Liefde in laslap. Elsa Winckler
sy ook ’n weeskind. Sy is universiteit toe om Grafiese Kuns te swot en is ’n bekende illustreerder van kinderboeke. Van die illustrasies het hy toevallig uitgevind tydens ’n boekefees twee jaar gelede toe hy haar daar opgemerk het.
Hy weet sy praat nie baie nie, maar luister eerder; hy weet sy eet haar kos stadig en geniet elke happie ooglopend. Hy weet sy speel met haar hare wanneer sy ingedagte is; hy weet haar oë is ’n skakering van groen wat hy nog nooit gesien het nie.
Hy kan dae lank wonder oor haar oë. Groen is skynbaar die kleur van balans, van orde, van harmonie. Maar wat hy voel wanneer hy hom in ’n onbesonne oomblik in haar oë verdiep, het hoegenaamd niks met orde of harmonie uit te waai nie.
Die eerste keer wat hy haar gesien het, was toe hy saam met die res van sy gesin vir Amelie in haar tuin gaan help het. Natalie was ook daar. Sy het met haar rug na hom gestaan toe iemand haar roep. Sy het laggend omgedraai. En ’n vuishou begeerte het hom in die maag getref.
Sy eerste reaksie was: hy ken haar. Hy moes haar al iewers gesien het, want sy het so bekend gelyk. Maar hy het gou besef hy sou haar beslis onthou het as hy haar voorheen ontmoet het.
Die res van die middag het hy soos ’n zombie meganies gedoen wat sy pa en Chris hom beveel het.
Dit was net ’n week nadat hy Selene uit sy lewe gestuur het. Hy was onmiddellik de hel in. Hier was nog ’n vroumens wat hom dadelik soos ’n idioot laat optree het en hy het besef: van haar af moet hy so ver moontlik wegbly; in elk geval tot die belaglike reaksie wat sy ontlok, verby is. Want die gevoel wat sy in hom wakker gemaak het, was iets heeltemal anders as wat hy vir Selene gevoel het, iets baie meer basies, baie meer intens. En hy gaan sy lewe vir g’n bleddie vrou omdop nie.
Vir twee jaar het hy haar gereeld by Chris en Amelie raakgeloop, en elke keer het sy dieselfde uitwerking op hom gehad. Hy het selfs later al wat ’n vroumens is saamgesleep na die kuiers, maar selfs nie die mooiste girl aan sy sy het sy begeerte na Natalie verminder nie. Daarom, toe hy die kans kry om saam met ander skrywers ’n jaar in Toskane te gaan skryf, het hy dit aangegryp. Teen die tyd dat hy terugkom, sou hierdie belaglike gevoel weg wees.
Maar die afgelope maand was daar ’n dringendheid in hom om terug te kom, om haar te kom opsoek om te kyk of sy nog dieselfde uitwerking op hom het. En nou weet hy – sy mond is droog, sy polsslag belaglik vinnig en die onmiddellike begeerte wat hom lighoofdig maak wanneer hy haar sien, is nog steeds daar. Dis net erger.
Niks het verander nie. Inteendeel.
2
Amelie babbel al die pad van Fairview af totdat hulle voor Natalie se huis stilhou. Natalie voel hoe haar skouers vir die eerste keer vandat sy vir Neethling gesien het, ontspan.
Sy het nooit regtig gehoor wanneer presies hy terugkom nie, maar was glad nie voorbereid om hom vandag te sien nie. Nie dat sy ooit voorbereid is om hom te sien nie. Die man is knieë-verlammend aantreklik en hy slaag daarin om ’n knoppie, waarvan sy nie eens bewus was nie, in haar aan te skakel.
“Ag, dit was so lekker om Neethling vandag te sien! Chris en sy ma het nie eens geweet hy sou gister terugkom nie. En Nicola gaan haal hom op die lughawe sonder om ’n woord te sê. Nou kan ons weer almal saam om die tafel kuier!” roep Amelie opgewonde uit.
“Jy sal my môre moet verskoon. Julle moet lekker kuier, ek sal nie kan . . .” begin Natalie, maar Amelie skud haar kop heftig.
“Jy kan nie dit aan my doen nie. Dit sal die eerste Sondag wees wat ons weer almal saam is.”
“Ek het so baie werk,” probeer Natalie. “En,” onthou sy dankbaar, “my motor is in vir herstelwerk. Ek sal dit seker eers teen Woensdag kry. Kuier julle nou lekker saam. Buitendien, dis vir familie, Amie, en ek is—”
“. . . familie,” maak Amelie haar sin klaar. Sy vat aan Natalie se hand. “Ek is deel van jou storie, Nats, en jy is my familie, so jy moet ook daar wees,” glimlag sy. “Ek sal jou met liefde kom haal. Maar is dit nie tyd dat jy ’n nuwe motor aanskaf nie? Dit klink vir my asof die ding meer in die garage is as by jou.”
