Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan


Скачать книгу
het klaar besluit, monsieur.”

      Toe hy na haar omdraai, is daar weer daardie vreemde uitdrukking in sy donker oë.

      “Jy is die enigste mens wat my nog ooit teëgegaan het, senorita.”

      “Ek doen wat ék dink reg is, monsieur.”

      Hy lag, maar dis ’n duiwelse laggie met geen vriendelikheid daarin nie.

      “Totdat jy jou in ’n situasie vasloop waaruit jy nie self sal kan kom nie.”

      “Dit sal nie gebeur as ek dit kan verhelp nie, monsieur.”

      Hy bal sy vuiste dat die kneukels wit deurslaan.

      “Dan is daar niks verder te sê nie, senorita.” Hy maak ’n buiging en stap by haar verby, die vertrek uit.

      Sy kyk hom agterna en wil nog iets sê, maar bly dan stil. Sy kan hom nie keer om te gaan nie. Sy sal hom later ook nie kan keer om terug te gaan Spanje toe nie. Sy sal hom nooit kan behou nie.

      Net na nege die Donderdagoggend vertrek sy per gehuurde koets van die Kasteel af. Sy het haar hierdie keer goed voorberei vir die lang reis Drakenstein toe, en gesorg dat sy genoeg warm klere saamneem. Deurdringende reën het in die loop van die nag begin val, en dis koud en onplesierig. Misslierte trek oor die baai en versluier die skepe wat voor anker lê.

      Die reën sif aanhoudend op die koets neer en die perde speel met hul koppe in die wind. Kort-kort proes hulle vieserig vir die nat weer, maar die koetsier gee hulle nie kans om hul pas te verslap nie. Die pad is ’n pappery en die modder spat teen die koets op.

      Véronique sit diep in gedagtes versonke in die koets. Sy dink nie op die oomblik aan die ongerief van die perde nie. Sy bekommer haar oor die feit dat haar soektog na haar vader ’n dooie punt bereik het. Net die oorkrabbetjies herinner haar daaraan dat hy nog hier iewers in die Kaap kan wees, maar sy weet nie waar nie. Sy weet nie eens of hy nog lewe nie.

      Sy dink daaraan om Claude te vra om haar te help soek. Miskien sal sy sy hulp later nog baie nodig kry, maar terwyl hy in die selle is, sal sy maar moet wag.

      Haar gedagtes dwaal terug na die vorige dag toe sy met Don Diego gepraat het, en sy besef dat hy altyd vir haar ’n vreemdeling sal bly. Dis asof sy hom nie altyd begryp nie, asof sy nie altyd kan verstaan wat hy bedoel nie. Sy hulp is vir haar onontbeerlik, maar hoekom bemoei hy hom hoegenaamd met haar soektog? Hy het die volste reg om hom enige dag te onttrek.

      Diep in haar hart wens sy egter dat hy dit nié doen nie. Sy wil hom weer en weer sien, al is dit slegs vir ’n bietjie nuus oor haar vader. Sy sug ongelukkig. Sy wil Don Diego by haar hou én sy wil haar vader by haar hê. Op die oomblik lyk dit asof sy albei gaan verloor of reeds verloor het.

      By die laaste herberg waar hulle perde ruil, klim Véronique ’n bietjie af om asem te skep. Sy draf die herberg binne omdat dit nou weer hard reën.

      Die koetsier is bly vir die kort verposing en gaan ook die herberg binne op soek na ’n versterkinkie.

      Véronique skud die water van haar mantel af en gee dit aan die diensmeisie. Dan gaan sy die knusse vertrek binne en gaan sit by ’n tafeltjie.

      Die herberg is so te sê leeg. Net twee ander mense is aanwesig, maar hulle steur hulle nie aan haar nie. Die herbergier kom vra wat sy wil geniet en laat haar dan weer alleen.

      Sy sit en staar deur die venster na die reën buite. Dofweg kan sy ’n ruiter uitmaak wat in die rigting van die herberg kom. Sy let nie op na die ruiter as sodanig nie, maar merk sy koms terloops op. Dan kom sit die herbergier haar middagete voor haar neer, saam met ’n groot glas wyn.

