Sag ruis die nagwind. Susanna M Lingua
geduld aan die dag lê as Weyer. Ek het in elk geval nie haar probleme nie,” glimlag Erna.
“O ja, sy het probleme met haar man gehad. Hy was mos die soort wat oor die draad loer. Was hy nie met een van die derdejaars deurmekaar nie?”
“Ja, hy was, en die arme ding het nie eens geweet hy is suster Weyer se man nie. Die vent het hom mos as geskeide man voorgedoen,” vertel Erna.
“Tog, op die oog af het hy nogal glad nie onaardig voorgekom nie,” sê Alta en knip die laaste tas toe.
“Dit wys jou net hoe onbetroubaar die ou nasie is,” sê Erna ongeërg.
“En wat van jou geliefde Pieter?” terg Alta laggend.
“O, hy is die enigste mansmens wat betroubaar is,” sê Erna en kom stadig orent. “Het jy nou klaar ingepak?”
“Dit lyk so. As ek iets vergeet het, moet jy dit maar vir jou neem . . . Stap jy saam? Ek wil gaan bel en ’n taxi ontbied.”
“Ja dankie, ek sal saamstap. Maar vertel eers vir my, Alta, waar gaan jy aansoek doen om ’n privaat betrekking?”
“In Pretoria, by die Sonskyn-buro vir privaat verpleegsters,” antwoord Alta.
“Gaan jy vandag nog aansoek doen?” wil Erna weer weet terwyl hulle tydsaam met die gang afstap in die rigting van die telefoonhokkie.
“Nee, ek gaan eers ’n paar dae by my pa op die plaas kuier. Ek het hom lanklaas gesien, en jy weet self hy is nie te gesond nie.” Nadat Alta ’n taxi ontbied het, gaan haal hulle haar bagasie in die kamer en neem dit na die ingangsportaal, waar hulle saam op die koms van die taxi wag.
Dis byna elfuur toe die taxi voor die motorhuis stilhou waar Alta se motor reeds die afgelope vyf jaar gehuisves word. Sy bedank die taxibestuurder, vereffen die reiskoste, en etlike minute later is sy onderweg na Die Wilgers, die Van Edens se weelderige plaas in die Laeveld.
Dis lente, en die wêreld is groen net waar ’n mens kyk. Alta se hart sing saam met die motor se buitebande op die lang, vaal pad.
Vyf jaar lank het sy hard gewerk om haar ideaal te verwesenlik, en nou kan sy eindelik sê sy is gereed vir die taak wat op haar wag.
Sy dink aan die hospitaal, die pasiënte en die verpleegsters. Sy dink aan al die dinge wat haar lewe die afgelope vyf jaar verryk het. Vandag voel sy bly oor die besluit wat sy destyds in Groendal se hospitaal geneem het, want dit was daardie besluit wat rigting aan haar lewe begin gee het.
Sy voel bly en opgewonde toe sy voor die groot, sierlike dubbelverdiepinghuis op Die Wilgers stilhou. Die twee Duitse herdershonde wat weerskante van haar pa se stoel lê, daar waar hy op die systoep sit, lig hul groot koppe op toe hulle die motor voor die deur hoor stilhou. Marius streel gerusstellend met sy hand oor die diere se groot koppe.
“Toe ek die motor hoor, het ek geweet dis jy, ounooi,” glimlag die oubaas nadat Alta hom gegroet het.
Sy neem op die stoel teenoor hom plaas en vra belangstellend: “Gaan dit nog goed, Pappa?”
“Redelik, soos altyd, my kind. Hoe gaan dit met jou? Jy sien goed daaruit.”
“Ek voel goed, Pappa, so goed dat ek sommer die wêreld kan versit. Ek is mos nou ’n opgeleide verpleegsuster en nie meer ’n nuttelose sosiale vlinder nie. Maar ek gaan eers ’n paar dae hier by Pappa kuier voordat ek aansoek doen om ’n privaat pos.”
“Het jy nog nie ’n man raakgeloop in wie jy sin het nie, ounooi?” vra die oubaas met ’n ondeunde uitdrukking in sy donker oë.
“O, daar was ’n jong huisdoktertjie, Pappa,” antwoord sy met ’n vonkel in haar oë. “Ek het nogal van hom gehou totdat hy my vertel het wat sy een groot strewe in die lewe is. Daarna het ek belangstelling in hom verloor.”
“En waarna streef die man, ounooi?” Die oubaas kyk haar met belangstelling aan.
“Na rykdom en aansien, Pappa; net asof daardie dinge sy pasiënte sal gesond maak of van hom ’n beter dokter sal maak. Ek het vir hom gesê dat hy na die verkeerde dinge hunker, dat hy liewer daarna moet streef om ’n bekwame en toegewyde dokter te wees. Die ander dinge sal wel eendag vanself kom.”