“Ag, toe nou, dis nie so erg nie. Sy het net buie. En sy is al oud en het soms aandag nodig, maar dit beteken nie ek sal haar sommer weggooi nie,” sê Natalie effens verontwaardig.
“Jy weet dis ’n motor, nè?” lag Amelie. “En ‘sy’ sal nie eens weet as jy ’n ander motor kry nie.”
“Los my motor,” sê Natalie geïrriteerd. Die dag het so lekker begin en nou het daardie man alles bederf. En boonop is sy sowaar verplig om hom nog môre ook te sien.
Amelie gee vir Natalie die sak materiaal aan wat hulle uitgesoek het. “Dankie, Nats, ek kan nie wag om te sien wat jy gaan maak nie. En onthou – jy’t geen verskoning môre nie. Ek sal jou so teen halftwaalf kom haal,” glimlag sy voordat sy wegry.
Natalie sug. Sy moet die een of ander tyd vir Amelie vertel hoekom sy Sondae nie verder saam met die Meyers wil kuier nie. Maar sy sien nie nou daarvoor kans nie. Amelie ken haar te goed. Dis buitendien vir haar moeilik om te beskryf wat presies aan die gang is. Sy weet net dis beter vir haar as sy nie te veel van Neethling sien nie.
Gefrustreerd mompel sy terwyl sy haar voordeur oopsluit. Een ding is nou duidelik – die jaar wat Neethling weg is, het niks verander nie. Hy kry dit nog reg om haar te ontsenu. Hy het haar die hele tyd sit en dophou terwyl hulle geëet het en sal dit waarskynlik môre ook doen.
Die gedagte tref hom eers toe Nicola hom aflaai.
“Het jy geweet Amelie en Natalie is ook vandag by Fairview?” vra hy.
Nicola lag en gooi haar hare oor haar skouer – ’n seker teken dat wat volgende uit haar mond kom, nie die waarheid gaan wees nie. “Ek kan nie onthou nie!” roep sy ewe onskuldig uit. “Maar was dit nie lekker om hulle weer te sien nie?”
Neethling klim ergerlik uit die motor en druk die deur toe. Hy het te min geslaap, hy het nog nie herstel van die onverwagse kuier saam met Natalie nie, en nou kom hy agter sy sus het die hele ding beplan.
Hy beduie vir haar om die venster oop te draai.
“Daar is niks tussen my en Natalie nie,” sê hy geïrriteerd. “So, enige plannetjies waarmee jy besig is, kan jy maar vergeet. En net sodat daar geen onduidelikheid is nie – daar sal ook nooit iets tussen ons wees nie.”
Nicola lig haar wenkbrou. “Goeie aarde,” sê sy kamma verward en tel op haar vingers. “Jy het nou op drie verskillende manier vir my gesê jy stel nie belang in Natalie nie.” Sy hou drie vingers in die lug. “Interessant, of wat sê jy?”
“Ek sê: hou jou neus uit my sake. Hoekom jy aan my moet karring, sal ek graag wil weet. Kry vir jou ’n boyfriend en fokus op hom,” brom hy vies en begin aanstap na sy huis.
“Ek het interessante foto’s as jy eendag wil kyk!” roep Nicola agter hom aan.
Neethling sluit sy voordeur oop. Hy kon nog geslaap het en sou salig onbewus gewees het van die feit dat Natalie steeds presies dieselfde uitwerking op hom het.
Hy druk die deur agter hom toe en staan besluiteloos rond. Slaap sal hy nie nou nie en hy wil eers bietjie later na sy ouers toe ry. Op die oomblik is hy nie goeie geselskap nie, en sy ma sal dadelik agterkom iets is verkeerd. En sy sal aan hom karring – die laaste ding waarvoor hy nou lus het.
Effens ingedagte stap hy na die groot skuifdeure aan die agterkant van sy huis, maak hulle oop en stap uit op die stoep. Van hier het hy ’n onbelemmerde uitsig op die berge. Die tuin is netjies, sy huis silwerskoon. Sy pa en ma se bydrae, weet hy.
Om ’n gesin te hê, om deel te wees van ’n uitgebreide familie, was nog altyd vir hom vanselfsprekend. Op universiteit het hy wel geleidelik bewus geword daarvan dat bitter min van sy klasmaats uit dieselfde beskermende omgewing as hy kom. Maar dit was eers toe hy vir Amelie en Natalie ontmoet het dat hy ’n glimp begin kry het van wat so ’n leemte aan ’n mens kan doen.
Amelie se grootste behoefte was om weer om ’n tafel saam met familie te kan kuier –