Gruispad na Tóg Wat. Helene de Kock
Dalk was daar regtig ’n stryery oor die badkamer, as daar maar wás . . . Maar sy Liz het die waarheid gepraat – dit is so dat hulle nog nooit ’n huisbouery bespreek het nie. Hy wonder of ou Koot dit besef . . .
En nou sit Pierre en Lizette in die inry, en die gedagtes aan die huis is tussen hulle. Met elke minuut wat verloop, kom daar ’n muur by. Dit voel vir Lizette of die hamburger en aartappelskyfies haar hele mond vol is en na saagsels smaak. Ook Pierre, met wie se eetlus daar nooit iets skort nie, sit net en knibbel. Halfpad geëet aan sy aartappelskyfies, vou hy dit toe in die pakkie, sit dit op die agterste sitplek neer en skakel die motor aan. Lizette vra nie eens waarom hy dan uitry as die prent nog nie eens begin het nie. Sy weet goed hulle moet praat, hierdie gedwongenheid wat van buite af op hulle druk, wegpraat.
Toe hy uiteindelik stilhou, is dit onder die welige wilgers van die Groenvlei-feesterrein, en toe hy die motorligte afskakel, is dit stikdonker rondom hulle. Lizette voel hoe haar hart met swaar, seer slae klop sodat sy met ’n sug na haar asem reik. Na ’n rukkie skakel Pierre die motor se binneliggie aan, en draai skuins om haar mooi te sien. Hy kyk na haar lang, los raafswart hare wat bloublink glim in die effense liggie, na haar groot oë en die weemoedige trek om haar mond. Ek wil haar hê, dink hy met begeerte, ek wil haar regtig hê. . .
Tog is sy woorde swaar: “Liz . . . Dis ’n groot verantwoordelikheid om ’n plaas soos Tóg Wat te erf.”
Sy lig haar gesig na hom toe en antwoord stadig: “Hm . . . en om ’n plaas soos Sterk Water te trou, is ysingwekkend.”
Hy antwoord nie dadelik nie, draai sy kop weg en staar met ’n frons na sy eie weerkaatsing in die ruit.
“Wat,” vra hy net naderhand, “skort met ons mense in die laaste tyd?”
“Jy bedoel die geneul oor die huisbouery?”
“Ja.” Hy draai terug na haar, kyk stip na haar gesig toe hy sê: “En my pa praat selfs van ’n erfgenaam!”
Haar mond gaan oop en selfs in die swak lig sien hy hoe ’n diep gloed oor haar wange spoel.
“Jy . . . steur jou tog nie daaraan nie!” is al wat sy uitkry.
“O ja, ek steur my wel daaraan,” sê hy in ’n vaste stem, “want dit is tyd dat ek en jy aan vernuwing en verdieping begin dink, Lizette. Ons is . . . nie meer kinders nie!”
Asof hy haar nie die kans wil gun om twee maal daaroor te dink nie, trek hy haar nader, dwing haar mond na syne en soen haar met ’n drif wat aan desperaatheid grens. Maar toe sy haar hande sag oor sy agterkop plaas en haar oorgee, ontspring daar soveel vertedering uit die liefde wat hy vir haar het, dat drif vervloei en ware begeerte meester word van hom. Dit is hy wat hom met ’n sidderende asemteug uit hul omhelsing losmaak.
“Ons moet maar liewer trou,” sê hy, vee met die agterkant van sy hand saggies oor haar gesig.
Daar is ’n bewing in haar stem toe sy hom antwoord: “Omdat jy voel jy móét of omdat jy graag wil?”
“Ek hét jou lief!” sê hy in verweer, sy hande om haar boarms.
“Ek weet . . . maar die huwelik vra tog ook bereidwilligheid tot gebondenheid?”
Hy neem sy hande traag van haar af en plaas hulle op die stuurwiel voor hom. “Lizette,” sê hy hees, “jy is so pragtig . . . jy skeur my hart aan twee!”
“Dit . . . wil ek nooit doen nie!”
Hy bly doodstil, onmagtig om iets te uiter wat sinvol gaan klink. Hy weet net nie, ag, hy weet tog nie . . .
Lank sit hulle in stilte, omdat albei weet dat vele woorde nie nou veel kan lap nie. Eindelik vra sy reguit: “Wat is dit, Pierre, wat jou in die laaste tyd so ry?”
