Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua
aangetrek.”
“Het Conzalo jou uitgetrap, Rina?” wil Carla geamuseer weet.
“Hy het nie ’n enkele woord gesê nie; altans, nie in die hospitaal nie,” glimlag Rina. “Maar hy het my ook nie in daardie toestand na die hotel gebring nie. Hy het eers die bloedrooi lipstiffie en naellak met sy sakdoek verwyder en my daarna so te sê in my kamerjas gestop asof ek ’n bondel wasgoed was. Toe val sy arendsblik weer op my hoëhakskoene en dié het hy ook eiehandig deur my pantoffels vervang . . . Sowaar, die man is onverbeterlik.”
“Wat gaan jy nou met die rok maak wat jy so versnipper het, pequena?” wil die ou dame belangstellend weet.
“Die rok is nie versnipper nie, señora,” glimlag Rina, “dit het slegs ’n breë dubbelsoom gekry. Ek trek maar net die tweede soom los, dan het my rok weer sy gewone lengte. Maar ek gaan dit nie nou al doen nie. Ek hou die rok vir ’n volgende geleentheid. Dis net moontlik dat die señor marquês dalk aanbied om my na die doeanekantoor te vergesel. In daardie geval sal ek weer die rok moet gebruik, want u seun verkeer nou onder die indruk dat al my rokke so kort is.”
“Wanneer moet jy na die doeanekantoor gaan, Rina?” vra sy ma besorg.
“Wel, ek sien die boot waarop my motor is, het die hawe ’n uur gelede binnegevaar. Ek sal dus môre na middagete my motor kan gaan haal. Ek hoop net ek voel môre sterk genoeg om hierdie entjie te bestuur. Dis maar net twee blokke.”
Dit is byna vieruur toe daar weer aan Rina se deur geklop word en tot haar verbasing tree die marquês die vertrek binne.
So ’n ou skelm, dink sy. Hy het gesê hulle sal my vanaand besoek en nou is almal hier. Hy het dit natuurlik opsetlik gesê om my gerus te stel, sodat hy kan sien of ek soos ’n soet kind in die bed sal bly.
“Boa tarde, señorita!” groet hy met ’n opgewekte stem, hoewel sy blik streng en onverbiddelik op haar rus.
“Goeiemiddag, señor,” groet sy ongeërg terug. “Jy sal ongelukkig op die bed moet sit, hier is nie nog ’n stoel nie.”
“Jy vergis jou, señorita. Die bed is vir jou bedoel, nie vir my nie.”
Met hierdie woorde tel hy haar weer op en lê haar saggies op die bed neer. Hy verwyder haar pantoffels en trek die laken netjies oor haar. Daarna neem hy ongeërg op die stoel voor die venster plaas.
Die marquesa en haar suster kan nie ’n glimlaggie bedwing nie. Rina se opstandige gesig is te kostelik om te aanskou.
“Señor marquês,” hoor hulle haar onthuts sê, “ek word nou moeg daarvan dat jy my telkens in die bed stop asof ek ’n kind is.”
“Sodra jy ophou om jou soos ’n kind te gedra, señorita, sal ek nie langer nodig hê om jou soos een te behandel nie. Maar blykbaar het jy vergeet dat ek jou vanoggend op mý verantwoordelikheid uit die hospitaal geneem het. Ek is dus verantwoordelik vir jou welsyn totdat jy volkome aangesterk het.”
“Ek wens ek het jou nooit in my lewe ontmoet nie, señor,” begin Rina ontstoke.
Maar Conzalo val haar bedaard in die rede: “Wensdenkery sal jou absoluut niks baat nie, want jy gaan my nog die volgende twee dae elke dag sien. O ja, jy gaan nog twee dae in die bed bly. Ek kom jou juis sê dat die skip vroeër vanmiddag die hawe binnegeseil het. As jy my jou paspoort en die nodige dokumente gee, sal ek môre jou motor gaan haal.”
“Dankie, maar ek sal my motor sommer self gaan haal, señor.”
“Wanneer? Maandag?”
“Wat bedoel jy met Maandag?” vra Rina vererg.
“Wel, jy gaan in die bed bly tot Sondagoggend,” lig die edelman haar in. “Dus kan jy jou motor eers Maandag gaan haal.”
“Ek verkies nog om dit self te doen,” hou Rina knaend vol. Sy het reeds besluit om môremiddag weg te glip en haar motor te gaan haal. Maar dit hoef die vermetele man nie te weet nie. Hoe minder hy van haar sake af weet, des te beter vir hulle albei.
