Die ontwaking. Chris Karsten

Die ontwaking - Chris Karsten


Скачать книгу
beskerm. Ja, hy sal sê sy wou na ou meubels kom kyk, en hy het die hele Sondag op haar gewag. Sy het nooit opgedaag nie. Onbetroubaar en onhoflik, sal hy sê. En dit het hy nie van háár gedink of verwag nie. En skuld sy hom dan nie steeds geld vir die tallboy wat sy laat oplaai het nie?

      Hy neem hom voor om nie weer die maklike uitweg te kies nie. Geen spoor weer wat na die ou huis op die groot erf sal lei nie.

mask.jpg

      11

      Lisa het sy ma se klere op die bed neergelê, opgevou en ingepak vir die welsyn. Bo in die hangkas net die hoededoos nog oor. Bob haal dit uit, maak dit nog nie oop nie, sit dit in die eetkamer op die buffet neer, langs die foto van hom en Sarah saam, die laaste foto van haar. Kort hierna het die slopende siekte haar gepak. ’n Mooi vrou, dink Bob, en het daardie gene aan hulle dogter oorgedra. Nou wil hy ook gaan rus, ná veertig jaar aftree; die direkteur is van sy voorneme in kennis gestel, maar die brief nog nie aan die museum in Summer Street gepos nie. Hy wou eers sy ma begrawe. Dood en aftrede is twee traumatiese gebeurtenisse in ’n mens se lewe. Hy wil eers die een verwerk, dan die ander een.

      Ná die aandete begin hulle bo in die boks, skil die inhoud af soos lae van ’n argeologiese uitgrawing. Heel bo die mees onlangse briefies, verjaardagkaartjies, sy ma se testament. Ja, geen sertifikate van voorsate met aandele in die Hudson’s Bay Company of Anglo-Persian Oil nie. Maar ondertoe ou aandenkings, twee silwerkettinkies, ’n goue trouring – sy pa s’n, vermoed Bob – nog ou kaartjies en briewe, ’n retoerreiskaartjie op ’n boot tussen Halifax en Dublin. Wel enkele ou geldstukke; geen waardevolle Belzberg-versameling nie, net ’n paar Victoriaanse munte.

      “Jy kan oorslaap. Jou bed is altyd oorgetrek, jy weet mos.”

      “Gaan Pa hier bly, alleen in die grote huis?”

      “Nee,” sê Bob Sweeney. “Dink mos aan aftree, ’n kleiner plekkie.”

      “Aftree? Is Pa seker?”

      Kinders, jong mense, is wêreldwys, weet van alles; van internet, facebook, twitter, sulke goed. Aftrede is nie deel van hulle verwysingsveld nie; jong mense glo nie aan oud word nie, dink hulle besit ’n ewige jeug.

      “Ja, aftree en reis. Ek moet ’n plekkie kry wat ek kan sluit, toemaak net wanneer ek wil, en die wêreld gaan bekyk. Terwyl ek nog kan.”

      “Alleen?”

      Jong mense is kuddediere. Verstaan nie die behoefte aan stiltes, aan die geselskap van jou eie gedagtes en mymeringe nie. Nie álles goeie mymeringe nie, maar herinneringe, goed en sleg, aan gebeurtenisse wat jou lewe help skep het. Jong mense verstaan nie die herkou aan gedagtes van lank gelede nie.

      “Ja, alleen. Tensy jy wil saamgaan?”

      “Waarheen?”

      “Oral. Galápagos. Praag. Transsilvanië. Transvaal.”

      “Transvaal?”

      “In Suid-Afrika, waar my oupagrootjie dood is. Die einde van Will Sweeney se kortstondige avontuur. Will en Anne was net twee maande getroud toe hy hom in Maart 1900 by Strathcona’s Horse aangesluit het vir die tog Kaapstad toe.”

      “Maar hoekom?” vra Lisa. “Hoekom sy jong vrou los en oorlog toe gaan?”

      “Die Boereoorlog was toe al maande aan die gang, die vermoede was dat dit nie meer lank sou duur nie. Hulle was vrywilligers wat net vir ses maande verkenningswerk vir die Engelse sou gaan doen. Hy sou in September terug wees, met geld.”

      “Hy’t nooit teruggekom nie,” sê sy.

      “Hy’s op 4 September 1900 dood, skaars vyf maande nadat hy in daardie land aangekom het. Op die slagveld gesneuwel. Sy beste vriend, Robbie Fernie, het sy paar besittings teruggebring. Van sy gelukbringer geen spoor nie.”

