Liefde per dosyn. Sarah du Pisanie

Liefde per dosyn - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
tion>

      

      SARAH DU PISANIE

      Liefde per dosyn

      Jasmyn

      1

      Net die aanhoor van die man se naam stoot die bloed dofrooi in Christa van Graan se wange op. Die vernedering van vier jaar gelede kennelik nog ’n deel van haar.

      “Jy sal steeds aan my moet verslag lewer, juffrou Van Graan. Presies dieselfde reëls geld as vroeër.” Jan Oelofse se stem klink onnatuurlik geduldig en Christa kan die selftevredenheid daarin hoor.

      “Dit is maar net asof een van ons klaskamers ’n entjie verder verskuif. Dis al! Jy sal gereeld jou verslae moet instuur en ons sal daar kom inspeksie hou. Ek sal self jou werk evalueer en kontroleer.” Sy stemtoon is heeltyd op een toonhoogte en dit laat haar dink aan ’n brommer wat knaend teen ’n toe ruit vasvlieg.

      “Maar ek wil nie gaan nie, meneer Oelofse! Ek stel eerlikwaar nie belang nie.” Christa hark haar gedagtes soos herfsblare bymekaar en probeer iets konstruktiefs en intelligents kwytraak voordat sy in hierdie strik gevang word.

      Jan Oelofse kyk haar geskok aan. “Nie gaan nie?” Hy fluister die woorde ongelowig uit. “Maar het jy nie gehoor wat ek sê nie? Baron Von Leipsig het sy versoek persóónlik aan die onderwysdepartement gerig … en hulle het in my skool die regte applikant vir die pos gekry.” Hy kan glad nie begryp dat sy die groot eer wat haar te beurt val, nie kan waardeer nie. “Die ander onderwysers sal wat wil gee vir so ’n voorreg!”

      “Laat een van hulle dan gaan … asseblief, meneer Oelofse!” Christa smeek nou openlik en die groen oë raak mistig.

      “Die departement het jou aanbeveel, juffrou Van Graan! Een van my onderwyseresse!” Hy stoot sy maer borsie effens uit, asof hy persoonlik daarvoor verantwoordelik is. Sy vaalbruin oë lyk onnatuurlik groot deur die dik bril. “Jy is die enigste een wat kwalifiseer vir die vereistes wat die baron stel,” gee hy onwillig die rede vir die vreeslike eer wat haar te beurt val.

      “Maar … maar hoekom?” Christa hou haar skraal hande effens in die lug in ’n magtelose gebaar. Sy kyk na die besliste trek om sy mond en besef met ’n sinkende gevoel in haar binneste dat sy nooit vandag haar man teen Oelofse sal kan staan nie. Vir hom is die eer te groot! Dat een van sy onderwyseresse gekeur kon word vir so ’n fantastiese geleentheid is net te veel vir sy verwaande ego! “Kan … kan juffrou Hettie nie maar gaan nie?” wend sy ’n laaste wanhopige poging aan.

      “Juffrou Van Graan, verstaan my nou mooi. Jy is Duits ten volle magtig, want jou moeder is Duits. Jy praat vlot Afrikaans want jou vader is Afrikaans.” Hy klink soos ’n pa wat iets in ’n kleuter se kop probeer kry en daar is ’n simpel, verdraagsame glimlaggie om sy mond.

      “Is daar dan nie ’n Duitse onderwyser wat beter sal kwalifiseer nie? Meeste van hulle praat goed Afrikaans, veral nou, ná die oorlog, is hier tog baie Duitse onderwysers …”

      Jan Oelofse sug ongeduldig. “Ek sal dit ’n laaste keer alles aan jou verduidelik. Die kinders is oorlogwesies wat van Duitsland af hier na Suidwes-Afrika toe gebring is. Hulle was almal in ’n seunskool waar hulle spesiale onderrig in musiek, veral sang, gekry het …”

      Christa kyk hom met magtelose frustrasie in haar binneste aan terwyl hy steeds eentonig voortdreun.

      “Die skool is heeltemal verwoes in die oorlog. Alles moet nou van die grond af opgebou word. Dit sal moontlik ’n jaar of twee neem om dit te voltooi. Intussen het baron Von Leipsig besluit om hulle hierheen te bring. Daar is ongeveer tien seuns. Hulle het almal beide hulle ouers verloor en het geen ander heenkome daar anderkant nie. Die kinders kom uit goeie huise en is finansieel goed versorg. Dit sal wreed wees om hulle in weeshuise te sit.”

      Christa vee die rooibruin hare uit haar gesig en sy voel moeg en oud as sy besef dat sy geen keuse gaan hê nie.

      Jan Oelofse trommel met sy vingers op die lessenaar. “Die kinders moet onderrig word in Duits maar terselfdertyd ook Afrikaans aanleer. Die belangrikste is dat hulle weer met musieklesse begin. Die skool waar hulle was, was ’n eksklusiewe privaat musiekskool. Hulle moet ten minste in klavier, viool en sang onderrig ontvang, totdat die baron verdere reëlings kan tref.”

