Die verdwyning van Billy Katz. Chris Karsten

Die verdwyning van Billy Katz - Chris Karsten


Скачать книгу
blok van net drie verdiepings, son­der hysbak. Hy klim die trappe na die derde en klop aan Nommer 311. Niemand maak oop nie, ook nie inwoners agter buurdeure nie.

      Weer drie verdiepings af. Kry die faktotum se woonstel aan die einde van ’n donker gang. Hy druk die knop langs die veiligheidshek. Binne begroet ’n histeriese gekef die deuntjie. Lou sug. ’n Ou man met ’n toy pom-gevreet in die vou van sy arm maak oop. Die brak hap en kef deur die tralies na Lou; hy voel sy nekhare rys.

      En hy wag. Onmoontlik om ’n gesprek te voer. Met groeiende moerigheid staan en betrag hy die ou man se flou pogings om die brak te paai – kielie hom met ’n krom vinger, fluister in ’n harige oor. Hy ril toe die brak die superintendent met sy pers tong begin lek, oor sy verrimpelde ou gesig, oor sy blou lippe, geplooide wang, beaarde neus. Dieselfde pers tong wat seker flussies nog sy eie brak­balletjies skoongelek het, miskien ook sommer die super se ver­rimpelde ou knaters.

      Dié gluur nou beskuldigend na Lou. “Wat soek jy? Besoektye is tussen …”

      Lou hou sy SAP-ID uit. “Woonstel 311, Juliana Maria Beyers.”

      “Sy’s op vakansie, kom eers die naweek terug.”

      “Vandag is Vrydag, watter naweek?”

      “Môre se naweek. Kan jy later terugkom, tussen vyf en ses? Is sy in die moeilikheid?”

      “Net as sy ook ’n hond het.”

      “Jy’s nie ’n hond-man nie, nè?”

      “Nee,” sê Lou met die wegstap, “ek’s ’n kat-man.”

      Sondagmiddag net ná vier is hy terug by die woonstelblok. Eintlik is hy van diens af, maar dis ’n goeie tyd om iemand tuis te kry. Sesuur se koers wil hy terug wees by sy eie plek, vir sy persoonlike stiltyd.

      Hy klop, wag. Verbeel hom hoe hy deur die glasoog in die deur bespied word. Sy maak eers op sy tweede klop oop. Net op ’n skreef, die veiligheidsketting steeds vas.

      “Ja? Wat verkoop jy?”

      “Niks, ek …”

      “Is jy van Jehova?”

      “Nee, ek’s van moord-en-roof.” Hy hou sy polisie-ID op.

      “Sersant Pepler,” lees sy hardop. “Kom jy my arresteer, sersant Pepler?”

      “Miskien. Is jy Julia?”

      “Ja. Wat het ek gedoen?”

      “Het jy ’n hond?”

      “Nee.”

      “Dan kom ek jou nie arresteer nie. Maar dalk kan jy my met ’n saak help. Oor ’n vermiste persoon.”

      “Is die vermiste vermoor, of het hy die moordwerk gedoen?”

      Moordwérk?

      “Kan ek inkom? Net ’n paar minute, sukkel al die hele week om jou in die hande te kry.”

      “Is ek veronderstel om die vermiste te ken?”

      “Ja, Billy Katz. Ek het goeie rede om te glo jy ken hom.” Van Trojaanse faam, wil hy byvoeg.

      Sy druk die deur in sy gesig toe. Hy hoor hoe sy die ketting bin­ne afskuif. Die deur gaan groot genoeg oop vir hom om in te gaan.

      “Waar het jy my naam gekry?”

      “In Billy se blyplek in Rosebank.”

      Sy het lang hare tot oor haar skouers, met ’n middelpaadjie ge­skei en die kleur van plaasroom. Room uit ’n bottel, nie uit ’n speen nie, merk hy aan die nuwe vaalbruin groei weerskante van die paadjie. Sy’s mooi sonder om ’n skoonheid te wees. Oë ligbruin, wange rond, lippe vol, ook die lyf. Veral die lyf. Kan haar en haar manjifieke boesem onder die T-hemp maklik in Billy se Porsche indink, en veral in sy bed, met daai harde, puntige nippels waarmee jy glas kan sny.

      “Daar’s nog van sy bier in die yskas, wil jy een hê?”

