Ettie Bierman Keur 10. Ettie Bierman
“Dis omdat ek jou liefhet en nie gerus sal wees as ek terug is op universiteit, en jy bly alleen agter, oorgelaat aan die genade van my broer nie.”
“Ek is al langer as ’n week op Sesdorings en hy het nog niks gedoen om my hier te probeer wegdryf nie.”
“Het hy nie?” Daar is ’n vreemde klank in Donnie se stem.
“Wat bedoel jy?” frons Hennie.
“Nee, dis net ’n idee wat ek gekry het. Ek mag verkeerd wees. Dis onbillik om te gou te oordeel, voor ek die feite het.”
“Watter feite? Waarvan praat jy?”
“Van daardie omgekeerde advertensie in die koerant. Dink jy dis enigsins moontlik dat so ’n misverstand kon ontstaan het? Dat dit net mooi die teenoorgestelde was van wat ek vir die klerk in duidelik leesbare drukskrif neergeskryf het?”
Hennie staar Donnie aan, haar gesig ’n studie van skok en ongeloof.
“Dink jy … Carl het iets daarmee te doen gehad?”
Donnie lyk baie ongelukkig. Hy laat sy kop in sy hande sak en sy stem klink gesmoord. “Hennie, dis my eie broer … Ek sien nie kans om die volle, aaklige waarheid uit te vind nie, maar wil jy nie die Noord-Transvaalse Herald se kantoor skakel en vra of iemand nie dalk later weer gebel het om my oorspronklike advertensie te wysig nie?”
“Dink jy dis wat gebeur het?” Hennie se stem is hees van skok en woede. “Ja, dis meer aanneemlik as dat die klerk nie jou handskrif kon lees nie. Maar hoe sou Carl geweet het ek beplan om in die Herald te adverteer?”
Donnie laat weer sy kop in sy hande sak, asof hy nie die moed het om Hennie in die oë te kyk nie.
“Ek … Ek het ’n paar aande gelede die saak aan tafel genoem. Dit was om Carl te laat besef hoe vasberade jy is om van die biblioteek ’n sukses te maak. Ek is jammer, Hennie. Dit was indirek alles my skuld. Pleks dat ek my groot mond toegehou het. Ek moet mos teen hierdie tyd my broer ken. Ek moes geweet het hy sal geen gemene plan ontsien om hierdie laaste elf hektaar grond in die hande te kry nie. Hennie-skat, kan jy my vergewe?”
“Dis nie jou skuld nie. Jy het mos nie geweet jou broer sou so laag daal om my skade te berokken nie.
“Dalk …” Donnie kyk op en daar is ’n flou vlammetjie van hoop in sy blou oë. “Dalk verdink ons Carl vals. Ons is bevooroordeeld en ons oordeel dalk te gou. Asseblief, Hennie, ek sal geen gemoedsrus hê voor jy die koerant geskakel het en uitgevind het of my vermoede reg of verkeerd is nie. Sal jy dit doen?”
Hennie bly nie lank weg nie. Sy storm die biblioteek binne en haar groen oë skiet vuur. “Daardie simpel klerk het eers geaarsel en wou nie praat nie, maar toe sê ek ek gaan reguit polisie toe as hy die inligting nie wil verstrek nie. Jy was reg gewees. Dit was ’n meneer C.J. Meiring wat die tweede keer geskakel het. Wat is Carl se tweede naam?”
“J-Johan,” erken Donnie ongelukkig. “Hoekom het Carl sy regte voorletters verstrek? Of nie voorgegee dat hy ek is nie?”
“Omdat hy nie die verstand van ’n pasgebore kuiken besit nie. Het hy gedink ons sal nooit uitvind hoe agterbaks hy was nie? Het hy gedink ek sal maar tevrede wees dat daar êrens ’n misverstand ingesluip het? Jou broer onderskat my intelligensie.”
Donnie wil skielik nie die laaste mondvol tee in sy koppie hê nie. Ook tant Lettie se heerlike tuisgebakte koek stoot hy opsy. Hy staan op en vee met die agterkant van sy hand oor sy oë, asof hy iets onaangenaams op daardie wyse kan uitwis.
“Hennie, ek ry nou dadelik dorp toe. Om watter rede, weet ek eintlik nie. Miskien net om weer seker te maak of dit wel ’n meneer C.J. Meiring was wat geskakel het en hoe die stem geklink het. Ek is seker ’n groot lafaard omdat ek weier om te besef van watter stoffasie die ouboet is wat ek so lank geïdealiseer het. Ek sal op pad huis toe weer hier aankom om jou te vertel wat ek uitgerig het. Ek sal ook oral op die dorp, oral waar ek mense teëkom, hulle vertel dat die biblioteek op Sesdorings oop is. Dalk daag hier nog ’n paar mense op. Indien nie vandag nie, dan miskien môre. Moet nou nie te omgekrap wees terwyl ek weg is nie, aster, en moenie Carl gaan konfronteer of iets onbesonne aanvang nie. Ek is binne twee uur terug.”