      Hy kyk na Christa se onwillige gesiggie en frons gevaarlik. “Ongelukkig is jy die enigste een in Suidwes-Afrika met hierdie kwalifikasies wat nog nie getroud is nie. Ek is baie trots op jou … baie, baie trots!” probeer hy haar paai.

      Christa lig haar hande moedeloos in die lug en sug soos ’n ou vrou. As dit net nie Adolf von Leipsig was nie! Sy sou hierdie kans met albei hande aangegryp het. Dit moet heerlik wees om op ’n rustige plaas, weg van alles, net tien kinders te kan onderrig. Musiek is ’n wesenlike deel van haar, soos die lug wat sy inasem. Dit sou louter vreugde gewees het.

      Die hele opset klink vir haar logies. Tien weeskinders wat reeds deur die oorlog ontwrig is, het nie nou nog ander probleme ook nodig nie. ’n Groot, rustige plaas is die beste medisyne vir ’n gewonde gees. As dit tog net nie Adolf von Leipsig was nie!

      “Meneer Oelofse … dit is nie dat ek onwillig is nie … dit is net … ek sien nie kans om te gaan nie … dis om persoonlike redes …”

      “Persoonlike probleme is nie die onderwysdepartement se verantwoordelikheid nie, juffrou! Ons as skool is nie so verleë oor al jou wonderlike kwalifikasies nie … moet dus nie jou hand oorspeel nie. Hierdie is ’n bevel! As jy nie hiervoor kans sien nie, het ek geen keuse as om jou te vra om te bedank nie.”

      Christa kyk hom verslae aan. Sy is tog ’n baie goeie onderwyseres en het nog nooit lyf weggesteek nie. Hoe kan hy so wreed wees?

      Sy stem raak meer gemoedelik en sagter. “Baron Von Leipsig het nog altyd ’n oop hand vir die gemeenskap en in besonder vir die skool gehad. Dit is die eerste keer dat hy iets van ons terugverwag. Ek vra jou dus mooi om die saak ernstig te heroorweeg.”

      Christa staan op en verlatenheid sak oor haar toe. Sy kan nie bekostig om haar pos te verloor nie. Hierdie is haar wêreld … haar mense! Haar ouers boer op Gobabis en hulle is ’n groot gesin … sy kan nie ook nog by die huis gaan sit nie. Hulle het almal so hard gehelp om haar hierdie geleentheid te gee om te gaan studeer … sy kan dit nie aan hulle doen nie.

      Sy knik gelate haar kop en kyk voor haar op die grond sodat hy nie die trane in haar oë moet sien nie.

      Oelofse sug sag van verligting. “Ek is bly dat jy ons situasie insien, juffrou Van Graan. Jou salaris sal omtrent verdubbel en inwoning op die plaas is gratis. Tydens skoolvakansies het jy natuurlik verlof, tensy die baron ander reëlings met jou tref. Hy sal jou natuurlik addisioneel daarvoor vergoed.”

      Christa kyk hom moedeloos aan. Dit gaan nie help om verder met hom te probeer redeneer nie. Ongelukkig is sy die enigste een met die vereiste kwalifikasies en hulle het die baron ’n onderwyseres belowe! Sy is seker daarvan hulle sal haar op die plaas kry, al moet hulle haar ook vasketting en in ’n possak op die trein laai. Sy draai om en wil uitloop, maar hy keer haar vinnig.

      “Juffrou … die baron verwag jou Maandag op die plaas. Die kinders het al gedurende die Desembervakansie aangekom en die baron wil hê hul onderrig moet saam met die gewone skole begin.”

      Sy lek oor haar droë lippe. Binne-in haar is daar ’n yskoue woede. Sy het lus en gooi die inkpot oor sy kop uit. Die kruiperige ou ding! dink sy vies.

      Oelofse hou ’n koevert na haar uit. “Die treinkaartjie en ’n ekstra maand se salaris indien daar dalk goedjies is wat jy wil koop voordat jy gaan. Jy … e … jy moet onthou, daar is nie ’n winkel naby nie.”

      Hy ontwyk die onstuimige oë. “Die trein vertrek Sondagaand en die mense van Ruigte sal jou Maandagoggend op die halte, Friederichsfelde, kry.”

      Die frustrasie vou versmorend om haar toe. Alles word eenvoudig vir haar gereël, sonder dat sy enige sê in die saak het. Sy is net ’n stuk toerusting om die baron se masjiene glad te laat loop. Sy vat die koevert vinnig en stap by die deur uit.

      In haar klaskamer gaan sit sy by die lessenaar en sukkel om hierdie ongetemde gevoelens tot bedaring te bring. Von Leipsig! Die klank van die woord teister haar en bring weer al die


Скачать книгу