Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
daarop sien. Sy kan nie eens bepaal wat alles op die bord is nie, en sy laat dit net daar. Só honger is sy darem nou ook nie.
Sy gaan ingedagte by die venster staan en kyk uit na die smal agterplasie van die gebou. Daar is dit nog vuiler as binne. Sy sien rondloperkatte tussen die vullis snuffel op soek na iets om te eet. Sy dink aan Don Diego. Hy sal haar nooit vind nie, al probeer hy hoe hard. Niemand sal haar hier kry nie. Sy laat haar voorkop teen die planke rus en veg teen die trane van moedeloosheid. Sy weet nie meer of sy aan die wen- of verloorkant is nie. Sy weet nie eens vir seker of sy haar pa nou wil sien nie … nie in hierdie omstandighede nie. Sy weet nie wat die rampokkers in die mou voer nie.
’n Beweging agter haar laat haar vinnig omkyk, en sy deins effens terug. Twee groot rotte sit op die laaikassie by die bord kos. Hulle steur hulle nie aan die kers nie, maar knibbel smaaklik voort aan die pappery.
“Sjoe!” probeer sy hulle verjaag, maar hulle versit net hul vet agterstewes sodat hulle haar in die oog kan hou. “Sjoe! Sjoe!” Dit help nie. Hulle bly haar aanstaar met hul ronde kraalogies waarin die kerslig flikker.
Véronique ril weer en klouter op die bed. Hulle beweeg na die ander kant van die bord en knibbel rustig voort. ’n Derde sluit by hulle aan, staar ’n oomblik lank na haar en begin dan ook vreet.
Sy sluk hard.
“Loop!” skreeu sy op hulle, maar hulle roer nie. “Loop!” Die derde rot beweeg onseker na die rand van die laaikassie, maar keer dan terug toe hy sien dat niks gebeur nie.
Véronique leun versigtig oor en neem die blaker. Met die kers in haar hand voel sy beter, maar sy bly na die rotte kyk. ’n Krieweling op die bed laat haar haar bene vinnig onder haar inruk. Twee rotte het op die matras geklouter en staar nuuskierig na haar.
Sy klim van die bed af en hardloop na die deur. Met haar vuisies hamer sy teen die hout.
“Laat my uitkom! Laat my uitkom!”
Die deur gaan skielik oop en Louis kyk na haar.
“Wat is dit nou? Hoekom skreeu jy so?” Hy lyk ontevrede.
“Die … rotte … hulle is oral!” stamel sy en begin huil.
“Hulle sal jou niks maak nie, vroumens!” Hy kyk by haar verby, die kamer in. “As hulle jou kos gevreet het, sal hulle jou seker met rus laat.”
“Hulle sit op die bed … en op die kas … en oral op die vloer!” Sy huil onbeheers.
“Onnosel vroumens,” brom Louis en maak die deur weer toe.
Véronique vee die trane uit haar oë en gaan met haar rug teen die deur staan. Die kers brand nog op die bed en sy kan vier rotte op die smerige beddegoed sien rondklouter. Sy byt op haar tande. Ek moet myself onder beheer kry, dink sy benoud. Ek sal moet vasbyt en op ’n uitkoms uit hierdie gemors wag. Iewers sal die kans kom en dan moet ek gereed wees.
Dit voel soos ure later toe die deur eindelik weer oopgaan en Louis inkom.
“Ons gaan nou ry en jy kom saam, liefie.” Hy grinnik. “Ek kom jou, met ander woorde, van die rotte verlos.”
Sy haal bewerig asem.
“Dankie dáárvoor. Waarheen gaan julle my neem?”
“Jy sal dit weldra uitvind. Kom nou. Ons is haastig.”
Dit kos nie veel oorreding om haar die kamer met die rotte te laat verlaat nie. Sy volg vinnig op Louis se hakke. Die lang man en die ander een is nêrens te sien nie.
Toe hulle buite kom, staan ’n perdekar voor die deur ingespan. Die lang man hou die leisels en Jules sit langs hom.
Louis help Véronique in die rytuig, en klim dan self agterna. Die ander twee praat nie en toe almal op is, vertrek hulle. Louis hang ’n swart mantel om Véronique se skouers en bind haar oë toe.
“Net sodat jy nie later weer die pad kan vind nie, liefie.”
