Annelize Morgan Omnibus 6. Annelize Morgan
die Lorraines en frons ongelukkig. Dit gaan vir haar baie moeilik wees om by die nuwe omstandighede aan te pas. Maar sy is bereid om enigiets te doen as sy net haar vader weer kan vind … as hy nog lewe. Die skielike gedagte dat hy dalk intussen mag gesterf het, bring ’n benoude gevoel in haar keel. Hy mag nie dood wees nie! Dan is hulle hele fortuin daarmee heen en sy stoksielalleen in die wêreld. Hy was vir haar nog altyd die enigste op wie sy kon vertrou. Sy is baie lief vir haar pa en as hy iets oorgekom het, sal sy haarself dit nooit vergewe dat sy nie in die begin saam met hom na die Kaap gekom het nie … maar hy wou vir haar net die beste gehad het.
’n Skielike uitroep van die koetsier ruk haar uit haar gedagtes op. Dis buite al stikdonker en die lanternligte brand flou.
“Wat is dit?” roep sy deur die venster, maar sy kry nie die geleentheid om op ’n antwoord te wag nie. Sy ruk haar kop vinnig terug toe sy die gemaskerde manne op hul perde om die koets gewaar. Struikrowers!
Véronique kyk in die koets rond op soek na ’n wapen waarmee sy haar kan verdedig, en sug van verligting toe sy die klein, kort dolk in ’n leersakkie onder die koetsvenster gewaar. Sy gryp dit en steek dit tussen die voue van haar rok weg.
Die koetsdeur word hardhandig oopgeruk en ’n gemaskerde gesig verskyn in die opening. Die rower buig oor, kry Véronique aan haar pols beet en trek haar met geweld by die koets uit. Sy struikel oor die gras en bly op haar knieë staan, die dolk in haar hand vasgeklem. Sy staan stadig op terwyl sy die dolk weer in haar tabberd versteek.
’n Groot, fors geboude man kom na haar en stamp haar terug.
“Waar’s jou juwele?” sis hy.
“Ek dra geen juwele nie,” sê sy in ’n bewende stem.
“Moenie kaf praat nie! Werkers ry nie in koetse nie!” Die ander rowers staan nader toe hulle besef dat daar niemand anders is om te beroof nie. Die groot man praat verder: “Wie’s jou pa, duifie?”
Véronique lig haar ken.
“Le comte de Sévigné.”
Die rower kyk skerp na haar.
“Dit lieg jy!”
“Dit is die waarheid, monsieur,” antwoord die meisie bewerig. “Hy het verdwyn en ek kom nou van monsieur Lorraine af. Hy het my ’n werk as kamermeisie gegee. Ek het niks juwele of geld nie, monsieur …”
Die rower staan ’n paar sekondes lank na haar en kyk. Véronique vat die dolk vaster. As een van hulle iets probeer, sal sy haar verdedig.
Skielik bars die man uit van die lag.
Sy deins effens terug.
“Hoor julle dit!” brul hy vir sy makkers. “Die dogter van die comte de Sévigné werk as kamermeisie by monsieur Lorraine!”
Die ander begin saamlag en Véronique kyk verwilderd van die een na die ander. Sy begryp nie wat gaande is nie. Hoekom lag hulle daaroor?
“Daar is niks om oor te lag nie!” skreeu sy skielik.
Die leier kyk bejammerend na haar.
“Jy sal nog verstaan waarom ons lag, mademoiselle, jy sal gou genoeg baie goed verstaan … Bonsoir!”
3
Véronique sien asof in ’n droom hoe die rowers op hul perde klim en in die donker verdwyn. Stadig ontspan haar hand om die dolk. Dan word sy bewus van ’n jammerlike gekerm, en spoedig vind sy die koetsier tussen die bosse waar hulle hom vasgebind het. Sy sny die toue los en haal die doek van sy mond af.
Hy kyk dankbaar op na haar.
“Ek het voorwaar gedink my laaste dag breek aan, mademoiselle,” sê hy in ’n huilstem. “Hulle het my oorrompel asof ek ’n miskruier is! Ek kon my nie teen vyf van hulle verdedig nie!”
“Ons kon nie een iets uitrig nie,” sê sy gerusstellend. “Hulle is nou weg. Ons sal moet gou maak as ons nog die nedersetting wil haal.”
