Liefde in laslap. Elsa Winckler
teen sy groot lyf aan te leun.
Maar soos sy maar te goed weet, is die lewe nie ’n feëverhaal nie en ’n verhouding met Neethling, hoe kortstondig ook al, gaan beslis nie ’n happy ending hê nie. Buitendien wil sy eers weet waarvandaan sy kom, wie sy is. Sy wil haar storie ontdek voordat sy deel van iemand anders s’n kan wees.
Neethling vryf oor sy gesig voordat hy omdraai en uit haar huis stap. “As dit is wat jy wil hê . . .” sê hy oor sy skouer en loop weg.
Natalie druk die deur toe en sluit dit vinnig. Sy sluk-sluk aan die knop in haar keel en oorweeg dit vir een onbesonne oomblik om agter hom aan te hardloop. Maar sy kan nie. Daar is dinge omtrent haarself wat sy eers te wete moet kom en teen daardie tyd het Neethling lankal aanbeweeg na die volgende girl. En, as sy reg onthou, het Nicola nie genoem hy vertrek een van die dae weer oorsee nie?
Neethling is die volgende oggend teen agtuur by die gym. Teen hierdie tyd is die meeste mense al weg kantoor toe en is dit stiller. En vanoggend wil hy met niemand praat nie.
Hy skakel die trapmeul aan en begin draf. Normaalweg sou hy ’n voetpad berg toe gekies het, maar dit reën vanoggend. Die winter lê voor.
Natalie. Hy draf vinniger. Verdomp. Hy moes haar nie gesoen het nie, moes haar nie in sy arms geneem het nie. Want nou weet hy presies hoe sy proe, hoe sag sy is en die drang in hom om haar weer te soen wil nie weggaan nie.
Slaap was gisteraand onmoontlik, en hy het nie eens probeer nie. Teen vanoggend vieruur het hy tienduisend woorde geskryf gehad. Toe eers kon hy op sy bed val en droomloos verder slaap. Wat presies hy geskryf het, sal hy netnou gaan vasstel. Maar die storie het gevloei.
Gewoonlik werk hy eers ’n netjiese plan uit, bestee hy dae om sy karakters te leer ken voordat hy begin skryf. Maar hierdie storie het ’n lewe van sy eie en die karakters, klaar ontwikkel, met ’n volledige agtergrond, dring sy verhaal ongenooid binne.
En wat de hel maak Lalie nou? Sy met die grasgroen oë en baie geheime was veronderstel om ’n sekondêre karakter te wees, maar wou eenvoudig nie in die agtergrond bly nie. Nou draai die hele storie om háár. En hy kan nie besluit presies wie sy is en wat haar laat tick nie; en dis ’n baie vreemde gewaarwording – iets waarmee hy nog nie vantevore te doen gekry het nie.
“En toe? Vir wie hol jy weg?” hoor hy Chris se laggende stem langs hom.
Neethling skakel die trapmeul af en klim al swetend af. Hy tel sy handdoek op en vee sy gesig af.
“Dis ’n verrassing om jou te sien,” glimlag hy.
“Jy oukei?” vra Chris.
“Ja, hoekom vra jy?”
“Jy was stil gister.”
Neethling lag. “Julle praat so baie! Ek het die kuns verleer om betyds in te spring en my sê te sê.”
“Jy weet jy kan met my praat, nè?” sê Chris voordat hy op ’n trapmeul klim.
Neethling klop sy broer op sy skouer voordat hy wegstap. As bedryfsielkundige het Chris ’n manier om tot in jou siel te kyk en vanoggend wil hy nie hê enigeen moet hom probeer ontleed nie. Hel, hy verstaan self nie wat met hom aangaan nie.
Hy het gedink hy en Natalie kan ’n bietjie uitgaan, ’n bietjie vry en wanneer hy haar uit sy gestel het, kan hy na die volgende girl beweeg.
Maar toe soen hy haar, en sy soen hom terug, en nou is niks meer eenvoudig nie.
Hy steek in sy spore vas. Sy het hom teruggesoen. Maak nie saak wat sy gesê het nie, sy het hom teruggesoen. Hy begin draf in die rigting van die kleedkamers. Die res van die gym sal moet wag.
5
Met haar hart in haar keel maak Natalie haar voordeur oop. Francois is betyds. Sy het nogal gewonder of hy sou opdaag en nie dalk intussen terug Johannesburg toe is nie.
