Ena Murray Keur 8. Ena Murray

Ena Murray Keur 8 - Ena Murray


Скачать книгу
sug en vee moeg oor sy oë voordat hy antwoord: “Ongelukkig nie. Dit was te donker. Ek moes net op gehoor gaan.” Hy kyk na Irma. “Alles is reg, Irma. Jy kan gerus probeer slaap. Dit sal nie weer gebeur nie.”

      “Jy klink baie seker,” sê Carlyle.

      Anton kyk stip na hom.

      “Ja, ek is seker dat daar nie weer vannag iets sal gebeur nie. En nou moet ek jou versoek om na jou kamer te gaan. Ons mag nie toelaat dat ons gasheer agterkom ons kamers se slotte werk nie. Een van die huiswerkers het vanaand, nadat ons kamers toe is, al die deure nagegaan om te kyk of hulle toegetrek is, maar hy was nalatig genoeg om nie die slotte na te gaan nie. Ons moenie sy aandag daarop vestig nie.”

      Hy lig sy kop en luister, verstyf dan. “Hier kom iemand aan. Gou! Ons moet na ons kamers! Irma, klim in die bed en haal diep en swaar asem soos een wat ’n verdowingsmiddel inhet.”

      “Maar …”

      “Komaan, daar is geen oomblik te verspil nie. Hulle kom kyk of ons nie van die geraas wakker geword het nie. En jy bly in jou kamer.”

      Soos spoke glip die twee mans by die deur uit, en Irma blaas vinnig die kers dood. Sy lê roerloos en nou kan sy ook die naderende voetstappe hoor. Dit huiwer by elke deur in die gang en sy doen haar bes om Anton se opdrag uit te voer. Sy haal diep en swaar asem. Toe die voetstappe by haar deur kom, hoor sy hoe hulle tot stilstand kom, en die persoon na haar staan en luister. Blykbaar tevrede dat alles binne reg is, begin hy aanstap, maar draai dan weer skielik terug en sy hoor hoe die slot aan haar deur oopgesluit word.

      Dis net met die grootste selfbeheersing dat sy daarin slaag om haar asemhaling nog diep en swaar te hou, so reëlmatig moontlik.

      Toe hoor sy hoe die deur geluidloos op sy skarniere oopswaai. Met ’n hart wat verstil van vrees, sien sy deur haar wimpers die lig van ’n flits oor die glasskerwe op die vloer speel. Die sagte voetstappe gaan by haar bed verby en dan hoor sy hoe die gordyne oopgeskuiwe word. ’n Oomblik speel die lig oor die geboë ysterstawe, en dan word die gordyne weer diggetrek. Sy sluit haar oë vinnig toe die lig in die rigting van die bed swaai, en ’n sekonde lank, maar vir haar soos eeue, voel sy dit op haar gesig. Dis net die onbeskryflike vrees wat haar weerhou om haarself te verraai. Dan beweeg die voetstappe in die rigting van die deur en sy hoor hoe dit op slot getrek word.

      Oomblikke later word haar deur versigtig oopgemaak en sy hoor Anton fluisterend roep: “Irma, dis ek. Moenie skree nie.”

      Sy sit bewend orent. In die lig van die flits kan hy haar wasbleek gesiggie en die oë wat groot van angs is duidelik sien. Hy sit haastig ’n stoel voor die deur sodat dit nie miskien toeslaan nie, en dan is hy met twee tree by haar en neem haar in sy arms. Sy is nie in staat om te praat nie, maar die vinnige, onreëlmatige hartklop so dig teen syne vertel hom genoeg van die angs wat sy deurgemaak het.

      Sy lippe roer troostend teen haar slape. Gerusstellend streel sy vingers deur haar kort krulle totdat hy voel hoe die ergste spanning haar verlaat. Hy laat haar gemaklik in sy arms teruglê met haar kop teen sy skouer, en in die flou liggie van die flits wat op die tafeltjie langs die bed lê, is sy gesig net ’n dowwe vlek bokant haar.

      Wie is Anton de Woud werklik, vra sy haarself magteloos af. Wat is sy rol in al hierdie vreemde gebeure?

      “Irma, glo jy werklik ook soos Carlyle Faure dat ek met al hierdie dinge iets te doen het?” vra hy reguit. En hoewel die vrees ’n knop in haar keel vorm, laat sy oë haar nie toe om iets anders as die waarheid te praat nie.

      “Ja, Anton.”

      Hy kyk haar stip aan, sy mond meteens streng, ongenaakbaar. “En dit sal seker nie help as ek jou op my woord van eer die versekering gee dat dit nie die geval is nie?” sê-vra hy.

      Sy antwoord hakkelend: “Dis baie gevra, Anton. As … as jy my vertel wie jy werklik is en hoekom jy hier is, sal … sal ek miskien jou vreemde optrede verstaan.”