“My kind, elke mens streef bepaald na rykdom en aansien.”
“Nee, nie almal nie, Pappa,” val sy hom ernstig in die rede. “Daar is ander huisdokters wat hul plig teenoor hul medemens besef en wat ernstig daarna streef om hulle te bekwaam om dood en siekte te bestry. Vir hulle is die mediese professie nie net ’n pad wat na rykdom en aansien kan lei nie.”
Die huishoudster, Sarie Nel, se verskyning met die teegerei op die systoep, maak ineens ’n einde aan die twee se gesprek. Sy groet Alta en vra of haar bagasie nog in die motor is.
“Ek sal bly wees as een van die huishulpe my tasse na my kamer toe sal neem, mevrou. Sy kan die tasse gerus uitpak, want môre wil ek my klerekas deursoek en ontslae raak van alles waarvan ek nie meer hou nie.” Sy kyk haar pa aan en vervolg: “Daar is klere wat ek nog gekoop het toe ek agttien was en nooit eens sal droom om weer te dra nie. Mevrou Nel kan dit maar onder die huishulpe uitdeel.”
Marius kyk sy dogter met goedkeuring aan en sê met ’n stil glimlag: “Heeltemal reg, jy is nou ’n volwasse meisietjie; jy behoort alles nuut aan te koop. Terloops, ek het vir jou ’n nuwe motor gekoop; so ’n rooi Jaguar.”
Alta kyk haar pa met ’n breë glimlag en ’n sagte blik aan. Toe kom sy orent, sit haar arms om sy nek en bedank hom met ’n liefdevolle soen.
“Pappa bederf my gans te veel,” laat sy opgewonde hoor. “Ek was self van plan om later vir my ’n nuwe motor aan te skaf, maar ek sou natuurlik nie so ’n duur motor kon bekostig nie.”
Terwyl hulle tee geniet, gesels hulle oor die hospitaal en oor die bedrywighede op Die Wilgers. Later gaan bekyk Alta haar nuwe motor in die motorhuis. En toe die ergste hitte begin afneem, glip sy in haar swemklere en spring in die swembad. Hier baljaar sy in die water totdat die skaduwees van die bome lank begin rek. Sy klim uit die swembad en laat haar blik behaaglik oor die pragtige tuin gaan. Dit lyk kompleet asof die huis in die middel van ’n weelderige, groot park gebou is. Aan weerskante van die pad wat van die groot hek af na die huis toe lei, is daar netjiese grasperke, blombeddings, sierbome en struike.
Meneer Els is inderdaad ’n wonderlike tuinier, dink sy terwyl sy haar verlustig in die skoonheid van die natuur wat haar omring. Die Wilgers is ’n ware lushof.
Daardie aand na ete sit sy tot laat by haar pa op die systoep wat heeltemal met gaasdraad teen slange en insekte beskut is. ’n Reuse-dubbelskuifdeur van glas wat die hele een muur van die ontvangsvertrek beslaan, is die enigste uitgang na die systoep. Al die vensters van die huis is ook met gaasdraad beskut, en voor elke buitedeur is ’n gaasdeur aangebring.
Die volgende dag ruim Alta haar kleedkamer op. Sy gooi al die klere waarvan sy nie meer hou nie uit en merk dat die inhoud van haar klerekas nou baie skraal is, maar dit pla haar glad nie. Terwyl sy in Pretoria op ’n betrekking wag, sal sy sommer haar klerekas ook aanvul.
Die volgende vier dae hou sy haar pa geselskap en wanneer hy rus, kuier sy op die plaas rond. Sy sit ure langs die rivier na die voëlgesang in die hoë wilgerbome en luister. Sy lê besoek af by die tuinier en die plaasbestuurder se huise en geniet dikwels tee saam met hul middeljarige vroue.
Hierdie besoekies van Alta waardeer hulle baie, want by haar is daar geen aanstellerigheid te bespeur nie. Sy is ’n vriendelike en minsame meisie.
Alta vertoef net ses dae op Die Wilgers, toe pak sy weer in en vertrek die volgende oggend. Sy kom elfuur die oggend in Pretoria aan en ry na die naaste hotel toe om ’n kamer te huur. Dan gaan sy na die Sonskyn-buro in die middestad.
Die kantoor is op die grondvlak van die groot, nuwe gebou; dus ondervind sy geen moeite om die plek te kry nie. Sy stap by die kantoor in en tref ’n bejaarde, gryskopvrou in ’n verpleegstersuniform agter ’n lessenaar aan. Alta groet die vrou beleef en stel haarself voor.
“Aangename