Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua
wat uit Carla se handsak kom, is byna genoeg om ’n skoonheidsalon mee te open.
Rina ondersoek elke buisie en botteltjie noukeurig, toets die kleur van die meisie se onderlaag op haar hand en vind dat dit ’n gesigpoeier is wat sy eie onderlaag bevat. Sy plaas die buisie en oogskadu eenkant. Die res bondel sy weer net so terug in Carla se handsak.
“Gee my asseblief my eie grimeersakkie aan, Carla,” sê sy nadat laasgenoemde haar gesig gewas het, “en kom sit hier langs my op die bed.”
Dit neem Rina nie lank om die meisie se gesig te grimeer nie. Dis duidelik dat almal ingenome is met haar handewerk.
“Nou toe nou, ek kom nou eers agter hoe ’n mooi suster ek het,” sê Marco tevrede.
“Ja, nou lyk sy baie mooier,” beaam Rina. Sy draai na Carla. “Gaan kyk self in die spieël daar teen die muur en vertel my wat jy van die nuwe Carla dink.”
Carla wip van die bed af en begeef haar haastig na die spieël, gretig om haar nuwe voorkoms te besigtig.
“O, Rina,” lag sy uitbundig, “ek ken myself byna nie! Sowaar, jy het ’n wonderwerk met my gesig verrig.”
“O nee, daar is geen wonderwerk verrig nie,” voeg Rina haar geamuseer toe. “Dis jy wat die werklike Carla nog altyd onder ’n klomp onnodige aanplaksels verberg het. Jy mag hierdie lipstiffie neem, gooi asseblief al daardie onnodige buisies en botteltjies weg. Jy het daardie gemors glad nie nodig nie, Carla. Wanneer jy eendag oud en vol plooie is, kan jy al daardie aanplaksels gebruik om jou plooie mee weg te steek.”
“Rina het heeltemal gelyk, Carla,” beaam haar ma. “Jy is nog gans te jonk vir swaar grimering, menina. Jy lyk nou sommer baie mooier.”
“Ek kan sommer sien dat jou dogters eendag voorbeeldige meisies gaan wees, Rina,” laat die marquesa met openlike goedkeuring hoor.
“Ek weet nie so mooi of dit wel die geval sal wees nie, señora,” sê Rina ondeund. “Ek dink stellig dat u seun ook nie met u saamstem nie. Hy sê voorbeeldige en respektabele meisies dra nie kortbroeke, bikini’s en eina minirokke nie, en hulle drink ook nie grappa nie. Nou wonder ek net hoe op aarde ek dit gaan regkry om my dogters ordentlik op te voed, terwyl ek self nie voorbeeldig en respektabel is nie. Ek sal hulle dus moet leer om nié die dinge te doen wat ek doen nie, en dis presies waar die moeilikheid gaan begin. Dogters is soms geneig om die ma na te boots . . . Nee, ek glo nie my dogters sal voorbeeldige kinders wees nie, señora. As hulle in my voetspore volg, sal hulle nie eens respektabel wees nie, wat nog te sê van voorbeeldig!”
“Ek sal nogtans baie graag jou dogters wil sien wanneer hulle so sestien, sewentien jaar oud is, Rina,” hou die ou dame vol. Sy weet Rina sê hierdie dinge slegs om Conzalo se siel te versondig.
“As ek net nie met ’n brandarm man trou nie, sal ek hulle vir seker vir u kom wys, señora,” belowe Rina met ondeunde pret in haar mooi blou oë.
“Jy moet net seker maak dat jy nie met ’n brandarm man trou nie, señorita,” kom dit onverwags van Conzalo.
“O, maar die liefde vra nie of ’n mens ryk of arm is nie, señor,” kom dit bedaard van Rina. “Ek sal nooit met ’n man trou wat ek nie waaragtig liefhet nie, al is hy nou ook ’n miljoenêr deur en deur. Geen geld ter wêreld kan liefde koop nie; altans, nie myne nie . . . Nee, die liefde moet spontaan kom; dit moet deel van my wees en my hele wese vul, ek moet voel hoe dit soos ’n blom in my oopkelk.”
“Het jy die professor só lief?” vra die marquês met ’n peinsende trek in sy oë.
Rina skud haar mooi, goudblonde kop stadig. “Ek hou van Herman as vriend, maar ek vrees ek het hom nie lief nie. As ek hom liefgehad het, sou ek tuis gebly het om naby hom te wees en nie hierdie uitgebreide reis deur Europa onderneem het nie, señor. Besef jy dat hierdie toer my ’n volle jaar in die buiteland gaan hou?”
“In daardie geval kan jy gerus ’n paar weke langer hier in Lissabon vertoef, Rina,” doen die marquesa aan die hand.
