Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk
SCHALKIE VAN WYK
Keur 12
Die liefde oorwin • Lokstem van die liefde • Man van lig en skadu
Melodie
Die liefde oorwin
1
Die rooi sportmotor skiet by hom verby, skuif brullend ’n entjie verder aan in die straat en kom tot stilstand. Sy klim uit, fyn en slank in haar ligte somerrokkie. Hy sien die goud van die son in haar hare, sien haar praat, weet daar is warmte in haar stem en oë toe sy oorleun om met die forsgeboude man agter die stuurwiel te gesels. Die sportmotor dreun weg en sy bly staan met ’n sagte glimlag om haar lippe.
“Verbrands!” sug Henk Retief sy misnoeë uit en voel hoe die magteloosheid en jaloesie in ’n seer knop op sy maag saamtrek. Hy rek sy treë en is net betyds om die tuinhekkie vir haar oop te maak. “Hallo, Ilse. Stap binne.”
Sy trek haar asem skerp in en lag bly op in sy oë. “Henk! Ek het jou nie eens gesien nie,” sê sy verras.
“Jy sou nie. Met Don Juan in die omtrek kan jy nie verder as jou eie neus sien nie,” praat hy bitter. Hy glimlag skeef om die krasheid van sy woorde te versag. “Jammer ek kon jou nie vandag oplaai nie, maar my motor is by die motorhawe.”
“Ek het vanoggend net ’n paar klasse gehad, en daarna het Bruce my na tannie Nicky-hulle toe geneem,” vertel Ilse terwyl hulle in die tuinpaadjie aanstap. Sy tik op haar boektas en glimlag innig op in sy oë. “Darem ’n bak mens, my tannie Nicky. Sy het vir my ’n pragtige bloesie present gegee; net die regte ding om saam met my nuwe blou romp te dra.”
“Die een met die skewe soom wat jy self gemaak het?” treiter hy haar.
“Bees!” raas sy laggend. “Jy wil dit net invryf dat ek en Sonja nie ’n reguit soom kan inwerk nie.”
“Waar is Sonja vandag?”
“Stad toe om ’n paar goedjies te koop. Sy sal seker netnou terug wees, want ons wil vandag in alle erns begin blok vir die eksamen.”
“Um. Dan gaan jy en Bruce seker nie vanaand uit nie?”
“Nee, maar ek sal moontlik later saam met hom gaan koffie drink. Jy weet mos al Bruce is die uitsondering,” glimlag sy.
“O, ek weet. Na vier jaar is vriend Bruce nog nommer een,” antwoord hy met ’n siniese trek om sy mond.
“Dis omdat hy die enigste man op universiteit is wat altyd … opwindend is. Jy weet tog ek gaan ook met ander ouens uit, maar na Bruce … Hulle verveel my net.”
“Arme ander ouens … Dis seker maar moeilik vir hulle om met Bruce en sy pa se baie geld mee te ding.”
Sy hoor die afkeer in sy stem en kyk vinnig op, en daar is ’n pleitende glimlaggie om haar vol lippe. “Geld is seker belangrik, Henk, maar ek hou ook van Bruce se geselskap. Hy behandel my altyd asof ek iemand heel besonders is.”
“Ek begryp,” antwoord Henk kortaf.
In stilte stap hulle die trap op van die ou rooibaksteenhuis wat in die Victoriaanse styl gebou is. Ilse loop saam tot by sy kamer op die eerste hoek, loop dan verder by nog ’n kamer verby na die groot hoekkamer wat sy met Sonja Odendaal deel.
“Ek wag vir jou!” roep Henk en sy knik woordeloos. Toe sluit sy die deur van die kamer oop.
Ilse Brink stap die ruim kamer binne, gooi haar boektas op die tafel voor die venster neer en skuif die geblomde gordyne verder oop. Peinsend stap sy na die wasbak in die hoek om haar hande te was. Sy kyk op in die diepblou van haar eie oë in die spieël bokant die wasbak. Haar oë is groot, byna amandelvormig, met donker wimpers wat skerp afsteek teen die goue blondheid van haar lang, loshangende hare. Die neusie is fyn bokant die vriendelike, wye mond, en daar is ’n beduidenis van ’n kuiltjie in haar pikante kennetjie.
“ ’n Volle een-en-twintig jaar oud, nie die lelikste wat ek al gesien het nie, byna deur die universiteit en nie verlief, verloof of getroud nie,” praat sy gedemp met haarself, draai dan onrustig van die spieël af weg en droog haar hande af. “Wat makeer jou, Ilse Brink?” sit sy haar alleenspraak voort. “Byna al jou klasmaats het ’n vaste verhouding, of hulle is al verloof en het trouplanne. Waarom nie jy nie?”
