Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
was by monsieur Lorraine se broer op Drakenstein,” jok sy gladweg. “Ek het netnou maar eers teruggekom.”
Hy kyk agterdogtig na haar.
“Hoekom het hulle u nie met die koets gebring nie?”
Sy probeer sy nuuskierigheid weglag.
“Ek hou van stap en ek het maar net ’n klein entjie gestap, Claude. Ek is nou regtig haastig. Ek wil nog kyk of ek nie met die kommandeur ’n afspraak kan kry nie.”
Sy oë rek.
“Hy is ’n baie belangrike man, ma’mselle.”
“Natuurlik is hy, maar dis ’n belangrike saak wat ek met hom wil bespreek.”
Hy byt sy onderlip vas en aarsel voordat hy vra: “U kan makliker ’n afspraak met hom kry as ek, ma’mselle. Is dit nie dalk moontlik om … wel, om ons Franse se saak aan hom te stel nie?”
Sy is ietwat verbaas oor die versoek.
“Hy mag dit dalk as voorbarig beskou, Claude.”
Hy kyk pleitend na haar.
“Asseblief, ma’mselle. Ons wil net saam op een plek woon en nie tussen die ander vryburgers nie. Ons wil net ons eie dinge hier kan hê … ’n kerk, en dan ons tradisies handhaaf.”
Sy glimlag simpatiek.
“Ek sal dit so aan hom stel, Claude, maar ek twyfel of hy na my sal luister. Hy is ’n besige man en ek glo nie hy sal na buitestanders se raad luister nie.”
“Probeer net … asseblief?”
“Goed, ek sal.”
Véronique kry ’n afspraak met die kommandeur na ’n bietjie gesukkel. Hy wil na Groot Constantia vertrek, en dis met ongeduld dat hy instem om haar te sien.
Simon van der Stel ontvang haar in ’n luukse vertrek waarin ’n heerlike kaggelvuur brand. Hy staan reeds in sy reisklere op haar en wag.
Sy maak ’n diep buiging voordat sy hom groet.
“Waaroor wil u my spreek, juffrou?” vra hy op redelik goeie Frans.
Sy haal diep asem.
“My vader het verdwyn, U Eksellensie. Hy het agtien maande gelede hier voet aan wal gesit en skynbaar spoorloos verdwyn.”
Die ongeduld verdwyn effens uit sy houding.
“Wie was u vader?”
“Le comte de Sévigné, U Eksellensie. Hy het al ons aardse besittings by hom gehad. Die kaptein van die Marquessa meen dat hy ontvoer is.”
Hy kyk met meer belangstelling na haar.
“Het u met hóm gepraat?”
“Ja, ek het.”
’n Glimlag kruip na Van der Stel se oë.
“U het werklik moed, juffrou Tredoux. Ons het al klein onderonsies gehad en ek het spoedig besef dat hy ’n verbete man is wanneer dit by reg en verkeerd kom. Hy is ’n genadelose vent, juffrou, maar as hy in u vader se verdwyning belang stel, kan u geen beter bondgenoot kry nie.”
Sy kyk verbaas na hom.
“Ek het nie gedink dat u met ’n skeepskaptein vriende sal wees nie, U Eksellensie.”
Van der Stel lag.
“Ek sal dit kwalik vriendskap noem. Ek het ’n sekere bewondering vir die man.”
Sy glimlag effens.
“En hy vir u.”
Hy kyk geamuseerd na haar.
“Dit het ek nie verwag nie. Maar om terug te kom tot u vader … Ek besef nou eers dat ek werklik baie lank gelede laas iets van hom gehoor het. Ek het nie geweet dat hy verdwyn het nie.”
Haar moed sak in haar skoene.
“Dan kan u my nie help nie?” vra sy sag.
Hy skud sy kop spytig.
“Ek is baie jammer, juffrou, maar ek kan nie. As u egter te hore kom wáár hy hom bevind, kan ek dalk help om hom te laat haal. Meer kan ek nie doen nie.”
Sy knik.
“Dankie, U Eksellensie. Ek sal dit onthou.” Sy maak weer ’n buiging en wil na die deur toe gaan, maar onthou dan van Claude se versoek. Sy kyk op na Van der Stel. “Ek is gevra om u te versoek om die Franse bymekaar te laat woon, U Eksellensie.”
Hy kyk vinnig op na haar, sy oë skielik donker.
“Dit kan nie gedoen word nie, juffrou. U moet verstaan dat hier verskeie groepe mense aan die Kaap is en as elkeen hulle eie rigting wil gaan, kan ek maar net sowel teruggaan na Batavia.”
“Ek verstaan.”
“Sê aan u landgenote dat ons ’n nasie hier moet bou … ’n Suid-Afrikaanse nasie, en dat as ons nie saamstaan nie, ons almal maar kan teruggaan na waar ons vandaan gekom het.”
Sy maak ’n diep kniebuiging.
“Ek begryp, U Eksellensie. Tot siens.”
Sy verlaat die vertrek ingedagte. As selfs die kommandeur haar nie kan help nie, hoe kan sy óóit hoop om haar vader op te spoor?
Dan kry sy ’n ingewing. Miskien moet sy op die Marquessa na leidrade begin soek. Sy moet op die skip kom en daar rondkyk. Die geld en die juwele kon nie sommer so tussen neus en oë verdwyn het nie. Dit moet iéwers wees. En as sy dít gevind het, is sy seker dat sy uiteindelik ook haar vader sal vind.
Die volgende oggend gaan koop sy ’n uitrusting wat ’n boeremeisie sal dra. Sy betaal met ’n goue Louis daarvoor en kry ook nie veel kleingeld nie. Dan haas sy haar terug na die Kasteel, waar sy haar verklee. Sy bind die wit kopdoek om haar swart hare en stryk die voorskoot glad oor die rok van bruin, growwe materiaal. Dit het aan ’n boeremeisie behoort en is reeds baie gedra. Sy gee nie om vir die uitrusting nie. Sy is bereid om alles te doen om haar pa op te spoor.
Teen eenuur staan sy op die strand in haar nuwe klere. Sy staar na die Marquessa wat rustig aan sy ankertoue wieg. Hoe gaan sy op die skip kom?
’n Matroos slenter in haar rigting.
“En wat soek ’n mooi duifie soos jy hier?” wil hy met ’n grynslag weet.
Sy kyk vinnig om na hom. “Ek wil na die Marquessa gaan,” antwoord sy en hoop dat sy ongeërg genoeg klink.
Die matroos lag dawerend.
“As jy na die kaptein soek, misgis jy jou. Hy lê nog en slaap in een van die tavernes.”
Sy druk met haar hande in haar sye en kyk uitdagend na hom.
“Dit het niks met jou te make hoekom ek na die skip wil gaan nie.”
Hy lag.
“Kyk nou net! Jy het sowaar die vermetelheid om die bootman van die Marquessa só aan te spreek!”
Véronique dink vinnig.
“Hoe kan ek op die skip kom?”
Hy haal sy skouers op.
“Iemand moet jou oorroei.”
“Sal jy dit kan doen?”
Hy loer na haar.
“Hoekom moet ek?”
Sy druk haar ken in die lug en kyk skeef na hom.
“Jy is nie dalk bang vir my nie? Sies tog, dat ’n groot man soos jy vir ’n vrou moet bang wees.”
Hy lag weer, maar met ’n bietjie minder selfversekerdheid as flussies.
“Ek’s g’n bang vir jou nie.”
Sy haal diep asem.
“Ek sal jou goed beloon as