“As ek langer hier in Lissabon vertoef, sal daar nie tyd wees om Oporto te besoek nie, señora,” antwoord Rina. “Ek kan slegs ses weke in elke land vertoef. Ek weet nie eens hoe ek alles in Spanje in ses weke gaan besigtig nie.
“Daar is so baie interessante stede, en Granada moet ek beslis besoek. Ek moet eenvoudig na die Alhambra gaan en ook Sacromonte waar die sigeuners in grotte woon . . .”
“Ek sal jou nie aanraai om Sacromonte sonder ’n gids te besoek nie,” sê Conzalo ernstig. “Glo my, dit is gevaarlik vir ’n vreemdeling wat nie Spaans magtig is nie om die sigeuners se grotte alleen te besoek. Hulle sal jou sommer in die eerste grot beroof . . . Nee, Sacromonte kan jy nie waag om sonder ’n gids te besoek nie.”
“Dan sal ek maar ’n gids êrens moet opdiep, maar Sacromonte móét ek besoek,” hou Rina vol.
Die volgende oomblik tree Alvaro se ma, met ’n tas in die hand, die siekekamer binne. Sy plaas eers die tas in die kas waar Rina se kamerjas hang, daarna groet sy die aanwesiges en wens Rina hartlik geluk met haar verjaardag. Die meisie bedank haar vir die pragtige ruiker en nooi haar vriendelik om te sit.
Sy neem langs die marquesa plaas en vra belangstellend: “Hoe lyk dit, voel jy darem sterk genoeg om die hospitaal môre te verlaat, Rina-kind?”
“Ek het vanoggend al opgestaan, señora,” glimlag Rina, “maar señor marquês, lyk my, verkeer onder die indruk dat ek ’n volslae invalide is en in die bed hoort. Maar van môre af sal hy my nie meer soos ’n invalide kan behandel nie, want dan sal ek nie meer in die hospitaal wees nie.”
“Ja, dis maar moeilik om so lank in die bed te bly lê, veral vir ’n jong mens,” gee die ou dame toe. “In elk geval, jy lyk vandag baie beter, al is jy nog ontsettend bleek.”
Hierna draai sy na haar familie en verneem belangstellend na hul gesondheid. Na ’n rukkie bespreek die drie ouer vroue Carla se nuwe, jeugdige voorkoms, totdat die klokkie aankondig dat besoektyd verstreke is.
5
Die volgende oggend is Rina sewe-uur al uit die bed. Stadig en versigtig begeef sy haar na die badkamer. Vanmôre gaan sy bad, besluit sy, al sal dit ’n bietjie stadig gaan. Sy sien uit na ’n lekker geurige bad. Van ’n skottel water en ’n waslap het sy genoeg gehad.
’n Halfuur later is Rina weer terug in haar kamer. Sy neem die bloedrooi naellak uit die tas wat Alvaro se ma die vorige dag gebring het, neem op die stoel plaas en begin haar naels verf. Na ontbyt verklee sy haar in die ligpienk minirok en ligpers bykomstighede. Sy is nog geweldig swak en voel effens onseker en ietwat van balans af op die fyn skoene met hul ontsettende hoë hakke. Haar rok is so kort dat sy eintlik selfbewus voel, maar sy is vasbeslote om deur te druk.
Haar gesig grimeer sy gewoonweg, slegs die kleur van haar lipstiffie het drasties verander. Haar altyd sagte lippe lyk op die oomblik soos ’n uitdagende verkeerslig, bloedrooi en verleidelik.
Rina se tas is reeds gepak. Nou wag sy net op Conzalo om haar te kom haal. Maar sy het nie nodig om lank te wag nie. Nege-uur stap hy en Alvaro haar kamer binne. Rina kom dadelik orent. Die tergduiweltjies dans openlik in haar oë toe sy die twee mans met ’n breë glimlag begroet.
Met genot sien sy die skok in Conzalo se streng oë. Sy sien hoe hy skielik verstyf, hoe sy afkeurende oë haar van kop tot tone bekyk. Die volgende oomblik kyk hy vas in haar oë wat hom nou openlik uitlag. Die man se koue blik hou hare etlike oomblikke gevange. Rina voel hoe sy nou bloos by die gedagte aan die ontsettende kort rokkie waarin sy hier voor die twee mans staan. Ook die edelman is bewus van die blos op haar wange. Dit laat sy oë skielik vernou en nou is dit kompleet asof daar ’n glimlaggie aan die een hoek van sy mond raak.
Sonder ’n enkele woord neem hy Rina se tas en plaas dit op die bed. Vlugtig maak hy dit oop en haal haar duur kamerjas en pantoffels te voorskyn. Voordat Rina of Alvaro ’n woord kan sê, is Conzalo reeds besig om vir haar die kamerjas aan te trek, sommer bo-oor haar klere. Ewe behendig knoop hy die kamerjassie voor toe.
Asof