Die skuilplek. Corrie ten Boom
dis nie eintlik partytjiepraatjies nie, maar op die een of ander manier dwing my gedagtes aan Willem my altyd om oor “moeilike onderwerpe” te praat.
’n Ysige stilte sak om die tafel neer en versprei vinnig deur die vertrek.
“Wat maak dit saak?” verbreek ’n stem skielik die stilte. “Laat die groot lande dit uitbaklei. Dit sal ons nie raak nie.”
“Dis waar,” sê ’n horlosieverkoopsman. “Die Duitsers het ons in die Groot Oorlog met rus gelaat. Dis tot hulle voordeel dat ons neutraal bly.”
“Jy kan maklik praat,” roep ’n man van wie ons altyd horlosie-onderdele koop. “Jou voorraad kom uit Switserland. Wat van ons? Wat maak ek as Duitsland oorlog verklaar? ’n Oorlog kan my hele onderneming kelder.”
Net toe stap Willem by die vertrek in, gevolg deur Tine, sy vrou, en hulle vier kinders. Alle oë is egter vasgenael op die figuur wie se arm Willem stewig vashou.
Die man is ’n Jood in sy vroeë dertigerjare. Hy dra die tipiese swart breërandhoed en lang swart jas. Wat egter almal se oë gevange hou, is die man se gesig.
Hy het gruwelik verbrand. Voor sy regteroor hang ’n kroeserige grys krulletjie, soos die hare van ’n stokou man. Die res van sy baard is heeltemal weg; net ’n groot rou seer het oorgebly.
“Herr Gutlieber,” kondig Willem in Duits aan. “Hy het net vanoggend in Hilversum aangekom. Herr Gutlieber, ontmoet my pa.”
“Hy is in Duitsland op ’n melkwa uit,” vertel Willem in Nederlands. “Hulle het hom op ’n straathoek voorgekeer – tienerseuns van München – en sy baard aan die brand gesteek.”
Pappa staan uit sy stoel op en skud die vreemdeling se hand verwelkomend. Ek bring vir hom ’n koppie koffie en ’n bord met Nollie se koekies. Hoe dankbaar is ek nou dat Pappa aangedring het dat sy kinders Duits en Engels byna net so gou en net so goed soos Nederlands moes leer praat.
Herr Gutlieber gaan sit met stokkerige bewegings op die rand van sy stoel en hou sy oë op die koppie op sy skoot gerig. Ek trek ’n stoel tot langs hom en praat ’n bietjie onnodige onsin oor die ongewone weer wat ons in Januarie beleef. Rondom ons begin die mense weer gesels en die gegons van stemme styg en daal.
“Bullebakke!” hoor ek die horlosieverkoopsman sê. “Gespuis! Dit gaan in elke land so. Die polisie sal hulle nog kry. Julle sal sien. Duitsland is ’n beskaafde land.”
Só val die skaduwee oor ons op daardie wintermiddag van 1937, maar dit rus liggies op ons. Niemand vermoed eens dat hierdie wolkie so groot sou groei dat dit die hele lug sou verdonker nie, dat ons elkeen opgeroep sou word om in daardie duisternis ’n rol te speel nie: ek, Pappa en Betsie; mnr Kan en Willem; selfs die koddige ou Beje met sy vloere op ongelyke vlakke en sy horingoue hoeke.
Toe die laaste gaste vertrek het, klim ek met die trap op na my kamer toe. My gedagtes bly dwaal na die verlede. Op my bed lê die maroen rok. Ek het skoon vergeet om dit weer aan te trek. Ek het nog nooit juis omgegee vir mooi aantrek nie, dink ek. Selfs toe ek jonk was…
Tonele uit my kinderdae verrys voor my, eienaardig naby en dringend. Vandag weet ek sulke herinnerings is die sleutel tot die toekoms, nie tot die verlede nie. Ek weet die ervarings van ons lewe, as ons God toelaat om dit te gebruik, word die geheimsinnige en perfekte voorbereiding vir die taak wat Hy vir ons gee om uit te voer.
Daardie aand het ek dit egter nie geweet nie, ook nie dat daar ’n nuwe toekoms was waarvoor ek voorberei moes word in ’n lewe so alledaags en voorspelbaar soos myne nie. Toe ek in my bed lê, daar bo in die huis, het ek net geweet dat sekere oomblikke van lank gelede vir my helder uitgestaan het teen die dowwe herinnerings aan vergange jare. Eienaardig skerp en naby was hierdie oomblikke, asof hulle nog nie voltooi was nie, asof hulle nog iets gehad het om te sê…
2
Almal bymekaar
Dit is 1898. Ek is ses jaar oud. Betsie laat my voor die spieël teen die hangkas staan en lees my die leviete voor.
“Kyk net hoe lyk jou skoene! Elke tweede knoop is los. En hoe kan jy daardie flenterkouse op jou heel eerste skooldag dra? Kyk net hoe mooi lyk Nollie.”
