Die ontwaking. Chris Karsten
van veral die sout-en-aluin-oplossings te verhoed. Die houtvloer het hy met teëls bedek, altyd nat van die water van huide wat drup wanneer hy dit in die potte en emmers roer en uitspoel en uitlig.
Op nog ’n muurrak bottels met reinigers en preserveermiddels: terpentyn, lynolie, arseensuur, soutsuur, koeksoda, gliserien, sinksoute, medisinale alkohol, formaldehied, salisielsuur, steen-aluin. Van hierdie middels koop Abel by ’n groothandelaar wat voorrade aanhou vir die taksidermiese bedryf, soos ook die salino-meter om die sterkte van die sout-en-aluin-mengsels te toets.
Sy instrumente – die pinsette, chirurgiese naalde, else, skalpels met lemme van verskillende graderings – kry hy meestal in hardewarewinkels of apteke. Die slagtersmes van soliede staal vir kraakbeen is die beste op die mark, vervaardig deur J. Russell & Co. van die Green River Works in Turner’s Falls in Massachusetts. Die chirurgiese tange, een gekrom en een reguit, kan die bene en nek van ’n skilpad afknip, waarborg die handelaar in taksidermiese toerusting. En skêre van verskillende vorms en groottes om dunner bene, of spierweefsel en senings, te knip. Die getande looimes uitstekend om weefsel van droë huide af te skil, die gladde een vir groen vel, bedoelend nog nat en vars. Die else vir gaatjies aan die some van die huide sodat hulle styf aan die rame gespan kan word.
Op hierdie Sondagoggend is Abel met die pels van ’n springhaas besig. Hy het die haas drie aande tevore geskiet. Die hase en dassies kom uit die veld op soek na kos in die vergane groentetuine. Maklike prooi en Abel geniet sy jaguitstappies in die tuine. Op sy werkbank het hy die haas dieselfde aand afgeslag. Hy het die skalpel gebruik vir die eerste fyn snitte, daarna die Russell-mes om die hipodermis van die skelet los te kry.
Dit is noodsaaklik, het Abel geleer, om ’n groen pels so gou moontlik te bewerk voordat bloed te hard in are begin stol. Fyn geaarde bloedvate aan ’n droë vel verleen wel soms ’n besonderse tekstuur aan die eindproduk, maar die yster in bloedplasma het uiteindelik ’n bederwende invloed op die raklewe van die vel. Die doel is juis om die finale produk permanent teen skimmel en muf en bakteriese aftakeling te beskerm.
Die afgeslagte haaspels het vir twee dae in pekelwater gelê. Daarna het hy dit afgespoel en oorgeplaas in ’n plastiekemmer met ’n mengsel van lymwater en aluin wat hy deurlopend kom roer het sodat dit die vel en pels deeglik deurweek om selle en sagter weefsel af te breek, soos die vet en haarfollikels.
Abel bevoel en toets die pels se hare en toe dit in klosse aan sy kort vingers loskom, keer hy die emmer met die haaspels in die wasbak uit en spoel die slymerige vel deeglik onder die lopende water van die kraan af. Hierna span hy die pels, hare onder, oor ’n dikkerige PVC-pyp en gebruik ’n stomp stopmes om al die vet, weefsel, huidare, kliere en spiermembrane aan die vleiskant af te skraap. Dit is ’n tydsame proses, maar hy is nie haastig nie. Hy het al, in die jare wat hy geleer het om sy huide te looi, agtergekom dat hierdie stadium van die proses ’n belangrike voorbereiding is vir die uiteindelike gehalte van ’n saggebreide vel. As hy hierdie vleiskant nie egalig skoonskraap nie, ontstaan verhardings in die vel, en dit deug nie wanneer jy die sagte vel uiteindelik in jou hande troetel en vou en frommel nie.
Nadat hy aan die vleiskant klaar is, spoel hy weer die vel onder die kraan af, en terug by die PVC-pyp begin hy opnuut skraap, dié keer met die looimes aan die harekant. Tydsaam skraap hy nie net die oorblywende hare af nie, maar ook die epidermislagie, versigtig om nie dun dele van die dermis te beskadig nie. Hy verwyder die porieë, haarwortels, vetkliere en alle omliggende weefsel. Ook hierdie proses vereis deeglike skraping.
Abel geniet sy stokperdjie en neurie sag saam met die vioolklanke. Hy het ’n luidspreker teen die plafon van sy werkkamer aangebring sodat hy na Paganini kan luister wanneer hy met sy huide besig is.
Die vel is glibberig in sy hande toe hy dit in ’n flou water-en-asyn-bad uitwas om van die los hare en epidermisselle ontslae te raak en die normale pH te herstel. Hy span dit styf aan ’n houtraam om te laat droog word. Die spanning is nodig sodat die vel nie te hard word terwyl dit uitdroog nie.