Maar diep in haar wese ken sy die antwoord, die waarheid waarvan sy altyd wegskram.
Sy stap na die spieëltafel, trek die borsel deur haar lang hare en kyk tevrede na haar hare wat in ’n natuurlike golwing oor haar skouers val. Gelukkig hoef sy nie in ’n haarsalon te boer nie. Sy kan dit in elk geval nie bekostig nie.
Sy byt op haar onderlip, onthou die bekende woorde uit haar jeugjare: “Ons kan dit nie bekostig nie.” Sewentien jaar op die klein erfplasie waar haar pa lankal ophou veg het teen die armoede, waar haar trotse ma ’n vergeefse stryd met hoenders en vrugte en groente voer om nog onder die dekmantel van ordentlikheid haar medemens in die oë te kyk.
Raap en skraap, meet en pas, bid vir die onmoontlike uitkoms wat môre mag bring … vir die onverwagte, maar gereelde besoeke van oom Leon, die suksesvolle advokaat en later regter, vir die begrypende tannie Nicky met die sagte oë en warm glimlag wat kan gee sonder dat vernederende dankbaarheid jou jou trots laat inboet.
Ek is dankbaar jy kan volgende jaar geld verdien, Ilse, het haar ma in haar jongste brief geskryf. Pieter is volgende jaar in matriek en Susan het alles nuut vir die hoërskool nodig. Ons hoop maar dit reën vroeg vanjaar, want verlede jaar was die vrugte maar klein en min met die bietjie reën.
Altyd armoede, dink sy driftig en stap heen en weer in haar kamer. Hoe het sy nie gehoop dat sy iemand hier sou ontmoet nie … ’n ryk man, die seun van ’n ryk man, iemand wat haar uit hierdie draaikolk van armoede sou verlos. Iemand soos Bruce Reyneke met sy duur sportmotor en sy pa se baie geld wat hy op enigiets uitmors …
Sy gryp haar hande saam, vryf met die duim van haar linkerhand in die handpalm van haar regterhand, staar skuldig in die oë van haar eie spieëlbeeld. Want sy weet dis nie reg nie – dis nie regtig sy nie. Maar wat moet sy doen? Haar ma se rumatiekhande, die voortdurende pyn in haar rug … Sy het rus nodig, sy het iemand nodig om ’n slaggie na haar om te sien. Maar daar is geld nodig vir Pieter en Susan, geld vir skool, geld vir verdere studie … en dit hang alles van haar af. En Bruce Reyneke is die enigste man wat dit alles vir haar kan gee …
Iemand klop sag aan haar kamerdeur. “Kom jy, Ilse? Tant Truia kry weer hoë bloeddruk as ons die kos laat koud word!” roep Henk.
“Ek kom!” roep sy skuldig en gooi die kamerdeur oop.
Hy hou sy hand uit. “Gee, ek sal sluit.”
Sy oorhandig die groot kamerdeursleutel, haar oë op die jong man se aantreklike, oop gesig. Sy hare is donkerbruin, sy voorkop hoog en intelligent. Die kort, reguit neus, groot mond en breë, vierkantige ken gee ’n sterk uitdrukking aan sy gesig. Hy kyk op toe hy die sleutel uit die deur trek en daar is ’n glimlag in sy grysblou oë.
“Wat kyk jy so, ounooi? Is daar ’n vuil streep op my wang?” skerts hy en gee die sleutel vir haar.
“Dankie. Nee, maar ek het net gedink jy is nogal ’n aantreklike ou. Hoekom het jy nie ’n vaste meisie nie, Henk?” vra sy.
Hy lag kortaf en stap saam met haar oor die stoep na die voordeur. “Omdat ek nie dink dis die moeite werd om ernstig te raak voordat jy in staat is om ’n vrou en kinders te bekostig nie!” spot hy, maar sy hoor die ondertoon van erns in sy stem.
Sy kyk verwonderd op na hom en sê huiwerig: “Jy is mos al ses-en-twintig, Henk. Jy is oud genoeg om te trou.”
“ ’n Mens is seker nooit te jonk om te trou nie,” lag hy. “Die paar jaar wat ek gewerk het voordat ek kom studeer het, het seker gehelp om my ouer te maak,” gaan hy voort.
Hulle stap deur die koel voorportaal na die eetkamer en hoor die geratel van kospotte uit die rigting van die kombuis. Henk trek haar stoel vir haar uit en neem dan teenoor haar aan die groot tafel plaas.
“Het jy al die regte meisie ontmoet, Henk? Tant Truia het vir ons van Babsie du Toit vertel – sy