Ek en Nollie slaap saam in die kamer bo in die Beje. Ek kyk na my suster wat agt jaar oud is. En sowaar! Haar skoene se knope is netjies vasgemaak. Traag trek ek my skoene uit terwyl Betsie in die klerekas rondkrap.
Op dertien is Betsie al vir my ’n grootmens. Sy lyk natuurlik altyd ouer as wat sy regtig is, want sy kan nie hardloop en rowwe speletjies speel soos die ander kinders nie. Betsie is met skadelike bloedarmoede gebore. Terwyl ons ander aan-aan of met hoepels speel of in die winter skaatsresies op die bevrore kanale hou, sit Betsie en doen vervelige grootmensdinge soos om te borduur. Nollie speel natuurlik net so geesdriftig saam soos al die ander kinders en sy is nie veel ouer as ek nie. Dis hoekom dit vir my net te onregverdig is dat sy altyd alles reg doen.
“Betsie,” sê Nollie skielik ernstig, “ek gaan nié daardie groot, lelike hoed skool toe dra net omdat tannie Jans dit gekoop het nie. Verlede jaar het sy so ’n lelike gryse gekoop en hierdie jaar s’n is nóg leliker.”
Betsie kyk simpatiek na haar. “Maar jy kan nie sonder ’n hoed skool toe gaan nie. En jy weet ons kan nie ’n nuwe een bekostig nie.”
“Ons hoef nie een te koop nie!”
Met ’n angstige blik deur se kant toe val Nollie op haar knieë neer. Sy voel-voel onder die enkelbed rond, die enigste bed wat in ons kamertjie inpas, en trek ’n ronde hoededoos uit.
Toe sy die deksel oplig, lê daar die fraaiste hoedjie wat ek nog ooit gesien het. Dit is van pels en het ’n blou satynlintjie om dit onder jou ken vas te bind.
“Ag, hoe pragtig!” Betsie tel die hoedjie eerbiedig op en hou dit in die skrefie lig wat sy pad oor die omringende dakke na die kamer oopgespook het. “Waar op aarde het jy…”
“Mev Van Dyver het dit vir my gegee.” Die Van Dyvers besit die hoedewinkel twee deure verder af in die straat. “Sy’t gesien hoe ek daarna kyk. Toe bring sy dit hierheen nadat tannie Jans daai een gekoop het,” sê Nollie en wys met haar vinger na iets bo-op die klerekas. ’n Bruin breërandkappie met ’n tros ligpers fluweelrose wat in elke opsig die stempel dra van die persoon wat dit gekies het.
Tannie Jans, Mamma se oudste suster, het by ons kom bly toe haar man oorlede is. Volgens haar wou sy “haar laaste paar dae” hier deurbring, al was sy toe nog maar net iets in die veertig.
Haar aankoms hier by ons het die lewe baie ingewikkeld gemaak. Ons huis was reeds oorvol omdat Mamma se ander twee susters, tannie Bep en tannie Anna, toe ook al by ons ingetrek het. Om alles te vererger het tannie Jans meubels met haar saamgebring, alles natuurlik gans te groot vir die Beje se kamertjies.
Tannie Jans het die twee kamers op die tweede verdieping, direk bokant die horlosiewinkel en die werkkamer, dadelik vir haar toegeëien. In die eerste kamer skryf sy die vurige Christelike traktaatjies waarvoor sy oor die hele Holland bekend is. In die tweede kamer ontvang sy op ’n gasvrye manier die welgestelde dames wat haar werk ondersteun. Tannie Jans glo ons toestand in die hiernamaals hang af van die hoeveelheid goeie dinge wat ons hier op aarde doen. Sy het net ’n bitter klein deeltjie van haar skryfkamer afgeskort vir ’n slaapkamer. Dit is net groot genoeg vir ’n bed. Die dood, sê sy dikwels, wag net vir die regte oomblik om haar van haar werk af weg te ruk. Daarom hou sy haar ure van rus so kort en prakties moontlik.
Ek kan nie die lewe in die Beje onthou voordat tannie Jans daar aangekom het nie. Ek kan nie onthou aan wie die twee kamers voorheen behoort het nie. Bokant daardie kamers is ’n smal solderkamer onder die steil, skuins dak van die eerste huis. Solank ek kan onthou, is dié ruimte al in vier piepklein kamers verdeel. Die eerste een wat oor Barteljorisstraat uitkyk – en die enigste een met ’n regte venster – is tannie Bep s’n. Agter haar kamer, ingeryg soos die spoorwegkompartemente langs ’n nou gangetjie, is tannie Anna, Betsie en ons broer Willem se kamers. Vyf trappies boontoe van die kamer af, in die tweede huis aan die agterkant, is my en Nollie se kamertjie,