Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk
foon skril in die voorportaal en sy rek haar treë. Sy lig die gehoorbuis op en bring dit na haar oor.
“Ilse Brink. Goeiemiddag,” sê sy onpersoonlik, maar vriendelik.
“A, my lentenooientjie,” praat Tobias Meiring se diep stem in haar oor. “Tobias hier, Ilse. Is jy baie besig? Gaan jy vanaand uit?”
“Tobias!” roep sy verras uit. Sy voel die wilde gebons van haar hart in haar ore en lag senuweeagtig. “Nee … nee, ek is van plan om te studeer, Tobias,” sê sy effens uitasem.
“Ek dink jou mooi koppie verdien ’n bietjie rus, my meisie. Ek kom jou tussen agtuur en halfnege vanaand oplaai vir so ’n klein etetjie hier by my … ’n klein partytjie. Wat sê jy daarvan?”
Sy hoor die warm besitlikheid in sy stem en sluk droog. “Ja, dankie, Tobias. Ek … sien vreeslik uit daarna.”
“Tot vanaand, my lentemeisie,” groet hy en sy hoor hom aflui.
Stadig en werktuiglik beweeg haar hand met die gehoorstuk terug na die voetstuk. Sy bly staan, en die drome huiwer in haar blou oë. Daar is ’n skadu van ’n glimlag om haar sagte, vol lippe.
Tobias! Tobias Meiring, die beroemde skilder, het haar na ’n partytjie uitgenooi! Sy skaterlag haar blydskap, gryp haar arms op haar bors vas, probeer haar geluk vertroetel. Tobias Meiring hou van haar … Hy móét van haar hou, want hy het haar persoonlik uitgenooi! Sy moet vir iemand daarvan vertel, al is dit net om seker te maak dat sy nie alles gedroom het nie. Sonja sal luister, Sonja sal verstaan. Dankie toggie, ou Sonja is terug.
Haar voete vlieg oor die breë stoep. Sy hardloop veerlig langs Henk en Tanya se toe kamerdeure verby en vlug by die oop deur van die hoekkamer in.
“O, Sonja!”
Sonja, wat by haar skryftafel sit, kyk vraend na haar kamermaat. Sy sien die warm, bly vonkeling in Ilse se oë, merk die sagte blos van opwinding op haar skraal gesiggie en sien haar in ’n spontane vreugdedans rondtrap.
Sonja lag begrypend en vra: “Kan ek raai? Ek wed jy is tot oor jou ore verlief op die wonderlikste man ooit – en hy het jou gevra om te trou!” Sy loer ondeund na Henk se kamer.
“Jy’s ’n bietjie te haastig,” lag Ilse tevrede, “maar dit is ’n wonderlike man wat my gevra het om vanaand saam met hom partytjie te hou … in sy eie huis.”
“Nie Tobias Meiring nie?” vra Sonja grootoog.
“Die einste hy! Maar hoekom lyk jy so verbaas? Het jy gedink dis so onwaarskynlik dat hy van my kan hou?”
“Nee – glad nie. Ek glo nie dit sal vir enige man moeilik wees om op jou verlief te raak nie, maar het dit regtig al so ver tussen jou en Tobias gevorder? Ek weet jy hou baie van hom, maar ek kon nie werklik glo jy is verlief op hom nie, en dat hy …” Sy swyg. Die kommer lê troebel in haar oë.
“Goeiste, Sonja, is dit nodig om so bedruk te lyk? Het jy nog nooit voorheen gehoor dat ouer mans op jong meisies verlief raak en met hulle trou nie? Dis nie ’n tragedie nie, mens!” sê Ilse onthuts, neem op die leunstoel plaas en swaai haar bene oor die een armleuning.
“O, ek weet van sulke huwelike, maar sal jy dit kan doen, Ilse? Sal jy met Tobias Meiring trou as hy jou vra?” kom dit ongelowig van Sonja.
“Ek … weet nie,” huiwer sy. “O, ek hou baie van hom, maar ek kan my nie regtig indink dat ek met hom sal trou nie. Ek bedoel, ek ken hom skaars, en dis moeilik om nou al te sê wat ek sal doen as ek werklik seker is van sy liefde. Maar dit sal ’n groot versoeking wees,” erken sy eerlik.
“Omdat hy ’n beroemde skilder is?” vra Sonja sag.
“Ja en nee,” antwoord Ilse ingedagte. “Eintlik is Tobias vir my die verpersoonliking van sekuriteit. Hy’s ryk en suksesvol. Hy kan my alles gee waarna enige meisie verlang.”
“Liewe land, Ilse, dink jy net ’n middeljarige man kan vir jou sekuriteit gee? Wat van my en Kobus? Dink jy ek voel nie veilig en gelukkig by hom nie?” vra Sonja ergerlik.
“Nee, maar jy het vir Kobus lief, en dit maak ’n verskil. Ek het niemand werklik lief nie, en as ek dan moet trou, trou ek liewer ter wille van sekuriteit … om dinge vir my ouers makliker te maak. Ek bedoel nie dat ek sommer met enige ryk man sal trou nie, maar as ek van hom hou, is dit meer as genoeg vir my. Is dit dan so verkeerd?”
Sonja kyk in stilte na die meisie op die groot stoel en skud haar kop. “Jy soek jou eie seerkry, Ilse, want rykdom en geld kan nooit opregte liefde vervang nie. Ek hoop net jy vind dit nie te laat uit nie.”
“Hoe kan ek as ek nie eens weet wat liefde is nie?” vra Ilse bitsig en stap sonder meer die kamer uit.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.