      Net toe sy haar mes en vurk wil optel, is daar ’n pratery by die ingang. Sy kyk op en verstyf.

      Don Diego gee sy mantel aan die diensmeisie wat hom met groot, bewonderende oë betrag. Dan kyk hy in die vertrek rond en sien Véronique raak. Daar is ’n fyn glimlag om sy mondhoeke toe hy stadig in haar rigting gestap kom.

      “Goeiedag, senorita!” Hy groet haar asof hy haar in ’n lang tyd nie gesien het nie.

      Sy byt haar onderlip vas.

      “Is u hier om my te keer om na monsieur Lorraine te gaan?” vra sy sonder om sy groet te beantwoord.

      Hy lag sag.

      “Jy weet tog dat ek jou nie kan keer nie. Nee, ek is op pad terug na die Kaap. My sending hier is afgehandel.”

      “Sending? Watse sending?”

      “Ek soek nog na jou vader, senorita, of het jy vergeet?”

      Sy antwoord nie, kyk net agterdogtig na hom. Sy voel aan dat hy nie die waarheid praat nie, dat hy iets vir haar wegsteek.

      “Was u by monsieur Lorraine?” vra sy dan tog.

      Sy oë vernou effens.

      “Ek was, maar wat maak dit saak? Ek was om ’n ander rede by hom as waarom u soontoe gaan.”

      Sy sug liggies.

      “Ek wens ek het geweet wat jy in die mou voer.”

      Hy lag weer sag, half spottend.

      “Dis beter dat jy nie weet nie. Maar ek het belowe dat ek jou vader sal opspoor, senorita, en my woord sal ek hou. Mag ek by u aansit?”

      Sy knik en bly na hom kyk toe hy gaan sit.

      “Hoe lank sal u nóg soek, monsieur?”

      “Nie te lank nie. Ek sal jou liewer nie die besonderhede oor my ontdekkings gee nie. Netnou wil jy dalk self die bul by die horings pak en dit sal my planne in die war stuur.”

      Sy leun oor na hom.

      “Leef my vader nog, monsieur?”

      Sy oë versag.

      “Ja, senorita, hy leef nog. Dié versekering kan ek jou gee.”

      Sy sit verlig terug.

      “Dankie dáárvoor!”

      Hy frons.

      “Dis net die juwele wat hom nog aan die lewe gehou het.”

      Sy kyk onbegrypend na hom.

      “Ek verstaan nie.”

      “Sover ek kan vasstel, weier hy om te sê waar die juwele is. Die geld is reeds by hom gevat.”

      “Maar dan … sal hy mos niks hê as hy weer vry is nie … Ons sal niks hê om ’n begin mee te maak nie …!”

      Hy kyk af na sy hande.

      “Daaraan kan ek niks doen nie, senorita.”

      “Dit was ál wat ons besit het … net die geld en die klompie familiejuwele.”

      “Ek is jammer, senorita; as daar ’n moontlikheid was, sou ek die geld óók vir u wou opspoor, maar …” Hy voltooi nie sy sin nie.

      “Maar?”

      “Ek sal nie veel langer in die Kaap aanbly nie. Voordat die winde in Augustus begin waai, wil ek terug Spanje toe. Ek kan nie langer as die helfte van Julie hier vertoef nie.”

      “Die see is onstuimig, Don Diego.”

      Hy glimlag.

      “Hy is onvoorspelbaar … vandag is hy so en môre is hy kalm. Hy het my nog nooit in die steek gelaat nie.”

      Sy kyk weg.

      “Niks sal jou seker kan keer nie.”

      Hy leun skielik oor en raak aan haar hand wat met die dun steel van die wynglas speel. Haar hand raak stil en sy kyk stadig na hom op, vas in sy donker oë.

      “Ek het die see lief soos ek my eie moeder liefgehad het.” Hy trek sy hand stadig terug. “Maar dis geen mens nie … en tog sal ek dit nooit kan verlaat nie …”

      Haar oë is groot en blink van ingehoue emosies.

      “Diego


Скачать книгу