Sy byt op haar tande. Hoe sal sy nou weet wanneer om te ontsnap? Haar hande is nou wel nie vasgemaak nie, maar sy is seker daarvan dat Louis haar deurentyd dophou … miskien selfs met ’n dolk in die hand. Sy ril.
“Kry jy koud?” wil hy weet.
Sy skud haar kop.
“Ek haat dit net om geblinddoek te wees.”
Hy lag sag.
“Dis nie vir lank nie, liefie, dan is alles verby. Jy sal sien, jy het niks om jou oor te bekommer nie.”
“Hoe kan ek seker wees?” wil sy weet. “Eers dwing ’n vuil ou man my met ’n mes om te gaan waar hý wil hê ek moet gaan, en dan sluit julle my in ’n kamer vol rotte op met stink kos en ’n kers. Dan sê jy nog ek het niks om my oor te bekommer nie!”
“Tse! tse!” klik hy met sy tong. “Ek weet ek is nie ’n goeie kok nie, maar niemand het nog gesê ek kook stink kos nie!”
“Bly stil!” roep die lang man ergerlik oor sy skouer. “Dis nie nou die tyd om te klets nie!”
Hulle ry ’n lang ruk in stilte voort. Af en toe gaan hulle oor ’n bruggie of om ’n skerp draai, maar na ’n ruk gee Véronique op. Sy sal nooit weer die pad hierheen kan vind nie.
’n Uur later hou hulle stil en word sy van die rytuig afgehelp. Louis haal die swart doek van haar oë af en sy knipper haar oë. Dan kyk sy om haar rond.
Hulle is by ’n bouvallige huis en die lig kom van twee lanterns wat voor die huis hang. Om hulle is bosse en sy kan niks verder van die omgewing uitmaak nie.
“Kom,” sê Louis en hy en Véronique volg die lang man en Jules die huisie in. Louis neem die twee lanterns met hom saam.
“Die baas sal eers môreoggend hier kan wees,” sê Jules en gaan by die tafel sit waarop ’n stowwerige bottel wyn staan. Hy haal die prop af, ruik daaraan en trek ’n suur gesig. Hy drink die inhoud met ’n ophaal van sy skouers. “’n Mens kan seker nie kieskeurig wees nie,” sê hy toe hy die bottel eindelik van sy mond af wegvat.
“Vat die meisie na die agterste kamer,” sê die lang man kortaf aan Louis.
Louis grinnik vir Véronique.
“Hier is geen rotte nie, ek belowe jou. Net miskien spinnekoppe en slange, maar ek glo nie hulle sal jou hinder nie. Jy is mos die dogter van die graaf van Sévigné!”
Véronique volg hom swygend met ’n koue rilling. Watse afskuwelike dinge gaan hierdie mense nie nóg met haar aanvang nie?
Die kamertjie is hierdie keer effens groter en daar is geen planke voor die venster gespyker nie. Hy grinnik toe hy sien waarna sy kyk.
“Dit sal nie help nie, liefie. As jy probeer weghardloop, sal óf ons óf die wilde diere óf die slange jou kry. Jy sal nie baie ver kom nie en dit sal ’n jammerte wees as jy deur ’n leeu verskeur word.”
Sy draai vinnig na hom.
“Loop hier uit, jou monster!”
Hy lag opgewek en maak die deur agter hom toe. Sy hoor hoe hy die grendel terugskuif.
Sy draai om en gaan by die venster staan en kyk na die bosse wat vlak by die hut begin. Iewers hoor sy ’n leeu brul en verder weg hoor sy die getjank van ’n jakkals. Met ’n rilling draai sy weg van die venster af. Sal sy vannag hier moet bly en wag op haar lot môre? Sy kan dit nie doen nie. Sy kan nie hier sit en wag vir hulle om met haar te maak wat hulle wil nie. Sy weet nie watse duiwelse planne hulle in die skild voer nie, sy weet net dat sy tot elke prys hier moet wegkom.
Véronique gaan weer by die venster staan. Sy durf nie die lantern wat Louis in die kamer gelaat het, met haar saamneem as sy probeer vlug nie. Sy het ook geen wapen om haar teen die aanvalle van enige wilde diere te verdedig nie. As sy probeer vlug, sal sy baie waag, maar sy sien ook nie daarvoor kans om bloot hier te sit en wag dat die nag verbygaan nie.
Sy gaan by die deur staan, maar sy hoor nie die mans praat nie.