Liefde in laslap. Elsa Winckler
nog enkellopend en woon in Johannesburg. Hy het al die jare onthou hy het ’n sussie, Natalie, en sê hy soek al baie lank na my.”
Amelie se oë blink. “Nats, ek is so bly vir jou. Ek hoop hy is lank genoeg hier sodat jy hom aan ons kan voorstel?”
“Laat ek nou eers môre agter die rug kry . . .”
“Laat my nou asseblief toe om jou te neem? Ek sal dit baie rustig vat, ek belowe,” sê Amelie.
Natalie glimlag. “Ek het intussen aan ’n plan gedink. Ek gaan vir Francois vra om my te neem. Ons kan die maatskaplike werker saam uitvra en ek sal wel kan agterkom of hy werklik my broer is.”
Kos word neergesit, die kleintjies hardloop nog vir oulaas ’n draai voordat René en Neil hulle sitgemaak kry. En toe hy ’n sitplek soek, is die enigste oop een reg langs Natalie.
“Kom ons vat hande,” sê Chris. “Pa, sal jy bid?’
Almal vat hande, en Neethling staal hom voordat hy sy hand na Natalie uitsteek. Sy hand vou styf om hare, en haar vingers fladder vir ’n oomblik soos ’n klein, verskrikte voëltjie. Hy verstewig sy greep, en haar hand ontspan.
Nicola sit aan sy ander kant en gee sy hand ’n drukkie. Dis goed om terug te wees. Die oomblik is gou verby, en Natalie trek haar hand vinnig uit syne. Hy lig sy hand op om oor sy gesig te vryf – en ruik ’n sweem van haar geur. Bliksem.
“Het julle gehoor van die Maleisiese vlug wat gister net spoorloos verdwyn het?” vra Nicola.
“Ja, is dit nie vreeslik nie? Niemand weet wat van die vliegtuig geword het nie,” sê Chris.
“Die arme familielede wat agterbly – ek weet nie hoe ’n mens so iets verwerk nie,” sê sy ma.
Neethling frons. Maleisiese vlug? Peet het gister vir hom die inligting in verband met sy vlug van Amsterdam af na Melbourne gestuur. As hy reg onthou, is hy ook op ’n Maleisiese vlug, een wat oor Kuala Lumpur gaan.
“Het jy al vir Ma vertel jy is weer een van die dae op ’n vliegtuig?” vra Nicola en stamp aan hom.
Sy ma kyk op. “Is jy al weer op pad?” vra sy effens moedeloos.
“Eers in Julie, Ma.” Hy vertel hulle van sy planne. Oor die feit dat hy ook op ’n Maleisiese vlug gaan wees, bly hy tjoepstil. Sy ma bekommer haar genoeg oor haar kroos. En die kanse dat nog ’n vliegtuig van een lugredery weer kan verdwyn, is darem seker nul.
“Wel, dis gelukkig nog ver in die toekoms.” Sy pa vat sy ma se hand.
4
Sy was nie voorbereid daarop dat Neethling haar ook sou terugneem huis toe nie. Verdomp, sy was nie voorbereid daarop dat hy haar kom haal het nie, en nou moet sy weer die hele pad in ’n baie klein ruimte saam met hom deurbring.
Soos vroeër die dag praat nie een van hulle ’n woord nie. Normaalweg het Natalie nie ’n probleem om ’n logiese, interessante gesprek te voer nie, maar by Neethling kan sy nie twee woorde ná mekaar inspan nie, nevermind ’n logiese sin uitdink.
Toe hy stilhou, spring sy vinnig uit.
“Baie dankie,” sê sy, maar hy klim ongestoord uit, vat die leë bak uit haar hande en stap voor haar uit tot by die voordeur.
“Dankie.” Sy probeer die bak uit sy hande vat, maar al wat sy regkry, is dat hulle vingers oor mekaar vou.
Sy ruk haar hand terug, sommer vies. “Neethling, ek sal hiervandaan regkom, dankie. Jy kan maar gaan.”
Hy ignoreer wat sy sê. “Sleutel?” vra hy en hou sy hand uit.
Sy kners op haar tande en haal die sleutel uit die sysakkie van haar handsak. Sonder om ’n woord te sê sluit hy die deur oop en wag vir haar om voor hom in te stap. Sy stap in en draai om na hom toe. ’n Groot fout. Hy het die deur agter hom toegemaak.
“Dankie, ek is nou oraait, jy kan regtig maar gaan.” Sy lek haar skielik droë lippe.
Sy oë vernou, sy neusvleuels rek, haar asem raak weg. Sonder om sy oë van haar af te haal, sit hy die bak op die tafeltjie in die gang en gee ’n tree nader aan haar.
