Oase. Stefani Serfontein
het die hewige geweervuur reeds beantwoord teen die tyd wat ons op die toneel verskyn het. Later het ek besef hoe dankbaar Sarah kon wees dat die voorste Jeep nie die swaarder wapentuig gebruik het nie. Ek het slegs die agterligte van ’n vreemde veldvoertuig wat haastig op die vlug geslaan het, gesien. Voor ons in die pad was die wrak van ’n kleinerige blou siviele voertuig. Later het ons verneem dat dit die motor is wat Sarah vroeër daardie week in Jerusalem gehuur het.
“Die oomblik wat ons langs die verminkte karretjie tot stilstand gekom het, het ek uit die ambulans gespring, want halfpad onder die motortjie het ’n liggaam gelê. Die soldate kon binne minute die wrak skuins lig sodat ek en ’n ander medic Sarah se slap liggaam kon uithaal en vasstel wat haar toestand is. Ons kon noodbehandeling op haar toepas. Sy het ’n geweldige hou teen haar kop weg, en het aan erge harsingskudding gely. Haar voet was lelik gebreek. Die oomblik wat ons haar gestabiliseer het, het ons haar in die ambulans gelaai en daar kon ek die res van die diagnose en behandeling doen. Ons het nie vertoef nie en inderhaas die res van ons tog aangepak, ook omdat Sarah se toestand bedenklik was. Haar handsak en bagasie kon ons uit die wrak red voordat ons vertrek het en ons was ook nie ’n paar honderd meter weg nie, toe ontplof die blou wrak. Ek het al baie gewonder of die wrak dalk deur die terroriste met ’n fopmyn gelaai was en of dit maar die tingerige motortjie se eie brandstof was wat die ontploffing veroorsaak het.
“Sarah het behandeling dringend nodig gehad en ons wou ten alle koste verhoed dat ons konvooi verbind word met die aanval en ontploffing op daardie kronkelpad in die Negev-woestyn. Ek vermoed steeds die terroriste het ons van iewers af dopgehou en dit was veiliger vir ons almal om so gou moontlik uit daardie area weg te kom. Terug in ons tentekamp in die Saoedi-Arabiese woestyn het ons vanselfsprekend ’n skrobbering van ons senior offisiere gekry. Eers later, toe ons sien dat Sarah ’n Suid-Afrikaanse burger is, het ons besef dat ons hier met ’n internasionale tameletjie te doen gaan hê. Ons moes vinnig ons kamp verskuif en intussen het ek die onbenydenswaardige taak gehad om Sarah te probeer gesond kry, nie net aan die lewe hou nie.”
“Nou waarom het julle haar nie by een van die Israeliese hospitale afgelaai nie?” val inspekteur Rassie hom in die rede.
“Dit was ’n oordeelsfout, Inspekteur. Daar was nie omdraaikans nie. Ons onmiddellike bevelvoerders het besluit om haar na die kamp van ’n sjeik wat ons goedgesind is te skuif. Daar het ons haar met sy goedkeuring gehou totdat sy gesond genoeg was om te vervoer na ’n lughawe en die lang vlug na Suid-Afrika kon onderneem.
“Ons het wel onmiddellik my kontakte in Jerusalem gebruik om, via die Rooikruis en te midde van groot geheimhouding, haar naasbestaandes te laat weet dat sy leef en aansterk in ’n ‘onbekende maar veilige plek’. Dit is waarom die pers nooit daarvan berig het nie. Ons kon die anonimiteit van ons weldoener, die sjeik, nie in gevaar stel nie en daar was vir maande ’n internasionale intelligensieondersoek om vas te stel of Sarah se lewe in gevaar was en of sy tydens haar ongeluk net die verkeerde persoon op die verkeerde plek in die pad van die terroriste was. Ons wou weet of dit ’n onafhanklike insident was.
“Sarah het ernstige inwendige beserings gehad asook die kopwond, twee ribfrakture, ’n geperforeerde long deur een van die ribbes, inwendige bloeding as gevolg van die blou karretjie se wrak wat bo-op haar beland het en ’n voet en enkel met vier frakture. Sy het ná drie weke waarin ek haar soos ’n babatjie moes versorg eers haar bewussyn herwin. Ons kon haar naasbestaandes laat weet sy is buite gevaar, maar die herstelproses kon toe eers begin. Sarah se lus om te lewe en haar innerlike krag en entoesiasme het bygedra tot haar herstel. Ons kon haar ná ses maande via die Rooisee insmokkel tot in Egipte, waar die Suid-Afrikaanse ambassade haar op die lughawe uit my sorg geneem het en sy veilig kon terugreis na Suid-Afrika.
“Ek het daarna bedank uit die onafhanklike, vrywillige Rooikruisgroep en het uitsluitlik saam met die Koalisie vir Vrede in Jemen begin werk. Hulle het my einde verlede jaar tot leier van die organisasie verkies. Ons is ’n uitgebreide en gespesialiseerde groep met lede uit vele lande. Ons kry intense opleiding om teen terroriste op te tree.
