Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman
sy blykbaar nie kloustrofobies in ’n voertuig nie.
Maar iets anders is verkeerd. Sedert hulle uit Otjikavi weg is, is sy terughoudend. Hy wil vra hoe op aarde sy dit reggekry het om ’n trop fris Afrikanerbeeste te dip, maar hy is bang sy beskou dit as ’n mosie van wantroue. Dit sal die moeite werd wees om weer daardie paar smaraggroen oë te sien blits, maar hy wil nie weer die boemerang-nagevolge trotseer nie.
Haar eks as onderwerp is ook taboe. Hy weet nie wat met die huwelik skeefgeloop het nie, maar dis duidelik ’n sensitiewe snaar waarop hy nie moet tokkel nie. Hoe kon Niel van Dyk ’n vrou soos Aralie uit sy lewe laat gaan het? Die man weet blykbaar meer van leeus en buffels as van vroumense. Tog is die twee skynbaar op vriendskaplike voet, anders sou sy nie ingestem het om vir haar gewese man in te staan nie. Moontlik kan dit selfs op ’n versoening tussen die twee uitloop.
Franco krap die ratte teen die bult uit en is geïrriteerd met homself. Wat maak dit aan hom saak as sy en haar eks weer tot trou sou kom? Aralie van Dyk is niks van hom nie. Hy ken haar skaars. Oor ses weke is sy weg en dan sien hy haar nooit weer nie.
Tot Aralie se verbasing is die kamp se ingangshek voltooi. Weerskante van die pad pryk twee groengeverfde pilare wat as stut vir ’n oorkoepelende grasdak dien. Aan die voorste dwarsbalk hang ’n bord met Balelapa Wild Safaris in goue letters. Alles in goeie smaak, behalwe vir die wanklank van ’n gekrulde olifanttand wat in die middel van elke pilaar gemonteer is. Dit rym nie met Franco Conradie se konsep van bewaring nie.
Hy merk haar afkeurende frons. “Witgeverfde hardekool,” stel hy haar gerus. “Lyk nogal eg, nè?”
Aralie is vies omdat hy haar gedagtes so maklik kon lees. “Ek het nie gedink dis ivoor nie,” antwoord sy koel.
’n Glimlag speel om Franco se mondhoeke. “Nee, natuurlik nie,” antwoord hy bedees. “Daarvoor is die tawwe veearts met vyf jaar studie en vier jaar ondervinding in ’n praktyk te slim.”
Aralie pers haar lippe opmekaar en laat haar nie uitlok nie.
Franco hou stil toe ’n swartbont streep soos ’n warrelwind op die Land Rover afstorm. Hy maak die deur oop en vang die uitbundige skaaphond wat in sy arms opspring.
“Dis Sef, nog ’n aanneemkind,” verduidelik hy ná afloop van die entoesiastiese groetery.
Met die skaaphond op sy skoot, voorpote op die stuurwiel, ry Franco deur die ingang. Hy rek hom uit en sug behaaglik. “Uit en tuis! Welkom op Balelapa, dokter Aralie.”
“Dankie,” antwoord sy formeel.
“Ek hoop jy sal jou ses weke by ons geniet,” sê hy ernstig, en op ’n vreemde manier weet sy hy bedoel dit. Die man gooi haar uit rat. Dán warm, dán koud …
En sy kan hom nie heeltemal plaas nie. Dis meer asof die baasspelerigheid op die vliegtuig ’n kraan was wat oopgedraai is, eerder as die sjarme. Maar sy misgis haar dalk. Die beste is om ’n afstand te hou en nie kanse te waag nie.
“Ek het nie vir die lekker gekom nie, maar om te werk,” herinner sy hom.
“Ek hoop jy sal lekker werk,” kry hy die laaste woord in.
Hy ry verby die hoofgebou en die uitgemerkte rondawels. “Hier’s ons!” kondig hy aan en hou onder ’n kameeldoring stil.
Aralie kyk onbegrypend om haar.
“Die boskamp,” verduidelik hy. “Waar die personeel woon tot tyd en wyl die rondawels leefbaar is.”
Haar blik dwaal ongelowig oor die karige tente en woonwaens wat sy bo van die bult af gesien het. Dit lyk soos iets uit die Survivor-reeks. Daar is geen geriewe nie, net sand en klippe. Wat het geword van Niel se reusekonstruksiespan, met vroue en kinders en al?
