Anderkant die vloedwaters. Helene de Kock
Dit sal vir jou ’n gemors afgee!
“Kan . . . kan ek vir u iets te drinke aanbied?” vra hy.
Dié slag kyk sy na hom. Altans, hy vermoed so, want sy het haar kop gedraai en hy kan die dofblink uiloë van haar bril onderskei. Vreemd dat sy dié ook nog dra, dink hy. Dit is die hoed en serp. Dit maak byna haar hele gesig toe.
“Wat het u?” vra sy met haar sagte, goed gemoduleerde stem.
“Koffie,” antwoord hy verlig. “Ek kan u ongelukkig niks sterkers aanbied nie.”
“Koffie sal nou baie lekker wees, dankie.”
Wanneer sy nie so verskriklik stil is nie, het sy nogal iets, dink hy. Wat dit ook al mag wees. Hy hou op die oop strook langs die pad stil en skakel die motor af. Toe reik hy na agter waar die mandjie met die fles koffie is.
“Gaaf,” glimlag hy, “ons is gelukkig. My ma het nog koekies ook ingepak.” Hy raak bedrywig met die fles en die twee plastiekbekertjies waarop sy ma altyd aandring.
“Netnou het jy lus om twee maal stil te hou. Jy moet tog asseblief ’n paar maal stilhou, boetie. En dan drink ’n mens mos nie elke keer uit dieselfde beker nie.”
“Daar is ongelukkig net swart koffie. Maar ’n mens kan dit baie soet maak,” skerts hy toe hy dit vir haar aangee en haar skraal, fyn hand dit by hom vat.
“Bitter, dankie.”
“En ’n koekie? Daar is wel versiersuiker op.”
Sy gee so ’n beduidenis van ’n laggie.
“Dit sal lekker wees. Hoe paradoksaal dit ook al mag klink. Bitter koffie en soet-soet koekies.”
Hy verluister hom; vergaap hom so aan haar mond toe sy praat, dat hy vergeet om die koekie aan te gee en sy haar hand, palm na bo, daarvoor uitsteek. Hy plaas die kolwyntjie versigtig daarop en sien hoe sy dit fyntjies begin eet. ’n Oomblik hou sy op, kyk vlugtig na hom en vra gesteurd: “Gaan ek nou alleen eet?”
“Natuurlik nie,” kry hy sy stem terug. “Ek wag net om te hoor wat jy daarvan dink. My ma is ’n baasbakster.”
“My suster ook,” sê sy afwesig en toe met ’n vinnige kopknik na sy kant toe: “Die kolwyntjies is heerlik. Lekkerder as sus s’n. Ligter, sou ek sê.” Toe eet sy verder. Knabbel-knabbel, al met die pienk, versierde randjie op tot by die kersie en dan weer af tot die hele koekie opgeëet is. Hy gee nog een aan voordat sy hoef te vra en toe hy hom kom kry, eet hy net so smaaklik aan die kolwyntjies wat hy al dikwels verwens het. Eintlik hou hy nie van soetigheid nie. Maar om dit so proe-proe te eet, lyk meteens ongelooflik lekker. Dit is ook.
“Dis op,” sê hy naderhand toe hy met sy hand in die mandjie rondvoel en daar niks meer is nie.
“Dit was wonderlik,” sê die vrou sag en vryf haar vingers teen mekaar om van die krummeltjies ontslae te raak. “Ek . . . was besonder honger.”
“Nog koffie?” vra hy vinnig, maar sy skud haar kop.
“Nee dankie. En baie, baie dankie dat u my opgelaai het.”
“Ag wat, dis werklik ’n plesier.”
Maar as hy gedink het dat die verversinkies haar sou laat ontdooi, het hy dit mis. Sy is net so swygsaam soos vroeër; antwoord kwalik wanneer hy haar iets vra.
Toe hulle Bethlehem binnery en die straatlampe haar sigbaarder vir hom maak, kyk hy tersluiks na links. Sy sit gespanne daar. Haar vingers is inmekaargedraai en haar vol mond saamgepers. Iets is gewis fout. Iets het hierdie mens deur die nat reënnag hierheen gedryf. En hy wens hy kon weet wat dit is.
Maar toe hy voor die Royal-hotel stilhou, klim sy flink uit, trek haar asem hoorbaar in asof sy te skielik beweeg het en blik hom dankbaar aan toe hy haar tasse tot in die voorportaal dra.
Toe steek sy ’n hand na hom uit en hy kry weer die ligte, eksklusiewe geur van haar parfuum.
“Nogmaals dank, meneer Linde. Nou kan u werklik maar gaan. Ek sal self verder regkom.”