En hy erken. Al is dit vir hom swaar, erken hy: “Dis my pa. Jy sien, ek het my dit so geheel anders voorgestel. Ek het altyd geweet dat hy maar net hý is . . . jy ken hom tog. Maar ek het gehoop dat as ek my studie voltooi het, hy my as sy gelyke sou beskou. Wel, hy het nie verander nie. Hy wil graag hê dat ek dáár moet wees, maar nie déél daarvan nie. Ek glo nie eens hy weet dat hy so is nie, want hy ken nie so iets soos selfontleding nie. Vir hom is dit heel eenvoudig: Pierre kom plaas toe en hy maak soos ek sê, en ek sal ook vir hom sê wanneer om vrou te vat en ook wanneer om ’n kind te hê!”
Hy bly weer ’n ruk lank stil. “Ek kan nie só leef nie, Lizette. Ek is ook maar net ék. En ek wil nie vasgevat en toegevou word nie – ek sal versmoor . . .!”
“Ek kan dit begryp,” sê sy sag, “en ek wil vir jou iets aanhaal wat ek nou die dag gelees het. Dit gaan so:
‘If you love something – set it free . . .
If it comes back to you, it is yours . . .
If it does not come back – it has never been yours . . .”
“Ja . . .” sê hy ingedagte, “ja.” En toe: “Ek het te vroeg huis toe gekom, Lizette. Ek kan nie langer aanbly nie . . .”
“Wat gaan jy maak?” vra sy kalm, maar haar vingers klem in haar skoot.
“Ek gaan verder studeer . . . of so het ek gedink . . .”
“’n Goeie plan, die énigste, sou ek sê . . .”
“Daar het jy gelyk.”
Daar het ’n subtiele, waaksame ondertoon in hul gesprek ingesluip, en Lizette is die eerste om dit aan te voel. Tog vra sy kalm: “Wanneer beplan jy om te gaan?”
“Binnekort. Lizette . . .?”
“Ja?”
“Wat . . . van óns?”
Sy draai na hom, kyk vlugtig na sy stywe profiel, en toe weer voor haar, en voel vir die soveelste keer op hierdie aand hoedat haar senuwees tot die uiterste toe getakseer word.
“Niks dramaties nie,” antwoord sy kalm, “ons sal maar sien hoe dinge uitwerk.” Maar sy dink: liefste Pierre, as jy werklik seker was, sou jy die vraag nie gevra het nie. Ek weet nie of dit net jou ontuisheid op Tóg Wat is wat jou verjaag nie, maar ek weet wel dat jy nie nou kans sien om my saam met jou te neem nie.
Toe sit hy sy hand oor hare. “Dit sál uitwerk, Liz, jy sal sien. Ek wil net ’n ruk hê om hierdie ding in my lewe te verwerk. Ek weet nie of ek ooit die moed sal hê om my pa dag na dag te opponeer nie; ek is geen vegter nie. Maar ek kan my ook nie meer só laat manipuleer nie.”
“Natuurlik nie,” antwoord sy, en sy bedoel dit. Maar dink weer: En dit, Pierre, beantwoord nog nie die vraag oor ons twee se toekoms nie.
Toe hy haar uiteindelik weer knap voor twaalf voor Sterk Water se opstal aflaai, wil hy haar nog in sy arms terughou, maar sy soen hom vinnig en klim uit.
2
Pierre Nienaber stap uit die groot moderne landbougebou van die universiteit en klim in sy motor. Gedane sake, dink hy toe hy wegtrek, het geen keer. Hy is pas meegedeel dat die universiteit hom met graagte as gevorderde nagraadse student terugverwelkom. Te meer omdat hy so uitstekend gevaar het die vorige jaar. Hy strek sy skouers ergerlik in die donkerblou kleurbaadjie wat die nagraadse studente dra, om die morbiede gevoel wat hom kort-kort met mening pak, van hom af te kry. Hy moet nou ophou om aan hierdie besluit van hom te dink as gedane sake. Dit was ’n positiewe ding wat hy gedoen het, wat veel vrug gaan afwerp. Dit móét hy glo!
Hy bestuur sonder veel konsentrasie deur die nog leë strate. Die eerstejaars kom eers oor ’n paar dae, en die res begin ’n week daarna. Hy het vroeg gekom, want die atmosfeer op Tóg Wat, en ook op Sterk Water, na sy besluit bekend geword het, was bepaald nie bevorderlik vir ’n goeie gemoedstoestand nie. Buitendien was daar nog die kwessie van ’n titel vir sy M.A.-verhandeling. Noudat hy finaal besluit het om met Landbou-ekonomie aan te gaan, lê dié moeilike keuse egter nog voor, en daarvoor het hy ’n bietjie tyd nodig.
Hy draai in ’n besiger deel in en kies dan links in Lynnwoodweg koers. Hy sal by die inwonende professor van sy ou koshuis