Die verdwyning van Billy Katz. Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten


Скачать книгу
hy dan wakker skrik, moet hy opstaan, die lig aansit, badkamer toe gaan, koue water oor sy nat, koorsige gesig spoel, diep teue sluk, na die bottel en die pille soek, uitgaan buitentoe sodat hy Lente nie in haar slaap steur nie.

      Daar’s ander wat wag, sou hy weer aan die slaap raak. Hulle laat hom nie met rus nie. Hy slaap nie. Hy’s bang om te slaap. Hy ry sy nagmerries op pille, bier en die klaaglike wysie van die Buffels se huldelied, sing saam met Mike Batt: “We rode in the morning, we had taken up our guns, for the ashes of our fathers and the children of our sons!”

      Halfpad deur In the Dark voel hy die naarheid. Die wysers van die muurhorlosie sê dis ’n driekwartier nadat hy die laaste mond­vol tee gesluk het. Op tyd, eers die effense lighoofdigheid, dan die naarheid. Dis die twee padtekens dat sy fantastiese reis begin het, agter die wit haas aan, die haasgat in.

      En nou is hy ineens so gelukkig, want daar’s nog so baie paaie wat hy wil bewandel en hy wil die wêreld omhels en teen hom aan­druk en hy wonder: Hoe kon God alles so perfek geskape het? Al die planete en al die sterre van die Melkweg so in gelid, elke sel in sy liggaam so jubelend van vreugde? Hoe kan elke atoom van elke molekule soveel skoonheid en prag uitstraal? Hoe kry tyd dit reg dat alles nie gelyktydig gebeur nie? Hoe kan dit wees dat elke ding in hierdie wêreld sy eie vaste tyd het? Wat is daardie storie van tyd? Ja, ’n tyd om gebore te word, om te sterf, om te plant, ’n tyd om te huil, en te lag, en te treur, en om van blydskap te dans, ’n tyd om stil te bly, en te praat, ’n tyd om lief te hê, en te haat, ’n tyd vir oorlog, en vir vrede, ’n tyd om ’n lewe te red, en baie fokken tyd om ’n lewe te neem.

      7

      Mona kyk alleen na die deel van die video wat sy misgeloop het.

      Onder die wit lig waar Heidi doenig is, laat die kleur van die hart Mona aan die binnevleis van ’n ryp pruim dink. Hulle het destyds so ’n groot pruimboom agter in die erf gehad. Elke lente was daai boom oortrek deur die pienk bloeisels met hulle pers hartjies.

      Die boom is selfs op een van haar tuisvideo’s, want dis ’n be­langrike baken op die gesin se stamperige pad. Dieselfde video bevat ook die enigste beeld van haar man wat sy bewaar het; Pottie lê botstil, sy gesig en kop ’n swart blerts in die boom se skadu, die bok­melker reeds met sy donker siel op pad hel toe.

      Op die skerm zoem die kamera uit om vir TV-kykers ’n wyer blik te gee. Dit beweeg stadig weg van die skalpel waarmee Heidi met delikate bewegings wit vetweefsel van die hartspier af­skraap. Al hoe meer ander detail kom in sig: die hopie vet en ander weef­sel op die disseksiebord, watte, lappe, ’n spuitbottel met gedistil­leerde water, links van die hart ’n iPad en ’n boek, Finkbeiner se geïllustreerde Autopsy Pathology: A Manual and Atlas, oop by hoofstuk 6: “Special Dissection Procedures”. Regs verskyn die skink­bord met instrumente, ’n groot spesimenfles, ander glas­bekers en wyebekbottels en retorte van wisselende vorms en groottes. Die kamera verskuif verder, na Rakker wat agter by die lyk­tafel die bors­vel met groot rygsteke toewerk en die kadawer dan in een van die yskaslaaie instoot.

      Daar was vir haar lang jare van persoonlike beproewing wat haar geloof tot die uiterste getoets het, maar nooit afvalligheid nie. Elke Sondagoggend was sy en haar twee dogtertjies op hulle plek in die Immanuel-kerk. Daar het sy die krag gekry om aan te gaan, om nie te gaan lê nie, om haar sterk te hou sodat sy nie swig voor Pottie en sy akkoord met die duiwel nie.

      En hulle is steeds elke Sondag in pastoor Flippie se kerk, sy en Vera en Heidi en Rakker. En saans op haar knieë bid sy ook vir al die mans wat die onregte pleeg. Sy bid nie genade af vir hulle donker siele nie, maar vra dat hulle aan haar uitgelewer sal word.

      Sy verstaan wat Hy van haar verwag, wat haar plig is in sy groter plan. Sy het ná intense wroeging en baie gesprekke met Hom tot die oortuiging gekom dat Hy haar as instrument gebruik, dat Hy haar uitgesoek het omdat sy ’n sterk vrou is wat ’n swaar las kan dra, soos sy in haar sewe dekades al herhaaldelik bewys het. Hy belas jou nóóit met iets swaarders as wat jy kan dra nie, Hy ken tog elkeen se krag; het Hy dan nie elke mens self geskep nie?

