Susanna M Lingua Gunstelinge 4. Susanna M Lingua
hoe hy sy sakdoek uit sy sak haal.
“Señor . . .” begin sy swakkies, nog ietwat uit die veld geslaan, maar hy is reeds besig om die bloedrooi lipstiffie van haar lippe te verwyder.
Hiermee klaar, beskou hy sy handewerk met openlike goedkeuring.
“So,” sê hy met sy mooi, diep stem, “nou is al die . . . e . . . gemors verwyder en bedek.” Rina maak ’n beweging om van die bed af te klim, maar die man keer haar dadelik. “Nee, sit, asseblief, señorita, ek is nog nie klaar nie,” sê hy ewe kalm en bedaard.
Conzalo draai na Alvaro, voer op Portugees ’n kort gesprek met die dokter en krap dan weer haastig in haar tas rond. Na ’n rukkie vind hy waarna hy soek. Rina herken die botteltjie wat hy in sy hand het en nou weet sy dat haar rooi naellak aan die beurt gaan kom . . . Sowaar, die man gebruik sy wit sysakdoek om die rooi lak van haar naels te verwyder!
Alvaro wonder hoe Rina oor Conzalo se optrede voel. Maar hy het nie nodig om lank te wonder nie, want die verbasing op haar gesig is ’n duidelike weerspieëling van haar gevoelens.
Rina voel momenteel soos ’n geprikte ballon. Sy het daarna uitgesien om Conzalo se siel vandag weer hartlik te versondig en nou het hy al haar pret bederf. Hy was nou wel diep geskok, maar hy het niks gesê nie. Nee, sy trotse waardigheid is onversteurbaar en boonop bly hy in beheer van enige situasie.
Op die oomblik weet Rina nie wat om vir die edelman te sê nie. Sy kyk op na sy gesig wat gevaarlik naby hare is en merk die ernstige trek om sy mooi, karaktervolle mond.
’n Oomblik flits dit deur haar gedagtes dat Conzalo ’n buitengewoon aantreklike man is en dat dit baie maklik sal wees om op hom verlief te raak. Maar sy besef ook dat dit fataal sal wees. Hy is die soort wat slegs met ’n vrou uit sy eie nasie sal trou . . . nee, sy wat Rina Verhoef is, sal nooit ’n kans staan nie. Tog wonder sy hoe dit sal voel om deur hierdie man bemin te word. Sal hy ook teenoor sy beminde koud en ongenaakbaar wees, of is daar ’n verborge vuur en normale drange in hom waarvan niemand weet nie? Hy is koud en ongenaakbaar, tog is hy ook wonderlik bedagsaam en hoflik. Die man is werklik ’n eienaardige mengsel van uiteenlopende eienskappe.
Rina is so diep ingedagte dat sy nie eens agterkom toe die marquês orent kom en sy sakdoek doodluiters in sy sak steek nie. Dis eers toe hy praat dat sy weer tot verhaal kom. Maar sy verstaan niks wat hy sê nie, want hy spreek Alvaro op Portugees aan. Sy sien hoe Alvaro haar tas sluit en dit van die bed af neem. Die volgende oomblik tel Conzalo haar op asof sy ’n baba is en sonder meer begin hy met haar aanstryk na die hoofingang van die hospitaal.
“Señor,” sê sy ietwat verontwaardig, “ek is sterk genoeg om self te loop . . .”
“Nee, jy is nie,” sê hy baie kortaf. “En onthou, asseblief, ek is nie Alvaro wat jy om jou pinkie kan draai soos jy wil nie. Maar ons sal later daaroor gesels.”
By sy motor aangekom, word Rina behendig en versigtig op die voorste sitplek neergesit, asof sy breekbaar is. Sy merk dat haar tas reeds in die motor is.
“Señor marquês,” sê sy toe die man agter die stuurwiel ingly, “ek het nog nie die vorm geteken dat ek die hospitaal op eie verantwoordelikheid verlaat nie.”
“Ek het die vorm reeds geteken, señorita,” verklaar hy onderwyl hy die motor aanskakel en wegtrek. “Jy begryp dus dat jy van hierdie oomblik af my verantwoordelikheid is, totdat jy volkome herstel het.”
“O, ek is nie van plan om nou al die gees te gee nie, as dit is wat jy bedoel,” antwoord sy ongeërg. “Ek wil jou ook daaraan herinner dat ek reeds van my siekte herstel het. Oor ’n dag of twee sal ek hopelik weer heeltemal mens wees.”
Sy merk dat daar meteens ’n harde trek om die edelman se mond verskyn, ’n duidelike teken dat sy weer iets gesê het wat nie sy goedkeuring wegdra nie. Sy vergis haar ook nie, want sy volgende woorde bevestig haar mening.
