Ena Murray Keur 8. Ena Murray
toe sy die lang, bewende skaduwee van die flikkerende liggie teen die mure en gordyne gewaar. Sy trek haastig uit, en toe sy oomblikke later onder die laken inkruip, weet sy dat sy nie gou aan die slaap sal raak nie. Met haar hande agter haar kop gevou, gee sy haar gedagtes vrye teuels.
Is dit toeval dat die slot aan Anton se deur nie werk nie? Was dit toeval dat hy per ongeluk sy koppie tee uitgestort het? Dit klink ’n bietjie vergesog. Het Carlyle gelyk as hy sê dat Anton de Woud, indien hy dan nie self hul gasheer is nie, iets met hom te doen het, miskien met hom saamwerk?
Irma sien dat dit reeds amper kwart oor tien op haar wekkertjie langs die bed is, en sy blaas die kers dood. Toe sy weer terugleun, kan sy byna nie glo dat dit nog maar haar eerste dag op Drakeneiland is nie. Daar het vandag soveel plaasgevind. Dit klink byna onmoontlik dat alles in die bestek van ’n paar uur kon gebeur het. Sy dink daaraan hoe saai en eentonig en eenders die dae op kollege verbygegaan het. Elke dag was dieselfde. Maar vandat sy met die gasheer van Drakeneiland te doen gekry het, was daar nog nie een vervelige oomblik nie. Elke sekonde was tot dusver gevul met opwinding en spanning en … vrees …
’n Beklemmende gevoel neem van haar besit. Hoewel sy dit heftig ontken en haar bes doen om dit te ignoreer, was daar die afgelope dag voortdurend ’n vae vreesgevoel in haar aanwesig. En dis of dit, met die koms van die nag, net verdiep.
Sy besef ook met ’n skok: waar sy nou lê, is haar hele liggaam gespanne en daar groei ’n afwagting in haar … Waarop? Sy trek die laken en kombers stywer om haar vas. Dis of sy wag op iets, iets om te gebeur. Haar kamer is pikdonker, want sy het vergeet om die gordyne voor die venster oop te trek. Maar sy het nie die moed om op te staan en daarheen te loop nie.
Hoe lank sy so gelê het, weet sy nie. Sy moet van skone vermoeienis ingesluimer het, toe dit gebeur …
Een oomblik was sy nog tussen slaap en wakker. Die volgende oomblik staar haar oë groot en rond die stikke duisternis in. Dan begin die koue angssweet op haar voorkop en handpalms uitslaan, terwyl haar asemhaling in haar keel verstok. Sy lê soos ’n roerlose standbeeld terwyl sy luister … luister na die murgdeurdringende angskrete wat deur die nagstilte klief.
6
Deur ’n waas van vrees besef Irma dat die gegil nie binnekant die huis is nie, maar van buite af kom. Dit word ook vir haar duidelik dat die ding, dier of mens wat daardie afgryslike geluide maak, nader aan die huis beweeg – want die geluid raak al harder. Vasgevang asof deur onsigbare boeie lê Irma roerloos, totdat dit vir haar klink asof die ding by haar in die kamer is. Een oomblik is die geluid brutaal dierlik, en die volgende oomblik verander dit in ’n jammerlike gekerm van ’n mens wat in die grootste angs en pyn verkeer. En dit kom al nader …
Sy span haar in om te hoor of daar ’n geluid van die ander kamers af kom, maar binne-in die huis is dit grafstil. Sou die ander dit dan nie ook hoor nie? wonder sy beangs. Stadig, uiters versigtig, klim sy uit die bed, beweeg vinnig op haar kaal voete na die muur wat haar en Anton se kamers van mekaar skei, en hamer met haar vuiste daarteen. Maar hy beantwoord nie haar klop nie.
Meteens verstil haar hartklop toe die onaardse geluide reg onder haar venster opklink. Met naakte vrees in haar oë spring sy na die deur en begin wanhopig daaraan ruk, terwyl ’n angsvolle gil oor haar lippe stort. Tevergeefs stamp sy met haar vuiste teen die deur, terwyl sy oor haar skouer na die venster staar. Elke oomblik kan daardie gordyne weggeruk word en sal die ding, wat dit ook al mag wees, deur die venster klim.
Haar gegil moet sy aandag getrek het, want meteens is dit stil, vreesaanjaend stil.
“Help my! O, asseblief, help my!” smeek sy skor teen die deur. En dan sterf die woorde op haar lippe weg toe die geluid van brekende glas deur die kamer weerklink. Hoewel sy niks kan sien nie, hoor sy hoe die ruitskerwe op die vloer versplinter, en sy wring haar liggaam stywer teen die onbeweeglike deur vas. Sy haal nie meer asem nie, en elke vesel in haar lyf is met ontsettende angs gevul, terwyl sy wag dat die gordyne oopgetrek moet word. In die stilte kan sy die duidelike, swaar asemhaling van die ding voor die venster hoor. Dis of dit van inspanning hyg, en sy besef dat hy die sterk ystertralies voor die venster probeer oopbuig.