      8

      Stallie bied aan om Stink Attie na die polisiekunstenaar te vat vir die ID-skets sodat Ella in Linden kan uitkom. Nou bekyk sy die huis hier van die sypaadjie af. Wat sy oor die muur kan sien, lyk soos ’n tipiese ou Linden-huis, waarskynlik uit die vyftigs toe die buurt die Boere-Houghton gedoop is. Soos baie ander moes dié erf ook gehersoneer word van woonplek tot PEPLER & ROOS, INVESTIGATORS & SECURITY CONSULTANTS, soos dit ewe vernaam op die geelkoperbordjie staan.

      Die soliede hek is van ou spoor-dwarslêers in ’n staalraam. Sy wens sy kan sien wat ágter die formidabele jarra aangaan … ’n paar slobberende pit bulls wagtend op haar sappige kuitvleise, elkeen skaars ’n bek vol?

      Sy druk die interkom, loer na die lens bo teen die muur – selfs ’n sekuriteitskonsultant het respek vir Gauteng se boewe. Agter haar is die dreuning van middagverkeer, om haar die stank van warm rubber en teer en uitlaatgasse.

      Dieselfde vriendelike vrouestem. “A, adjudant Neser. Kom gerus in.”

      “Is hier honde?”

      Onderdrukte laggie. “Nee, net ’n kat. En hy byt nie.”

      Die hekslot klik. Die tuin is ’n rustige oase van struike en blom­beddings en ’n dammetjie waarin koi lui tussen waterlelies dryf. Drie trappe tot op die stoep met ou sebravel, hangmandjie met rooi malvas, los kussings op ’n houtbank (lyk na oregon), twee wit rottangstoele. Op een van die stoelkussings lê ’n gemmerkat op­gekrul, poot oor gesig gedrapeer: Moenie steur nie!

      Die voordeur staan oop, die portaal ruim en koel toe sy in­stap, duidelik herbou en vergroot tot ontvangsarea. Agter die ontvangs­tafel (van geelhout) glimlag ’n jongerige vrou en beduie na ’n riempiestoel (van stinkhout). “Sit solank, hy’s net gou op die foon.”

      Sy kruis haar bene en bekyk die naamplaat teen ’n toe deur: LOURENS PEPLER. Nog een teen ’n tweede toe deur: WILLEM ROOS.

      Sy erken dit openlik: sy’s ’n agie. Sy hou daarvan om rond te kyk, haar omgewing te verken, haar lang neus in ander mense se goed te steek, in private hoekies te snuffel.

      Teen die mure hang geraamde kleurfoto’s van knolle wat lyk of hulle in klam, donker plekke hoort. Is dit swamme? Party herken sy as paddastoele. Of is dit sampioene? Die foto’s is duidelik met groot sorg en duur lense geneem. Dramatiese spel van lig en skadu, mikrodetail van tekstuur en kleur.

      Die ontvangsdame beduie haar na die LOURENS PEPLER-deur, hou dit vir haar oop. Hy kom van agter om sy lessenaar aangeslenter, ’n sweem van ’n glimlag om sy oë en lippe, dalk so middelveertigs.

      “Vat boodskappe, Phumi. En iets te drinke sal lekker wees, dankie.” Hy hou ’n hand na Ella uit. “Koffie, tee, sap, water?”

      Sy vat die hand en glimlag vir Phumi. “Koffie, dankie. Swart, son­der suiker.”

      Sy vingers is verbasend skraal, die handdruk ferm sonder om haar handbeentjies te probeer vergruis. Hy gaan sit op die ander gastestoel. Dis ’n verrassing. Sulke mans is mos geneig, veral ná ’n kwasterige telefoongesprek, om die besoeker uit ’n posisie van gesag te probeer intimideer, daar uit sy groot stoel wat sê: Baas van die Plaas. Probeer hy opmaak vir sy ongeskiktheid?

      “So, jy’s die beroemde adjudant-offisier?” Hy bekyk haar ge­amu­seerd, asof hy ’n antwoord verwag.

      Sy swyg. Wat moet sy sê? As sy beroemd is, is sy beroemd.

      ’n Kuggie. “Jy’s aantrekliker as op die koerantfoto’s.”

      Sy swyg steeds. Sê hy haar koerantfoto’s is lelik? Sy voel ’n warm gloed in haar wange opstoot. Of probeer hy haar net uitlok? Sy besluit om hom, vir eers, ’n blos en die voordeel van die twyfel te gee.

      Sy draai haar blik van hom weg om die res van die vista in te neem. Lyk of hy goed doen sedert hy die polisie gelos het. Die ruim kantoor, sonnig verlig deur die boogvensters agter sy lessenaarstoel, was seker eens die sitkamer van die ou woonhuis, steeds met die gedrukte tinplafon, kroonlyste


Скачать книгу