'n Nooi vir Omdraaikrans. Sarah du Pisanie

'n Nooi vir Omdraaikrans - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
Die hele ou dorpie was almal opgewonde oor die groot geleentheid wat na haar kant toe gekom het. Selfs Hilda se goedheid, die feit dat sy nog nie haar vriendin vergeet het nie, is besing. Hoe kan sy nou teruggaan en vir hulle gaan sê dit was ’n sieklike grappie? Al kan sy dan maar net die drie maande bly; selfs dít het Hilda in haar brief verswyg. Volgens haar was dit ’n betrekking.

      “As ek besluit om te gaan, Hilda, wat gaan jý dan doen?”

      Mariet staan nog steeds met haar rug na Hilda toe. Hilda spring op en kom staan langs haar voor die venster.

      “Sal jy? O, Mariet, baie, baie dankie!”

      “Ek het nie gesê ek sal nie. Ek vra wat jý dan gaan doen. Jy kan nie hier bly nie. Al is jou ouers in Amerika, sal iemand hulle laat weet.”

      “Alles is reeds gereël. Ek gaan Johannesburg toe.” Hilda ontwyk Mariet se helder oë sodat sy nie die waarheid sal uitsnuffel nie. “Ek wou nog altyd graag ’n modelleerkursus volg. Pappa het egter gesê hy sal nie toelaat dat ek my so ten toon stel nie.” Hilda kyk op, want hierdie deel is darem waar, hoewel dit nie nóú deel van haar plan is nie. “Ag, Mariet, jy weet tog ek haat tik! Ek wil liewer iets anders doen. Wanneer hy van Amerika af terugkom, wil ek my diploma voor hom neersit sodat hy kan sien ek kan ook self iets regkry. Ek kan tóg iets bereik sonder sy invloed en geld.”

      Dit klink vir Mariet heeltemal aanvaarbaar en haar simpatie is sommer weer by Hilda. Elkeen wil tog graag wys wat in hom of haar steek.

      “Jou pa sal mos kontak behou met dié doktor Liebenberg. Jy sal natuurlik ook moet skryf en die briewe sal daar gepos moet word.”

      “Ek het aan al daardie ou dingetjies gedink, Mariet. Jy tik sommer die gewone nuus. Ek het ’n klompie poskaarte geskryf wat jy so van tyd tot tyd tussendeur kan pos, sodat hy nie onraad merk nie. Ek het destyds, toe ons op skool was, ook altyd vir hom briewe in die tikklas getik. Hy sal dit nie vreemd vind nie.”

      “Jy was darem baie seker van jou saak, Hilda.”

      “Ag, Mariet, ek ken jou mos. Ek het geweet as daar één mens is wat sal verstaan, dan is dit jy.”

      “Die doktor … het jy hom al gesien?”

      “Nee, gelukkig nie. Hy is maar een van Pappa se kennisse.”

      “Jong, Hilda, dit sal nie werk nie. Jou foto verskyn seker gereeld in koerante. Hy móés jou al gesien het.”

      Mariet kyk bekommerd na Hilda. ’n Mens weet nooit hoe ver sy regtig sal gaan om haar sin te kry nie.

      Hilda ontwyk haar oë en daar is so ’n skuldige trekkie op haar gesig. Stadig gaan daar vir Mariet ’n lig op en haar oë vernou.

      “Dan is dít die rede hoekom jy kastig aan mý gedink het. Ek moes van die begin af geweet het daar is ’n slang in die gras. Jy het jou hele lewe lank nog net aan jouself gedink.”

      “Wat … bedoel jy nou? Ek weet nie waarvan jy praat nie!” Hilda probeer haar onskuldig hou, maar sy flous nie vir Mariet nie.

      “Ons twee! Ons het mos taamlik baie na mekaar gelyk – dieselfde bou en lengte, dieselfde ovaalvormige gesigte …”

      “Ag, Mariet, ek –”

      “Wel, indien jy dit nie self kan raaksien nie, laat ek jou dan inlig daaromtrent: ons twee lyk glad nie meer na mekaar nie!” Mariet onderbreek Hilda ongeduldig, gryp haar hand en sleep haar tot voor die lang spieël in die voorportaal.

      “Kyk! Wat sien jy? ’n Vaal mot en ’n skoenlapper! Dink jy enige mens met oë in sy kop sal ons vir dieselfde persoon aansien?”

      Mariet is op hierdie oomblik woedend kwaad omdat sy haar ná al die jare nog steeds deur Hilda laat rondgooi.

      Hilda antwoord haar nie. Sy haal net stil die haarnaalde agter uit Mariet se hare sodat die bruin hare afsak en tot ver onder haar skouers hang.

