Eva se appel. Jacolet van den Berg
inderdaad opstaantyd.
Haar lyf voel swaar toe sy in die gang af stap om Gideon uit die opslaanbedjie te gaan haal. Sy sit ’n breë glimlag op en loop geselsend met hom kombuis toe om melk vir hom te gaan warm maak. Sover sy kan onthou, is dit wat soggens gebeur. Maar dinge verander ook so vinnig, mens weet nooit wie drink wat en wie eet nie dit of dat nie.
Lika kom die kombuis ingedrentel en staan langs haar terwyl sy die melk aanmaak.
“Môre, Lika. Het jy lekker geslaap? Jy is seker honger. Ek het nog van daardie pap waarvan jy so baie hou.”
“Wanneer kom my ma huis toe?”
“Seker eers môre. Ons sal later gaan hoor. Eers moet ons julle twee regkry vir skool.”
Lika trek ’n suur gesig en plak haar op die kombuisstoel neer. “Ek het gedink dis gister Vrydag.”
Leah lag. “Jy is reg, jou slimkop. Amper stuur ek julle twee op ’n Saterdag skool toe.”
Lika dink blykbaar nie dis snaaks nie.
Sy kyk na Gideon wat stoei met die bottel, maar niks drink nie. “Wat is fout, jong? Wil jy nie melk hê nie?”
“Hy drink nie warm melk nie.” Lika gaap en skuif haar gemakliker op die stoel.
“Van wanneer af?” Leah druk die bottel weer in Gideon se mond, maar dié weier om te suig. Sy gooi tou op.
Lika haal net haar skouers op.
Nadat Leah koue melk aangemaak het, skep sy vir elkeen ’n bordjie pap in. Sy laat Gideon op haar skoot sit sodat sy hom kan voer. ’n Hap of twee beland op haar broek, en sy moet koes of haar hare bly ook in die slag. Gelukkig is hulle almal nog in hul slaapklere.
Terwyl sy die twee al morsende help eet, probeer Leah ’n plan bedink hoe sy vandag gewerk gaan kry. Daar is ses beelde wat haar aandag dringend vereis en as sy betyds klaar wil wees, moet sy liefs aan die werk spring, veral omdat sy ander projekte ook nog tussendeur moet klaarmaak. Maar daar is heelwat wat vandag moet gebeur. Eerstens moet hulle vir Mari gaan besoek en dan sal hulle betyds vir middagete moet terug wees sodat Gideon sy middagslapie kan inkry. Verder vooruit kan sy nie beplan nie, met die kinders is daar net te veel onvoorsiene faktore.
Sy kyk na die oorgroot horlosie teen die muur langs die venster. Byna agtuur. Halftien sal seker ’n goeie tyd wees om hospitaal toe te gaan.
Met Gideon op haar heup spoel sy die bakkies uit en pak hulle in die droograk. “Kom jy saam, Lika? Ek gaan gou die koerant optel.”
Lika knik en stap woordeloos saam voordeur toe.
Die vars oggendlug vee oor Leah wat iets byna soos verligting ervaar. Sy weet nie waar die gevoel vandaan kom nie. Dalk voel sy ingehok in die huis omdat sy nie aan die werk kan spring nie, al brand die behoefte paaie deur haar lyf.
Die koerant lê in die oprit by die motorhek. Toe sy buk om dit op te tel sien sy die viertrek met die teruggebuigde bufferstaaf en skade aan die neus en kopligte voor haar buurman se huis staan.
“Kan ek jou bietjie neersit, Gideon?” Die seuntjie bied geen weerstand nie toe sy hom op die grond sit en hy wankelrig op sy beentjies bly staan. Nuuskierig maak sy die motorhek oop om die viertrek van nader te bekyk. Miskien het die voertuig se enjin ook seergekry, en het die eienaar dit eers hier gelos. Sy weet nie eers wat met Mari se motor gebeur het nie. Haar pa sal wel weet, en sy sal hom later vra wanneer sy hom sien. Hulle sal ook vanoggend hospitaal toe gaan.
