Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan


Скачать книгу
ontsnap.”

      Henri skud sy kop onbegrypend en Véronique sê niks. Op die oomblik is sy verleë oor monsieur Lorraine en sy kan nie anders as om die pos te aanvaar nie.

      Etienne staan op en lui ’n klein silwerklokkie. ’n Bediende verskyn in die deur.

      “Ek sal nou met madame Lorraine en mademoiselle Lyzette praat, Emile.”

      Die bediende maak ’n diep buiging.

      “Oui, monsieur.” Hy verdwyn so geruisloos as wat hy gekom het en kort daarna verskyn madame Lorraine met haar dogter kort op haar hakke.

      Lyzette Lorraine is ongeveer Véronique se ouderdom, met ligbruin hare en groenbruin oë. Sy is effens plomp, met ’n ronde gesiggie en ’n pruilmond. Sy kyk vol openlike vyandigheid na die beeldskone Véronique.

      Haar moeder is ’n groot vrou van om en by vyf-en-veertig. Haar hare is al grys en die swierige kapsel pas nie heeltemal by haar effens boerse houding nie.

      “Wat is dit nou, Etienne?” wil sy ongeduldig weet.

      Hy verstyf effens.

      “Ek wil julle net voorstel aan Lyzette se nuwe kamermeisie. Mademoiselle Tredoux is glo die dogter van ’n graaf.”

      Madame Lorraine glimlag spottend.

      “Hulle is dit maar almal, Etienne.” Sy bekyk Véronique op en af. “Hierdie een lyk nou wel ’n bietjie anders, maar dit verander niks aan die saak nie. Wanneer kan sy begin?”

      Etienne Lorraine kyk na Véronique.

      “Sal u oor ’n week hier kan wees?”

      Sy knik stom.

      Henri staan half eenkant van die groepie. Hy lyk bitter ongelukkig oor die situasie. Hy pluk-pluk ongemaklik aan sy mansjette en durf nie na Véronique kyk nie.

      “Ek het nie ’n kamermeisie nodig nie, Pappa,” sê Lyzette skielik.

      Haar pa draai vinnig na haar.

      “Enige meisie in jou posisie behoort ’n kamermeisie te hê, Lyzette. Jy sal dit so moet aanvaar.”

      Daar is ’n ontevrede trek om haar mond toe sy antwoord: “Hoekom moet alles skielik nou so anders wees? Toe Pappa nog skeepsdokter was, was dit lekker gewees. Ek kon ten minste …”

      “Dis genoeg, Lyzette, jy kan maar gaan.” Haar pa keer die woordevloed.

      Die meisie ruk haar op en stap vinnig by die vertrek uit. Sy klap die deur hard agter haar toe en die geluid daarvan skok deur almal.

      Madame Lorraine kyk half verleë na Véronique.

      “Dit spyt my dat sy haar humeur die oorhand laat kry het, mademoiselle. Sy sal later tot ander insigte kom.”

      Véronique kyk na haar.

      “Ek wil nie graag onenigheid in die huis veroorsaak nie.”

      Etienne Lorraine verstyf.

      “U sal geen onenigheid veroorsaak nie, mademoiselle, en my dogter sal doen wat van haar verwag word. Daar is niks verder daaroor te sê nie.”

      Madame Lorraine draai na haar man.

      “Is daar nog iets, Etienne, of kan ek nou maar gaan? Ek het baie om te doen en het nie die tyd om die hele dag hier te staan en ginnegaap nie.”

      Etienne Lorraine trek ’n suur gesig.

      “Ek wens julle wil nie so banaal wees nie,” sê hy. “Neem mademoiselle Tredoux saam en lig haar in oor haar pligte.”

      Madame Lorraine beduie met ’n kopknik in die rigting van die deur.

      “Kom, ons het nie veel tyd nie, mademoiselle.”