      “Ek gee toe: ons is nie ’n tweeling nie, Mariet, maar jy weet tog hoe lyk die koerantfoto’s meestal. Buitendien word ek gewoonlik saans by onthale en sulke dinge afgeneem. Dan is ’n mens uitgevat en opgesmuk. Enige mens lyk anders in gewone dagdrag.”

      “Maar dit is so oneerlik, Hilda. Ek weet darem nie.”

      “Dit is nié oneerlik nie, Mariet. Dit is net … ’n kans wat jy my in die lewe gee. Ek het nog so min die geleentheid gehad om te wys wat in my steek.”

      “Hier het jy ’n gulde geleentheid om jou slag te wys én jou pa gelukkig te maak, en jy wil nie daaraan raak nie! ’n Mens sal dink dit is ’n vuil stuk lap.”

      “Mariet … sê jy sal gaan? Toe, asseblief! Ek het vir jou ’n tas van my klere ingepak.”

      “Dit sal ek waaragtig nie doen nie!” Mariet se oë blits toe sy vererg omswaai. “Ek gaan met my eie klere of ek gaan glad nie!”

      “Maar jou goedjies is –”

      “Daar skort niks met my goed nie. As dit goed genoeg is vir Mariet Fourie, dan is dit goed genoeg vir Hilda Cronjé. Verstaan jy?”

      “Ja, goed, Mariet. Sal … jy dan gaan?”

      “Wanneer moet jy daar wees?” Mariet sug en draai haar hare weer op en steek dit agter haar kop vas.

      “Ek moes al vandag daar gewees het. Ek … het vanoggend gebel en gesê ek sal laat wees.”

      “Hilda, ek sal op een voorwaarde gaan: ek wil jou adres hê. Ek wil met jou in aanraking kom as daar iets skeefloop.”

      “Goed, ek sal dit vir jou stuur.”

      “O nee, ek wil dit nóú hê.”

      “Maar ek weet nog nie wat my permanente adres is nie!”

      “Dan gee jy vir my jou tydelike adres totdat jy ’n ander een het. Ek wil weet waar ek jou enige oomblik in die hande kan kry.”

      “Goed, maar jy maak nou ’n bohaai oor niks nie. Daar sal niks skeefloop nie.”

      “Dalk nie vir jou nie, maar vir my wel. En nog ’n ding, Hilda, jy gaan my nie probeer kul nie. Jy gaan daardie kursus volg soos wat jy gesê het. Onthou net, jy is die enigste een wat kan verloor. Jou pa sal jou onterf en dan sal jy die res van jou lewe jou twee handjies moet gebruik om aan die lewe te bly.”

      Mariet se stem is so dodelik ernstig dat Hilda net met groot oë na haar kan staar en luister.

      “Ons sal met hierdie bedrogspul kan wegkom, Hilda, slegs as jy vir jou pa iets konkreets kan wys, iets wat jy op eie houtjie bereik het. As jy egter van plan is om iewers te gaan rinkink terwyl ek daar moet gaan werk … wel, dan is ons albei kniediep in die moeilikheid.”

      “Maar een van my mikpunte in die lewe was nog altyd ’n modelleerkursus, Mariet.”

      “Wel, jy gaan alles nou op skrif stel. Jy gaan die rede aangee vir hierdie bedrogspul en jy gaan in daardie brief sê dat ek nie daarvan geweet het voordat ek hier in die Kaap aangekom het nie. Jy gaan dit teken en ek gaan dit by my hou. Net ingeval … daar dalk iets gebeur.”

      Mariet sien met genoegdoening hoe hierdie voorstel die wind heeltemal uit Hilda se seile haal. Hilda moet darem ook nie dink sy is onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Sy gaan beslis nie haar verantwoordelikheid oorneem sodat sý iewers kan gaan vakansie hou nie. Soos sy vir Hilda ken, sal sy dan net later as die onskuldige een uit die prentjie tree.

      “Maar dit is nie nodig nie, Mariet. Vertrou jy my dan nie?”

      “Dit is beslis nodig, Hilda. Jy wil vir jou pa bewys dat jy iets op eie houtjie kan doen. Sê nou net dit werk nie uit nie? Hulle sal net sê ek het saam met jou gekonkel; niemand sal na my verduidelikings luister nie!”

      Baie teësinnig skryf Hilda die brief, en Mariet lees dit versigtig deur voordat sy dit opvou en in haar handsak bêre.

      “O, gonna!” Mariet byt bekommerd aan haar duimnael. “Wat is dit nou?”

      “My


Скачать книгу