“Tot verlede week het ons gedink dat daardie insident van die aanval op die blou karretjie in die Negev-woestyn in Israel ’n onafhanklike en toevallige ongeluk was, maar vandag dink ek nie meer so nie. Ek weet nog nie hoe die vurk in die hef steek nie, maar ek weet met Sarah se verdwyning is daar ’n miernes oopgekrap. Ons sal sake moet uitpluis en ons sal dit gou moet doen.
“’n Paar dae gelede het ons daardie aangehegte e-posboodskap ontvang.” Ari’el wys na die berig wat nou op die aansteekbord pryk. “Ons Koalisie se intelligensiediens was nog besig met die ondersoek om die oorsprong van die e-pos op te spoor toe ek na Suid-Afrika vertrek het.
“Hulle het my eenparig en onmiddellik afgevaardig om na Suid-Afrika te reis, Sarah te kom waarsku en, as dit nodig is, op te pas. Ons het selfs gedink om haar na ’n plek van veiligheid te neem, indien nodig.
“My vlug is ure op die OR Tambo-lughawe vertraag en selfs dit voel nou vir my te toevallig. Die vaalblou karretjie en die groen Duitse motor wat my probeer afskrik het.” Ari’el maak ’n gebaar om aanhalingstekens aan te dui. “Hulle het vir my op die lughawe hier in Kaapstad gewag. Dit is ook nou baie duidelik deel van die netwerk wat agter die hele spul sit, Inspekteur.” Ari’el vryf oor sy voorkop.
“My groot bekommernis is dat iemand ons Koalisie binnegedring het en dus weet van elke beweging wat ek maak.” Ari’el skep skaars asem. “Inspekteur, julle het nog geen spoor van Sarah nie? Sy was tog op die strand. Dink u sy is ontvoer? Het die ontvoerders nog glad nie kontak gemaak nie? Dit is so frustrerend!”
“Stadig, Dokter. Jy het gesê twee vrae, nie ’n sarsie nie.
“Om jou laaste vraag te beantwoord: tot op hierdie oomblik niks, niks en niks is my antwoord.
“As ons jou verslag en e-pos in ag neem, sal wie ook al Sarah opgelaai het, tog weldra kontak maak – hoop ons. Ons het gelukkig nêrens op die misdaadtoneel bloed van Sarah gekry nie, wat ’n redelik goeie teken is. My bekommernis is wel dat hulle haar dalk baie ver kan neem. Ons land is so uitgestrek. Elke minuut is nou van kardinale belang.
“Ek het al die lughawens laat waarsku, asook alle grensposte en die Kaapstadse en Simonstadse hawe. Ons het al ons stasies laat weet om op die uitkyk te wees vir enige verdagte optrede, maar ek dink te veel tyd het reeds verloop. Ons land het baie uitglipplekke langs ons grense en kuslyn.” Rassie frons. “Is jy bewus van die feit dat Sarah se broer ’n groot kokkedoor in die Suid-Afrikaanse weermag was?”
“Sy het verlede jaar so iets genoem, Inspekteur.” Rassie gaan egter voort asof hy Ari’el nie gehoor het nie. “Die ander moontlikheid is dat hulle kan besluit om iewers weg te kruip en laag te lê. Dit voel of ons in die donker rondtas. Die leidrade is weinig. Ons moet maar net hoop dat hulle haar ongedeerd sal laat.”
Rassie sug hard en wys na die Ari’el se kippah. “As jy gelowig is, is dit nou die tyd om te bid, jong man. En jou tweede vraag was …?”
Ari’el huiwer eers effens. “Ek het gewonder of dit heeltemal buite die kwessie sal wees om te vra of ek in Sarah se huis kan gaan bly, Inspekteur? Ek het nog nie plek in ’n hotel bespreek nie. Dalk kan ek deur daar te wees iets te wete kom, en … ek weet, ek weet!”
Ari’el hou sy hand op om te motiveer toe die inspekteur protes aanteken: “Ons weet wat ons doen as dit by misdaadtonele kom. Jy wat dokter Ari’el is, hoef ons nie te kom leer nie!”
“Hokaai, Inspekteur, ek wil nie sê julle het nie jul werk goed gedoen nie. Inteendeel, ek is beïndruk met julle deeglikheid. Maar, soos u miskien kan aflei, was ek en Sarah baie na aan mekaar. Soos u ook duidelik weet, is ek die enigste persoon hier rond wat haar goed genoeg ken en dalk iewers ’n leidraad kan opspoor omdat ek haar gewoontetjies ken. Haar ouers is jare gelede oorlede en sy het net die een broer. Hy woon in Pretoria, as ek dit reg het.
“Ek sal verstaan as u dit nie wil toelaat nie. Maar sou u, sal dit alles net soveel vergemaklik.” Inspekteur Rassie wil weer begin baklei, kan hy sien. “En, Inspekteur, ek, e … ek sal nader aan haar voel.” Ari’el voel sy gelaat effens warm word.
“Jy weet, Dokter, dit kan ’n slim plan wees. As die ontvoerders