Lika en Gideon bekyk die viertrek saam met haar.
“Is dit die kar wat in ons vasgery het?” vra Lika
“Ja. Ek kyk sommer hoekom dit hier staan.” Dis ’n duur viertrek, sy kan dit sien. Die skade aan die neus gaan seker ’n hele paar rand kos om reg te maak, maar met so ’n voertuig het ’n mens sekerlik versekering. As sy gister se gebeure reg onthou, het Mari se heelwat kleiner motor baie slegter daarvan afgekom as dié een. Wat met Mari se motor gaan gebeur, weet sy nie. Hopelik sal die versekering alles hanteer.
Net toe gaan die motorhuisdeur van Hein Malherbe oop en kom hy uitgestap. Indrukwekkend in ’n donkerblou hemp en kakiekleurige kortbroek. Onverwags woel iets onder Leah se hart. Haar buurman het blykbaar ’n goeie nagrus agter die rug, want die glimlag om sy lippe is kraakvars en sy oë helder en wakker.
“Goeiemôre.” Hy maak sy motorhek oop en kom nader. Sy oë talm langer as wat nodig is op haar, en die krieweling onder haar hart is weer daar.
“Môre.”
Toe sy blik geamuseerd afgly tot by haar kaal voete, onthou Leah dat sy steeds in haar slaapklere is. Die broekie is beslis te kort om geselsies met die buurman in te maak. En al het die stywe toppie ekstra ondersteuning, is sy seker dit laat nie veel aan die verbeelding oor nie. Gideon het nader gewaggel, en sy raap hom op sodat sy lyfie bietjie beskerming kan bied teen Hein se raaksien-oë.
Hy beduie na haar broek. “Daar is pap op jou pyp.”
Haar gesig begin brand. Sy kyk vervaard na waar hy beduie. Vee met haar hand oor die stuk All-bran sodat dit op die gras langs haar voete val. “Seker Gideon se ontbyt.”
“Het jy my gesoek?” Hy sit sy hande losweg in sy sakke.
Ag, flip, die man is sexy. Sy oë talm steeds op hare. Haar gesig raak nog warmer. Leah kyk eerder weg. “Nee. Hoekom sou ek dit doen?”
“Jy staan in my oprit. Ek het julle deur die kombuisvenster gesien en gedink jy het dalk hulp nodig.”
Hoekom sy nou skielik sy hulp nodig het nadat sy in die twee maande wat hy hier bly nog nie ’n woord met hom gepraat het nie, sal nugter weet.
“Ek het die koerant kom haal en toe die voertuig gesien.” Sy beduie na die beskadigde viertrek. “Ek het sommer gewonder hoekom die eienaar dit hier gelos het.”
Hy kyk vreemd na haar. “Dis stukkend en moet ingesleep word motorhawe toe.”
Sy vat Lika se hand. “O. Totsiens. Ons moet gaan regmaak sodat ons hospitaal toe kan gaan.”
“Ek sal ook later by die hospitaal inloer, ek wag net vir die insleepdienste.”
Oorbewus van sy blik op hulle toe sy wegdraai, kan sy net hoop hy kyk hulle nie agterna nie. Die kort slaapbroekie doen nie veel om haar agterstewe weg te steek nie. Toe tref dit haar wat hy gesê het. Sy swaai verbaas om na hom. En hy kyk hulle sowaar met ’n glimlag op sy gesig agterna. Sy verloor skoon die draad van haar gedagtes.
“Is dit jou voertuig?”
Hy frons liggies en kom nader. “Weet jy dit dan nie?”
Skielik maak sy besorgdheid en sy teenwoordigheid gisteraand by die hospitaal sin. Dis nie Mari wat hom trek nie, dis sy skuldgevoel, al was hy geensins verantwoordelik nie. En hier dink sy soos ’n swaap sy belangstelling is geprikkel.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.