Satyn Omnibus 4. Ettie Bierman

Satyn Omnibus 4 - Ettie Bierman


Скачать книгу
nog die trauma van die vlug, en aan die einde van ’n stamperige rit die primitiewe geriewe en onaanvaarbare slaapreëlings.

      Hy hou sy hande op, palms na haar kant toe gedraai. “Dis nie wat jy dink nie,” antwoord hy, sy stem grof. “Ek trek uit, in die sytent in. Jy slaap in die woonwa, en ek buite. Daar is ’n skuif aan die binnekant van die deur, sodat jy veilig en privaat sal wees.”

      As hy weer baklei het, gesê het sy is ’n onbekwame oorlas, sou dit makliker gewees het. Maar ’n Franco wat gaaf en begrypend is, laat ’n snik in haar keel opstoot. Trane begin loop oor haar wange en sy probeer hulle met haar kaal hande wegvee.

      Soos alle macho buitelugmans voel Franco hulpeloos in die teenwoordigheid van ’n huilende vrou. Die vroumens dink al klaar hy lê by haar aan. As hy nou sy arms om haar sit en haar vashou, kry hy waarskynlik ’n taai klap vir sy moeite.

      Evas is pragtige goedjies en hy is mal oor hulle. Maar daar was nog nooit tyd om hulle behoorlik te leer ken en verstaan nie. Hy hanteer hulle verkeerd, te kras, te rof. Sy metodes is te direk en onsimpatiek, dié dat hy gewoonlik verkeerd verstaan word.

      Hy hou ’n groot sakdoek na haar uit, maar Aralie wil dit nie neem nie.

      Die skaaphond kyk op van waar hy in die son lê en slaap het. Hy het nog nooit iemand sien huil nie. Hy betrag die nuweling skewekop en skud sy ore, terwyl hy onrustige tjankgeluide in sy baas se rigting maak. Dis asof hy sê: “Moenie net daar staan en winde sluk nie, doen iets!”

      Franco kyk radeloos na sy hond. Wát?

      Sef sit regop. Uit simpatie met Aralie punt hy sy neus in die lug en tjank hartroerend.

      “Hou op!” raas Franco. “Watse getjank is dit met jou? Stil!”

      Aralie skrik en probeer die trane wegsluk. “Ekskuus.”

      Franco steek onbeholpe sy hand uit. “Nee, nee! Ek bedoel Sef, nie jy nie. Huil gerus. Huil nog, as dit jou beter sal laat voel.”

      As sy nie besig was om te huil nie, het sy gelag. Aralie snuif en vryf met haar gewrig oor haar nat wange. Sy soek deur haar sakke en in haar mou. Haar neus loop, maar sy kry nie ’n snesie nie.

      “Waar’s daardie sakdoek van jou?” vra sy verleë.

      Franco is bly om van nut te kan wees. Gelukkig is die sakdoek skoon en gestryk.

      Aralie gee ’n waterige laggie. “Ek is nie die tranerige soort nie. Weet nie wat in my gevaar het nie.”

      “Jy’s moeg en alles is vir jou vreemd …”

      Hy vee ’n los haarsliert van haar voorkop af, die aanraking van sy vingerpunte só vlugtig dat Aralie nie weet of dit haar verbeelding was nie.

      “Ek sal jou bagasie bring sodat jy kan uitpak,” bied hy aan.

      Dit laat nuwe trane kom. “Ek kan jou nie uitskop uit jou eie plek nie.”

      Sef wil-wil uit simpatie weer by haar aansluit en Franco keer vinnig: “Jy skop my nie uit nie, ek trek self uit. Uit vrye wil. Ek slaap in elk geval meesal in die veld, in ’n hut onder by die rivier. Maar ek sal een van die slaapbanke uit die woonwa na die sytent skuif vir wanneer ek hier is.”

      Aralie blaas haar neus en klad haar stromende oë. “Dankie …”

      Sef is tevrede. Hy draf stertswaaiend vooruit na die tent, gee ’n tevrede hondesug en maak hom tuis onder Franco se werkstafel, waar hy uit die pad is en hulle albei kan dophou.

      5

      Al is die woonwa ruim, is Aralie kort-kort in Franco se pad terwyl sy uitpak en hy inpak. Sy is ongemaklik in sy teenwoordigheid en voel skaam oor die ongerief wat sy hom aandoen. Om weg te kom neem sy haar medi­synetas en gaan besoek haar twee pasiënte.

