Eva se appel. Jacolet van den Berg
kyk asof jy kaal op Hartenbos se hoofstrand tan nie, en dan alles omtrent jou persoonlike lewe probeer uitvind voor hulle besluit of jy vir hul kinders mag skoolhou of nie. En waar kom jy daaraan dat twee mans my kop al laat draai het? Ek erken Ian is ’n besonderse man. Hier is ’n hele paar ma’s wat hoop hul kind word siek.”
Leah lag. “Wat my bekommerd maak, is dat ek vermoed jy is een van hulle.”
Mari glimlag geheimsinnig. “Jy is nie verniet die ysprinses van die eeu wat verhoudings aanbetref nie. Jy moet leer waag anders is jy heeltemal alleen voor jy jou oë kan uitvee.”
“Ek wil alleen wees. Dan kan ek doen wat ek wil.”
“Dis wat jy dink. Kom ons kry iets te ete. Ek het die energie nodig, en die eetgoed lyk absoluut dekadent.”
Toe die eerste gaste teen sesuur aanstaltes begin maak, is Leah bly Mari stel voor hulle moet die geleentheid gebruik om ook te ry. Gideon is teen dié tyd al so oorgestimuleer dat hy nie meer weet of hy wil sit of staan nie. Sy hande is taai, sy gesig vuil.
’n Diepe meegevoel met Mari se situasie maak Leah skielik bly sy het ingestem om vanmiddag saam te kom. Miskien moet Mari tog maar ’n man kry – iemand om haar met die kinders by te staan. Sy verdien nie om alleen te wees nie.
Ian Swartz het hulle baie beleef kom groet. Leah kon nie agterkom of hy Mari se hand bietjie langer vasgehou het as wat nodig is nie. Sy het sy lyftaal probeer peil, hom so lank dopgehou dat hy dit agtergekom en bespiegelend na haar gekyk het.
Die kinders is neulerig in die motor. Leah doen haar bes om te troos, maar nie met baie sukses nie. Vrydagmiddag is nie die beste tyd vir ’n kleuterpartytjie nie.
“Keer dat Gideon slaap,” sê Mari toe dit lyk asof die kleintjie se ogies begin toeval. “Ons is amper by die huis, en hy moet eers behoorlik eet voor ek hom in die bed kan sit.”
Dis makliker gesê as gedaan. Leah irriteer hom net met haar pogings. Toe hy uit frustrasie die hoeveelste keer sy fopspeen teen Mari se sitplek vasgooi, is Leah verlig om te sien dat hulle byna by haar straat indraai.
“Ek kan dit nie kry nie. Dit het langs die sitplek ingeval.”
Die kleintjie skreeu so dat Mari haar sitplekgordel losmaak. “Toemaar, ek kan dit bykom.”
Mari strek na agter, laat haar blik net ’n oomblik van die pad draai. “Ek het dit!”
“Mari.” Die woord is net ’n fluistering, al wou Leah eintlik skreeu.
“O, genade!” roep Mari verskrik. Hulle is aan die verkeerde kant van die pad om die blinde draai. Die voertuig wat van voor af kom, is heelwat groter as Mari se dienlike een. Bande skuur toe albei partye rem trap, maar die voertuie meedoënloos na mekaar gly. Vir ’n oomblik is dit asof alles tot stilstand kom. En dan tref die realiteit hulle . . . is dit asof die geweld van die oomblik hulle tot verantwoording wil roep oor hul agterlosigheid. Die voertuie tref mekaar met ’n slag. Die geluid van metaal wat frommel, is angswekkend.
Toe gil Mari.
Sy word teen die stuurwiel vasgeslinger, maar daar is niks wat Leah kan doen om haar te help nie. Alles geskied so verblindend vinnig dat Leah skaars bewus is van die pyn wat deur haar nek en kop skiet.
Toe is alles verby. Die voertuie staan botstil.
2
Die gehuil van ’n baba dring deur die newels in Leah se brein. “Hiep, hiep, hoera, Suid-Afrika!” blêr die radio. Iets ruik na rook. Seker die motorbande op die teer. Haar kop klop en die indrukke wat tot haar deurdring, maak eenvoudig nie sin nie. “En ons sê dankie!” raas die liedjie. Die verdomde musiek sal haar nog mal maak.
Die geluid van die histeriese kind bring Leah terug na die werklikheid. Sy probeer fokus.
Die gebeure van die laaste paar minute, dalk is dit net sekondes, spoel soos ’n tsunami oor haar. Die skok het haar tot in haar senuweepunte geruk. Met moeite draai sy haar kop na agter.
Die kinders! Mari . . .
Hein Malherbe is besig om Gideon versigtig uit sy stoeltjie te haal. Hy gee hom vir die vrou wat van oorkant die pad aangehardloop kom.
