Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan


Скачать книгу
der Stel sug ergerlik.

      “As ek geweet het die man het sulke planne, het ek ’n kordon om die Kasteel laat plaas! Genugtig, hoe kan ’n mens met ’n meswond in jou maag so iets doen? Hy is van sy sinne beroof!”

      Véronique weet nie wat om te antwoord nie. Sy kon Don Diego nie keer nie, al wou sy. Sy kon die wag gewaarsku het, maar nou is dit te laat om daaraan te dink.

      Van der Stel kom staan voor haar.

      “Julle Franse kan ’n mens sowaar ’n klomp ergernis besorg! Ken u mijnheer Claude le Vau?” verander hy die onderwerp.

      “Ja, U Eksellensie.”

      “Ek het hom laat gevange neem vir opstokery! Ek kan dit nie hier duld nie!”

      Véronique se oë rek.

      “Maar, U Eksellensie, hy is maar ’n jong seun!”

      “Die klein niksnuts het die Franse teen my opgestook! Kan julle mense dan geen rede verstaan nie!”

      “Ek begryp nie wat u bedoel nie?”

      “Monsieur Lorraine is besig om die Franse teen my te organiseer. Hy het u jong, voortvarende vriendjie, Claude, gekry om hulle op te sweep.”

      Véronique kyk verbaas na hom.

      “Monsieur Etienne Lorraine?”

      Die kommandeur sug diep.

      “Ja, dit het ek vanoggend eers uitgevind. Nou wil ek by u weet of u enigiets verdag gesien het terwyl u op L’Espérance was.”

      Sy antwoord dadelik: “Nee, U Eksellensie, niks nie. Ek was maar net een van die bediendes en hulle het my nie juis in hul vertroue geneem nie.”

      “Ek begryp. Dat ’n Saterdagoggend nou só moet begin!”

      Véronique antwoord liewer nie. Die kommandeur is duidelik in geen goeie bui nie. Sy wonder of hy sy dragonders agter Don Diego gaan aanstuur.

      Sy stem is skielik sagter: “My aanbod staan nog, juffrou. U mag hier aanbly totdat u vader opgespoor is. U sal vry kan rondbeweeg mits u nie die mense hier in die Kasteel in hul werk steur nie.”

      “Dankie, U Eksellensie.”

      “A1 wat ek in ruil daarvoor verwag, is dat u ’n goeie Kaapse burger sal wees en u nie met die opstokery sal bemoei nie.”

      “Ek het belangriker dinge om aan te dink as opstokery,” antwoord sy, maar vra tog: “Mag ek met monsieur Claude le Vau praat, asseblief?”

      “Watse nut sal dít hê? Hy kan gerus maar ’n week in afsondering in die selle sweet!”

      “Soos u dit goed dink, U Eksellensie.”

      “U kan dan maar gaan, juffrou.”

      Véronique verlaat die vertrek haastig. Sy wil nie verder onder kruisverhoor geneem word oor Claude se dinge nie. Sy wens dat sy met die seun kon praat, maar miskien is die kommandeur reg. Hy sal wel van sy opstandigheid vergeet nadat hy ’n week in die selle was. Sy is net verbaas om te hoor dat monsieur Etienne Lorraine ook met die saak gemoeid is. Sy het die indruk gekry dat hy hom nie veel aan die res van die Franse setlaars steur nie, maar miskien doen hy dit juis om ’n bietjie aansien te verwerf?

      Die volgende paar dae hoor sy niks van Don Diego nie en sy begin wonder of hy nie dalk iewers iets oorgekom het nie; sy twyfel of hy hom behoorlik sal kan verdedig in ’n tweegeveg.

      Elke keer dat sy na die oorkrabbetjie kyk, dink sy aan hom en moet sy die verlange na hom onderdruk. Dit is alles so hopeloos. Hy het die see lief en daar is vir haar geen plek in sy lewe nie. Sy weet nou dat hy nie getroud is nie en moontlik ook geen beminde het nie, maar dit verander niks aan die hopeloosheid van die situasie nie.

      Die Dinsdagoggend besluit sy om die ent na die Blou Dolfyn te stap en by madame Schoonveld uit te vind hoe sy haar trommels by die Kasteel kan kry. Sy wil nie die kommandeur oor iets so persoonliks lastig val nie.