Franco hou haar onderlangs dop. Dís wat hy op Windhoek se lughawe voorsien het, daarom dat hy die meisiekind nie wou saambring nie. Hy moes sy instink vertrou het, haar huis toe gestuur het en vir ’n manlike locum geadverteer het. Hy het Niel van Dyk daarvan beskuldig dat hy nie sy kop gebruik nie, maar hý vaar swakker. Hoe in sy wildste drome kon hy gedink het dié ding sal werk?
Hy beduie na ’n afdak met ’n kamptafel, ’n lantern en ’n stoel waarop ’n blikemmer staan. “Jou spreekkamer …” Sy stem huiwer en sterf onseker weg.
Dis haar straf omdat sy gespot het oor Otjikavi se supermark wat net brood en tsammas verkoop, dink Aralie met ’n sinkende gevoel. As Noag beskikbaar was, het sy in hom geklim en baie ver weggery.
“Agter is ’n aantal hokke vir as jy pasiënte vir waarneming wil inbring. Daar’s op die oomblik ’n duiker met ’n beseerde agterbeen ná hy in ’n slagyster beland het, en ’n jakkals in kwarantyn. Hierdie opset is net tydelik, tot die hoofgebou in gebruik kom. Daar sal jy moderne fasiliteite hê.”
“Nie ek nie, Niel,” korrigeer Aralie.
“Niel, ja,” beaam hy. “Jou werk behels egter dat jy die meeste van jou tyd in die veld sal deurbring, met Koosjan as assistent. Julle kan die Land Cruiser as ’n mobiele kliniek gebruik, en as ’n ‘ambulans’ vir noodgevalle. Dit is met ’n radio toegerus indien jy hulp nodig het. Maak ’n lys van medikasies wat jy benodig en ek sal sorg dat jy dit kry. Intussen sal ek vir jou ’n paar rakke opsit. Hier’s darem ’n kraan, en die badkamer is nie ver nie.”
Badkamer? Aralie onthou die sinkgehuggie wat sy van die bult af gesien het en hoop sy is verkeerd. Dalk is hier net buite sig ’n moderne ablusieblok met baddens en stomende warm water.
Franco beduie na die sinkgehuggie. “So ’n span werkers is maar ’n rowwe klomp, gewoond aan basiese geriewe sonder enige tierlantyntjies. Die konstruksie-ouens verkies hul eie kwartiere op die bouperseel. Net gedurende die week – naweke gaan hulle huis toe na hul vrouens toe.”
“Wie woon hier in die kamp?”
“Ek, Tian en Hans Schreuder, wat ’n impakstudie doen, en die swembadkontrakteur. En volgende week kom die landskapargitek.”
Almal mans …
Franco lees die gedagte op haar gesig en lag. “Ek sal ’n rooster opstel en ’n pienk dingetjie buite aan die deur hang om die ander ouens te waarsku as jy binne besig is.”
’n Sleutel sou beter gewees het, dink Aralie. Behalwe dat die sinkgehuggie nie ’n deur het nie …
“Die reëling was dat Niel – of dan sy plaasvervanger –’n woonwa sou deel met Tian Harmse,” lig Franco haar in. “Maar ek glo nie so ’n reëling sal nou meer werk nie.”
Nou verstaan Aralie wat Tian bedoel het met “saam huisie-huisie speel”. Het hy regtig gedink sy sal by hom intrek?
“Nee,” stem sy saam, “beslis nie.”
“Te veel teenoorgestelde bestanddele.”
Daar is ’n tergklank in Franco se stem wat haar selfbewus maak. Sy onthou Tian se talmende blik en gee haar T-hemp ’n afwaartse pluk, sodat dit losser om haar pas. Maar besef dan dat die gebaar die situasie vererger.
Die lagliggies in Franco se oë bevestig haar vermoede. Sy weet hy het opgelet hoe Tian Harmse na haar kyk.
“Dit sal beter wees as jy liewer met my deel.”
So doodluiters, asof dit die normaalste ding sal wees …Aralie is onthuts. Haar mond gaan oop sonder dat sy ’n woord uitkry.
“My woonwa is ruim. Ses beddens, en jy kan kies op watter een jy wil slaap.”
Aralie lig haar ken en rek haar tot haar volle lengte uit. Sy is self taamlik lank, maar sy moet na hom opkyk. “As jy dink ek gaan saam met jou bly, maak jy ’n fout. ’n Groot fout, meneer Conradie!”
Vir die eerste keer let Franco die sprinkeling sproete oor die effense wipneus op. Hy is lus en trek sy vinger daaroor en oor die gleufie in die middel van haar bolip, tot by die kurwe van haar sagte mond. Sy gloei van verontwaardiging, reg om hom en die hele wêreld aan te vat.
Sy