Hy kom orent en vryf sy gewrigte.
“Sulke satanskinders! Dis ’n sonde om so iets aan ’n ou man soos ek te doen! Ek gaan by monsieur Lorraine bedank, want dis die derde keer in twee maande dat so iets my oorkom!”
“Moet jou nie so ontstel nie, monsieur. Ons moet liewer nie langer hier vertoef nie. Die perde trap onrustig rond en nou-nou sit hulle nog op loop ook.”
Die koetsier drafstap na die vier perde wat snuiwend in die reën staan. Hy maak die teuels vas en help dan eers vir Véronique in die rytuig in voordat hy weer op die bankie plaasneem en die diere aan die draf kry.
Véronique sit terug teen die kussings, en met ’n frons dink sy aan wat gebeur het. Sy kan glad nie die rowers se vreemde gedrag begryp nie. Hier is iets baie eienaardigs aan die gang. Eers waarsku ’n wildvreemde matroos haar dat sy nie na haar pa moet soek nie, en nou vind die rowers haar situasie ’n groot grap. Sy wens daar was iemand wat vir haar meer lig op die saak kon werp. Sy verstaan niks van wat aangaan nie. Sy wil nou tot elke prys agter die geheim van haar pa se verdwyning kom.
Baie laat die aand kom sy by die Kasteel aan. Die groot hek is gesluit en moedeloos gaan sy terug na die koetsier.
“Wat moet ek nou maak?” wil sy bekommerd weet.
“Die Kasteel se hek word saans vroeg gesluit, mademoiselle. Hulle sal nie vir u oopmaak nie. Die enigste uitweg is dat u saam met my na ’n herberg gaan. Hierdie tyd van die jaar sal daar wel iewers ’n kamer vir u wees.”
Sy sug.
“Wel, daar is geen ander uitweg nie. Goed, ek sal saam met jou gaan.”
Tien minute later hou hulle voor die deur van ’n klein maar netjiese herberg stil. Die Blou Dolfyn is ’n goedkoop herberg en dis nie vir Véronique nodig om meer as een riksdaalder vir die nag se slaapplek te betaal nie. Sy wil nou net ’n kussing onder haar kop hê sodat sy kan slaap. Dit was ’n harde, vermoeiende dag vir haar, waarin daar baie gebeur het.
Die herbergier se vrou neem haar na ’n kamer en laat haar dan alleen.
Véronique gaan lê met haar klere en al op die bed en raak dadelik aan die slaap.
Toe sy die volgende oggend wakker skrik, het die koetsier reeds vertrek en ’n nota aan haar gelaat waarin hy verduidelik dat hy so gou moontlik by monsieur Lorraine moes gaan rapporteer.
Véronique kyk moedeloos na die nota. Gaan haar probleme dan nooit ’n einde kry nie?
Sy kam haar hare so netjies as wat sy kan, probeer die kreukels uit haar tabberd vee en gaan dan na onder, waar die herbergier se vrou ’n stewige ontbyt aan haar voorsit.
“U lyk beter vanoggend, juffrou,” sê die vriendelike Hollandse vrou.
Véronique glimlag floutjies. “Ek het heerlik gerus, dankie, madame.”
“Ek wil nou nie nuuskierig wees nie, juffrou, maar … waarom het u so laat hier aangekom?”
Véronique verduidelik wat die vorige nag gebeur het.
Die ou dame slaan haar hande saam.
“Genade! ’n Mens is ook nie meer jou lewe op hierdie paaie seker nie! Ek moes self al ’n paar keer mense verpleeg wat deur die rowers aangeval is.”
Véronique aarsel.
“Hoe lank is u al in die Kaap, madame?”
“Omtrent vier jaar. Waarom vra u?”
Die meisie twyfel skielik of sy die groot vraag aan die ou dame moet vra, maar as madame Schoonveld reeds vier jaar hier is, is dit net moontlik dat sy al van die graaf van Sévigné gehoor het. Sy laat haar vurk sak en kyk op na die ou tante.
“Het u dalk al van die graaf van Sévigné gehoor, madame?”
Madame Schoonveld glimlag ingenome.
“Natuurlik het ek! Dit was nou vir jou ’n gawe