Sag ruis die nagwind. Susanna M Lingua
>
Susanna M Lingua
Sag ruis die nagwind
Melodie
1
Alta, enigste en bedorwe agttienjarige brokkie van Marius van Eden, bekende Johannesburgse miljoenêr, hoor haar pa op die voorstoep van hul weelderige woning na haar roep.
“Ek kom, Pappa!” antwoord sy van die swembad se kant af.
Sy trek haar strandjassie haastig aan en draf kaalvoet oor die grasperk na haar pa wat stadig met die stoeptreetjies afgestap kom.
Die oggendson blink op haar lang, swart hare, en haar donker oë lag vrolik in syne toe sy hom nader en met ’n musikale stem vra: “Is my ou paps al weer reisvaardig?”
Die nege-en-veertigjarige Marius plaas sy arm om sy dogter se smal skouers en antwoord met ’n liefdevolle stem: “Patroon, moet nou nie maak asof jy nie weet dat ek vandag met sake Durban toe moet gaan nie. Ek het jou dan gisteraand aan tafel vertel, of het jy aan jou talle kêrels gesit en dink en met ’n halwe oor geluister?”
Alta lag sodat haar tande wit in die oggendson skitter. “Ek het vergeet, Pappa,” antwoord sy eerlik. ’n Bekommerde trek verskyn ineens in haar oë toe sy ernstig vervolg: “Ek sien die motor staan hier langs die huis; gaan Pappa self bestuur?”
“As my dogter die stad met haar motor kan platry, kan ek seker self Durban toe bestuur, of hoe?”
“En wat van Pappa se hart . . . die vermoeienis . . . ” begin sy, maar Marius maak haar met ’n ligte handgebaar stil.
“Moet jou nie daaroor bekommer nie, my kind,” sê hy gerusstellend. “Ek het maande gelede ’n aanval gehad, en ek dra darem altyd my pille in my sak.”
“Gaan Pappa lank wegbly?” vra sy. Sedert haar ma drie jaar gelede oorlede is, is haar pa die enigste mens op aarde vir wie sy baie lief is.
Marius streel liefdevol met sy hand oor haar blink hare en antwoord bedaard: “Ek is môreaand weer tuis, patroon. Soos ek jou vriende ken, sal jy nie eens agterkom dat ek weg is nie. Geniet die lewe, my kind. ’n Mens is net een maal jonk, onthou dit altyd. Wat is jul program vir vandag?”
So ’n aansporing om die lewe te geniet het Alta nie nodig nie. Sy het nog altyd die lewe as ’n aangename spel beskou en die wêreld as haar speelplek. Sy ontsien niks en niemand in haar dolle gejaag na pret en plesier, wat sy as haar geboortereg beskou nie.
Die Van Edens het nog altyd in Johannesburg se eksklusiewe sosiale kringe beweeg, en binne daardie kringe het Alta en haar jong vriende hul eie eksklusiewe groepie wat net liefhebbers van pret en plesier verwelkom; almal rykmanskinders wat dit kan bekostig om net vir die oomblik te leef.
“Ons het vanoggend ’n motorbootwedren by Hartebeespoortdam,” antwoord sy op haar pa se vraag. “Vanaand gaan ons skaats en daarna by die een of ander nagklub dans. Na die motorbootresies sal almal hierheen kom om ons huishoudster se lekkernye te verslind. Ons huis is mos maar altyd die bymekaarkomplek.”
“Nou ja, geniet dit, Alta-kind. Ek moet nog eers ’n draai by my kantoor gaan maak voordat ek Durban toe kan vertrek. Mooi bly, ounooi.”
“Tot siens, Pappa.”
Hy groet haar met ’n vaderlike soen en stap om die huis se hoek na waar sy motor staan.
Toe Marius voor die deur verbyry, wuif Alta vir hom en staar die lang, swart motor agterna totdat dit deur die hek verdwyn. Hierna stap sy terug swembad toe. Sy is nie eens bewus van hul pragwoning se wonderlike tuin nie, die lushof waaraan die huis sy naam te danke het; Tuine. Haar gedagtes is al weer druk besig met haar talle vriende en die dag se pret en vermaaklikheid. Sy weet dat hulle eers in die vroeë oggendure sal tuis kom; moeg, maar ook gelukkig. Soos gewoonlik sal almal dan slaap tot môremiddag, net om daarna die lewe weer opnuut te ervaar . . . Ja, hul hele lewe is een eindelose kringloop van pret en plesier.
