Ettie Bierman Keur 10. Ettie Bierman
dit gekry het as dit nie by jou was nie?”
“As jy die hond genoeg kos gee, sal hy nie by ander mense se asblikke kom rondsnuffel nie.”
Die onregverdige aantyging laat Hennie baie verontwaardig voel.
“Jy kan nou gaan kyk en jy sal Lassie se skottel halfvol vind. Hy eet nooit al die kos op wat ek vir hom gee nie.”
“Ek sal jou woord daarvoor moet neem, juffrou Vermaak. Ek het geen begeerte om my voete op Sesdorings te sit om na jou hond se bak kos te gaan kyk nie.”
“Ek het ook nie die geringste begeerte gehad om my voete op Koedoespoort te sit nie, maar aangesien jy my hond aangemoedig het om deur die draad te kruip, moes ek noodgedwonge agterna kom om die skade te herstel.”
“Juffrou, ek is lief vir honde en het self ’n paar, maar ek sal beslis nie ’n vreemde hond, bygesê ’n wolfhond, na my plaas aanlok nie, veral nie in die lammerseisoen nie.”
“Lassie sal nie jou kosbare skape opeet nie.”
“Ek verkies om nie die risiko te loop nie. Hou hom asseblief in die toekoms aan jou kant van die draad.”
“Ek kan dit nie verhelp as hy gate onderdeur die draad grawe nie.”
“Hou hom dan in die biblioteek toegesluit.”
“Jy kan nie so danig lief wees vir diere as jy so iets voorstel nie, meneer Meiring.”
“Ek is lief vir diere,” herhaal hy met nadruk. “My jong skaaplammers inkluis. Ek sien nie graag dat hulle binnegoed uitgeruk word nie.”
“Lassie sal nie so iets doen nie. Hy het ’n sagmoedige geaardheid.”
“Ja, so het ek by ’n vorige geleentheid opgemerk,” laat Carl droogweg val.
Hennie weet na watter geleentheid die haatlike Carl Meiring verwys en sy word effens rooi toe sy onthou hoe swak Lassie hom in die kafee gedra het – hoe hy almal wou byt wat naby hom gekom het. Hennie weet nie wat haar nou te doen staan nie. Moet sy sonder ’n woord verder voortgaan om die rose terug te sit, of wegstap en hom dwing om sitvlak-in-die-lug in die grond te vroetel?
“Dit spyt my dat my hond jou vader skade aangedoen het,” sê sy styf. “Verduidelik asseblief wat gebeur het en vra hom om die rekening aan my te stuur.”
Carl is nie familie van oupa Drik nie, maar hy het ook ’n mate van moedswilligheid van sy streng vader geërf. Hy kan die versoeking nie weerstaan om die opening te neem wat Hennie Vermaak vir hom gelaat het nie. Hy weet dis lelik om ou koeie uit die sloot te haal, maar hierdie snip van ’n rooikop kry dit reg om elke keer die slegste eienskappe in hom uit te bring, teen sy sin en sonder dat hy bedoel om met haar rusie te maak.
“Wat sal dit help?” vra hy lakonies.
“Ekskuus?”
“Wat sal dit help om vir jou ’n rekening te stuur? Die Vermaaks betaal mos nie hulle skuld nie.”
Carl besef dadelik dit was baie lelik van hom. Daar is ’n boetvaardige uitdrukking op sy gesig en hy wil om verskoning vra, dog Hennie gee hom nie die geleentheid nie.
“Jy is ’n haatlike man! Ek kan verstaan hoekom my oupa so ’n hekel aan julle klomp Meirings gehad het. Dit kom my egter voor of my oupa nie al een met agterstallige skuld was nie. Ek reken jy skuld my ’n hele paar honderd rand, meneer Meiring.”
Carl lyk totaal uit die veld geslaan. “Vir jou?”
“Ek is my oupa se erfgenaam, gevolglik skuld jy die geld aan my.”
“Waarvoor?”
“Vir ’n sekere motor wat jy van die hand gesit het en gerieflikheidshalwe van vergeet het. Of ontken jy nie dat jy die grootste deel van die verkoopsom in jou eie sak gesteek het nie, meneer Meiring?”
