Liefde is ’n sprokie. Fynbosskrywers
kry vir al jou fieterjasies en rondflentery? Nee, my liewe Claratjie, gaan trek aan en kom dat ek jou kan gaan aflaai.” Bella-Marié se woord is wet wanneer haar pa nie by die huis is nie.
Renaldo se motorfiets staan gelukkig nie in die Nels se oprit nie, en in die huis is dit ’n harwar van ses kinders wat almal gelyk wil praat en hulle ouers wat nie gou genoeg kan wegkom nie. Toe die garagedeur uiteindelik toeklik, sug sy verlig – totdat sy Renaldo se motorfiets in die oprit hoor.
Daar’s nie wegkruipplek of uitkomkans nie.
“Hi, Renaldo,” groet sy toe hy haar in die speelkamer raakloop, maar niks sê nie. Haar stem klink vir haar erger as ’n padda met ’n asma-aanval.
“Het jy van jou rose gehou?” vra klein Marcos. Toe moet hy koes vir Renaldo se hand wat sy mond probeer toedruk.
“Watse rose?” wil Clara weet.
“Marcos, ek het jou gesê jy moet jou groot mond hou!” snou Renaldo na sy boetie se kant toe.
“Aikôna! Dis nie wat jy gesê het nie! Jy’t gesê Clara is ondankbaar, want sy sê nie eens dankie vir die rose nie,” praat Marcos agter Renaldo se hand uit.
“Watse rose?” vra Clara weer.
“Die rose wat Renaldo vir jou gestuur het. Ál die rooi rose wat daar in die winkel was. My ma het amper horries gehad oor hy alles gevat het. En Renaldo het gesê jy’s net so ’n snob soos jou ma,” laat Marcos hom nie van stryk bring nie.
Fransie en Tobie staan oopmond en luister na die gesprek en selfs die jonger tweelinge is vir ’n verandering doodstil.
Clara se humeur begin spoed kry. Sy’s lus en steek vir hulle almal tong uit, maar dis eintlik Renaldo se aantygings wat haar die kwaadste maak.
“Ons drywer het dit Maandag by julle huis gaan aflewer. Moenie maak asof jy nie weet nie. Hy’t my gewys iemand het daarvoor geteken,” vryf Renaldo verder sout in haar wonde. “As jy Saterdagaand al vir my gesê het jy stel nie in my belang nie, dan sou ek nie al die moeite gedoen het nie.”
Waar is Fransie en Tobie en Marcos? kla haar gewete haar aan toe sy hulle nie gewaar nie, maar dis of sy nie verby Renaldo se aantygings kan dink of reageer nie.
“Hoe durf jy sê ek is ondankbaar?” slaan haar woede skielik in woorde uit.
Hulle staan mekaar vir ’n ruk en aangluur.
“Clara! Renaldo! Kom gou!” skril Marcos se benoude stem deur die oop deur wat na die swembad toe lei.
Voor sy kan keer, is Renaldo buite en hardloop hy na Marcos wat by die swembadhuisie staan.
“Tobie!” gil Marcos en wys na binne.
Sy gee net ’n paar treë tot by hom en druk by die deur in, met Renaldo kort op haar hakke.
Dwar! klap die huisie se deur agter hulle toe. Die sleutel draai in die slot – aan die buitekant. Binne is daar geen teken van Tobie nie.
Haar oë blits na Renaldo. Renaldo kyk met skrefiesoë na haar.
“Wat dink jy doen jy?” vra sy deur stywe lippe.
“Wat bedoel jy met ‘wat doen JY’? Ek moet dit vir jou vra, ondankbare snob!” antwoord hy.
“Ek het NIE rose gekry NIE! Dis óf jy wat jok, óf dis by die verkeerde huis afgelewer! En is dit jou idee van ’n grap om vir Marcos om te koop om my saam met jou toe te sluit?” Sy wil huil van woede, maar kners op haar tande. As sy nou in trane uitbars, gaan hy dink sy’s ’n drama queen.
En as hy net iets wil sê! Maar hy staan net daar en vryf oor sy krulle. Dit lyk of hy iets probeer uitwerk in sy kop. Hy dink seker hoe hy vir haar kan sê dat alle snobs ondankbaar is!
