.
so gou moontlik moet bereik.
Die pad is lank, en die son begin ook al vinnig in die weste wegsak. Die bome en die berge werp lang skadu’s oor die veld, maar dit hinder Alta glad nie. Sy dink trouens nie eens daaraan dat die donkerte haar straks op die pad sal oorval nie, want haar gedagtes is pal by haar pa wat op hierdie oomblik dalk op sterwe lê.
Ek kan hom nie aan die dood afstaan nie, dink sy benoud. Nee, ek wil nie eens daaraan dink nie, want sonder hom sal die lewe vir my geen betekenis meer hê nie. Hy is al wat ek nog het, en hy is vir my tegelyk pa en ma . . . Nee, ek is te lief vir hom om ewig van hom geskei te wees. Niemand kan ooit sy plek in my lewe vul nie. Hy móét vir my gespaar bly; die dokters mag hom nie laat sterf nie.
Die aandskemering hang later soos ’n grys sluier oor die aarde. Alta kyk na die horlosie teen die paneelbord. Dis sewe-uur, en die pad lê nog oneindig lank voor haar uitgestrek. Sy skakel die radio aan. Moontlik word daar weer iets in verband met haar pa se toestand uitgesaai. Sy weet nie waarom sy die radio nie lankal aangeskakel het nie.
Die program vir die aand word aangekondig. Sy stel die radio sagter, dan neem haar gedagtes weer wye vlugte. Sy probeer aan haar vriende dink wat hulle nou begin gereedmaak om na die ysskaatsbaan te vertrek, maar haar gedagtes bly knaend na haar pa terugdwaal.
’n Paar minute voor agt ry Alta Groendal binne. Sy weet nie waarom die dorpie juis Groendal heet nie, die plek lyk vir haar bra vaal. Moontlik lyk die dorpie maar net so saai omdat dit donker is.
Voor die eerste kafee hou sy stil om die pad na die hospitaal te vra. Die twee jong Grieke agter die toonbank staar haar aan asof sy die enigste vroumens op die ganse Groendal is.
“Meneer,” spreek sy die oudste van die twee op Afrikaans aan, “kan jy my asseblief sê waar die hospitaal is?”
Die aangesprokene kyk haar met iets soos simpatie in sy donker oë aan. Hy weet blykbaar van die man wat vanmiddag hier duskant die dorp in ’n motorongeluk was en raai dat die beseerde familie van haar is.
“Seker, juffrou,” antwoord hy tegemoetkomend en beduie dan hoe sy moet ry om haar bestemming te bereik.
Sy bedank hom en vra dan hoopvol: “Is hier darem ’n hotel op die dorp waar ek sal kan oorbly?”
“Hier is twee hotelle, juffrou. Dis nie vyfsterhotelle nie, maar ek kan die Rialto met ’n goeie gewete aanbeveel.” Weer beduie hy hoe sy moet ry om by die Rialto uit te kom.
Alta bedank hom, sê tot siens en enkele tellings later dreun die geel sportmotor straatop in die rigting van die hospitaal.
By die hospitaal aangekom, wend sy haar tot die man wat in die navraekantoor diens doen en word dadelik toegelaat om haar pa te besoek.
’n Vriendelike verpleegster vergesel haar na die kamer waar Marius bleek en stil op die hoë hospitaalbed lê. Daar staan twee dokters en ’n suster langs sy bed, maar Alta sien hulle nie eens raak nie. Sy gewaar net haar pa wat lyk asof die dood hom van haar af wil wegruk.
“Pappa!” roep sy verpletter uit terwyl die trane warm oor haar wange stroom. Sy sak op haar knieë langs die bed neer, neem een bleek hand in hare en druk dit teen haar bors vas.
’n Lang ruk staan sy so langs die bed en snik. Dan voel sy hoe ’n hand saggies aan haar skouer raak.
“Sit asseblief op die stoel, juffrou. Is u meneer Van Eden se dogter?” vra ’n diep stem besorg.
Sy knik bevestigend en neem verwese op die stoel plaas.
“Ek is dokter Lombaard,” stel hy homself voor en gaan bedaard voort: “Ek veronderstel u kom nou van Johannesburg af? Is die hele gesin hier, of het u alleen gekom?”
“Die gesin bestaan net uit my en my pa, dokter,” antwoord sy hartseer en vee haar trane af. “My ma is lankal oorlede en . . . ek het maar eers vieruur vanmiddag oor die radio gehoor dat my pa in ’n motorongeluk was. Hoe het die . . . ongeluk plaasgevind?”
“Die ander bestuurder het beheer oor sy motor verloor,” vertel hy.