Haar hand is koud en klam, ten spyte van die jas en die rit in die warm motor, dink hy ontstem.
“Laat dit goed gaan, mevrou,” sê hy net, draai om en stap uit. Hy klim in die motor en sien vaagweg deur die fyn, siftende reën hoe sy met albei arms op die toonbank leun toe sy met die klerk praat. Toe trek hy weg en hy is al uit die dorp op pad navorsingstasie toe, toe dink hy steeds aan haar. Al was die ontmoeting kortstondig, het sy hom vreemd geroer. Dalk omdat sy so bot en swygsaam was. Eintlik was sy geheel en al afsydig. Net haar slanke liggaam in die swart jas met die swart serp en hoed op die kop en die donkerbril was daar. Die enigste keer dat hy gevoel het dat sy ’n mens is, was toe sy die koekies met soveel verfynde oorgawe verorber het.
Hy klik vererg met sy tong. Dit is sommer nuuskierigheid van sy kant af. Dié dat hy so bly wonder oor haar. Dit is nou verby. ’n Toevallige ontmoeting met ’n vreemde vrou wat eienaardig opgetree het. ’n Getroude vrou daarby.
Toe hy by die navorsingstasie se groot sandsteenhek stilhou om in te teken, het die reën opgehou. Maar die wag staan koulik nader in sy kakiejas. En Bernard glimlag effens wrang. Hy is terug op die Hoogland. In die koel bergwêreld met sy sjampanje somers. Net vanmôre sou dit snikheet gewees het, maar ná die reën is dit koel genoeg vir ’n trui.
“Naand, Karools. Hoe gaan dit hier?” groet hy terwyl hy inteken.
“Baie nat,” sê die man gemeenplasig. “Vanjaar reën dit maklik. Hier is baie swartslange ook. Ek en Janman het net gister twee gesien.”
Bernard het al geleer om nie hierdie wêreld se gelofies te minag nie en hy knik plegtig.
“Dan kan jy maar weet dit gaan nog baie reën,” sê hy en wuif toe hy deurry.
Anderkant die groot saal waarin daar gesellighede en simposiums gehou word, draai hy regs af tussen die rye wit huise. By die laaste een in die laan draai hy in. Hy was gelukkig om ’n huis te bekom. Die lang jare in die enkelkwartiere het hom moeg gemaak vir ’n saamboerdery met ander. Hy hou van geselskap, maar is eintlik ’n alleenmens.
Dalk dié dat hy so sukkel om getroud te kom. Dit is omdat hy so lekker alleen bly hier in sy eie huis, dink hy guitig. En watter man sal nie? ’n Asemrowende uitsig op Loch Lomond met sy groen oewers en digte rietbosse waar duisende watervoëls hul tuiste het. Menige naweek sit hy rustig en visvang of gaan met sy bootjie op die stil, kalm water uit, net om ure lank te sit en kyk na waar die Malutis blou teen die suiderkim staan.
“Wat maak jy as jy so sit?” vra sy kollegas soms skertsend.
“Ek vang weer ’n slag my siel op,” sê hy altyd. “Waarom loop bly julle op die dorp? Hier by die navorsingstasie is daar nog Lebensraum soos die Duitsers sal sê.”
“Ja toe,” antwoord hulle gereeld, “jy was net gelukkig om ’n huis te kon kry. Daar is mos nie genoeg huise vir ons almal nie.”
“Ag wat,” is sy antwoord, “dis net omdat julle vrouens almal eerder op die dorp wil woon. Ek het nie ’n vrou wat aan my voorskryf waar ek moet bly nie!”
Dit is ’n ou ding dié dat die manne hom almal sy verblyf beny, en sy huis is ’n gesogte kuierplek. Baie van sy kollegas was saam met hom op universiteit en hulle is ’n gesellige klomp.
Toe hy langs die wit, vierkantige huis met sy rooi gepoleerde stoep stilhou, kom sy twee honde, Polka en Masurka, springend om die hoek. Die twee kollies spring hom byna om van vreugde en trippel voor hom uit die huis binne toe hy sy goed begin afdra.
Hy lag en gesels met hulle en skud sy kop toe hulle snuiwend by die kosmandjie bly staan.
“Jammer! ’n Vroumens het die kolwyntjies opgeëet. Nou nie dat die ounooi in Pretoria al ooit besef het dat sy hulle eintlik vir julle twee lummels bak nie, maar nou ja. Terloops, dis ’n wildvreemde vrou wat die koekies opgeëet het. Sy het soos ’n skim uit die nag verskyn en weer verdwyn. Nou nie heeltemal nie. Ek het haar by die hotel gaan aflaai. Maar troos julle daaraan,