Daar is stemme buite die motor, maar Leah kan nie hoor wat aangaan nie. Mari lê steeds vooroor teen die stuurwiel. Haar oë is toe, die wond bokant haar slaap gapend. Daar is soveel bloed dat Leah nie kan uitmaak waar die wond begin en eindig nie. Haar eie klere is ook bevlek met bloed. Sy voel hoe histerie in haar opbou. Agter haar sit Lika stil geskrik, haar gesiggie spierwit en haar oë stokstyf.
Met moeite stoot Leah die motordeur oop toe Hein Lika se sitplekgordel begin losmaak.
Gideon huil vreemd geluidloos.
Leah se bene is jellierig toe sy haar hand na Lika uitsteek . . . en sy moet eers aan die deur vashou om haar ewewig te herwin. Skielik is daar hande wat haar ondersteun, maar sy beur weg. Lika en Gideon het haar nodig. Hein gee Lika aan die ou tannie wat oorkant haar woon.
Leah loop wankelrig nader.
“Kan jy die seuntjie vashou?” vra die vrou wat Gideon probeer kalmeer, en Leah knik voor sy haar hande om die stoeiende lyfie vou. “Ek dink nie ’n vreemde persoon gaan hom nou kan kalmeer nie.”
Leah sak op die gras neer met Gideon in haar arms. Lika kom soek skuiling teen haar lyf, en sy vou een arm om die dogtertjie. Hoewel lam geskrik, probeer sy die twee kinders teen haar lyf koester. Gideon bedaar effens. Leah kan nou uitmaak wat die mense om haar sê. Die gesigte ken sy. Dis haar bure. Selfs die Duitse knol probeer hulpvaardig wees. Die ou oom van oorkant die pad klop haar kort-kort gerusstellend op die skouer, en die tannie vryf haar rug so tussendeur. Die vrou oorkant wie se huis die ongeluk gebeur het, ken sy net van sien. Haar man het intussen ook by hulle aangesluit en armswaaiend waarsku hy voertuie wat om die draai kom.
Hein buk en leun by Mari se deur in. Leah hou hom angstig dop.
“Die nooddienste is op pad,” verseker die ouer man haar, en haar arms sluit vaster om die twee kinders.
Hein het Mari teen die sitplek teruggedruk sodat sy gemakliker sit. Haar oë is steeds toe. Leah voel hoe spanning haar lyf snaarstyf trek.
“Is daar iemand wat jy wil bel?” vra die oom.
Leah knik. “My pa.” Die woorde is skaars ’n fluistering, want sy is bang sy bars in trane uit as sy haar stem enigsins verhef. Iemand sal saam met Mari hospitaal toe moet gaan, en iemand anders sal na die kinders moet omsien.
Gideon is nou rustig teen haar bors. Leah verskuif effens sodat sy die aangebode telefoon by die oom kan vat. Sy bel nie dadelik nie omdat sy die nommer nie kan onthou nie. Dit vat ’n rukkie voor haar verstand die telefoonnommer oproep van die huis waarin sy grootgeword het. Haar vingers bewe toe sy dit intik met ’n gebed dat haar pa die foon moet antwoord en nie haar ma nie. Histerie is die laaste ding wat sy nou nodig het, eerder haar pa se besadigde, sistematiese manier van doen en reageer.
Bokant die luitoon hoor sy loeiende sirenes nader kom. Vir die eerste keer kyk sy na Mari se motor terwyl die skel sirene in haar ore eggo. Die voorkant is opgefrommel. Die groot viertrek se skade is opmerklik minder, dit staan skuins en remmerke lê swart op die teer. Nog bure staan nader om te kom hand gee. Ongelukke is mos ’n toeskouersport in Johannesburg.
“Middag?” Dankie tog, dis haar pa wat antwoord. Hy luister sonder om haar te onderbreek terwyl sy hom met rukke en stote vertel wat gebeur het. “Maak seker na watter hospitaal julle geneem word en SMS my. Ons kry julle daar. Dit gaan nie help ons jaag nou daar na jou toe nie. Ons is te ver.”
Die ambulans het stilgehou. Twee mans met 911 op die rugkant van hul donkerblou uniforms begin by Mari werskaf. Hein staan weg van die motor en kom hurk by Leah. Skok en jammerte staan in sy oë geskryf. ’n Nooddienswerker kom neem Gideon uit haar arms, en iemand lig met ’n flitsie in haar oë. Vaagweg is sy bewus van hande wat oor haar beweeg. Sy sien Hein nog ’n oomblik bekommerd agter die paramedikus huiwer voor hy terug na die motor draai.
Toe word Mari uit