Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
Hy staan skielik op en stap sonder ’n verskoning by die herberg uit.
Die diensmeisie draf agter hom aan met sy mantel, en oomblikke later hoor Véronique die geklap van sy perd se pote toe hy in die gietende reën wegry.
Dis byna twee-uur toe sy op L’Espérance aankom. Niemand het haar verwag nie en Emile, die hoofbediende, is verras toe sy so onverwags haar opwagting maak.
“Madame is in die voorkamer, mademoiselle,” sê hy styf.
Sy maak haar mantel los en hy neem dit by haar.
“Is mademoiselle Lyzette hier?” vra sy.
“U sal by madame Lorraine moet uitvind, mademoiselle. Ek mag nie aan u sê of sy hier is nie.”
Véronique kyk hom verstom aan voordat sy sê: “Nou maar goed dan.” Sy stap by Emile verby na die voorkamer waar madame Lorraine besig is om die vuur in die kaggel aan te steek.
Sy kyk verbaas op toe Véronique binnekom.
“Wat maak jý hier?” vra sy skerp.
“Ek het na Lyzette toe gekom, madame. Ek het ’n briefie van haar gekry.”
Madame Lorraine kom orent en kyk agterdogtig na Véronique.
“Sy is nie hier nie. Jy sal ’n rukkie moet wag vir monsieur Lorraine as jy die besonderhede wil weet. Hy sal oor ’n uur terug wees.”
Véronique staan besluiteloos.
“Dit sal dan te laat wees om na die Kasteel terug te keer.”
Madame haal haar skouers op en steek eers die vuur met ’n tonteldoos en vuurslag aan voordat sy weer na Véronique kyk.
“Jy sal seker vannag hier kan slaap. Ek glo nie monsieur Lorraine sal enige beswaar hê nie. Jy werk tog nie meer hier nie.”
“Dankie, madame.”
“Ek sal monsieur Henri sê dat jy hier is. Hy sal jou geselskap moet hou totdat my man tuiskom. Ek is te besig daarvoor.”
Véronique voel effens verleë.
“U hoef hom nie te steur nie, madame.”
Madame Lorraine lag sinies.
“Niks kan hóm ooit steur nie. Hy sit seker weer in die biblioteek en lees.” Sy stap die kamer uit.
’n Paar minute later maak Henri Lorraine sy verskyning. Hy is opreg bly om Véronique te sien.
“Bonjour, Véronique! Dis gaaf om jou te sien!”
Sy glimlag.
“Bonjour, monsieur. Ek het na Lyzette kom soek, maar nou is sy nie hier nie.”
Henri knik somber.
“My broer het haar na ’n vriendin geneem om vir ’n week daar te gaan kuier.”
Véronique is verbaas.
“Maar sy het dan vir my geskryf dat sy my dringend wil sien?”
Henri haal sy skouers op.
“Monsieur Don Diego Fernandez was vanoggend hier en net nadat hy weg is, het Etienne Lyzette aangesê om haar goed in te pak. Ek verstaan glad nie wat aan die gebeur is nie.”
Véronique staan peinsend. Het Don Diego dalk vir Etienne Lorraine gesê dat sy hierheen op pad is? Maar hoekom sou hy so iets doen? Dalk was monsieur Etienne in elk geval van plan om Lyzette na ’n vriendin te neem.
Terwyl hulle nog gesels, kom Etienne Lorraine binne. Sy gesig verdonker toe hy Véronique sien.
“Wat maak ú hier, mademoiselle?”
Véronique draai vinnig om na hom.
“Het monsieur Fernandez u dan nie gesê wat ek hier kom doen nie? Ek het ’n dringende boodskap van u dogter gekry.”
“My dogter het nie die hulp van ’n bediende nodig nie, mademoiselle.”
“Ek is nie meer u bediende nie, monsieur!”
Henri se oë rek.
“Wat maak dit tog saak hoekom sy hier is, Etienne? Jy kan haar nie so laat in die dag terugstuur nie.”
Etienne kyk na sy broer en aarsel. Dan kyk hy weer na Véronique.
“U kan vir die nag in u kamer slaap waar u voorheen geslaap het, mademoiselle. Ek sal dit waardeer as u ook nie weer hierheen kom nie.”
“Dankie, monsieur. Ek verseker u dat ek dit nie weer sal doen nie.” Sy voel die ergernis in haar opstoot en onderdruk dit met moeite. “Ek het ook nie kon dink dat u só oor u dogter se versoek aan my sou voel nie. Ons het nie as kwaaivriende uitmekaar gegaan nie.”
“Ek is heeltemal bewus van my dogter se bewondering vir u, mademoiselle,” sê Lorraine styf. “Dis vir my ’n ietwat ongemaklike situasie.”
Véronique haal diep asem.
“Ek is nie meer ’n kamermeisie nie, monsieur.”
“Hier sal u altyd die gewese kamermeisie wees en niks anders nie.”
Sy haal die oorkrabbetjie uit haar sak te voorskyn en hou dit na hom uit.
Hy kyk onbegrypend daarna en dan na haar.
“Waar kry u dit?” wil hy skerp weet.
“By u dogter, monsieur. Sy het dit vir my as geskenk gegee.”
Lorraine word rooi van woede.
“Sy het nie die reg gehad nie! Ek het dit aan haar as geskenk gegee en sy mag dit nie weggee nie.”
Véronique laat die oorkrabbetjie terugval in haar sak.
“Ek wil weet waar ú dit gekry het, monsieur.”
Hy staar na haar.
“Ek? Waarom wil u dit weet?”
Sy kyk hom vas in die oë.
“Omdat dit aan my moeder behoort het. My vader het dit by hom gehad toe ons uit Frankryk weg is.”
Etienne Lorraine bal sy vuiste.
“Ek weet niks daarvan af nie. Ek het dit by iemand in die Kaap gekoop. Ek weet nie waar hý dit gekry het nie.”
“By wie het u dit gekoop, monsieur?”
Hy vererg hom.
“Ek weier om deur ’n gewese bediende onder kruisverhoor geneem te word! Ek kan nie onthou by wie ek dit gekoop het nie! Ek het nie geweet dat dit aan u moeder behoort het nie! Verstaan u dit?” Hy kom nie agter dat hy begin skreeu nie.
Véronique kyk kalm na hom.
“Miskien weet u dogter waar u dit gekry het, monsieur.”
“Sy weet níks van my sake nie. Dit sal u ook nie help om madame Lorraine te ondervra nie. Sy weet ook nie by wie ek die geskenk gekoop het nie.”
Sy aarsel.
“Ek moet my vader vind, monsieur,” sê sy dan sag. “As ek weet by wie u die oorkrabbetjies gekoop het, mag ek hom dalk opspoor.”
“Ek gee geen duit om vir u vader nie!” skreeu hy. “Moet mý nie kom lastig val oor sy verdwyning nie!”
Sy deins half verskrik terug oor sy tirade. Henri, wat die gesprek tot dusver swygend gevolg het, kyk verbaas na sy broer.
“Maar dis tog te verstane dat sy die oorsprong van die oorkrabbetjies wil bepaal, Etienne!”
Lorraine gluur hom aan.
“Moet jý nie ook nou begin nie, Henri! Ek het genoeg van monsieur Tredoux gehoor! Ek wil niks meer weet oor sy opsporing nie! Dit gaan my nie aan nie en ek stel nie belang nie! Duidelik?”
Henri antwoord nie, kyk net verskonend na Véronique.
Sy