Alta duik nog een keer in die swembad, swem terug kant toe en gaan verklee haar haastig in ’n ligrooi broekpak. Sy weet dit is haas tyd om dam toe te gaan waar sy al haar vriende sal ontmoet. Sy sit ’n donkerbril op, bind ’n rooi serpie om haar hare en stap haastig na die motorhuis waar haar geel sportmotor staan. Na ’n rukkie seil die geel gevaarte by die hek uit onderweg na die dam.
Dis reeds byna elfuur toe sy langs die dam tussen haar vriende se motors stilhou. Die ses motorbote op die water maak ’n oorverdowende lawaai. Haastig klim sy uit en sluit haar by die groepie aan wat die jaers luid toejuig en aanmoedig.
“A, jy is eindelik hier!” begroet Fred Warden haar en hou sy verkyker na haar uit. “Kyk hoe wen ons Niek die ou klomp.”
Sy kyk na Niek Bouwer se mooi vertoning, tuur fronsend na die ander vyf jaers en gee Fred se verkyker terug.
“Hm,” sê sy ingenome, “Niek was nog altyd hul moses. Maar Kobus is kort op sy hakke; hy kan hom nog verbysteek.”
Daar heers groot pret en lawaai by die dam. Om eenuur gaan eet almal in die hotel naby die dam, dan gaan die wedren weer voort tot drie-uur die middag.
Almal verkeer in gesellige luim toe hulle later terugkeer Johannesburg toe na die Van Eden-woning waar die middeljarige Sarie Nel die vyf-en-twintig jong mense se koms afwag.
“Alta,” sê Niek uitbundig toe hulle die weelderige sitkamer binnetree, “vandag gaan ons weer lekker tert eet. Daar is niemand wat sulke lekkernye kan bak soos julle kok nie.”
“Jy bedoel sjokoladeroomkoek,” weerspreek ’n blondekop hom. “Aarbeiroomtert,” hou Niek vol.
“Ek stem vir melktert,” laat Kobus van hom hoor.
“Julle slaan almal die bal mis, wafels en heuning,” sê Fred.
“Ag, gaan blaas doppies,” gee ’n donkerkop antwoord. “Skakel liewer die radio aan. Hulle saai gewoonlik om vieruur lekker dansmusiek uit.”
“Ja, dit sal geselliger wees as om oor eetgoed te sit en redekawel,” meen ’n rooikop met ’n sproetgesig. “Ek het nog nooit sulke vraatsigheid gesien nie. ’n Mens sou sê julle mansmense kry nooit iets te ete nie, en intussen eet julle Alta se pa uit huis en haard.”
“Bly nou stil, laat ek sien of ek die musiek kan opspoor,” maak Fred die rooikop ongeduldig stil.
Hy draai ’n paar knoppies aan die radio. Dan klink die omroeper se stem hard in hul ore: “Meneer Marius van Eden van Parktown, Johannesburg, is vanmiddag ernstig beseer in ’n motorongeluk naby Groendal. Meneer Van Eden is in ’n kritieke toestand in Groendal se hospitaal opgeneem. En daarmee beëindig ons die nuusflitse . . . ”
Alta kyk verskrik na Fred wat voor die radio gehurk sit. “Maar dis . . . dis my pa,” stamel sy bleek en hopeloos ontwrig. Maar dan is dit asof sy skielik haar sinne herwin. Sy vlieg uit die stoel uit op, storm uit die vertrek en roep ontsteld: “Mevrou Nel! Mevrou Nel!”
’n Verskrikte Sarie Nel loop in die eetkamer byna teen Alta vas. “Wat makeer, juffrou Alta? Jy is so bleek soos die dood!”
“My pappa was in ’n motorongeluk,” verduidelik sy ontsteld. “ ’n Berig is pas oor die radio uitgesaai. Laat iemand asseblief gou vir my ’n tas pak, ek moet dadelik na Groendal, na my pappa toe gaan . . . O, ek het geweet hy maak ’n fout om so ver sonder sy chauffeur te ry. Maak tog asseblief gou, mevrou Nel.”
“Kom drink eers ’n kalmeermiddel, juffrou Alta,” val sy die jong meisie simpatiek in die rede. “Jy is gans te ontsteld om nou jou motor te bestuur.”
Alta, wat voor Sarie Nel grootgeword het, laat haar gewillig na die badkamer lei. Ewe gewillig sluk sy die pil wat die ouer vrou in haar mond prop.
“Kom, ek gaan jou nou kamer toe neem sodat jy ’n rukkie op die bed kan ontspan, Alta. En moenie bekommerd wees nie, ek sal jou persoonlike huishulp stuur om vir jou ’n tas te pak.”
Sy neem die ontstelde meisie aan die arm en lei haar na haar slaapkamer toe. Eers toe Alta op haar bed lê, verlaat sy die vertrek. Die huishulp pak in ’n japtrap ’n paar kledingstukke en ander nodige goed