“Ek het vir die drywer gesê hy moet dit Maandagmiddag gaan aflewer, en hy’t my verseker hy het dit gedoen,” mompel Renaldo, “maar dalk het hy al die oggend gegaan.”
“Praat harder! Ek kan nie hoor wat jy sê nie,” kook haar wrewel oor.
“As jy nie die rose gekry het nie … Dink jy jou stiefma … ?” Hy kyk haar vol in die oë. Sy vraag bly hang in die lug.
Totdat die antwoord hulle al twee soos ’n spreilig tref.
“Dis my stiefma!” kners Clara deur haar tande.
“Dis my stupidgeit,” kners Renaldo deur sy tande.
“Ek is verskriklik jammer, Renaldo, maar …”
Sy kry nie haar sin klaar nie.
“Sjuut,” sê hy en trek haar nader.
Lemoenkougom het nog nooit so lekker geruik nie.
DRIE
Bleeksiel en die skoolhunk
Lila staan doodstil agter die klaskamerdeur. Sy wou gou haar huiswerk tydens pouse klaarmaak, toe sy die raserige stemme van meisies hoor naderkom.
Sonder om twee keer te dink, het sy die simpel ding gedoen om agter die deur in te spring; weg te kruip omdat sy nie die moed het om geselsies te maak met hulle nie. Net om wraggies te hoor hoe hulle van haar skinder:
“Ou Lila het natuurlik al weer al haar huiswerk klaargemaak, sodat sy en daardie wacky vrou met die weird hare en lang rok ná skool in die veld kan gaan rondloop.” Dis Rooikop Rissiepit se stem.
Lila weet sommer hulle staan nou na haar huiswerkboek en kyk.
“Twee regte voëlverskrikkers, sy en daardie ou vrou. My ma sê sy dink die ou vrou is ’n heks – pluk plante in die veld en brou konkoksies wat sy aan die Greenies verkoop. Kamtig kruiemedisyne, maar ’n mens wonder of sy nie ook akkedisse en muise in haar brousels gooi nie.”
“Jiggie!” gril die meisies.
“Ou Lila lyk ook al nes die ou vrou,” lag ’n ander meisie. “Kyk haar snaakse klere en skoene.”
“’n Regte Pippie Langkous!”
Die meisies giggel.
Lila kners op haar tande. Die ryk mense se huise sit hoog teen die berg – verbeel hulle hulle moet ’n arendsoog oor die onderdorpers se wel en weë hou.
“Ek wonder darem,” vra een, “hoekom bly sy by die snaakse ou vrou?”
“Ek hoor haar ouers is dood toe sy nog klein was.”
“Dalk het die ou vrou haar iewers gesteel,” antwoord ’n ander.
Lila se asem ruk. Sy wens sy het die moed om agter die deur uit te spring en vir hulle te vertel wat sy van hulle gemene woorde dink. Maar dan hoor sy weer ’n stem.
“My ma sê Lila is ’n begaafde kind. Sy is slim en kunstig. Haar tante weef blykbaar ook die mooiste materiale …”
Lila trek haar asem diep in – sy sal nie huil nie. Ja, haar tante is baie eksentriek, maar sy is die beste weefster in die omtrek; sy is ook slim en kunstig en die vroue van die bo-dorp staan tou om haar materiale te koop. En haar en haar tante se lewens traak niemand nie, besluit Lila opstandig, hulle is gelukkig met hulle lewe soos dit is.
“Ag man,” dis weer Rooikop Rissiepit se stem, “ou Lila is ’n regte bleeksiel; al die onderwysers se witbroodjie omdat sy slim is en … en sy het nie eens ’n selfoon nie.”
Lila hoor hoe die meisies hulle asems intrek.
“Nie ’n selfoon nie! O nee, dis verskriklik!”
Hulle giggel weer en wys vir mekaar hulle selfies. Lila staan nog en wonder hoe sy agter die deur gaan uitkom sonder dat hulle haar sien, toe ’n meisie gil:
“Oe, daar loop die kaptein van die eerste rugbyspan!”
“Oe, dith die Adonith van my lewe!” lispel ’n meisie met draadjies in haar tande.
“Oe, die hunk!”