’n Oomblik lank dink Hennie dat sy hierdie keer te ver gegaan het. Daar is ’n verergde flikkering in die blou oë en sy verwag ’n dwars antwoord. Dit lyk eers of Carl iets anders sou sê, dan vra hy koel: “Verwys jy na daardie stuk blik wat aan jou oupa behoort het?”
“Ek het uit ’n betroubare bron verneem dat dit ’n splinternuwe motor was wat jy laat wegsleep en verkoop het om kastige uitstaande skuld van my oupa te delg.”
“Wie is jou betroubare bron?”
Donnie het haar gewaarsku om ten alle koste nie die saak met Carl te bespreek nie. Hennie was nie van plan om Donnie se raad te verontagsaam nie, maar sy het haar humeur verloor en gepraat voor sy gedink het. Die minste wat sy nou kan doen, is om nie die jonger broer in die stryery te betrek nie.
“Ek verkies dat die identiteit van my bron geheim bly.”
“Spaar my asseblief die melodrama, juffrou Vermaak. Jy sê hierdie uiters betroubare bron het jou in kennis gestel dat dit ’n splinternuwe motor was?”
“Ja.”
“Ek stry nie en ek dwing ook nie my mening op jou af nie. Jy kan vir jouself gaan oordeel. Die … e … motor staan nog by Dendron Motorhawe. Dis in die hoofstraat, reg langs die poskantoor. Ek is seker jy weet waar laasgenoemde is …”
Hennie onthou van die vermakerige nota aan Koedoespoort se posbus en word effens rooi. Sy is egter nie van plan om vir haar boodskap om verskoning te vra nie. Nie teenoor hierdie aaklige man nie.
“Ek weet waar die poskantoor is,” sê sy sonder emosie.
“Dendron Motorhawe is langsaan. Vra om met meneer Niek Wolhuter te praat. Hy sal jou wys watter … e … motor aan jou oupa behoort het en hoeveel ek daarvoor gekry het.”
“Ek sal dit met graagte doen. Is jy nie bang dat ek die volle waarheid sal uitvind nie?”
“Nee, juffrou Vermaak.”
“In daardie geval sal jy seker nie omgee om die adres te verstrek van die messelaar wat sekere bouwerk vir jou gedoen het nie, meneer Meiring.”
“Ou Ali.”
“Miskien moes ek nie gesê het bouwerk nie. Ek dink op die voorlopige likwidasie- en distribusierekening het dit gelees: herstel van beskadigde eiendom.”
“Dis ou Ali, ja, wat die pleisterwerk vir my gedoen het. Maar jy kan nie na hom gaan soek nie.”
“Hoekom nie? Bang vir wat Ali dalk vir my kan vertel?”
“Nou goed,” sê Carl kwaad. “Foeter dan maar alleen in die lokasie in, juffrou Vermaak, maar moenie agterna by my kom kla as jy probleme gekry het nie.”
“Ek sal nie,” antwoord Hennie liefies. “As my motor se voorruit met klippe bestook word of my keel met ’n panga afgesny word, sal ek nie na jou toe hardloop nie.”
“Na wie toe dan? Na my broer? Of Wynand Bothma?”
“O, ek het nog baie ander kêrels wat toustaan om met my te trou, meneer Meiring,” sê Hennie vroom. “Enigeen van hulle brand om vir my ’n guns te doen. ’n Guns soos om byvoorbeeld ’n bietjie spioenasiewerk by ’n sekere koerant se kantoor te gaan doen.”
“Wat bedoel jy?” Dit lyk of Carl Meiring geen idee het waarop Hennie sinspeel nie.
“Miskien sal dit jou geheue verfris as ek meld dat ’n sekere kennisgewingbord met dieselfde geval verband hou.”
“Ek weet nog steeds nie waarvan jy praat nie.”
“Ontken jy dat jy enigiets daarmee te doen gehad het? Selfs al sê ek dat ek onweerlegbare bewyse het dat jy die skuldige was?”
“Ek kan iets nie ontken as ek nie die vaagste benul het waarop jy afspeel nie.”
“Jy is nie ’n goeie toneelspeler nie, meneer Meiring. Ek weet jy probeer hard, maar jy kry dit nie reg om te lyk asof botter nie in jou mond sal smelt nie.”
“Juffrou, jy praat in raaisels en ek het nie die geduld om hulle te probeer ontrafel