Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
pyn het. Sy staar na sy hande: sterk, manlike hande, bruingebrand deur die son.
“Monsieur …”
Sy oë gaan stadig oop en hy frons liggies. Dan draai hy in haar rigting en daar kom ’n flikkering in sy oë.
“Senorita … hoe kom u hier?”
“Ek het saam met die kommandeur gekom. Na alles wat gisteraand gebeur het, kon ek nie langer op L’Espérance bly nie.”
Die frons op sy voorkop verdiep.
“Het hulle jou … weggejaag?”
Sy skud haar kop.
“Nee, maar hulle sou seker. Die kommandeur het my ’n uitkoms gebied.”
Hy glimlag effens. “Ek het u tog gesê dat … hy ’n goeie man is.”
“Ek weet dit nou.” Don Diego het dit oorleef! juig dit in haar.
Hy kyk na haar met ’n onpeilbare uitdrukking in sy donker oë.
“U het my lewe gered, senorita …”
Sy kyk weg.
“Ek kon nie toelaat dat hy u doodmaak nie, monsieur … nie só nie.”
“Hoekom … het jy dit gedoen?” Daar is ’n dringendheid in sy vraag wat haar vinnig na hom laat kyk.
“Omdat …” Sy bly stil. Hoe kan sy aan hom sê dat sy dit gedoen het omdat sy hom liefhet? Hoe kan sy aan hom sê dat sy hom met haar eie lewe sal beskerm as dit nodig mag wees?
“Omdat wát, senorita?”
Sy kyk weer na hom, maar kan nie aan iets dink om te sê nie. Hy bly na haar kyk met daardie vreemde uitdrukking in sy oë wat haar hart vinniger laat klop.
“Ek … ek kon hom nie keer om die mes te gebruik nie …” vermy sy sy vraag.
Hy kyk weg na die plafon en daar is ’n veraf uitdrukking in sy oë.
“Ek gaan my terugreis na Spanje vervroeg,” sê hy skielik.
Haar hart slaan ’n slag oor. Sal hy voor die einde van die winter gaan?
“Dis gevaarlik hierdie tyd van die jaar, monsieur,” sê sy met ’n effens bewerige stem.
“Ek het net ’n paar mooi dae nodig om weg te kom.”
“Hoekom … wil u gouer weggaan?”
Hy glimlag skeef.
“Hier is niks vir my in die Kaap nie. Ek swerf al veertien jaar lank op see. Dit word deel van ’n mens en jy kan later nie meer daarvan wegkom nie. As ’n mens iets té lank gedoen het, kan jy later nie meer daarvan wegkom nie.”
Dis waar, dink sy afgetrokke. Ek was my lewe lank soos ’n prinses behandel. Dis ’n onaangename ondervinding om jou dan in die posisie van ’n bediende te bevind.
“Dis nog nie te laat om ’n verandering te maak nie,” sê sy nogtans.
“Waarvoor? My pa was ’n Spaanse edelman en my moeder was van die Franse adel. Hulle lewe nie meer nie. Niks hou my êrens vas nie.”
Waarom praat hy oor hierdie dinge? wonder sy.
“Hoekom bly u nie hiér nie?”
Hy kyk ondersoekend na haar.
“Ek sal eers jou vader opspoor,” sê hy stadig, “dáároor hoef jy jou nie te bekommer nie. Maar dan gaan ek terug … Miskien sal ek iewers in Spanje tot ruste kom, en sal die see en die verre horisonne my nie meer roep nie.”
“Jy sal die see nooit vergeet nie,” sê sy gelate.
Hy glimlag geheimsinnig.
“Miskien tog … as daar iets is wat die plek van die see kan inneem.”
“Dis onmoontlik. Ek sien dit sommer.”
Hy lag net sag, maar antwoord nie daarop nie.
Sy hou die oorkrabbetjies na hom uit.
Hy kyk onbegrypend na haar nadat hy hulle geneem en in die flou lig beskou het.
“Hulle is mooi … soos jou oë. Jy behoort hulle te dra.”
Sy sluk.
“Hulle het aan my moeder behoort.”
“Soveel meer rede vir jou om hulle te dra.” Die styfheid het ongemerk uit hul gesprek verdwyn.
“Lyzette Lorraine het hulle vir my as geskenk gegee.”
Hy kyk vinnig na haar en al die vriendelikheid verdwyn uit sy blik.
“En jy aanvaar dit sonder meer?”
“Ek het die pakkie nie oopgemaak voordat ek vanoggend by die Kasteel aangekom het nie.”
Hy kom stadig orent en sy gesig vertrek van pyn.
“Wat gaan jy nou maak?” vra sy met groot oë.
“Ek gaan vasstel hoe jou moeder se juwele op L’Espérance beland het!”
“Jy kan nie! Jou wond sal weer begin bloei!”
Hy antwoord nie, klim van die bed af en reik na sy hemp wat die verpleegster oor die rugleuning van ’n stoel gegooi het.
Véronique staar magteloos na hom terwyl hy die hemp aantrek.
“Jy soek jou dood, en waarvóór? Vir ’n man wat jy nie eens ken nie,” sê sy bitter.
Hy kyk na haar.
“Ek het jou my woord gegee dat ek jou pa sal vind. Ek is van plan om my woord gestand te doen, senorita.”
Sy kyk hoe hy sy kaplaarse aantrek en sy mantel neem.
“Ek skeld jou vry van jou belofte,” sê sy hees. “Jy kan nie só uitgaan nie. Jy sal jouself skaars kan verdedig.”
Daar is ’n vreemde uitdrukking in sy oë toe hy weer na haar kyk.
“Ek het al erger dinge deurgemaak, senorita, vir veel minder. Ek sal dit wel oorleef.”
Hy het klaar aangetrek en is weer die fiere, wilde Spanjaard wat sy leer ken het. Hy is nie meer die weerlose, gewonde man wat netnou nog op die bed gelê het nie. Sy weet nie hoeveel pyn hy op hierdie oomblik moet verduur nie, want hy toon geen teken van enige ongemak nie.
“Jy het jou swaard vergeet,” sê sy sag.
Hy tel dit van die tafeltjie af op en gespe die skede om sy middel vas.
“U sal weer van my hoor, senorita. Dra asseblief my groete aan die kommandeur oor.” Dan glimlag hy vlugtig, maak die deur oop en verdwyn in die gang af.
Die wag roep hom agterna, maar hy luister nie, en toe Véronique die deur bereik, is hy nêrens te sien nie.
Asof hy maar nog in die kamer moet wees, kyk sy om – en merk toe dat hy een van die oorkrabbetjies op die bed laat val het. Sy stap terug bed toe om dit te kry. Hy het dus die ander oorkrabbetjie saamgeneem, dink sy. Hy het iets van haar by hom, iets wat hom aan haar sal herinner. Hulle is mooi, het hy gesê, soos jou oë.
Sy raak met haar hand aan die kussing waar sy kop gelê het. Dis nog half warm en sy trek haar hand vinnig terug. In stilte bid sy uit die diepte van haar hart dat hy nie iets moet oorkom nie … dat hy moet terugkom na haar toe …
Kort na middagete gaan sy na die vertrek waarheen Simon van der Stel haar ontbied het. Sy word dadelik binnegelaat en vind die kommandeur waar hy rusteloos heen en weer loop. Hy kyk op toe sy binnekom.
“Wat het van mijnheer Fernandez geword, juffrou? Hoekom het hy gegaan?”
Sy sluk verward.
“Hy … hy het leidrade omtrent my pa se verdwyning gaan opvolg, U Eksellensie.”
“U was by toe hy weg is. Hoe het