Schalkie van Wyk Keur 12. Schalkie van Wyk
ek glo nie Petro en Mariëtte sal albei daaroor jok nie.” Sy swyg en vervolg aarselend: “Dis net oor Bruce en daardie eerstejaartjie, Erna Hendriks … Dis dalk nie waar nie, maar Erna het glo vir Petro-hulle gesê sy en Bruce moet trou.”
Ilse glimlag sinies en sê doodgewoon: “Dis niks nuuts nie, Tanya. Sulke dinge gebeur daagliks, en sover ek weet, was daar al voorheen asters wat gesê het hulle moet met Bruce trou.”
“Enige meisie wat in die moeilikheid beland, sal seker graag ’n ryk ou wil vang,” begin Sonja ontsteld, “maar ek dink hierdie keer is dit Bruce wat ’n skuldige gewete het en paniekerig geraak het. Besef jy wat hy probeer doen het, Ilse? Hy is bang Erna se ouers dwing hom om met haar te trou, en nou probeer hy ’n haastige troue aan jou opdwing. Ek dink dis skandelik – so ’n wurm!”
“Dit kan nie anders wees nie,” beaam Tanya. “Laat Bruce wees wat hy wil, maar ek glo nie eens hy stel belang om met ’n meisie soos Erna te trou nie … Sy is selfs ’n bietjie te wild vir hom. Maar hy weet wat hy aan jou het, Ilse, daarom probeer hy nou om skielik met ’n ordentlike meisie te trou.”
“Dankie,” lag Ilse sorgeloos. “Dit kan my werklik nie skeel nie, Tanya. As ek eerlik moet wees, moet ek erken dat Bruce al voorheen van trou gepraat het, maar eers nadat ek my studie voltooi het – maar ek het hom nog altyd doodgepraat. Dis in elk geval Bruce en Erna se probleme, en wat my betref, is ek vir altyd klaar met Bruce Reyneke.”
“Ek glo nie hy is klaar met jou nie, Ilse,” waarsku Sonja bekommerd en tik senuweeagtig met haar regterhand se vingers op haar stoel se armleuning. “Jy sal moet versigtig wees, en as ek of Henk nie hier is nie, moet jy liewer ons kamerdeur sluit.”
“Nee, Sonja, ou Bruce is nou wel ’n bedorwe stukkie mens, maar ek glo darem nie hy sal my aanrand of ontvoer nie. Wil iemand saam met my nog koffie drink?” vra sy en staan op om die ketel aan te skakel.
Teen vyfuur Maandagmiddag stap Henk op die stoep uit en loop na die oop deur van die onderste hoekkamer. Hy sien Sonja by die skryftafel sit, reeds besig om koffie te maak, en glimlag tevrede.
“Ek dag ek ruik koffie!” skerts hy, bly in die deur staan en soek na sy pyp en vuurhoutjies.
“Ek het gewonder wanneer jy kom. Drink ons sommer buite?” vra Sonja en dra die twee bekers koffie deur toe.
Hy neem sy koffie en knik. “Ja, ons kan hier op jou en Ilse se pilaartjies sit. Maar waar is sy vandag? Ek het haar nog vroeër vanmiddag saam met jou by die tafel sien sit en werk.”
“Winkel toe,” antwoord Sonja terwyl sy op die pilaartjie plaasneem en proe-proe aan die warm koffie. “Ons het koffie en poeiermelk nodig gehad, en Ilse wou juis ’n paar dingetjies gaan koop het. Sy is sommer na die winkeltjie hier om die draai. Sy behoort nie lank te wees nie.”
“Die klein klits sal my ook nooit vra om haar êrens heen te neem nie, behalwe as dit stortreën of as sy die volgende dag ’n toets moet skryf. Sy’s ’n trotse entjie mens, en eintlik te onafhanklik,” maak Henk beswaar.
“Haar ma is ook so – sy aanvaar nie maklik hulp van ander nie. En tog, as iemand hulp nodig het, is Ilse gewoonlik die eers-te om te help. Sy het sowaar gedurende die naweek al Tanya se kunsgeskiedenis-aantekeninge vir haar oorgetik, en sy wou nie betaling hê nie omdat jy vir haar werk by Tobias Meiring gekry het. Sy sê sy het boonop nie meer die geld nodig nie, want sy gaan beslis nie saam met Bruce dans nie. Sy sal natuurlik nog na die skilder toe gaan, want sy sê hy het klaar met die eerste sketse begin.”
“Ek’s bly, want oom Tobias is ’n gawe mens. Hy is nog baie jonk van gees, al is hy eintlik ’n tydgenoot van my pa – die vroumense dink gewoonlik hy is vreeslik aantreklik. Wat sê Ilse van hom?”
“Wat al die ander vrouens sê, as ek jou moet glo. Sy dink hy is die wonderlikste man op twee bene!” lag Sonja.
“Sy’s nie dalk verlief op hom nie?” vra Henk en dwing homself om gewoon te praat ondanks die skielike onrus in hom.
