Die skuilplek. Corrie ten Boom

Die skuilplek - Corrie ten Boom


Скачать книгу
het dit nog nooit vir enigeen van ons so gelyk nie. Dit was die natuurlikste ding in die wêreld om vir tannie Jans plek te maak.

      Die hele dag klip-klop en klingel die perdetrem by ons huis verby Grote Markt toe, die sentrale dorpsplein ’n halwe blok van ons af. Altans, dit is waar hy vir ander mense stilhou. As tannie Jans iewers heen wil gaan, gaan staan sy net presies voor die horlosiewinkel se deur op die sypaadjie. Wanneer die perde dreunend naderkom, steek sy net een vinger in die lug op. Dit voel altyd vir my dit sou makliker gewees het om die son in die lug te laat stilstaan as om die trem se stormloop na sy bestemde plek te stuit. Maar vir tannie Jans hou hy altyd stil. Die remme skreeu, die perde val byna oor mekaar en die drywer groet met sy vingers liggies teen sy hoë hoed wanneer tannie Jans met ’n swaai van haar rok op die trem klim.

      Voor dié kommanderende oë moet Nollie nou met haar pelshoedjie verbystap. Tannie Jans koop die meeste van ons drie meisies se klere vandat sy by ons ingetrek het, maar teen ’n prys. Vir tannie Jans verteenwoordig die klere wat in die mode was toe sý jonk was die Skepper se finale woord oor kleredrag; alle veranderings wat daarna gekom het, is direk uit die duiwel se modeboek. Een van haar bekendste pamflette ontmasker die duiwel inderdaad as die uitvinder van die pofmou en die fietsryromp.

      “Ek weet!” roep ek uit terwyl die knoophaak in Betsie se hand seepglad teen my skoen opbeweeg. “Jy kan die pelshoedjie netjies binne-in die groot hoed inpas. En wanneer jy buite kom, af met die groot hoed!”

      “Corrie!” Nollie is werklik diep geskok. “Dis mos oneerlik!” Met ’n byna onheilspellende blik na die groot bruin hoed tel sy die pelshoedjie op en kies koers agter Betsie aan, met die trap af na die ontbyttafel toe.

      Ek tel my hoed op, die verlepte een van die vorige jaar, en stap sleepvoet agter hulle aan, my hand gelate op die reling. Laat tannie Jans dan maar die verspotte hoedjie sien. Ek gee nie om nie. Ek kon nog nooit al die bohaai oor klere verstaan nie.

      Wat ek wel goed verstaan, en wat ontstellend is, is dat ek vandag vir die eerste keer skool toe gaan. Om die ou huis bokant die horlosiewinkel te verlaat, om Mamma en Pappa en my tannies daar te los, om eintlik alles wat bekend en dierbaar is daar te los… Ek gryp die reling so styf vas dat my handpalm ’n piepgeluid maak toe ek die draai vat. Die laerskool is net ’n blok en ’n half van ons huis af, en Nollie is nou al twee jaar daar sonder enige probleme. Maar Nollie is heeltemal anders as ek; sy is mooi en soet en het altyd ’n sakdoek by haar.

      Net toe ek om die laaste draai loop, skiet die oplossing my eensklaps te binne. Dis so eenvoudig dat ek hardop begin lag. Ek sal net nie skool toe gaan nie! Ek gaan net hier bly en vir tannie Anna help kos kook. Mamma sal my help lees en ek sal nooit na daardie snaakse, lelike ou gebou toe hoef te gaan nie. Verligting en vertroosting vloei deur my. Met een enkele sprong is ek by die laaste drie trappies af.

      “Sjuut!” Betsie en Nollie wag vir my buite die eetkamerdeur. “In hemelsnaam, Corrie, moenie iets doen om tannie Jans kwaad te maak nie,” smeek Betsie. “Ek is seker,” sê sy met die twyfel duidelik in haar stem, “dat Pappa en Mamma en tannie Anna van Nollie se hoed sal hou.”

      “Tannie Bep sal nie,” sê ek.

      “Sy hou nooit van iets nie,” sê Nollie. “So sy tel nie.”

      Tannie Bep met haar ewig afkeurende, misnoegde gesig is die oudste van ons tannies, en die een van wie ons die minste hou. Sy het dertig jaar lank as goewernante by ryk gesinne gewerk, en sy vergelyk gedurig ons gedrag met dié van die jong meisies en seuns aan wie sy skynbaar gewoond was.

      Betsie wys na die Friesland-horlosie teen die muur by die trap. Met ’n vinger op haar lippe maak sy dan die eetkamerdeur saggies oop. Dit is twaalf minute oor agt: ontbyt het reeds begin.

      “Twee minute laat!” roep Willem triomfantelik uit.

      “Die Waller-kinders was nooit laat nie,” sê tannie Bep.

      “Maar hulle is hier!” sê Pappa. “En die vertrek is sommer vol sonskyn.”