“Irma!”
Die geroep dring eindelik tot haar deur. Sy maak haar mond oop, magteloos om ’n geluid te uiter.
Meteens bars ’n verwoede geskreeu, tesame met ’n deurmekaar geroep, voor die venster los sodat Irma se ore daarvan tuit. Die deur agter haar gaan oop, maar sy kom dit skaars agter. Die geraas voor haar venster is nog oorverdowend en die man wat ongesiens die kamer binnegekom het, staan ’n oomblik besluiteloos stil. Hy skrik toe ’n witgeklede gedaantetjie skielik op hom afstorm en hom om die nek gryp.
“Carlyle! O, Carlyle, dis verskriklik!”
“Irma! Jy is veilig!”
Hy hou haar styf vas en voel hoe haar liggaam deur snikke geruk word. In die lig van sy flits kan hy die ruitskerwe op die vloer verstrooi sien lê. Hy druk haar sag maar vinnig van hom af weg. Die verwoede gegrom het nou in ’n jammerlike gekerm oorgeslaan – maar skielik is dit weer stil … senutergend stil.
Hy wil na die venster hardloop, maar Irma klem hom histeries vas.
“Nee! Nee! Moenie weggaan nie!”
“Ek sal nie weggaan nie. Ek wil net gaan kyk wat dit was,” paai hy, maar sy klou hom nog stywer vas.
“Nee! Nee! Moenie!”
Toe hy haar eindelik sover kry dat sy hom laat gaan, is kosbare minute verspil. Toe hy die gordyne oopruk, en sy flits deur die ystertralies na buite laat skyn, is hy nie verbaas om niks te sien nie. Net so geheimsinnig en skielik as wat die nagtelike besoeker gekom het, het die vreemdeling weer verdwyn. Carlyle verbleek toe sy aandag deur die gebuigde ystertralies getrek word. Wat dit ook al was, die besoeker moet bomenslike krag besit om sulke dik ysterstawe só te buig. Daar is meteens sweet op sy voorkop. Nog eens laat hy die lig oor die grond reg onder die venster speel, maar daar is geen spoor te sien nie, want die grond is hier baie hard. Sleepmerke lê egter oral, net asof daar hewig gestoei is. Carlyle vloek gedemp. As hy net eerder by die venster kon kom …
Hy trek weer die gordyne dig en steek dan die kers op. In die bewerige liggie kyk hy en Irma woordeloos na mekaar. Die ontsettende angs van ’n paar minute gelede is nog duidelik in haar oë te sien. Hy voel magteloos om haar gerus te stel, want daar is ’n koue vrees in sy eie hart.
“Wat … wat was dit, Carlyle?” vra sy eindelik fluisterend, terwyl sy sy hande vasgryp.
“Ek kon niks sien nie, maar dis nou weg. Jy hoef nie meer bang te wees nie,” antwoord hy gerusstellend. “Miskien is hier in hierdie wêreld nog roofdiere,” sê hy hoewel hy weet dat geen roofdier ystertralies kan buig nie.
Maar Irma laat haar nie so maklik gerusstel nie.
“Dit was geen roofdier nie, Carlyle. Dit was … iets anders.” Haar oë is groot en rond.
“Kom nou, meisie. Jy het groot geskrik. Kom, probeer weer slaap.”
“Nee! Nee, Carlyle, asseblief! Ek … ek gaan nie alleen hier bly nie,” smeek sy en gryp hom om die nek vas terwyl haar hele liggaam van vrees bewe.
Hy hou haar styf, gerusstellend vas en kyk besluiteloos om hom rond.
“Dan … dan moet jy na my kamer kom. Ek sal in jou kamer slaap,” stel hy voor, maar ’n stem in die deur laat hom vinnig omswaai en net betyds keer Irma ’n gil op haar lippe.
“Dit kan nie gedoen word nie.”
Anton staan in die deur. Sy klere is vol stof en grond, en sy hare deurmekaar. Hy kom vinnig nader toe hy die vrees op Irma se gesig sien.
“Moenie meer bang wees nie. Alles is nou reg,” sê hy kalmerend, maar Carlyle hou haar net stywer vas en kyk hom openlik agterdogtig aan.
“Waar kom jy vandaan?”
“Van buite af,” antwoord Anton kalm en gaan sit op die kant van die bed, terwyl hy ’n pakkie sigarette te voorskyn bring.
“Dan