Die ontwaking. Chris Karsten
se kort arms en stoflap nie kan reik nie. Een foto van net ’n vrouegesig.
“Jou ma?”
“Ja.”
Strak gelaat, hare in ’n bolla, liplose mond, oë wat ’n bars kan kyk.
Op die tweede foto twee vroue met ’n jong seun, opgeskote, so veertien, vyftien, skat sy.
“En dié een? Dis mos sy op hierdie foto ook?”
“Dis ek,” sê hy. “Saam met my moeder en ouma Hannie.”
Mamma se seuntjie, dink Mia Vermooten. Geen glimlagge nie, of die drietal onbewoë ’n diep, ellendige geheim deel.
“Jy die enigste kind?” vra sy.
“Jy’t ’n mooi vel,” sê hy van agter haar skouer.
Sy draai haar gesig skuins om. “’Skuus?”
“Die tekstuur,” sê hy, “sag soos satyn.”
“My vel?”
“Jy beskerm dit teen die son. Dis goed. En gereelde bevogtigers.”
“Velsorg is belangrik,” sê sy, ietwat verbaas oor die trant wat die gesprek inneem.
Dit is of hy haar takseer, soos sy die tallboy takseer.
“Vel, jou grootste orgaan …”
“Ek moet gaan.”
Nou haastig, en sy loer vir laas, afkeurend, met die uitloop na die gesigte op die voetstukke.
“Sal jou bel,” sê hy agterna. En by die deur hoor sy ’n laaste mompeling agter haar: “Pavo”, kan ook “pou” wees. Sy glimlag tevrede. Goeie besluit om by die maskerwinkel vas te steek. Mia Vermooten meen sy het ’n goudmyn van ou meubels raakgeboor. Tom Spottiswoode sal in sy noppies wees met haar oggend se terloopse werk – ás sagmoedige Neelsie sy ma kan oortuig om van haar oudhede afstand te doen. Ou mense is tog so verknog aan hulle ou goed. Ook haar eie ma. Sulke sentimente is vir Mia ietwat van ’n raaisel, dat mense nuttelose artikels kan laat stof vergaar sonder om die geldwaarde daarvan te besef, of in ag te neem. Sy hoop meneer Lotz en sy stoetse ma laat haar nie in die steek nie. En sy was eerlik oor daardie tallboy, ’n pragstuk vir haarself.
Vat nou reguit koers Gucci-boetiek toe, op met die roltrap. Tyd verspil met die maskers en perkamentgesigte, maar op die duur die moeite werd. Hoop net hy bel.
3
Die ou huis en stoor is op ’n groot ou burgerregerf. Agter die geboue is die leivore van vergane tuinakkers opgevul en opgedroog van jare in onbruik. In die plek van groenteplante groei nou, heuphoogte, net lappe kakiebos, oliebol, dissel, en laer onder versteek, is die uintjies en botterblomme en molshope. Oorkant die grensdraad van die versaakte tuinakkers begin die veld, en verder aan, ver oor die veld, die sagte geruis van karre op die R82 stad toe. Die stoor is ruim, sonder deure, gebou met sementblokke, ongepleister en ongeverf gelaat; ’n sinkdak met roesgate waardeur sonstrale op die ou implemente en gereedskap val wat eens in die groentetuine gebruik is. In ’n hoek van die stoor ’n deur na ’n pakkamer.
Die werf en geboue wek, soos die hele kontrei, ’n atmosfeer van groot verwaarlosing, verweer en byna wanhoop.
Maar in die pakkamer is ’n man besig. Hy dra tuingereedskap uit – ’n graaf, ’n tuinvurk, ’n hark, ’n houtbyl, ’n saag. Hy gooi dit in die stoor op ’n hoop rommel. Hy verwyder alle voorwerpe van metaal uit die pakkamer, enigiets wat as wapen gebruik kan word, wat beserings kan toedien. Op mankolieke rakke van plank teen ’n muur is blikke en bottels en plastiekhouers met onkruiddoders en pesdoders, raklewe reeds jare verstryk. Anti-vries vir sy bakkie en kar. En leë brandewynbottels, etikette verbleik en onleesbaar, maar hy onthou die soort van lank gelede. Kry selfs die byna vergete reuk van die alkohol in sy neus wanneer hy die stowwerige bottels uit die pakkamer dra, sy vingers om die nekke asof dit ’n pes is wat kan aansteek. Hy sleep ’n swaar houtkis met gereedskap oor die vloer uit. In die kis klouhamers, tange, skroewedraaiers, moersleutels, troffels, ’n byl. Agter op die sleepsel stuif die stof op, dartel in die ligstrale deur die dakgate.