“Ek sal glad nie verbaas wees as sy is nie,” antwoord die niksvermoedende Sonja. “Sy kry behoorlik sterre in haar oë as sy van hom praat. Hoe erg dit is, weet ek natuurlik nie. Gelukkig is Ilse ’n nugter mens, en sy sal wel terugkom aarde toe.”
“Hmm,” kom dit niksseggend van Henk.
Sonja kyk vinnig op. “Gits, Henk, jy gaan jou tog nie oor so ’n onbenulligheid ontstel nie? Jy weet self hoe jong meisies – en mans seker ook – is voordat hulle die regte maat ontmoet. Jy raak elke tweede dag op ’n ander ou verlief, en môre het dit weer oorgewaai. Ek dink Ilse is maar net vreeslik beïndruk met die suksesvolle skilder, wat boonop aantreklik en ongetroud is. Dit kan tog nie ernstig wees nie!”
“Ilse is nie ’n kinderagtige eerstejaartjie nie, Sonja. Sy’s mondig en eintlik ’n verstandige nooi. Boonop is Tobias Meiring nie blind of seniel nie. Hy sal ’n dwaas wees as hy nie kan sien hoe ’n oulike meisie Ilse is nie,” antwoord hy omgekrap en suig hard aan sy pyp, asof hy daardeur van sy kwellende gedagtes ontslae kan raak.
“Onsin, Henk! Tobias Meiring is in sy vroeë vyftigs – dink jy eerlikwaar dat Ilse op ’n man wat haar pa kon gewees het, verlief sal raak?”
Henk antwoord nie dadelik nie. Toe hy opkyk, lê daar kommer in sy oë. “Is dit werklik so onmoontlik, Sonja? Jy het saam met Ilse grootgeword, en jy behoort te weet waarna Ilse die sterkste verlang: sekuriteit, veral finansiële sekuriteit. Haar hele lewe lank moes sy haar ma sien stry teen die wurgende greep van armoede. Wat sal aanlokliker vir haar wees as ’n huwelik met ’n suksesvolle ryk man, ondanks sy ouderdom? Sy sal nie die eerste jong meisie wees wat met ’n middeljarige man trou nie.”
“Miskien nie, maar Ilse? Nee, ek twyfel tog of sy so iets sal doen. Waarom het sy dan nie met Bruce getrou toe sy die kans gehad het nie? Hy kon haar tog genoeg geld gegee het.”
“Geld, ja, maar nie enige ander sekuriteit nie. Ilse weet Bruce is ’n swierbol en dat ’n huwelik nie bindend vir hom sal wees nie. Tobias Meiring is ouer en verstandiger, ’n man wat haar wel sekuriteit sal kan gee as hy werklik vir haar lief is … maar eintlik is hy net ’n ouer uitgawe van Bruce. Hy kon nog nooit tevrede wees met die liefde van een vrou nie.”
“Nou, waarom is jy dan bekommerd?” lag Sonja verlig. “As hy net nog ’n Bruce is, sal Ilse dit wel agterkom. Boonop weet ek nie eens of Ilse werklik op Tobias verlief is nie. Ek het maar net so ’n vermoede.” Sy kyk ’n lang ruk ondersoekend na Henk en vra skerp: “Maar waarom is jy so bekommerd oor haar, Henk? Dis tog Ilse se lewe, en sy kan doen wat sy wil. Of is my vermoede dalk reg?”
Hy kyk vinnig, vraend op. “Watter vermoede?”
“Dat … jy lief is vir haar, Henk. Moenie dink ek is sommer nuuskierig nie, maar ek het nog al die jare so ’n gevoel gehad … dat jy eintlik meer vir Ilse omgee as wat jy wil laat blyk. Is dit net my verbeelding, of …?”
Hy lag gedemp en sy sien ’n donker gloed oor sy gesig kruip. “Jy is glad nie so dom nie – of dalk was ek nie so slim soos wat ek gedink het nie. Ek gee om vir Ilse, Sonja, of liewer, ek het die meisiekind lief vanaf die eerste dag dat julle twee hier ingetrek het.”
“Maar, Henk! Dis al byna vier jaar. Kon jy nie eerder vir Ilse daarvan vertel het nie? Ek bedoel, jy het haar dag vir dag gesien, haar by jou gehad en jy het haar nooit eens uitgeneem nie – behalwe as julle by tannie Nicky-hulle gaan kuier het, en dan het ek en Kobus ook dikwels saamgegaan. En al die jare het jy gesit en kyk hoe sy met talle ander mans uitgaan. Was jy nie eens bekommerd dat sy op een van hulle verlief sou raak nie?” vra Sonja onthuts.
Hy plaas die leë koffiebeker langs hom op die trap neer en suig ingedagte aan sy pyp. Dan sê hy rustig: “Nee. Ek kon sien watter soort meisie Ilse is, en al het sy dikwels uitgegaan, was ek nooit bekommerd nie. Ek het haar natuurlik fyn dopgehou, gesoek vir die sterre in haar oë as sy van ’n man praat. Soms was sy tydelik verlief op iemand, maar dit het altyd gou oorgewaai. Bruce was die enigste man wat my effens bekommerd gemaak het.”
“Maar as sy intussen op iemand verlief geraak het, iemand