgenoot. Broer Andrew was ’n sendeling agter die Ystergordyn. Hy het sy boeiende verhale oor Corrie in Viëtnam – waar sy die eerbaarste titel “Oumagrootjie” verdien het – en in ’n dosyn ander kommunistiese lande weer en weer vir ons vertel. Uiteindelik het ons hierdie verhale so dikwels gehoor dat ons ons hande moes ophou om die stortvloed te keer.
“Ons sal haar nooit in hierdie boek kan inpas nie,” het ons gesê. “Sy en haar storie sal ’n hele boek kan vul.” Dit is die soort woorde wat ’n mens kwytraak sonder dat jy dit waarskynlik regtig bedoel.
In Mei 1968 het ons ’n erediens in Duitsland bygewoon. Tydens die diens het ’n man vir ons van sy ervarings in ’n Nazi-konsentrasiekamp vertel. Sy gesig het die verhaal beter vertel as sy woorde. In sy oë het die pyn nog vlak gelê; sy bewende hande het verklap dat hy steeds nie kan vergeet nie. Hy is gevolg deur ’n witkopvrou, stewig gebou en prakties aangetrek. Uit haar gesig het liefde, vrede en vreugde gestraal. Maar… hierdie twee mense het presies dieselfde storie vertel. Ook die witkopvrou was in ’n konsentrasiekamp; sy het dieselfde barbaarsheid beleef; sy het dieselfde verliese gely. Die man se reaksie was maklik om te verstaan. Maar die vrou s’n?
Ons het ná die diens agtergebly om met haar te gesels, en só het ons Andrew se Corrie ontmoet. Cornelia ten Boom se wêreldwye bediening van vertroosting en wyse raad het reeds in die konsentrasiekamp begin, daar waar sy die skuilplek gevind het waarvan die profeet Jesaja praat: “… ’n toevlug vir die armes, ’n toevlug vir die behoeftiges in hulle nood, ’n skuilplek teen die stortbuie, ’n skaduwee teen die hitte.”
Ons het ’n hele paar keer vir haar gaan kuier, en elke keer het ons hierdie verstommende vrou al hoe beter leer ken. Saam het ons die effens vervalle Hollandse huisie, net een kamerbreedte wyd, gaan besoek. Daar het sy as ongetroude vrou en horlosiemaker rustig gewoon totdat sy 50 was. Min het sy gedroom dat ’n hele wêreld vol avontuur net om die hoek gewag het terwyl sy haar oudste suster en pa versorg het.
Ons is ook saam na die tuin in Suid-Holland waar die jong Corrie haar hart vir ewig weggegee het. Saam is ons na die groot baksteenhuis in Haarlem waar Pickwick te midde van die oorlog egte koffie bedien het…
Die hele tyd het ons die eienaardige gevoel gekry dat ons nie op die verlede terugkyk nie, maar vooruit kyk tot in die toekoms. Asof dié mense en plekke nie met ons praat oor dinge wat reeds gebeur het nie, maar oor die wêreld wat in die 1970’s voor ons gelê het. Toe reeds het ons ervaar dat ons by Corrie kon leer hoe om dit te hanteer wanneer:
•ons van geliefdes geskei word
•ons met min moet klaarkom
•ons veiligheid te midde van onveiligheid moet vind
•ons moet vergewe
•God ons swakheid gebruik
•ons moeilike mense moet hanteer
•ons die dood in die oë moet kyk
•ons ons vyande moet liefhê
•dit lyk of die Bose oorwin.
Ons het met haar gesels oor die praktiese aspekte van alles wat sy kon onthou. Ons het geluister hoe haar herinnerings lig werp op probleme en besluite wat ons hier en nou in die gesig gestaar het.
“Maar dit is mos waarvoor die verlede daar is,” het sy gesê. “Elke ervaring wat God vir ons gee, elke mens wat Hy in ons lewe inbring, is deel van die volmaakte voorbereiding vir die toekoms wat net Hy kan sien.”
Elke ervaring, elke mens… Pappa, wat die heel beste herstelwerk aan horlosies in Holland gedoen en telkens vergeet het om die rekening te stuur; Mamma, vasgekluister aan haar siek liggaam, maar met ’n vry en ongebonde lewensingesteldheid; Betsie, wat ’n partytjie kon hou met drie aartappels en teeblare wat al twee keer gebruik is.