“Wel, ék is nie oraait nie,” prewel hy en kam sy vingers deur haar hare. “Vandat ek jou die eerste keer gesien het, is ek nie oraait nie.” Sy hande vou om haar skouers.
Ademloos kyk sy hoe sy kop afsak. Asof gehipnotiseerd hou sy die naderende beweging van sy lippe dop. Enige oomblik nou. Sy wonder al so lank. En toe soen hy haar. En dis alles en soveel meer as wat sy ooit kon droom. Haar oë val toe terwyl die een sensasie ná die ander deur haar spoel. Sy soen verdiep, begeerte vloei deur haar soos warm vloeistof, lyflike genot steel haar laaste bietjie asem.
Sy lippe is warm, eisend, en sy dink nie eens daaraan om hom weg te druk nie. Hoekom sou sy? Sy wou ook weet hoe dit sal wees om hom te soen. En miskien droom sy nou. Sy lippe beweeg oor haar gesig, haar oë, af teen haar slape tot by die sensitiewe plekkie aan die onderkant van haar oor. Hitte, hongerte na iets wat sy nie ken nie, por haar aan.
Soos satyn. Haar vel onder sy lippe is satyn. Haar geur en kreungeluide vul sy mond. ’n Siddering ruk deur haar lyf. Hy trek haar nader. Haar vingers vou krampagtig om sy skouers, maar sy druk hom nie weg nie. Sy mond beweeg terug na hare en met ’n kreun soen hy haar weer. Sy snak na haar asem, haar mond val oop. Sy tong glip tussen haar lippe deur, ondersoek die nat holte van haar mond totdat haar tong syne teëkom, eers versigtig en toe met meer selfvertroue totdat hulle saam ’n ritme vind. Bliksem. Soos iemand wat te lank onder water was, lig hy sy kop en skep ’n teug asem. “Magtig, meisiekind. Jy laat my vergeet van alles om my.” Hy trek sy duim oor haar lippe.
Haar oë is donkergroen mos, haar asem hortend oor haar lippe. Sy vee oor haar gesig.
“Neethling, wat doen jy?” vra sy hees en probeer hom wegdruk.
Hy vat haar hande in syne. “Ek het jou gesoen. Jy het my teruggesoen. En ek gaan jou weer soen. Hier is iets tussen ons,” sê hy, skielik ergerlik oor die hele situasie. “Ek weet dit al vir drie jaar, jy seker ook. ’n Jaar in Italië het nie gehelp nie. Ek het ’n ander voorstel.”
“Voorstel?” vra Natalie verdwaas en frons.
Neethling vou sy hande om haar gesig. “Kom ons bring tyd saam deur. Ek praat nie van vir altyd en ewig nie, met my leefstyl is dit nie moontlik nie. Maar kom ons doen dinge saam, kuier saam en kyk of ons genoeg van mekaar kan kry om te kan aanbeweeg. Wat sê jy?”
En uiteindelik begin Natalie se breinselle weer funksioneer. Sy gee ’n tree terug en skud heftig haar kop.
“Nee!” roep sy verbouereerd uit en vou haar arms om haarself. “Ek kan nie. Nie nou nie. Dis in elk geval malligheid, jy hou nie eens van my nie. Buitendien, is daar nie al reeds weer ’n nuwe meisie op jou horison nie?”
Neethling glimlag skeef en gee weer ’n tree nader aan haar. “O, ek hou van jou, daaroor hoef jy nie te twyfel nie. En die enigste meisie op my horison is jy.”
“Neethling, jy is heeltemal van jou sinne beroof. Daar is niks tussen ons nie . . .”
Voordat sy verder kan praat, trek hy haar nader en soen haar weer. En onmiddellik vergeet sy wat sy wou sê, vergeet sy hoekom sy nie veronderstel is om hom terug te soen nie. Sy mond pas so presies oor hare, so asof dit gemaak is vir hom. Haar hande beland op sy boarms. Sy vel is warm, sy spiere kliphard. Haar bloed versnel, haar hartklop raak buite beheer.
“Gaan jy weer vir my sê daar is niks tussen ons nie?” kners hy die woorde uit.
Sy ruk haar kop terug en vee oor haar mond. “Daar is niks tussen ons nie . . .”
Sy oë vernou.
“Oukei, daar is . . . iets, maar ek kan nou al vir jou sê dit gaan nie werk nie. Ons wil verskillende dinge uit die lewe hê. Jy het elke tweede week ’n ander girl aan jou arm, maar ek kan nie so funksioneer nie,” prewel sy en druk hom weg. “Buitendien is my lewe op die oomblik net