      Die draaijakkals is sku, maar aan die manier waarop sy bakore in haar rigting draai, kan sy sien dat hy geïnteresseerd is in haar teenwoordigheid. Sy oë is helder, die kleur van sy tandvleise normaal en sy pels gesond. Alles goeie tekens.

      Sy kuier ’n rukkie en vul die outjie se waterbak, dan skuif sy aan na die duiker. Hy laat toe dat sy in die hok ingaan en naby hom hurk. Dis ’n lelike wond aan sy agterbeen – ’n diep sny en stukke vel uitgeskeur soos die arme ding uit die strik probeer loskom het. Iemand het die wond skoongemaak en die wande met ’n paar steke geheg. Daar is nie veel wat sy kan doen nie; net die plek ontsmet en antibiotika­poeier oorstrooi.

      Sy neem haar kans waar en bel Niel, maar hy antwoord nie. Toe sy op die skerm kyk, sien sy daar is nie opvangs nie. Sy sal later weer probeer, bo van die bult af, waar hopelik ’n sein sal wees. Toe sy omdraai, sien sy die skaaphond het haar gevolg en lê geduldig in die koelte en wag.

      “Wie pas jy op?” vra sy. “Vir my of die pasiënte?”

      Sef se stert kwispel en hy laat sak sy kop op sy voorpote.

      “Soet hond,” prys Aralie hom. “Wie het jou so mooi geleer?”

      “Franco,” sê Tian agter haar. “Dis sy hond. Jy moet oppas – hy is so goed geleer, hy keer als aan. Netnou keer hy jou ook aan.”

      “Dis waarvoor skaaphonde geteel is.”

      “Tensy die baas hom voorspring …” skimp hy en lag vir sy eie grap.

      Aralie vind dit nie snaaks nie. “Verskoon my,” sê sy stroef en draai terug.

      “Wag, ek help jou dra, Dok,” bied Tian aan.

      Toe hy die emmer by haar neem, kyk hy nuuskierig na haar. “Van Dyk? Is jy en Niel getroud?”

      “Wás,” antwoord sy kortaf. Nie dat dit enigiets met hom te doen het nie …

      “Nou verstaan ek dinge ’n bietjie beter.” Hy vryf met sy palm oor sy dagoud-stoppelbaard. “So, hy gee nie om oor jou en die baas nie?”

      Aralie se wenkbroue trek saam in ’n frons. “Wat bedoel jy?”

      Tian trap klei. “Jy en Franco … Julle twee – almal kan sien dat julle ’n ding aanhet.”

      “Waar kom jy daaraan?” vra sy onthuts. “Ek ken hom van geen kant af nie. Ek het hom vanoggend die eerste keer ontmoet.”

      “Vanoggend?”

      Dis duidelik dat Tian haar nie glo nie. By die spreek­kamer sit hy die emmer op die tafel neer en gee ’n sarkastiese snuif. “As dit kastig so is, hoekom wou Franco my dan sommer bydam oor ’n onskuldige ou grappie?”

      Aralie stem nie saam dat dit so danig onskuldig was nie. Maar sy stry nie, want sy wil nie in ’n argument betrokke raak nie.

      Tian hou egter aan karring. “Ek het oë in my kop, Dok. Ek kan sien hoe hy na jou kyk.”

      Haar stem kry ’n kil klank. “En dit is?”

      “Moenie jou kamma dom hou nie. Jy was getroud, jy weet mos van hierdie goed …” Hy grynslag insinuerend. “Soos wanneer ’n man ’n vrou wil hê.”

      Aralie stik byna en plak haar medisynetas met geweld neer. Sy konfronteer die veldwagter, hande op die heupe soos ’n viswyf. “Jy is platvloers en vulgêr, met net een ding op jou brein!”

      “Dis waarvoor ’n man daar is,” tart hy haar. “Vir daardie dinge wat oemf in sy battery sit.”

      “Is dit al waaraan jou twee simpel breinselle dink?”

      “Nee, soms dink ek aan rugby, en Vrydagaande dink ek aan bier en brandewyn ook. Wat het Franco Conradie wat ek nie het nie?”

      “Goeie smaak en integriteit. Beskaafdheid. Ordentlikheid.”

      “Plus ’n vet beursie. En dis die dinge wat gemaak het dat jy dadelik jou tasse in sy woonwa gaan sit het, al het jy hom kamma eers vanoggend ontmoet? Of het jy gehoop die baas sal jou salaris opstoot?”

      Asof sy ’n goedkoop tert is … Aralie gooi ’n bottel Dettol na hom, maar hy koes. Aaklige, vermetele skepsel!


Скачать книгу