Oase. Stefani Serfontein
Rassie staan vinnig op en stap na ’n klein kluis teen die een muur van sy kantoor. Hy sluit dit oop en haal ’n geseëlde plastieksakkie met ’n bos sleutels te voorskyn. “Ons het hierdie ekstra bos sleutels in haar huis gekry. Spaarsleutels vir haar huis, hekke en buitegeboue. Neem dit en teken net hier.” Hy skuif ’n register oor die lessenaar na Ari’el.
Ari’el skryf Sarah se adres en besonderhede neer. Langsaan skryf hy ook sy besonderhede en teken daarby. Hy glimlag heimlik na binne. Dit is darem een tree vorentoe!
Inspekteur Rassie roep die konstabel wat net buite sy deur gewag het en gee hom opdrag om Ari’el na Kieselstraat te neem.
Hierdie keer gee Rassie Ari’el ’n stewige handdruk en druk ’n geskrewe dokument in sy hand. Ari’el frons.
“Net vir die wis en die onwis, dokter Ari’el,” sê Rassie voor Ari’el dit kan lees. “Dit is ’n getekende verklaring van my as polisiebeampte om die skade aan jou gehuurde motor te verduidelik – vir hulle versekering. Gedink jy sal dit nodig hê,” en hy knipoog voordat hy omdraai en vir hom nog koffie inskink.
Ari’el is verras met die inspekteur se versiendheid en in sy binneste voel hy dat Sarah se saak in goeie hande is. Vir eers gaan hy ’n paar uur rus, sodat hy skerp kan fokus op hierdie saak.
Hoofstuk 7
❧
18 Junie 2011
Sy is naar, naar!
Die reuk van petrol en suur sweet hang om Sarah en haar gewrigte pyn. Sy maak haar oë oop. Stadig word sy bewus van wat om haar aangaan. Haar kop pyn ook waar die hou haar getref het. Iewers dreun iets. Dis donker om haar en die lap is genadiglik nie meer in haar mond nie. Sy roer effe, maar sukkel om te beweeg.
Ounooi!
Sy beur onmiddellik om regop te kom en stamp haar kop hard teen iets. Haar bene en arms kan nie reguit nie. Haar hande is steeds agter haar rug vas. Daar is ’n stink sak oor haar kop getrek, onthou sy. Sy lê skeef-skeef terug en luister. Dis die dreuning van ’n voertuig. Sy is in ’n motor se kattebak …
Sarah dwing haarself om haar ledemate te ontspan.
Waarheen sou hulle haar neem? En waarom? Hoe laat is dit? Wat sou van Ounooi geword het; leef sy ooit nog? maal dit deur haar kop. Sy kreun onwillekeurig. Haar dierbare getroue honne. Sy byt op haar lip. Haar mond is droog en proe sleg, seker van daai aaklige lap wat hulle in haar mond gedruk het daar op die strand. Sy gril.
“Julle sal my nie onderkry nie,” sê sy hardop vir haarself. “Ek was nog altyd ’n planmaker. Wie en wat met my wil sukkel en my hond seer- of doodgemaak het, sal met Sarah Jacobs te doen kry.” Sy konsentreer om van die naarheid te probeer ontslae raak. “Mind over matter,” het sy eendag ’n motiveringspreker hoor sê.
Sarah dink aan haar pa wat al so lankal hemel toe is. Saartjie, het hy haar genoem. Saartjie my dapper lam, was sy tergnaam vir haar. Op hul plaas in die Vrystaatse hoogland was daar min wat sy nie probeer het nie. Of dit nou bloots perdry was, eenbeen staan op die wiegende sleepwa agter die trekker, kleilat speel saam met die buurseuns of in die wilgerbome rondklouter by die dam saam met haar ouboet. Niks kon haar stuit nie.
So pasop, wie julle ook al is, dink sy met nuwe moed en tog ’n bietjie wrewel in haar hart.
Positiewe denke, Saartjie, dink aan goeie dinge, vermaan sy haarself.
Sy forseer haarself om haar gedagtes te laat gaan na luilekker Vrystaat-dae. Sy beleef in haar gedagtes weer die laataandse stoepetes met varsgebakte brood en druiwekonfyt. Lekker dae. Die bootjies wat sy en haar maat op die leivoor laat dryf het, die wilgertakkrone wat hulle vir mekaar gevleg het. Terwyl sy so aan haar mooi kleintyd dink, dommel sy soms in. Haar ou voetbesering pyn van die skeeflê en sy skuif so nou en dan net heen en weer om gemakliker te probeer lê.