Buite aan die voet van ’n houttrap wat aan die kant van die huis na die tweede verdieping oplei, gaan steek hy die vleisbraaivuur aan en keer na die werkkamer terug. Hy voel aan die ander velle aan die spanrame, betas hulle met sy gevoelige vingers, stryk oor die oppervlakke, en kry ’n gedroogde dassievel, klaar met puimsteen glad geskuur.
Die paar kilogram se vars beesbreins wat hy by die abattoir in City Deep gaan koop het, het hy in leë plastiekbakkies vir margarien van vyf honderd gram elk verpak vir die vriesgedeelte van sy yskas. Een so ’n pakkie ontvries hy nou in sy mikrogolf en gooi die inhoud by warm water in sy elektriese versapper. Hy meet ook ’n paar gram gliserol by en skakel die versapper aan. Die dik slykmengsel, die kleur van vars salm, keer hy in ’n plastiekskottel uit. Hy week die dassievel vlugtig in water en begin die breinmengsel met sy vingers in die huid invryf. Hierdie is die heel belangrikste deel van die hele looiproses. Hy het aanvanklik geëksperimenteer met ander substanse as beesbreins, soos natuurlike plantolies, om die kollageenweefsel en -proteïene van die vel te olie en soepel te hou. Maar die brein van ’n dier bevat net die regte natuurlike tannien om die vel te looi, was die advies uit Brugge. Die gliserol dien as antibakteriese middel om die lewensduur van die vel te beskerm.
Abel behandel albei kante van die huid met sy breinmengsel, wring dit uit, smeer dit in, wring dit uit, herhaaldelik.
Die laaste deel van die proses geskied nie in die werkkamer nie, maar buite by die vleisbraaivuur wat nou tot net gloeiende kole uitgebrand het. ’n Digte rookwolk sonder vlamme styg op toe hy nat bloekomhout op die kole plaas. Hy hang die dassiehuid aan die haak van ’n driepoot oor die rook, vou ’n ou stuk seil om die stellasie en haak dit vas sodat die rook nie ontsnap nie maar op die huid gekonsentreer bly. Enige teken van ’n vlammetjie blus hy onmiddellik met ’n spatsel water.
Abel voel die tinteling van opgewonde afwagting, betrap homself ’n slag dat hy na die grondpad agter die bloekoms loer. Los dan die beroking van die dassiehuid en begin die bloederige karkasse en weefsel van die afgeslagte diertjies op sy werkbank opruim. Die vloer van die werkkamer nou soos dié van ’n informele slagplek, beplas en bemors van vloeistowwe – van gestolde bloedplasma, van geel bloedserum, van water en looipreparate, vermeng met weefsel, vet, hare en beentjies van klein diere. In die werkkamer hang die reuk van bloed en dood. Daaraan is hy gewoond.
Hy dra die emmer met karkasse uit, die twee pit bulls om sy bene, hygende tonge, rooi oë glurend. Langs die muur van die stoor keer hy die inhoud van die emmer op ’n hoop ou verbleikte bene uit. ’n Stank van verrotting en ontbinding styg op terwyl die twee honde gulsig begin vreet.
Terug in die kombuis spoel hy sy hande in die wasbak tussen vuil skottelgoed af, verskuif die versapper opsy waarin die reste van die beesbrein stol. Hy skakel ’n ketel aan vir koffie, ontdooi spaghetti bolognaise uit ’n supermark se yskas in die mikrogolf. Op die blad van die kombuistafel stoot hy tussen stapels ou koerante, tydskrifte en vuil eetgerei plek oop en eet sy Sondagmiddagete en drink sy koffie. Hy los die foeliehouer met oorblyfsels van die spaghetti bolognaise op die tafel tussen die ander borde met kosreste toe hy terug vuur toe uitstap.
Hy is van plan om sy moeder later die middag, wanneer die son begin sak, oor sy nuwe projek in te lig, en oor sy plan vir ’n nuwe gesig. Sondagmiddae gesels hy en sy moeder, dit is hulle gehaltetyd saam.
Net die gedagte aan ’n saggelooide vrouevel oor sý gesig stuur ’n sensuele prikkeling deur hom. Maar seks, selfs net persoonlike aanraking met enigiemand, man óf vrou, is nie een van Abel se behoeftes nie. Daarvoor het sy moeder hom té goed grootgemaak. Seks is ’n duiwelse ding, het sy hom geleer, by hom ingedril.
Langs die vuur in die skadu van die huis dein dit stuk-stuk in sy geheuespens soos dryfhout op golwe, al haar verwysings uit die Bybel, van die Ou tot die Nuwe Testament, na sedelose en listige vroue, van Eva in Genesis tot die hoer van Babilon in Openbaring, en al die teregwysings tussenin:
Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery.
En veral insiggewend oor vroue met merke aan hulle velle:
En op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van