Mara. Lisette van de Heg
gelede is dit dat ek en Mamma saam deur die weivelde gehuppel het, albei met ’n mandjie aan die arm wat ons volgemaak het met alles wat ons sien. Magrietjies, perdeblomme, botterblomme, wildekerwel en lekkerruikende kamille. Ek maak my oë toe en sien ons hardloop, hand aan hand en breed aan’t glimlag. Ek ril en maak my oë vinnig oop. Waar kom hierdie beelde vandaan?
“Kom saam, dan wys ek jou jou kamer.” Gehoorsaam loop ek agter Tante aan en sy maak die deur vir my oop. Aarselend volg ek haar by die kamer in. Ek gee ’n gilletjie toe ek rondkyk en op die bed ’n ou teddiebeer sien wat Tante vroeër vir my gemaak het. Ek kon dit nie saamneem toe ons verhuis het nie, en ek was weke lank hartseer daaroor. Ek kyk in haar oë en knik dankbaar. Saggies loop ek deur die kamer en laat my hande oor die wastafeltjie gly, waarop ’n pragtige lampetstel staan. Ek herken dit van vroeër; Ouma was altyd baie trots daarop. Hier is nie ’n spieëltafel nie, maar bokant die wastafeltjie hang daar ’n spieël teen die muur, en op die bedkassie is daar’n vaas met krisante.
Die gordyne is van dieselfde materiaal as dié in Tante se kamer en die sprei wat op die bed lê, is ’n vrolike lappieskombers wat my tante waarskynlik self gemaak het.
“Dis ’n wonderlike kamer,” fluister ek.
“So, dis vir jou mooi?”
Ek knik. “Dit was ’n goeie idee om ’n deel van die solder vir slaapkamers te gebruik. Dis baie mooi, Tante. Wat is daar agter die derde deur?”
Tante Be loop voor my uit en maak die deur oop. Ek kyk oor haar skouer en sien die hooisolder soos ek dit uit my jeug ken. Daar is nog meer as genoeg ruimte oor, sien ek.
“Ouma het baie gou nadat julle weg is, besluit om dit so te laat verbou. Sy het altyd gehoop dat julle as gesin sal kom oorbly en sy wou kamers gereed hê as dit gebeur.”
Ek knik woordeloos en dink aan Ouma en Mamma en Tante. Arme Ouma, sy het sekerlik nooit gedink haar kleindogter sal as ’n swanger banneling in hierdie kamer kom bly nie.
“Ons het natuurlik nie self die ruimte nodig gehad nie, maar toe Ouma dood is en Anna steeds nie opdaag nie, het ek besluit om die kasbeddens te verander. Ek slaap liewer in ’n ruim kamer as in ’n benoude kasbed.”
Tante trek die deur toe en gaan ondertoe.
“Ek is baie verras, Tante. Mamma sal dink dis pragtig!” Die woorde is oor my lippe voordat ek daaroor kon dink en ek bly dadelik stil. Mamma sal niks hiervoor omgee nie, ek weet dit mos. Sy sal hierdie veranderings aan haar ouerhuis in elk geval heel waarskynlik nooit te sien kry nie.
“Ons het haar toestemming gevra, weet jy,” sê Tante terwyl sy voor my uit teen die trap af loop. “Ongelukkig het Anna nooit gereageer nie, en ek en Ouma het uiteindelik besluit om nie langer vir haar antwoord te wag nie.”
Ek dink aan al daardie briewe wat maandeliks aangekom het en vernietig is sonder dat iemand hulle gelees het. Dit maak my dadelik bedruk, want wat kan ek doen? Moet ek vir tante Be sê sy het al daardie jare briewe geskryf wat nie gelees is nie of elke maand toekyk hoe sy ’n brief gaan pos, terwyl ek weet dis verspilde moeite?
Hoe sou Tante gereageer het die dag dat daardie brief uiteindelik gekom het, die brief oor haar susterskind, die een wat sy wil hê ek moet lees? Sou sy hoopvol gegimlag het, of het sy die brief met ’n angstige gevoel oopgemaak, met die verwagting dat dit slegte nuus bevat?
“Wil jy tee drink, skat?”
Ons is terug in die kombuis, en ek knik. Die brief. Wat staan in die brief?
“Gaan sit maar daar, jy is seker moeg,” sê Tante en sy beduie na ’n stoel.
“Ek kan nie daar sit nie! Dis Oupa se stoel.”
“Oupa is nie meer hier nie en jy is moeg. Gaan sit gerus daar. Dis die beste stoel wat ek het.”
Huiwerig gaan sit ek op die stoel wat met groen materiaal oorgetrek is. Dit staan reg langs die koolstoof en die hitte omhul my soos ’n warm kombers.
