Ettie Bierman Keur 10. Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 10 - Ettie Bierman


Скачать книгу
sal trou en Sesdorings verkoop. Want dan sit sy sonder die teekamer en die werk wat sy so geniet. Daarom laat sy geen kans verbygaan om Donnie te beswadder en daarvan te beskuldig dat dit hy is wat al die onenigheid in die verlede veroorsaak het nie.

      Donnie het haar vooraf gewaarsku tant Lettie sal hom swartsmeer en allerhande leuens oor hom vertel, het Hennie by meer as een geleentheid gedink en haar nie veel aan die ou dame se stories gesteur nie.

      “Dit was nietemin Carl wat my ’n aanbod vir Sesdorings gemaak het, Tante.”

      “Dis net omdat hy die oudste broer is en al hulle finansies behartig, aangesien ou oom Meiring nie gesond is nie. Don kan in elk geval nie met geld werk nie. Hy mors sy pa se geld daar op universiteit.”

      “Dis nie geldmors om te studeer nie, Tante.”

      “Mits jy jou eksamens deurkom. Carl het net drie jaar geneem, toe het hy sy landbougraad. Maar Don sit al vier jaar op universiteit en hy is nog niks verder as in sy tweede jaar nie.”

      Dis vir Hennie nuus dat Donnie maar in sy tweede jaar BSc is. Sy is seker hy het vir haar vertel dat hierdie sy finale jaar op universiteit is. Ja, hy het tóg gesê hy is in sy vierde jaar …

      “Nee, ek sê mos altoos, as jy dan met ’n Meiring wil trou, Hennie, om die dele van Sesdorings terug te kry wat jou oupa verkoop het, is Carl die een om na te vry. Hy sal vir jou ’n beter man wees as sy jonger broer.”

      “Tante! Ek vry nie na Donnie nie. En ek wil ook nie met hom trou net sodat ek Sesdorings kan terugkry nie.”

      “Jou oupa sou trots op jou gewees het, my kind,” gaan ou tant Lettie onverstoord voort. “As jy op so ’n manier vir Don Meiring terugbetaal. Jou oupa sou ook gesê het: trou met hom, sorg dat hy die grond op jou naam sit, los hom uit en lag lekker oor die slim manier wat jy jou erfgrond teruggekry het.”

      “Tante!” roep Hennie ’n tweede keer geskok uit. “Ek is nie so ’n gewetenlose soort vroumens nie. As ek met ’n man trou, sal dit wees omdat ek hom liefhet.”

      “As ek jy was, sou ek liewer op Carl verlief geraak het. Liewer hy as Don of daardie prokureurtjie wat net altyd ’n verskoning soek om vir jou te kom kuier.”

      “Donnie en ek is niks meer as platoniese vriende nie, Tante. Ek glo nie ek sal ooit met hom trou, of met Wynand nie.”

      “Wynand Bothma dink nie so nie. Hy kuier darem alte gereeld op Sesdorings … Hy kan nie daardie boeke so vinnig deurlees dat hy elke week nuwes kom uitneem nie. Elke Saterdagmiddag is hy hier …”

      “Talettie, my liefdesake is nie nou ter sake nie. Wat wel ter sake is, is dat my hond amok maak in meneer Meiring se roostuin, terwyl ek staan en tyd mors. Dink Tante ek kan dit waag om oor die draad te klim?”

      “Carl sal nie kwaad wees nie.”

      “Tot hy die vernielde roostuin sien … Of moet ek eers skakel en vra of ek my hond kan kom haal?”

      “As Carl en sy pa by die huis is, sal hulle buite by die beeste of die landerye wees. Hulle sal nie die telefoon hoor lui nie.”

      Hierdie laaste inligting gee Hennie meer moed. Sy roep weer na Lassie, raas met hom en gooi ten einde laaste ’n klippie na die hond om sy aandag te trek.

      “Het Tante al so ’n stoute hond gesien? Kyk, hy steur hom nie aan my nie.”

      Hennie kyk vir oulaas of sy enige beweging op Koedoespoort se werf gewaar. Toe alles stil lyk, klouter sy oor die draad en hardloop al met ’n voetpad langs. Sy skrik toe sy die skade aan die roosbome sien. ’n Paar van die struike is heeltemal uit die grond gegrawe en van die netjiese walletjies wat ou meneer Meiring om die struike gemaak het, is geen teken nie. Vir die eerste keer sedert Donnie die hond vir haar gegee het, is sy woedend vir Lassie.

      “Gaan huis toe!” raas sy. “Kyk wat het jy aangevang!”

      Die jong wolfhond dink dis weer tyd vir speletjies. Hy ruk en pluk nog ’n roosboom uit die grond, gryp dit in sy bek en hardloop wye sirkels om Hennie.

