Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan


Скачать книгу

      “Dankie! U kan nou maar gaan. Die gesprek is afgesluit!”

      Sy draai sonder ’n verdere woord om en verlaat die vertrek. Sy voel hewig ontsteld oor Etienne Lorraine se reaksie. Sy het nie verwag dat hy sou kwaad word as sy hom vra waar hy die oorkrabbetjies gekry het nie. Sy woede het haar verras.

      Haar kamertjie wat sy as kamerbediende bewoon het, is skielik vir haar effens van ’n troos. Dit hou nie juis vir haar aangename herinneringe in nie, maar dit is op die oomblik vir haar ’n toevlug.

      Met die enigste leidraad wat sy het, het sy haar nogtans in ’n muur vasgeloop. Sy wonder of sy ooit uit hierdie doodloopstraat gaan kom. Niemand wil iets met haar soeke na haar vader te doen hê nie … behalwe Don Diego, en ook hý steek nou vir haar dinge weg.

      Sy dink aan vroeër die dag toe sy hom by die laaste herberg raakgeloop het. Sy vermoed hy weet hoe sy voel, en hy wil haar laat verstaan dat dit ’n hopelose saak is. Sy voel die hartseer in haar opstoot. Hy wil niks met haar te doen hê nie; hy wil terugkeer na Spanje en na sy lewe op die see. Hy het haar nie lief nie en dit kan hom nie skeel of hy haar seermaak nie.

      Die trane brand agter haar ooglede. Sy het nog nooit ’n man liefgehad soos wat sy hóm liefhet nie. Sy sal alles vir hom opoffer, en hy stel nie belang nie.

      Later, nadat sy geëet het, klim sy in die bed. Môre sal sy terugkeer na die Kasteel en sal sy op ’n ander manier probeer om haar vader te vind. Sonder hom is sy verlore in die Kaap en kan sy maar net sowel terugkeer na België. Hier is vir haar niks meer nie. As haar vader gesterf het, sal sy ook nooit die juwele en geld opspoor nie.

      Sy lê lank na die plafon en staar. Dit was ’n vermoeiende dag, maar sy is nie vaak nie. Sy lê afgetrokke en dink aan alles wat gebeur het. Sy verlang na haar vader en na Frankryk, na hul huis in Sévigné en na haar twee honde. Sy wens dat sy weer soos voorheen met haar vriende in ’n oop kapkar kan gaan ry en gaan piekniek hou in die veld. Dit was mooi, heerlike, sorgelose dae vóór die herroeping van die Edik van Nantes.

      Haar oë is nat van die trane. Niks van al daardie dinge bestaan meer nie. Sy kan skaars onthou hoe Nicolette, haar beste vriendin, lyk. Sy weet nie eens meer vir seker of daar paddas by die fontein was en of Gilles, die tuinier, vier of vyf kinders het nie. Alles is besig om te vervaag en dit maak haar hartseer. Sy wou Frankryk nooit vergeet nie.

      Sy maak haar oë toe en draai op haar sy sodat sy haar gesig in die kussing kan verberg. Niks kan die oorweldigende verlange na haar vaderland stil nie. Die gemis aan haar vader word sterker en sy voel alleen en verlore in dié groot, wye land. Dis nie háár land en haar mense nie … net Don Diego en haar pa hou haar met dun draadjies aan die wilde Kaap vas. En as hulle ook eindelik weg is, wat bly daar dan oor?

      Eindelik raak sy aan die slaap. Sy sien nie hoe die donker figuur sag die kamer binnekom en langs haar bed huiwer nie.

      Dis asof ’n sesde sintuig haar waarsku dat alles nie pluis is nie. Sy skrik met ’n skok wakker en lê ’n oomblik lank roerloos voordat sy versigtig omdraai. Dan ruk haar hart in haar keel toe sy die gemaskerde man langs haar bed gewaar.

      8

      Véronique sit vinnig orent en maak haar mond oop om te gil.

      Die gemaskerde gestalte buk vinnig vooroor en druk haar mond stewig toe.

      “Moenie skree nie, senorita,” fluister Don Diego hier naby haar. Sy ontspan en hy neem sy hand weg.

      “Wat … wat maak jy hier?” vra sy en trek die komberse tot by haar keel op.

      “Jy moet hier wegkom – nou dádelik!”

      Sy skud haar kop onbegrypend.

      “Ek verstaan nie.”