“Hier is jou tee.” Ek moes ’n oomblik lank ingesluimer het, want die skielike woorde laat my skrik.
“Wil jy nou dadelik die brief lees?”
Ek knik. My liggaam is doodmoeg, maar my gees sal eers tot rus kom wanneer ek weet wat daarin staan. Ek is Tante dankbaar dat sy daaraan dink; dit is asof sy presies aanvoel wat sy moet sê of nie.
Tante Be bring die brief, gee dit sonder ’n woord vir my en loop by die kombuis uit. “Roep maar as jy my nodig het.”
Dit neem ’n paar minute voordat ek myself so ver kan kry om die brief te lees. Ek sit in Oupa se stoel en staar na die koevert met my tante se adres in die dominee se handskrif daarop. Dit beantwoord die eerste vraag. Hy het die brief geskryf. Natuurlik. Hoe kon ek ooit dink dat my ma haar hiermee sou bemoei het? Uiteraard het sy haar afsydig gehou. Weet sy regtig wat aan die gang is? Besef sy dat ek swanger is en dat sy ouma gaan word?
Soos gewoonlik was dit die dominee wat reëlings getref, besluite geneem, bevele gegee het. As God iemand nodig sou kry om sake in die hemel te reël, sal die dominee beslis voor in die ry staan om sy slag te wys. Hy sal alles op sy manier uitgevoer kry, hy sal die lofsange lei en die preke lewer. Hy sal heer en meester word in die hemel, en daar sal nie meer plek vir God of die engele wees nie.
Die brief kraak in my hande en my vingers tril.
Dit is tyd.
Bewerig maak ek die koevert oop en trek die brief uit. Net een vel papier, beskryf met sy stekelrige handskrif.
My oë gly oor die letters wat woorde vorm, sinne, ’n verhaal. Die letters kom bymekaar en vloei saam tot ’n lewensgroot woord gevorm word. Beskuldigend spring die woord uit die papier op. Hoer.
Die woord wat hy keer op keer gebruik het, totdat selfs Mamma instemmend geknik het. Die woord waarmee hy dit vernietig het wat van my waardigheid oorgebly het. Die laaste skerwe van my jeug en vooruitsigte het uiteindelik onder sy voete gekraak en gebars, elke keer dat hy dit gesê het.
Hoer.
Die brief val uit my hande en sweef grond toe, vredig soos ’n veertjie, maar skerp soos ’n mes.
Ek slaan my hande voor my gesig en vou dubbel. Agter my toe ooglede is dit swart en dan weer wit. Die leegte het ’n eie kleur en genoeg ruimte vir die beskuldiging wat oor sy lippe gekom het. Hoer. Vieslike hoer. Niemand in sy gemeente moes iets weet nie, maar teenoor die mense wat my lief kon hê, was hy duidelik genoeg. Eers Mamma, nou Tante. Daar gaan niemand vir my oorbly nie, almal gaan sy voorbeeld volg en my veroordeel. Daar is geen genade vir ’n hoer nie.
Ek hoor nie toe Tante inkom nie. Later vertel sy my dat ek niks kon hoor nie. Sy het my naam ’n paar keer geroep, maar ek het nie gereageer nie. Eers toe sy my hande vat en dit sag streel, toe sy my ’n soen op die wang gee en woordjies in my oor prewel, toe eers het ek tot my sinne gekom en het my gedagtes teruggekeer na die hede. Ek is so wit soos ’n laken, sê Tante, en ek weet dit is waar. My arms en bene is lamgeslaan, vir altyd kragteloos, en ek sal nie verbaas wees as al die bloed uit my liggaam gevloei en my doodgewoon agtergelos het met die verraderlike omhulsel wat ek haat vanweë alles wat hy in hom dra nie.
“Wil jy my vertel?” vra Tante, veel later, nadat ek tee gedrink en sy my ’n ekstra dik trui gegee het, omdat die koue vastrapplek in my lyf gekry het en ek aanhou bewe.
Ek skud my kop, maar terselfdertyd maak ek my mond oop om minstens een ding te verduidelik. Fluisterend kom die woorde oor my lippe.
“Ek is nie ’n hoer nie.” Ek sluk. “Ek het nie ’n kêrel of ’n man nie. Daar is niemand.”
Ek weet nie of ek dié laaste woorde hardop gesê het nie, maar die ontkenning van enige manlike teenwoordigheid in my lewe – die dominee s’n ook – voel goed en ek herhaal dit vir myself, oor en oor. Daar is niemand. Niemand. Hy is ’n niks, ’n niemand. Die woorde bring verligting, al duur dit nie lank nie.
Uiteindelik staan Tante op en begin die tafel dek. Ek wil opstaan en haar help, maar my bene is steeds swak en ek val terug in die stoel.