      Dis ’n triestige oggend en die markplein is verlate. Sy onthou nog hoe die Spanjaarde daar gedans het en dink onwillekeurig aan Don Diego. As hy nie meer hier is nie, sal daar gedurig iets wees wat haar aan hom sal laat terugdink, en dan sal die hartseer en verlange diep in haar binneste kom lê. Sy sal snags daaraan lê en dink en weet dat hy nooit na haar sal terugkeer nie.

      Sy kyk uit oor die baai waar die Marquessa nog voor anker lê, en die aanblik van die skip laat haar beter voel. Hy is nog hier. Solank die skip aan sy anker lê en wieg, is Don Diego in die Kaap en is daar nog hoop.

      Sy vind madame Schoonveld in die herberg se kombuis, waar sy besig is om bevele vir die middagete te gee. Sy lyk bly om Véronique te sien.

      “My hartjie, maar dis ’n verrassing! Ek dag jy is op Drakenstein!”

      Véronique groet haar met ’n soen.

      “Ek is terug, madame. Ek bly nou in die Kasteel.”

      Madame Schoonveld knik goedkeurend.

      “En so hoort dit! Het daar iets gebeur dat jy so gou terug is?”

      Véronique lag.

      “Dis ’n lang storie, maar om dit op te som: ek het probleme veroorsaak en die kommandeur het my verblyf in die Kasteel aangebied.”

      “Kom jy jou goed haal?”

      Véronique aarsel.

      “Ek weet nie hoe om dit in die Kasteel te kry nie, madame. Ek wil die kommandeur nie graag lastig val nie.”

      “Toe maar, ek sal toesien dat dit daar afgelaai word. Dis darem nie so ’n klomp goed nie.”

      Véronique glimlag dankbaar.

      “Baie dankie, madame, ek weet nie hoe om u daarvoor te vergoed nie.”

      Die ou dame se gesig verkreukel.

      “Dis my plesier, kind. Kom, ek gaan vir jou iets te drinke gee. Dis nare weer vanoggend. As die wind net wil opsteek, dan waai die wolke weg en kry ons weer sonskyn.”

      Véronique kyk by die venster uit.

      “Ek hou van die nat weer. Dit laat my aan Frankryk dink.”

      Madame Schoonveld kyk ondersoekend na haar.

      “Jy moet jou nie oor jou vaderland verknies nie, juffrou. Baie min van die mense aan die Kaap keer ooit terug na hul vaderland. Jy sal hierdie land moet leer liefkry.”

      ’n Ongelukkige uitdrukking kom lê in Véronique se oë.

      “Hierdie land het my tot dusver nog nie juis goed behandel nie, madame.”

      “Dis omdat jy hom nog nie ken nie, kind. Dis ’n vrugbare land en hy gee wat hy het, in oorvloed. Die nedersetters lei geen maklike lewe nie, dis waar, maar as die land eers getem is, sal dit ’n goeie lewe bied.”

      “Monsieur Van Riebeeck het die nedersetting meer as vyftig jaar gelede gestig, madame. Neem dit dan só lank om ’n land mak te maak?”

      Madame Schoonveld lag.

      “Dis mos nie ’n taak vir een geslag nie, kind. Maar kom, hier is jou tee. So ’n ietsie warms sal jou sommer beter laat voel.”

      ’n Uur later verlaat Véronique die herberg. Sy voel beter vandat sy weer met die vriendelike Hollandse dame gesels het. Sy het nie juis vriende hier aan die Kaap nie en sy waardeer dit dat die ou dame haar so goed behandel.

      By die Kasteel besluit sy om tog maar weer die kommandeur te gaan vra vir ’n geleentheid om met Claude te gesels. Sy kry die jong man jammer dat hy in so ’n penarie beland het, en as sy vir hom iets kan doen, sal sy dit met graagte doen.

      Simon van der Stel stem in om haar by Claude toe te laat, maar net ’n paar minute lank. Miskien voel hy dat hy haar versoek nie ’n tweede keer kan weier nie, en kort voor middagete word sy deurgelaat na Claude se sel.

      Hy straal


Скачать книгу