      “Daar is nie nou tyd om te verduidelik nie. Toe, staan op en trek aan!” Hy fluister, maar sy stem is nog gebiedend.

      Sy aarsel.

      “Ek kan nie. Gaan eers uit.”

      “Ek sal my rug op jou draai. Toe, maak net gou!”

      Hy staan terug en gaan dan eenkant met sy rug na haar staan.

      Véronique gehoorsaam hom sonder om verdere vrae te vra. Sy verklee haastig.

      “Ek is gereed, monsieur.”

      Hy help haar om haar mantel om haar skouers te hang.

      “Ons moet deur die venster wegkom. Ek het reeds baie gewaag om by die deur in te kom.”

      Sy knik.

      “Ek weet nie waaroor alles gaan nie, maar ek hoop dat jy later sal verduidelik.”

      Hy trek haar aan haar arm na die venster, kyk buitetoe en glip dan oor die vensterbank tot op die balkon. Hy help haar agterna. In stilte hardloop hulle na die verste punt van die balkon wat bo-oor die dak van die waenhuis is. Hulle praat nie; sy volg hom gedwee sonder om te weet waaroor alles gaan.

      Die sprong na die waenhuisdak is gewaag, maar hy land ligvoets daarop en beduie dan vir haar om hom te volg.

      Sy aarsel en meet die afstand na die dak onder haar. Dit stel haar gerus dat hy daar onder is om haar val te keer. Dan haal sy diep asem en spring.

      Hy vang haar voordat haar knieë onder haar kan swik. ’n Oomblik lank hou hy haar vas sodat sy haar ewewig kan terugkry, en haar hart klop wild in haar keel. Dan laat hy haar skielik los, neem haar hand en lei haar oor die dak na die agterkant waar hulle sonder veel moeite, met behulp van opeengestapelde kiste, van die dak afklim.

      Toe hulle eindelik op die grond staan, luister hy ’n oomblik aandagtig of hy nie verdagte geluide hoor nie en dan lei hy haar die bosse in, teen die berg uit.

      Eers toe hulle ’n hele ent van die huis af is, vra sy: “Waarheen gaan ons?”

      “Daar is ’n hut hoër op in die berg. Ek het vars perde daar gelaat. As ons gerus het, kan ons die tog na die Kaap aanpak.”

      Hulle het nie baie ver gevorder nie, toe uitroepe van die herehuis se kant af hulle bereik. Hulle gaan staan ’n oomblik en kyk terug.

      Werkers skarrel op die werf rond, honde blaf en tussenin kan hulle Etienne Lorraine se bulderende stem hoor.

      “Sy mag nie wegkom nie! Julle bring haar terug … dood of lewend!”

      Véronique kyk onbegrypend na Don Diego.

      “Wat nou?”

      “Hulle het ontdek dat jy nie meer in jou kamer is nie. Kom, ons tyd is min. As hulle die honde op ons spoor sit, sal dit moeilik gaan om voor te bly.”

      Sy volg hom nou sonder aarseling omdat sy nie begryp waarom monsieur Lorraine so angstig is om haar terug te kry nie. Miskien sal Don Diego ’n verklaring daarvoor hê.

      Hulle hardloop so vinnig as wat die digte plantegroei dit toelaat teen die berg op. Agter hulle het monsieur Lorraine reeds die honde losgelaat en hoor hulle die diere tjankend van opgewondenheid die spoor vat.

      Véronique struikel telkens en Don Diego moet haar die laaste ent na die hut help. Die honde haal hulle stadig maar seker in. Daar is nog skaars honderd tree tussen hulle en hul agtervolgers. Dan doem die donker silhoeët van die hut skielik voor hulle op.

      Don Diego laat Véronique ’n oomblik alleen en kom sekondes later met twee perde te voorskyn. Sy bewegings is blitsvinnig.

      “Kom, laat ek jou ophelp!” gebied hy.

      “Ek sal self regkom, dankie,” sê sy, maar hy help haar tog vinnig in die saal. Dan spring hy rats op sy perd.

      “Volg my net, ek ken die pad.”

      Hy gee sy perd spore.

      Hulle ry op ’n wilde galop teen die berghelling af. Agter hulle hoor Véronique die opgewonde uitroepe van hul agtervolgers toe die geluid van perdepote deur die nag dring. Sy lê laag oor die saal sodat ’n onsigbare tak haar nie van die perd se rug sal afstamp nie. Haar vrees vir die


Скачать книгу