      Véronique volg haar nuwe werkgeefster asof sy in ’n dwaal is. Die hele situasie is vir haar vreemd. Sy het nog nooit voorheen vir ’n bestaan gewerk nie, en sy het ook nog nie tevore mense soos die Lorraines ontmoet nie. Daar sal nog baie skaafwerk aan hulle moet plaasvind voordat hulle onder die adel aanvaar sal word. Maar dit is ook soos monsieur Lorraine gesê het – hier in die Kaap is daar geen stande meer nie. Hulle is almal net Franse. Hoe meer geld jy het, hoe beter is jou sosiale posisie. Dus kan sy niks meer as die pos van kamermeisie verwag nie.

      Lyzette het haar in haar kamer gaan toesluit en dus kry Véronique haar nie weer te sien nie. Sy voel half ongemaklik oor die vooruitsig om Lyzette se kamermeisie te wees. Lyzette hou duidelik niks van haar nie en dit gaan nie haar omstandighede makliker maak nie.

      In die kombuis gaan madame Lorraine staan en draai na Véronique.

      “Ons het ’n tekort aan bediendes. Jy sal dus hier ook moet uithelp tot tyd en wyl ons beter bediendes kan kry. Monsieur Lorraine hou van krokette en baie sout in sy vleis. Hollandse disse word nie in hierdie huis voorgesit nie. Ons is Franse en so gaan dit bly.” Sy frons skielik en vra: “Wat is jou naam?”

      “Véronique, madame.”

      “Dis ’n ongewone naam. Is jy werklik die dogter van ’n graaf?”

      Die meisie knik.

      “Oui, madame. My vader is die comte de Sévigné.”

      Die ou dame kyk haar ondersoekend aan.

      “Dit mag wees, maar in hierdie huis is jy net ’n kamermeisie. Jou agtergrond en verlede tel nie hier nie.”

      “Ek verstaan, madame.”

      “Bon! Dan kan ons maar gaan gereed maak vir jou vertrek.”

      Véronique kyk verbaas na haar.

      “Moet ek vanaand nog terug na die Kaap, madame?”

      “Maar natuurlik! Jy kan tog nie vannag as gas hier wil aanbly nie.”

      Véronique aarsel.

      “U man se broer het my gewaarsku dat hier baie struikrowers in die omgewing is, madame.”

      Madame Lorraine lag hard.

      “Hulle val tog nie die gewone werkers lastig nie! Jy bekommer jou verniet daaroor. Hulle sal nie eens in jou rigting kyk nie.”

      Véronique besef dat dit nie sal help om verder daaroor te redeneer nie. Dit sal haar niks baat om aan die ou dame te sê dat sy in ’n koets sal reis en dat die struikrowers nie sal weet dat sy maar net ’n gewone meisie is nie.

      ’n Uur later, kort voor sononder, sit Véronique weer in die koets.

      Monsieur Henri het haar in die rytuig gehelp en nou staan hy by die venstertjie.

      “Ek is jammer, mademoiselle, miskien kan ons aan iets anders dink.”

      Sy skud haar kop stadig.

      “Ek is in die knyp, monsieur, en ek is dankbaar vir dit wat ek wel kan doen. Dis nie ’n baie aangename situasie nie, maar ek sal daaraan gewoond raak.”

      Hy skud sy kop treurig.

      “Dit sal ’n vermorsing van jou skoonheid wees.”

      Sy bloos liggies.

      “U vlei my, monsieur, maar ek weet wanneer ek verslaan is.”

      Hy glimlag.

      “U gedra u soos ’n vorstin, mademoiselle.” Sy oë vertroebel. “Au revoir …”

      “Au revoir, monsieur. Ons sal mekaar nou baie te sien kry.”

      Hy lag.

      “Dis ’n aangename vooruitsig.”

      Die koets vertrek en Véronique wuif vir monsieur Henri. Die ander het nie uit die huis gekom om haar te groet nie en sy neem hulle dit ook nie kwalik nie. Wat hulle betref, is sy nou net ’n werknemer, ’n bediende, en so iemand groet ’n mens nie met groot vertoon nie – veral nie as jy nie van haar hou nie …

      Die koets ratel voort teen die laaste sonstrale


Скачать книгу