“As jy dink dat jy oor ’n dag of twee hierdie stad se strate gaan platry, vergis jy jou terdeë, señorita. Jy sal geen motor bestuur voordat jy nie volkome aangesterk het nie.”
“In daardie geval kon ek maar netsowel in die hospitaal gebly het!” laat Rina verontwaardig hoor.
Die edelman haal sy skouers liggies op. “Ek vrees dit is jou fout,” laat hy bedaard hoor. “Niemand het jou gedwing om die hospitaal so gou te verlaat nie.”
’n Stroewe stilte hang soos ’n ondeurdringbare muur tussen hulle, en na ’n rukkie hou Conzalo voor die Hotel Universo stil. Daar is nou ’n openlike trek van ontevredenheid op Rina se gesig. Sy gaan haar glad nie deur hierdie man laat domineer nie. Hy eien homself gans te veel toe deur ook haar lewe te wil regeer.
Rina sien hoe ’n portier hom na die edelman se motor haas. Die volgende oomblik is sy slegs bewus van Conzalo se gespierde arms wat haar uit die motor tel en haastig met haar begin aanstryk na die hoofingang van die hotel. Die portier neem haar tas uit die motor en volg hulle na die hysbak.
In haar kamer lê Conzalo haar versigtig op die bed neer. Hy neem die tas, plaas dit op ’n stoel en knip die deksel oop. Ewe waardig kom hy langs Rina se bed staan en kyk haar met ’n streng blik aan. Ook sy stem is streng toe hy sê: “Ek gee jou presies tien minute om jou te verklee en in die bed te wees, señorita.”
“En as ek nie wil nie, señor?” vra sy met ’n uitdagende stem terwyl haar oë nie ’n oomblik voor sy streng, vorsende blik weifel nie.
“Dan, señorita,” sê hy afgemete, “sal ek verplig wees om jou eiehandig te verklee en in die bed te sit. Die keuse is joune.”
’n Sagte laggie borrel oor Rina se aanloklike lippe. Sy kyk die man skepties aan en verklaar bedaard: “Toemaar, señor, jy bluf my glad nie. Jy is gans te konserwatief en nougeset om my te verklee en in die bed te sit. Ek is seker dat jy nog nooit in jou lewe eens aan ’n meisie se kaal been gevat het nie, wat staan nog een te ontklee.”
“Daag jy my uit, señorita?” vra die edelman met ’n ernstige stem.
’n Verborge duiweltjie hits Rina aan om te sien of hierdie preutse man haar regtig sal ontklee en in die bed sit. Sy kan nie glo dat hy ooit so iets sal waag nie. Nee, hy is gans te preuts en konserwatief.
“Ja, señor, ek daag jou uit om my te verklee en in die bed te sit.”
“Ek laat my deur niemand uitdaag nie, señorita,” verklaar hy bedaard.
Die volgende oomblik begin hy ongeërg haar kamerjas voor losknoop. Hy lig haar orent in ’n sittende posisie, sodat haar bene van die bed af hang. Daarna verwyder hy haar kamerjas ewe behendig. Rina laat hom maar begaan. Sy wil sien presies hoe vasbeslote hy is om sy wil op ander af te dwing. Sy glo nog nie dat hy werklik sy dreigement sal uitvoer nie.
“Waar knoop ’n mens hierdie skrapse affêre wat jy ’n rok noem, los, señorita?” hoor sy die edelman bedaard hier bokant haar kop vra.
“Dit word nie losgeknoop nie, señor,” antwoord sy en kyk hom met ’n gemaak vroom gesiggie aan. “Daar is ’n ritssluiter op die rugkant van die rok.”
Die marquês buig soos ’n wilgerlat oor haar en bekyk die ritssluiter aandagtig. Rina laat haar hare opsetlik agter oor die ruglyn van die rok val, sodat sy arendsoog nie die sleutel van die ritssluiter sommer kan raaksien nie. Laat hom soek, dink sy. Hy dink mos hy is tot alles in staat.
Sy voel hoe hy haar hare versigtig van haar nek af wegstoot en haar glimlag verbreed. Nou sal sy sien of hy regtig so vasberade is as wat hy voorgee. Die volgende oomblik verstar haar glimlag toe sy hoor hoe hy haar rok agter ooprits. Maar sy troos haarself met die wete dat sy darem ’n onderrok onder haar rok aanhet.
Sy voel hoe sy warm hande die skouers van haar rok vasvat om dit oor haar skouers te trek, maar sy keer hom dadelik deur haastig te sê: “Dankie, jy het nou genoeg gedoen. Ek sal my nou verder self uittrek.”
Hy kom vlugtig orent en kyk haar met ’n blik van oorwinning aan. Die eerste keer sien Rina ’n glimlag om sy mond, ’n glimlag wat haar verraderlike hart drie slae laat mis en