Toe Donnie weg is, kom tant Lettie uit haar vesting. Sy is egter nie so geselserig soos gewoonlik nie en Hennie is ook nie in ’n gesellige luim nie. Elkeen gaan met haar onderskeie pligte voort sonder dat daar veel gepraat word.
“’n Motor!” roep tant Lettie skuins ná vieruur uit, haar grimmigheid en afsydigheid vergete by die vooruitsig dat hulle eerste kliënt dalk besig is om op te daag.
“Dis seker Don wat terugkom,” merk Hennie stil op.
“Nee, dis nie ’n bakkie nie. Dis ’n motor!”
Nou het sy Hennie se volle aandag. Hennie loer deur die venster en toe sy die vreemde motor vooraan ’n stofwolk sien aankom, vee sy gou haar hare plat en trek haar oorjas reg. Dis ’n motor en dit is op pad hierheen!
Wynand Bothma hou onder die soetdorings stil en help ’n ouer dame uit die motor.
“My moeder,” stel hy haar aan Hennie voor. “Sy wou by jou biblioteek kom aansluit het, maar toe sien ons jy het besluit om nie meer te open nie. Wat is verkeerd, Hennie? Het jy bang geword?” Hoopvol voeg hy by: “Of dalk besluit om ’n biblioteek op Dendron te kom open?”
Hennie het die dag in die prokureurskantoor die indruk gekry dat Wynand Bothma vir Carl Meiring skerm en Donnie het ook vir haar vertel dat die twee dikwels saam gholf speel. Wynand se insinuasie dat sy Sesdorings gaan verkoop om Dendron toe te trek, versterk haar vermoede dat hy in die vyand se kamp is. Haar groet teenoor Wynand is redelik koel, maar sy draai vriendelik na die ouer dame.
“Die koerant het per ongeluk die verkeerde advertensie geplaas. Die biblioteek het vandag geopen en u is my eerste kliënt, mevrou Bothma. Welkom!”
“Die koerant?” Wynand frons. “Ek het nie die koerante gesien nie, maar ek praat van die kennisgewingbord by die grootpad.”
Hennie was reeds besig om tant Malie Bothma binnetoe te neem. Nou steek sy viervoet vas, ’n nare vermoede en ’n sinkende gevoel in haar binneste.
“W-wat van die kennisgewingbord?” stamel sy.
“Daar staan in groot letters geskryf dat dit vandag die groot openingsdag van die biblioteek op Sesdorings is, met gratis verversings en ’n rooi pyl om te wys waar motoriste moet afdraai.”
“Ja, ek weet. Don Meiring het die bord geverf en dit vir my gewys voor hy dit langs die grootpad gaan opsit het. Ek het gedink dit sal klandisie lok.”
“Dit sou, as daar nie ’n groot swart kruis oor geverf was, met die woord Gesluit op die bord aangebring nie.”
“Dit moes ek geraai het,” sê Hennie verbitterd. Sy voel om soos ’n tierwyfie teen Carl Meiring uit te vaar, maar beteuel met moeite haar humeur. Hy en Wynand is vriende. Sy wil Carl nie die bevrediging gee om te hoor dat hy met die eerste probeerslag reeds daarin geslaag het om byna haar moed te breek nie.
“Ekskuus?” vra Wynand.
“Nee, ek het niks gesê nie. Daar was ’n misverstand. Kom binne, mevrou Bothma, dan maak ek gou vir u ’n lidmaatskapkaartjie uit. As u vir my sê van watter soort leesstof u hou, sal ek u help om vier geskikte boeke uit te soek.”
Tant Lettie is dadelik by – ’n tant Lettie wat heel duidelik pas hare gekam en vars lipstiffie aangewend het. Sy straal van vreugde en vee haar hande ingedagte aan die nuwe frilletjiesvoorskoot af.
“Die teewater kook reeds en daar is ’n heerlike sjokoladekoek, grenadellakoek, yskastert, koeksisters en botterbroodjies. Of wou u liewer koffie gehad het? Wag, laat ek die spyskaart gaan haal, sodat u self kan sien watter verversings beskikbaar is. Vandag is alles gratis – soveel as wat my mense kan opeet!”
Terwyl tant Malie soek, sê Hennie: “Op die oomblik het ek nog nie die jongste publikasies nie, Tante. Volgende maand, egter, gaan