      Ons drie hoor skaars sy woorde, want… tannie Jans se stoel is leeg.

      “Bly tannie Jans vandag in die bed?” vra Betsie hoopvol toe ons ons hoede aan die kapstok hang.

      “Sy is besig om vir haar ’n tonikum in die kombuis aan te maak,” antwoord Mamma. Sy leun vorentoe om koffie te skink en praat dan sagter. “Ons almal moet vandag meer bedagsaam as ooit teenoor tannie Jans wees. Dit is die dag waarop haar man se broer ’n paar jaar gelede gesterf het. Of was dit sy neef?”

      “Ek verbeel my dit was sy tannie,” sê tannie Anna.

      “Dit was ’n neef… en dit was ’n verlossing,” sê tannie Bep.

      “Hoe dit ook al sy,” sê Mamma en praat al hoe vinniger. “Julle weet hoe hierdie jaarlikse herdenkings vir tannie Jans omkrap. Ons almal moet dus maar mooi met haar werk.”

      Terwyl Betsie drie snye van die ronde broodjie afsny, kyk ek na al die volwassenes om die tafel. Ek probeer besluit wie van hulle die mees entoesiasties sal wees oor my besluit om by die huis te bly. Pappa, weet ek, beskou onderwys byna as ’n godsdiens. Hy self moes die skool vroeg verlaat om in die horlosiewinkel te begin werk. Al het hy homself later geskiedenis, teologie en letterkunde in vyf tale geleer, was hy altyd spyt oor die jare op skool en universiteit wat hy misgeloop het. Hy sal wil hê ek moet skool toe gaan – en wat Pappa wil hê, wil Mamma ook hê.

      Miskien dan tannie Anna? Sy het al so dikwels vir my gesê sy kan nie klaarkom sonder my wat met die boodskappe die steil trap op en af hardloop nie. Omdat Mamma nie sterk is nie, doen tannie Anna al die moeilike huiswerk vir ons familie van nege. Sy is die jongste van die vier susters, en sy het ’n hart net so warm soos Mamma s’n. Daar is ’n mite in ons familie dat tannie Anna betaling kry vir dié werk. Pappa gee dan ook inderdaad elke Saterdag getrou vir haar ’n gulde. Teen Woensdag, wanneer die groentehandelaar kom, vra hy dit egter dikwels terug, en dan het tannie Anna dit nog. Ja, sy sal my bondgenoot in dié saak wees.

      “Tannie Anna,” begin ek, “ek het gedink hoe hard Tannie elke dag moet werk. En as ek nou in die skool is…”

      ’n Asem wat diep en dramaties ingetrek word, laat ons almal opkyk. Tannie Jans staan in die kombuisdeur met ’n glas dik bruin vloeistof in haar hand. Toe haar bors vol suurstof is, maak sy haar oë toe, bring die glas na haar lippe en drink dit leeg. Met ’n sug blaas sy die asem in haar longe uit, sit die glas op die buffet neer en gaan sit op haar stoel.

      “En tog,” sê sy asof ons besig was om daardie onderwerp te bespreek, “wat weet die dokters? Dr Blinker het dié tonikum voorgeskryf. Maar wat kan medisyne werklik doen? Watter goed doen enigiets as jou Dag aanbreek?”

      Ek kyk om die beurt na almal om die tafel. Niemand glimlag nie. Tannie Jans se obsessie met die dood kon snaaks gewees het, maar dit is nie. Hoe jonk ek ook al is, ek weet vrees is nooit snaaks nie.

      “En tog, Jans,” wys Pappa haar saggies tereg, “het medisyne al baie lewens verleng.”

      “Dit het nie vir Zusje gehelp nie, en sy het die heel beste dokters in Rotterdam gehad. Dit was op hierdie seldfe dag dat sy weggeval het. Sy was niks ouer as wat ek nou is nie. Sy het daardie dag opgestaan en aangetrek vir ontbyt, net soos ek nou.”

      Sy wil net wegval met ’n haarfyn verslag van Zusje se laaste dag toe haar oog op die hoederak val waar Nollie se hoedjie hang.

      “’n Pelsmof?” wil sy weet en haar stem is koorsagtig van agterdog. “Vir dié tyd van die jaar?”

      “Dit is nie ’n mof nie, tannie Jans,” sê Nollie in ’n dun stemmetjie.

      “Kan ’n mens dan moontlik uitvind wat dit is?”

      “Dis ’n hoed, tannie Jans,” antwoord Betsie namens Nollie. “Dit was ’n verrassing van mev Van Dyver. Was dit nie gaaf van…”

      “O nee! Nollie se hoed het ’n breë rand, soos ’n goed opgevoede meisie se hoed behoort te lyk. Ek weet. Ek het dit gekies… en betaal.”

      Vlamme slaan op tannie Jans se wange uit. Nollie


Скачать книгу