Toe ons in die blou oë van hierdie onoorwinlike vrou kyk, het ons gewens dié mense kon ook deel van ons lewe wees.
Later het ons besef dat hulle wel deel van ons lewe kon word…
John en Elizabeth Sherrill
Julie 1971
Chappaqua, New York
1
Die 100ste verjaarsdagpartytjie
Ek wip vinnig uit die bed met net een vraag in my gedagtes: Son, of mis? Januarie in Holland is gewoonlik koud en nat en vaal. Maar so af en toe – op seldsame, asemrowende dae – breek daar ’n flou wintersonnetjie deur.
Ek leun so ver ek kan by my slaapkamervenster uit. Dis altyd moeilik om die lug vanuit die Beje te sien. Vensterlose mure staar my aan, saam met die agterkant van ander stokou geboue in dié digbevolkte kern van Haarlem. Ek strek my nek nog verder uit om te kan sien, en sowaar! Daar bokant die koddige dakke en krom skoorstene steek ’n vierkantjie bleekblou lug uit. Ons gaan ’n sonskyndag vir die partytjie hê!
Ek gee ’n paar danspassies terwyl ek my nuwe rok uit die lendelam kas teen die muur haal. Pappa se slaapkamer is reg onder myne, maar op 77 slaap hy baie vas. My dansery sal hom glad nie pla nie. Dis die een voordeel van oudword, dink ek terwyl ek my arms by die moue inwerk en die resultaat in die spieël teen die hangkas se deur bekyk. Al dra sommige Hollandse vroue hier in 1937 hulle rokke tot net op die knie, hang myne steeds ’n versigtige sewe sentimeter bokant my skoene.
Jy word nie jonger nie, herinner ek my spieëlbeeld. Miskien is dit die nuwe rok wat maak dat ek meer krities as gewoonlik na myself kyk: 45, ongetroud, middellyf allesbehalwe slank.
My suster Betsie, sewe jaar ouer as ek, het steeds die slankheid en grasie wat mense op straat laat omdraai om haar agterna te staar. Die hemel weet, dit is nie haar klere nie. Ons horlosiewinkel het nog nooit veel geld ingebring nie. Maar wanneer Betsie ’n rok aantrek, gebeur daar ’n wonder.
My rokke… wel, die some trek los; my kouse leer; my krae dop om – totdat Betsie hulle onder hande neem. Maar vandag, dink ek terwyl ek so ver moontlik in my kamertjie van die spieël af gaan staan, lyk ek baie deftig in die maroen rok.
Ver onder my in die straat lui die deurklokkie. Besoekers? En dit nog voor sewe-uur in die oggend? Ek maak my slaapkamerdeur oop en huppel met die steil wenteltrap af. Dié trap is bloot as ’n nagedagte by dié sonderlinge ou huis gevoeg. Eintlik woon ons in twee huise. Die voorste een is ’n tipiese oud-Haarlemse huisie, drie verdiepings hoog, twee kamers diep en slegs een kamerbreedte wyd. Op die een of ander onbekende tydstip in die huis se lang geskiedenis het iemand ’n gat deur die agterste muur gebreek en die huis met die nog smaller en nog hoër huisie agter hom verbind. Dié huis het slegs drie kamers wat bo-op mekaar geleë is. Tussen die twee huise is die nou kurktrekkertrap toe ingedruk.
Al is ek hoe vinnig is Betsie voor my by die deur. ’n Massa blomme vul die hele deuropening. Eers toe Betsie die blomme neem, verskyn die seuntjie wat hulle kom aflewer het. “Lekker dag vir die partytjie, nè, Juffrou?” sê-vra hy en probeer by die blomme verby loer, so asof hy verwag om reeds koek en koffie op die tafel te sien. Later vandag sal hy wel partytjie toe kom, soos feitlik die hele Haarlem.
Ek en Betsie soek na ’n kaartjie in die ruiker. “Pickwick!” roep ons tegelyk hard uit.
Pickwick is ’n skatryk klant wat nie net die duurste horlosies by Pappa koop nie, maar dikwels ook opstap na die woongedeelte van ons huis. Sy regte naam is Herman Sluring. Pickwick is die naam wat ek en Betsie vir hom gee wanneer ons oor hom praat omdat hy op ’n druppel water lyk soos die illustrasie in ons weergawe van Dickens se boek oor dié karakter.
Herman