      Lyk nie of Billy se verdwyning haar té erg kwel nie, as sy die man se bier aan ander, vreemde mans begin uitdeel.

      “Het jy sap, miskien beet?”

      “Wat!” Sy bekyk hom ’n oomblik geamuseerd, stap dan by die smal kombuis in. Nie plek vir meer as een lyf op ’n slag nie, nes syne. Hy leun teen die kosyn.

      “Diet Coke?” Sy haal ’n literbottel uit die yskas en skink twee glase. Ook sy, soos mevrou Katz, bied nie keuses aan nie; jy vat wat jy kry, of los. Hy is dors en vat die glas by haar.

      “Wanneer het hy weggeraak?” vra sy.

      A, tog geïnteresseerd. Hy volg haar terug sitkamer toe en sê vir haar rug: “So tien dae gelede.”

      Sy beduie na ’n stoel. “Dan kan jy my nie arresteer nie, ek was toe met vakansie. Jy sal ’n ander ontvoerder moet gaan soek.”

      “Wanneer het jou vakansie begin?”

      “Ek’t Saterdag 2 Oktober gery.”

      “Billy het sy ma laas op Vrydag 1 Oktober gebel. Waar was jy daai Vrydagaand?”

      Sy staar na hom. “Herre, sersant, maar jy werk dit fyn uit. Daai Vrydagaand … laat ek sien.”

      Hy kyk hoe sy maak of sy diep dink.

      Sy skud haar kop. “Nee, ek’s bevrees jy hét my, ek het nie ’n alibi nie. Dis mos wat julle dit noem, nè? Ek was alleen hier in my woonstel. Ek het ’n paar bokse uitgepak en toe my tas vir die vakansie ingepak. Kyk, daar staan van die bokse nog.”

      Dis ’n ongemaklike stoel met ’n regop rug en hy verskuif sy boude om sy sit te probeer kry. Daar’s ook nie ’n sytafeltjie nie. Hy moet sy glas op die vloer sit en afbuk as hy ’n sluk wil vat, met die lêer en notaboek wat elke keer van sy skoot wil afgly.

      “Maar julle was goeie vriende, sover ek kan agterkom,” sê hy. “Báie goeie vriende, julle was ’n item. Hoekom was julle nie die Vrydagaand voor jou vakansie bymekaar nie? Hoekom gaan hou julle nie sáám vakansie nie?”

      Sy sug. “Ja, dis wat ek vir hom was: ’n item. Hy’t baie items gehad, ek was maar net een.”

      “Julle was nie meer saam nie?” Hy skryf in sy notaboek. “Wan­neer het dit gebeur?”

      “Die uitval was vroeër daai week. Dis hoekom ek besluit het om verlof te vat, om weg te kom van hom af.”

      “Waar’t jy vir Billy gaan wegkruip?”

      “Op ’n skaapplaas in die Kamdeboo.”

      Hy kyk na haar. Waar de moer is die Kamdeboo. “Skaapplaas?”

      “Ja,” sê sy, “sulke wollerige goed met vier pote. My ouers boer daar. En my broer. Wil jy bel om te hoor of ek lieg?”

      Hy skud sy kop. “Miskien later, as dit nodig is. Dis net bietjie vreemd dat julle albei dieselfde naweek weg is. Jy Kamdeboo toe, Billy in die lug opgeraap. Hoe lank was julle saam? Jy ken seker sy vriende, veral sy vyande? Het hy vyande gehad, van wie jy weet?”

      “Baie mense word vir hom kwaad, want hy’s ’n selfsugtige, arro­gante windgat. Maar ook sjarmant, niemand bly lank vir hom kwaad nie. Hy’s nie ontvoer nie, sersant, hy jol iewers saam met ’n nuwe girlfriend. Jy mors jou tyd.”

      “Waaroor het julle baklei?”

      “Wie sê ons het baklei?”

      “Jy sê julle het ’n uitval gehad. Wat het gebeur?”

      “Luister, sersant, ek ken Billy baie goed, ek weet presies hoe sy akkedisbrein werk. Ek was net nog iemand wat verower moes word, net nog ’n kerfie aan sy bed se kopstuk.”

      “Goed, help my dan met ’n profiel.”

      “Profiel? Ja, ek kan jou ’n mooi profiel van Billy gee. Wat wil jy weet? Dis eintlik maklik, Billy is nie ’n komplekse karakter nie. Hy’t


Скачать книгу