“Hallo,” groet sy met ’n bewerige glimlag.
“Dag, Sus,” glimlag hy en oorhandig ’n kleinerige boks aan haar.
Sy kyk verbaas af.
“Foto’s,” sê hy. “Ek het vir myself afdrukke gemaak, so jy kan dié maar hou. Ek kon al die jare na hulle kyk. Jy het ons ouers nooit geken nie, ek hoop die foto’s help om jou iets van hulle te wys.”
Natalie sluk aan die knop in haar keel. “Dankie. Ek sal vanaand hierdeur kyk. Ek kon vir ons ’n afspraak kry by die maatskaplike werker en wil nie laat wees nie.”
Sy sit die boks op die tafel in die voorportaal en stap uit. Francois vat haar aan die arm.
“Is jy oukei? Ek kan my indink watse skok dit vir jou moet wees. ’n Wildvreemde man klop aan jou deur en sê hy is jou broer.”
Natalie knik en kyk op na hom. “Jy’t ook groen oë.”
Hy glimlag. “Skynbaar ons ma s’n.” Hy lig sy hand en streel oor haar wang. “Jy lyk baie na haar. Wanneer jy na die foto’s kyk, sal jy sien.”
Natalie knip-knip teen die klammigheid in haar oë.
“Kom hier,” prewel Francois en trek haar in sy arms.
En dit voel so natuurlik. Dis asof sy hom ken en sy geur bekend is. Sy lag en gee hom ’n druk voordat sy omdraai.
“Kom ons ry. Ek wil baie graag meer weet.”
“Ons ry sommer met my motor.” Francois maak die hekkie vir haar oop.
Sy stap glimlaggend uit en kyk op. Haar asem slaan weg. Aan die oorkant van die pad staan Neethling langs sy motor: arms gevou, sy oë verskuil agter ’n donkerbril. Dit lyk asof hy van die gym af kom, want hy het ’n paar tekkies aan, ’n gymbroek en ’n T-hemp wat styf om sy gespierde bolyf span. Haar hart slaan sommer bollemakiesie.
Natalie kreun hardop. Dis nie moeilik om te raai wat hy dink nie.
“Verskoon my,” sê sy vir Francois en met ’n vinnige kyk op en af in die straat, draf sy na die oorkant.
“Neethling . . .”
“Jy kon maar reguit vir my gesê het daar is ’n ander ou in jou lewe,” sê hy deur stywe lippe. “En jy beskuldig my dat ek al om die ander week ’n ander girl het. Ten minste het ek nie twee op een slag nie. Weet hy jy soen ander ouens?” vra hy in ’n harde stemtoon.
Natalie voel hoe ’n gloed teen haar wange opstoot.
“Ek kan verduidelik,” probeer sy weer. “Hy is my . . .”
Neethling ignoreer haar en klim terug in sy motor. “Dis nie nodig nie. Jy het gesê jou lewe is deurmekaar, ek het net nie geweet dit beteken daar is iemand anders in jou lewe nie.”
Toe ry hy weg.
Ontsteld, vies, stap Natalie terug na Francois wat in sy motor sit en wag. As Neethling so vinnig sulke simpel afleidings wil maak en haar nie kans gee om te verduidelik nie, kan sy niks daaraan doen nie. Wat het hy buitendien hier kom maak?
Sy probeer die dowwe seer in haar binneste ignoreer en klim by Francois in die motor.
“Als oukei?” vra hy.
Sy knik. “Ja wat, kom ons ry.”
Hoekom sal alles nie oukei wees nie? Sy het tog self besluit sy wil niks met Neethling te doen hê nie en het dit ook vir hom gesê. Hoekom is sy nou ontsteld?
Toe sy en Francois laatmiddag voor haar huis stilhou, sit en wag Amelie en klein Christo in haar motor voor in die straat.
“Dis Amelie,” sê Natalie en beduie na haar vriendin wat vir hulle wuif.
“Die een wat saam met jou in die weeshuis was?” vra Francois terwyl hulle uitklim.
“Einste. Sy weet ons was vandag daar en het so ’n halfuur gelede vir my ’n SMS gestuur om te vra wanneer ek by die huis is. Sy is net so opgewonde soos ek.”
“En