Hy haal diep asem van die inspanning, beskou die pakkamer. Op die ou matras kuttels van rotte en muise, en skimmel. Hy los die matras in die pakkamer. Ook die kartondose, al pap van reën wat inlek deur die roesplekke, vol tydskrifte, boeke en koerante, aangepak van stof en motgevreet. As hy soek, sal hy sy pa se ou tydskrifte vir amateur-sterrekykers kry, sy handleidings vir die kweek van groente en kruie; sy broer se tydskrifte met glansfoto’s van kaal vroue wat hulle sondige liggame uitstal; selfs ’n koerant van lank gelede met ’n berig oor die dood van ’n pa en seun. Maar die bladsye van al dié leesstof nou saf en muf en geel.
Aan die dakbalke uitgedroogte snoere van uie, knoffel, mielie-koppe met bruin baard en blare en wit en geel pitte so hard as klippers.
Hy teug ’n slag diep aan die bedompige lug vol stof, asof hy krag soek om die voorwerp van die boonste rak af te lig. Hy balanseer homself prekêr op een van die bokse om by te kom. Hy tel dit versigtig af, plaas dit op die werkbank waaraan die klemskroef vasgebout is, en vou die plastiekseil oop. Hy knip die deksel van die swart langwerpige houer oop. Ondanks die seil is die inhoud met ’n laag stof bedek. Hy vee oor die stof en onder sy vingers verskyn die pragtige diep wynrooi van die vernis.
Hy betrag die viool, op sy gesig geen uitdrukking nie, maar in sy kop die klanke, in sy geestesoog die skim van die violis wat die pragtige melodie met sy strykstok uit die vier snare optower. Die suiwer, skoon note wat oor die stil aandwerf sweef, oor die malse groentetuine, en oor die veld daaragter waar die molle en dassies en springhase in die skemering ophou met hulle gevroetel en gesnuffel en geskarrel wanneer die klanke hulle bereik. Dit is ’n 1942-Van de Geest, die rugkant van vlammende esdoring, die voorkant van fyngegreinde Kanadese spar, beslag in bukshout, die F-openinge herinnerend aan Guarneri, onberispelike krulwerk van ’n meesterambagsman.
Die klanke vervaag en hy knip die deksel vas, draai die vioolkas weer in die seil toe, bêre dit terug op die boonste rak, en dryf die staalspykers met ’n hamer deur die plank om die enigste klein venster van die pakkamer te verseël.
Buite aan die grendel van die deur ’n nuwe slot voor hy huis toe stap, die kombuis so vyftig tree van die stoor af. Agter hom, by hulle voerplek in die stoor, die gekraak van beendere van klein diere in die kragtige kake van twee pit bulls.
4
Sy kry die oproep ’n week later, op ’n Saterdagoggend. Hy en sy maskers en mummiegesigte, en sy tallboy, al byna vergete in ’n donker hoek in haar agterkop, op daardie plek waarin die rommel van onbereikbare drome en vrugtelose verwagtinge opgevee word. Sy stem effe aarselend.
“Dis ek, meneer Lotz, van die …”
“Van die maskers,” sê sy.
“Jy kan hom kry,” sê hy. “My moeder sê as die prys reg is, kan jy die tallboy kry.”
“En die ander?”
“Jy kan na die ander ook kom kyk. Sy’s sat vir al die ou meubels, moeg vir afstof en poleer.”
Seker ook nie meer jonk nie, dink Mia Vermooten, gedagtig aan die foto en meneer Lotz se eie beleënheid.
“Jy kan die tallboy laat haal.”
“Vandag?”
“Ja.”
“En die ander meubels, wanneer kan ek hulle kom takseer?”
“Môre,” sê meneer Lotz.
“Môre is Sondag.”
“Môremiddag.