      “Nie veel geluk vir hom gebring nie.”

      Jong mense moet ook nog begryp dat geskiedenis gemaak word deur familiesages vol ongeluk en ellende; nie deur families van pais en vree nie. Tussen die briewe en dokumente en aandenkings op die tafelblad voor hulle soek Bob tussen die klompie ou munte. Vyf sente, tien sente, kry ’n vyf en twintig sent.

      “So een.” Hy hou dit na haar uit, met die profiel van ’n jong Victoria met ’n kroon op. Victoria Dei Gratia Regina Canada, lui die inskripsie, draai dit om: 25 Cents 1875, omring deur ’n lourier-krans met nog ’n kroon bo.

      “Will het dit áltyd by hom gedra, het Robbie Fernie glo vertel.”

      Bob Sweeney kry die boekie heel onder in sy ma se hoededoos. Met ’n blou lint aan die boekie vasgebind ’n bondel briewe, steeds in hulle koeverte. In sy jong lewe het sy oupagrootjie die kans benut om tóg ’n klompie herinneringe te versamel en agter te laat voor sy voortydige dood; nie baie nie, maar hy hoop betekenisvol, selfs histories van aard, as hy tussen die wol by die heilige evangelie kan uitkom.

      Lisa maak die lint los, trek ’n vel vergeelde papier uit ’n koevert.

      Bob Sweeney vat die boekie, die omslag van saggebreide leer; bewer, vermoed hy, en bevlek en bevat van rowwe behandeling. Binne is die potloodskrif dof, dog merkwaardig behoue, selfs grootliks leesbaar, maar hel op die oë, veral ou oë. ’n Soort titel: VELDBOEK, BOEREOORLOG.

      “’n Dagboek?” vra sy.

      Bob se groot vingers delikaat met die brose bladsye.

      “Nee, wel datums en plekke by sy inskrywings, maar nie ’n dagregister nie. Eerder ’n kladboek, ’n memorieboek van spesifieke voorvalle en gebeurtenisse. Die eerste inskrywing is op Saterdag 14 April 1900.” Kort nadat hulle op die SS Monterey uit Halifax in Kaapstad aangekom het.

      “Ook die briewe begin in April,” sê Lisa. “Lekker om ander mense se briewe te lees, al voel jy bietjie skuldig.”

      “Veldboekie en briewe as kroniek van sy noodlottige avontuur,” sê Bob Sweeney, sý brief geskryf vir sy aftrede as kurator: kultuur-geskiedenis by die Museum van Nova Scotia. “Dié boekie en briewe is ’n stukkie geskiedenis. Ons kan dit aan die museum skenk.”

mask.jpg

      12

      Haar uitgeslape kolonel toe wéér reg.

      Dusver in sakstraat by die spreekkamers van kosmetiese chirurge en boetieks met Gucci-bloese. Geen dokter of verkoopsdame herken die gesig met die loodkleur en bleek lippe op die foto nie. Dit kan natuurlik ook wees, vermoed Ella Neser, dat geen plastiese chirurg betrokke wil raak by ’n moordondersoek nie. Dokters is geneig om die kalklig te vermy, hou nie daarvan om ten aanskoue van joernaliste en TV-kameras in howe aan te kom om te getuig oor intieme sake van hulle pasiënte nie, veral nie oor die hoe’s en wanneers van ferm nuwe borste vir ’n mooi rooikop nie. Dokters – anders as byvoorbeeld akteurs, dink sy – voer ’n verskuilde beroepslewe in hulle spreekkamers; bevoel en betas en besny agter die sosiale kontrak van dokter-pasiënt-vertroue.

      Maar toe haar selfoon lui en sy die stem hoor, weet sy dat Silas Sauls reg was om sy pond vleis van Andy Collipepper van die Post in te vorder.

      “Dis my dogter …” Vrouestem onseker, huiwerig. “Lýk soos sy …”

      “Wie praat? Word u dogter vermis?”

      ’n Oomblik se stilte, asof sy moet dink of haar dogter vermis word.

      “Sy was nie vermis nie. Ek weet nie. Maar dit lyk soos sy.” Weer ’n aarseling. “Dis mevrou Vermooten hier, Truia Vermooten.”

      “Het u nie kontak met u dogter nie? Dis al vyf dae.”

      “Nie elke dag nie. Ek’t laas Sondag oor die foon met haar gepraat. Sy’t niks makeer nie. Sy’t gelag en gesels.”


Скачать книгу