      “Lassie, gaan huis toe!” Hennie probeer die hond gevang kry, maar hy is te rats vir haar. Hy dink dis weer die speletjie wat hulle elke aand voor ete speel – wanneer sy nooi hom jaag en die bal by hom probeer afneem. Hy blaf uitbundig en sorg dat hy net buite bereik van die grypende hande bly. Toe Lassie die roosboom uit sy bek laat val het, gryp Hennie dit en probeer hom daarmee nader lok. Sy het die hond geleer om stokke te jaag en sy hoop Lassie sal die roosboom uit haar hand probeer gryp, sodat sy hom kan vang. Lassie is egter te slim. Hy blaf, hardloop ’n draai oor die werf en kry dan weer die heerlike geur van ’n ou been wat hy ’n paar dae gelede hier kom begrawe het. Hy verloor belangstelling in die speletjie en grawe ou meneer Meiring se mooiste pienk Doris Day uit die grond, op soek na die skaapboudbeen wat hy hier iewers begrawe het. Hennie verloor haar geduld met die moedswillige hond. Sy storm op hom af, swaai die stuk roosboom en slaan hom ’n harde hou op die boud.

      Lassie het netnou haar bevel goed verstaan, maar hy was nie lus om dit te gehoorsaam nie. Nou sien hy dat sy nooi kwaad is en hy verander vinnig van mening. Hy tjank verskrik en laat vat na die gat in die draad waar hy altyd deurkruip.

      “En nou bly jy aan daardie kant van die draad!” skree Hennie hom agterna. “Tant Lettie, sluit vir Lassie in die biblioteek toe!”

      Hennie beskou die skade aan die tuin. Haar moed sak in haar skoene. Sy is baie lus en volg Lassie se voorbeeld – hardloop ook weg en ontken daarna enige kennis van ontwortelde roosbome en vernietigde walletjies. Sy weet egter dat die Meirings sal raai wie die skuldige was en sy is baie bang vir hulle wraak. Sy moet hulle liewer nie ’n stok gee om haar mee te slaan nie …

      Hennie val op haar knieë en begin vir die vale walletjies bou en gate grawe. Sy wens sy kon gou huis toe hardloop om ’n graaf te kry, maar sy is bang die Meirings kom intussen van die dorp of die landerye af terug. Gelukkig is alles tot dusver nog doodstil. Dit lyk of hulle gelukkig nie tuis is nie, anders sou Carl natuurlik lankal kom kyk het wat aan die gang is en haar weer beledig en uitgevreet het en seker nog boonop skadevergoeding geëis het. Sy moet net so gou en so deeglik moontlik probeer regmaak wat haar hond verbrou het, voor hy haar hier betrap …

      Hennie werk vinnig. Ná tien minute is die gate wat Lassie gegrawe het, toegekrap en die walletjies weer só netjies gemaak as wat ’n onkundige tuinier hulle kan kry. Die eerste roosboom is weer in die grond – hopelik op sy regte plek – en daar lê nog net drie ander wat herplant moet word. Hennie vee die los grond met haar hande gelyk. Sy het nie groeivingers nie. Wat sal meneer Meiring dink as sy roosbome ewe geheimsinnig een na die ander begin doodgaan? Sy kruip op haar knieë agteruit om haar handewerk te bekyk en buk dan vooroor om die grond op ’n paar plekke vas te druk sodat dit meer natuurlik moet lyk.

      “Jy het die kompos vergeet,” sê ’n koel stem reg agter haar. “As ’n mens rose plant, moet jy altyd ’n halfkilogram kompos in die gat gooi en met die grond meng sodat dit nie die plant se wortels brand nie.”

      Hennie vlieg verskrik om. Carl Meiring leun teen die sonnewyster, arms gevou en ’n grimmige uitdrukking op sy gesig. Hy lyk skielik vir Hennie baie groter as wat sy hom onthou het. Breedgeskouerd en vreesinboesemend. Seker omdat sy bang is.

      “Hoe lank staan jy al hier?” stamel Hennie verbouereerd.

      “’n Paar minute. Sedert die operasie begin het.”

      Hennie weet sy is in ’n hoek gedryf. Sy kan nie wag dat die jagter haar keel-af sny nie. Sy moet grom en tande wys.

      “Hoekom het jy nie lankal gesê jy staan hier nie?” vra sy strydlustig.

      “Ek het gedink jy weet,” kom die koel antwoord. “Ek het gedink jy het besluit om my weer te ignoreer, soos jy die afgelope paar weke gedoen het.”

      Dit neem al die wind uit Hennie se seile.

      “Wel, ek … ek het jou nie gesien nie,” sê sy lamlendig. Hierdie man besit blykbaar die gawe om haar altyd in ’n onvleiende en onvroulike posisie te betrap. Net soos daardie eerste keer, was sy sitvlak-in-die-lug en sy kan


Скачать книгу