Hierna gesels Rina uitsluitlik met die drie vroue.
Haar gaste geniet eers middagkoffie saam met haar, voordat hulle aanstaltes maak om te vertrek.
Na ete daardie aand ontvang Rina weer besoek van Alvaro en sy ma. Die ou dame lag te lekker omdat die marquês Rina se skoktaktiek vanoggend so netjies verydel het.
“Conzalo laat nie met hom speel nie,” kom dit goedig van Alvaro. “ ’n Mens kan maar doen net wat jy wil, maar Conzalo bly in beheer van elke situasie. Jy sal hom ook nie maklik van stryk bring nie, daarvoor is hy te ’n koel komkommer. Ek het trouens nog nooit van ’n geval gehoor waar hy nie as oorwinnaar uit die stryd getree het nie.”
“As ons in die sestiende eeu gelewe het, het hy my seker lankal met sy swaard onthoof of in sy kasteel se kelder doodgemartel,” lag Rina ondeund. “Maar ek is nie vir hom bang nie; ek vervies my net wanneer hy hom so baasspelerig hou en maak of hy al die seggenskap ter wêreld oor my het.”
“Conzalo is maar so. Hy sal nooit verander nie, Rina,” verklaar die ou dame gemoedelik. “Sy vader was net soos hy. Dit is ’n inherente karaktereienskap in die manlike De Valcadas.”
6
Soos gewoonlik besoek die twee gesinne van die castelo Rina die volgende môre. Vanoggend vertoef die gaste nie so lank soos gewoonlik nie, aangesien die marquesa nog etlike inkopies moet doen vir die olyffees wat voorlê.
Na middagete gaan Rina ’n uur lank rus. Daarna gaan bad sy en verklee haar vir haar besoek aan die doeanekantoor.
Dis na twee toe sy, deftig uitgevat in ’n liggeel pakkie met lemmetjiekleurige bykomstighede, met die hysbak afry. In die voorportaal loop sy die hotelbestuurder raak. Die kêrel groet haar baie vriendelik en verneem belangstellend na haar gesondheid.
“Ek sien ons señor marquês hou ’n wakende oog oor u, señorita,” glimlag hy met ’n betekenisvolle uitdrukking in sy oë wat Rina nie ontgaan nie.
Sy begin saggies lag en kyk die man ondeund aan.
“Hy vergis hom terdeë as hy dink hy kan my in die bed hou,” sê sy. “Ek gaan nou my motor by die doeanekantoor haal. In elk geval, ek sal nou moet gaan. Adeus, señor.”
“Adeus, señorita,” groet hy terug.
Rina se hoë hakkies klink vrolik op die sypaadjie onderwyl sy die twee blokke na die doeanekantoor tydsaam aflê. Sy is nog nie sterk genoeg om vinnig te stap nie, maar dit hinder haar nie in die minste nie. Sy voel in haar noppies omdat sy die heerssugtige edelman weer eens uitoorlê het. Die man sal nog moet leer dat sy ’n Suid-Afrikaanse meisie is en nie Portugees nie.
Vergesel van ’n warboel opstandige gedagtes, daag Rina eindelik by die doeanekantoor op. Na etlike navrae bevind sy haar in die regte kantoor. Sy voel besonder moeg en bewerig van die kort wandeling, en toe sy merk hoe ’n lang tou mense voor haar staan en wag om geholpe te raak, begeef haar moed haar byna. Sy weet eerlikwaar nie of sy so lank op die been sal kan bly totdat dit haar beurt is om bedien te word nie. Sy kyk in die vertrek rond, maar daar is nie ’n enkele stoel of ander sitplek nie. Op die oomblik sou sy selfs ’n leë kissie verwelkom het om op te sit.
Die volgende halfuur verwissel Rina haar gewig van die een na die ander been. Sy voel hoe ’n koue sweet op haar voorkop uitslaan. Ook haar hande is nou koud en klam en sy begin selfs duiselig voel. So deur ’n waas sien sy dat daar nog net drie mense voor haar in die tou staan.
Die volgende oomblik vou ’n inkswart duisternis oor haar toe en sy sak net daar inmekaar.
Op dieselfde oomblik dat Rina daar in die doeanekantoor in ’n floute wegsink, hou Conzalo se motor voor die Hotel Universo stil. Hy stap die hotel binne, groet die bestuurder en wil net verbystap na die hysbak toe die ander man eerbiedig sê: “As u onderweg is om juffrou Verhoef te besoek, u edele marquês, spyt dit my om u te sê dat sy nie in haar kamer is nie.”
“Wat