“Is hy . . . baie ernstig beseer?” vra sy huiwerig, bang dat die waarheid verpletterend kan wees.
“Die inwendige beserings is van ’n baie ernstige aard, juffrou Van Eden. U pa het ook nog nie sy bewussyn herwin nie.”
“Dokter, my pa ly aan ’n swak hart. Dokter Gert de Jongh, ’n Johannesburgse hartspesialis, behandel hom,” lig sy hom in met trane in haar stem. “Ek is baie lief vir my pa, hy is al wat ek het; daarom verlang ek net die beste behandeling vir hom. U moet asseblief geen koste ontsien nie. Ontbied die beste dokters in Suid-Afrika of in die buiteland om u by te staan. My pa kan dit bekostig. Maak hom net vir my gesond, dit is al wat ek van u vra.”
“Ons doen vir u pa alles wat menslik moontlik is, juffrou,” sê die dokter gerusstellend. “Ek sal binnekort met dokter De Jongh in verbinding tree. Wees dus gerus, ek sal persoonlik toesien dat u pa net die beste behandeling ontvang.” Hy draai na die suster. “Gee juffrou Van Eden asseblief ’n kalmeermiddel, suster, en laat een van die verpleegsters vir haar ’n koppie tee bring.” Hy kyk weer na Alta. “U het seker nog nie aandete genuttig nie?”
“Nee, ek het nie, dokter, maar dit maak nie saak nie, ek is glad nie honger nie,” antwoord sy.
“Het u al verblyfplek gevind?” vra hy weer.
Alta skud haar kop. “Ek het van Johannesburg af reguit hierheen gekom.”
“Ek sal vir u ’n kamer in die Rialto-hotel bespreek,” bied die dokter vriendelik aan. “Dis die beste hotel hier op die dorp, en die plek is ook nie ver van die hospitaal af nie. Een van die verpleegsters kan u gaan wys waar die hotel is.”
Alta bedank hom en neem die glasie medisyne wat die suster na haar uithou. Na ’n rukkie bring ’n verpleegster vir haar ’n koppie tee.
“Ek dink dit sal beter wees as u nou kan gaan rus, juffrou Van Eden,” stel dokter Lombaard voor toe sy die leë koppie op die bedkassie neersit. “Ek sal net eers die ontvangsdame by die hotel bel om vir u plek te bespreek.” Hy draai na die suster. “Ontbied asseblief ’n verpleegster om haar hotel toe te vergesel, suster.”
Daar is weer trane in haar oë toe sy haar pa saggies op die voorkop soen en dan hulpsoekend na dokter Lombaard kyk.
“U moet my asseblief sonder versuim ontbied as . . . as dit nodig is, dokter. Ek sal môreoggend om nege-uur weer hier wees.”
“Wees gerus, ek sal u dadelik laat kom as dit nodig is, juffrou,” belowe die man gerusstellend.
Alta sê nag, en ’n bietjie later vertrek sy en die verpleegster wat vir haar die pad na die hotel toe moet aanwys.
“Dink jy my pa sal . . . leef?” vra Alta na ’n rukkie.
“Dokter Lombaard is die superintendent van die hospitaal en bekend vir sy bekwaamheid, juffrou Van Eden. Hy het al mense gesond gemaak wat ernstiger as jou pa beseer was. Ek kan jou verseker jou pa is in goeie hande.”
Hierna swyg Alta, en na ’n rukkie hou sy voor die hotel stil. Sy kyk die jong verpleegster aan en sê sag: “Ek sal jou gou weer terugneem hospitaal toe; ek ken nou die pad.”
Die verpleegster wil nog kapsie maak en sê dat dit net ’n hanetreetjie hospitaal toe is, maar Alta is reeds besig om om te draai. “Die strate is baie swak verlig, jy kan dit nie waag om alleen te loop nie,” is al wat sy sê.
Voor die hospitaal vra sy of die verpleegster iemand kan ontbied om die tas met haar pa se slaapklere en ander benodigdhede na sy kamer te neem. Die meisie sê sy sal dit sommer self neem. Alta bedank haar en haal die tas uit die motor. Toe sê sy nag en keer weer terug hotel toe.
Dis byna elfuur toe sy eindelik in die bed kruip en die lig afskakel. Sy voel moeg en hartseer, maar kan nie dadelik aan die slaap raak nie. Haar gedagtes is voortdurend by haar pa wat so bleek en stil daar op die hospitaalbed lê, asof hy net op die dood wag om hom weg te neem; altans, sy dink ’n mens lyk so wanneer jy op die dood wag om jou te kom haal. Sy het