Die lekker plaasherinneringe help ook om die tyd om te kry. Soms dommel sy in ’n onrustige slaap. Dan is sy weer wakker en byt op haar tande om nie van benoudheid aan die skree te gaan nie. Verbaas hoor sy hoe die motor se rewolusies skielik drasties afneem. Dit voel nou of hulle op ’n hobbelrige grondpad ry. Die motor skud en ritteltit oor die sinkplaatpad. Sy begin dadelik tel om min of meer vas te stel hoe ver hulle op die grondpad ry. Teen die tyd dat sy 1800 getel het, kom die motor met ’n ruk tot stilstand. Dalk ’n halfuur van die teerpad af, dink sy. Die motordeure klap en sy hoor stemme. Sarah staal haar vir wat kom.
Die stemme buite word luider en sterf dan weg. Wat sou die ergste wees, om hier in die kattebak vergeet te word of om die boewe van aangesig tot aangesig te moet aandurf? wonder sy. Die taal wat buite gepraat word, het vir haar net soos een van die Arabiese dialekte geklink wat sy in die ses maande in Saoedi-Arabië gehoor het. Is dit moontlik? Hier in Suid-Afrika?
Het haar ontvoering iets met verlede jaar se insident te doen of raak sy nou paranoïes? Hierdie keer is daar nie ’n Rooikruis-taakmag en ’n dokter Ari’el wat haar kan kom red nie. Sy is op haarself aangewese.
Toe hoor sy weer die mense praat en met ’n harde pluk word die kattebak oopgemaak. Sarah knipper haar oë teen die skielike skerp lig terwyl sy ru deur ’n sterk bruin arm uit die beknopte ruimte gepluk word. Sy stut haar met haar elmboog teen die motor om haar balans te hou.
“Waar is ons?” vra sy met ’n droë mond.
Voor sy ’n bietjie water kan vra, kom die skerp reaksie: “Djy hou djou bek, vroumens, of ons druk wee daai lap in djou mond!”
Die Afrikaans verras haar en sy knik hewig om seker te maak dat sy haar nie die twee donker mans se wrewel op die hals haal nie. Die langer een van die twee gryp haar elmboog en pomp haar met ’n kortloophandwapen in die ribbes. Met ’n “Go! Walk!” word sy aangepor om aan te stap in die voetpad waarlangs hul stilgehou het.
Sy loer tersluiks terug na die motor. Dis ’n ouerige donkergroen Duitse fabrikaat, Vrystaatse nommerplaat. Sy maak doelbewus ’n nota in haar kop. Seker gesteel, maar sy memoriseer tog die nommerplaat. Die veldgras is ruig weerskante van die voetpad en dit wil-wil vir Sarah ruik na see. Hier en daar is kort struikgewas te sien.
Die voetpad word al hoe nouer en dit het onlangs verspoel. Die omgewing is nou meer sand as gras en loop skuins ondertoe. Hier en daar is groot klippe langs die paadjie. Sarah is dankbaar dat sy steeds haar stapskoene aanhet. Haar linkervoet klop dof van die posisie waarin sy die hele rit lank in die beknopte ruimte moes lê.
Toe hoor sy werklik die see. Die Port Jackson-bosse groei welig rondom hulle en terwyl hulle verder stap in die weggespoelde voetpad, kom die see in sig. Dankie tog, sug sy geluidloos, een genade in al die ellende. As ek net die see kan hoor, dan het ek sommer meer moed.
Sarah asem die seelug diep in ná die suur bedompigheid van die kattebak. Hulle stap ’n hele ent en kom uiteindelik tot stilstand by ’n ou verweerde kliphuis met verweerde groen houtvensterrame en ’n bruin voordeur. ’n Geroeste sifdeur hang skeef aan een skarnier. Sy aarsel, want sy hoor iewers ver motors dreun en wonder of dit die hoofpad is, of hulle dalk naby ’n dorp is. Die handwapen se koue metaal druk weer teen haar ribbes. Sy deins dadelik weg en strompel in die rigting van die voordeur waarheen die rampokker haar aanpor.
“Maak die deur oop,” beveel die een man die ander.
Dié tree vorentoe en draai aan die ou geroeste handvatsel. Dit is stram, maar tog gaan die deur oop. ’n Vrot reuk van binne slaan byna haar asem weg, maar sy word hardhandig vorentoe gedruk, tot binne-in die vertrek. Daar is geen meubels in nie en ’n hoop strooi lê teen die een klipmuur. Sy word ru tot by die strooi gestamp en beveel om op die strooi te gaan sit. Oor die vensters is ou vuil planke vasgeslaan en aan die een kant langs ’n deur wat na ’n ander vertrek lei, lê ’n hoop ou vuil lappe. Sy neem aan dit is wat so stink. Die strooi ruik darem vars en skoon. Dankie tog.
Die taai kleefband word weer ingespan om haar enkels aanmekaar te bind. Hierdie keer word haar mond ook toegeplak voordat sy ’n slukkie water kan vra. Haar tong kleef aan haar verhemelte. Sy is verbaas dat hulle haar nie geblinddoek het of weer die stink sak oor haar kop getrek het nie. Hulle wil tog seker nie hê sy