      “Maar anders sal jy eerder na Carlyle Faure luister en my verdoem.” Hy swyg ’n oomblik, trek skielik sy arms van haar af weg en staan op. “Nou maar goed, Irma. As jy dan Carlyle Faure se woord bo myne verkies, dan is dit tot daarnatoe. Een ding moet jy my egter belowe, asseblief.”

      Sy kyk vraend op, en hy vervolg op afgemete toon: “As die dag aanbreek dat jy besef jy was verkeerd, dat ek nie is wat jy dink ek is nie, moet jy hier plegtig belowe om my vir jou wantroue om verskoning te vra. Is dit te veel gevra?”

      “Nee. Ek … belowe.”

      “Dankie. Dit kan gouer wees as wat jy dink.”

      Sy stem is ongenaakbaar. Hy talm nie langer nie, maar draai kort op sy hakke om en verlaat haar kamer, terwyl sy hom net verslae kan agternastaar.

      Sy is byna dadelik spyt dat sy so eerlik aan hom erken het sy vertrou hom nie. Hoewel sy hom vrees, wek sy teenwoordigheid altyd ’n gevoel van veiligheid by haar.

      Maar dis nie net háár gedagtes wat om Anton de Woud bly sirkel nie. Carlyle Faure het nie na sy kamer teruggekeer om sy onderbroke nagrus voort te sit nie. Hy het met sy oor teen die muur gestaan en luister na die voetstappe totdat hulle weggesterf het. Toe het hy sy deur op ’n skrefie oopgestoot en gesien hoe Anton de Woud weer by Irma se slaapkamer in verdwyn. Hy het ’n oomblik gewag en toe hy die gedempte stemme hoor, het hy nader gesluip. Met sy lyf styf teen die gangmuur gedruk, het hy die gesprek tussen Irma en Anton afgeluister. Hy het die gode gedank dat Anton, toe hy teruggekom het, blykbaar so ontstig was dat hy nie links of regs gekyk het nie, maar reguit na sy kamer gegaan het – want anders sou hy sekerlik die donker skaduwee teen die muur gewaar het.

      Carlyle het versigtig vorentoe begin beweeg en toe vinnig skuiling agter Irma se deurkosyn gesoek, want Anton se kamerdeur het skielik weer oopgegaan …

      Carlyle span sy oë in om stip in daardie rigting te staar, terwyl hy sy asem ophou. Hy weet, sonder dat hy hom sien, dat Anton de Woud in sy kamerdeur staan. ’n Lang oomblik wag hy roerloos, terwyl die stilte en duisternis om hulle soos ’n versmorende newel hang. Dan hoor Carlyle hoe die deur skaars hoorbaar toegetrek word en hy waag dit om vinnig om die deurkosyn te loer. ’n Lang, donker skaduwee sluip geruisloos die gang af, in die rigting van die woonvertrek. ’n Oomblik later verdwyn dit, en Carlyle beweeg nou eers weer die eerste keer. Toe hy versigtig die deur oopstoot, gewaar hy dat die voordeur op ’n skrefie oopstaan en ’n flou maanligstreep oor die vloer val.

      Hy huiwer. Hy weet dat dit baie gewaag is, en dat Anton de Woud hom heel moontlik aan die ander kant van die deur staan en inwag. Maar hy durf nie langer versuim nie, uit vrees dat hy hom heeltemal uit die oog sal verloor – en vanaand is dit ’n obsessie by hom om homself nou eenmaal ten volle te oortuig dat sy agterdog jeens hierdie man nie net blote antagonisme is nie.

      Daarom beweeg hy nou vinnig op sy tone nader na die voordeur. Hy ruk dit vinnig oop, terwyl hy laag buk om ’n moontlike hou teen sy kop te ontduik. Maar daar is niemand nie. Hy kyk vinnig om hom rond en instinktief beweeg hy dan versigtig in die rigting van die toring. Hoewel hy sy lyf so styf moontlik teen die muur druk, weet hy dat hy duidelik sigbaar behoort te wees vir wie ook al in sy rigting kyk.

      Hy verwens die flou skynsel van die maan. Toe hy eindelik die hoek bereik, sien hy sowat honderd meter voor hom ’n beweging langs die draad. Hy sug verlig, want hy het net begin dink dat hy die spoor byster geraak het. Maar die stuk aarde tot by die agterste twee ysterhekke, identies aan die twee aan die voorkant, is kaal en onbebos en lê bleekwit in die maanlig.

      Carlyle kyk op en sien dat hy kort onderkant een van die vensters in die toring staan, maar die oorhang van die dak werp ’n skaduwee oor die muur. Hy besef dat, al sou Anton de Woud of selfs iemand uit die toring, in sy rigting kyk, hulle hom nie sommer sal opmerk nie.

      Met skrefiesoë span hy hom in om die bewegings by die hek te volg. Waarna sou die man soek? wonder hy verbaas. Die gestalte by die hek buk telkens neer op sy hurke, asof hy iets op die grond bestudeer.

      Meteens verstyf die spiere in Carlyle se rug toe hy die tweede keer sien hoe die twee swaar ysterhekke, asof deur ’n spookhand, oopgedruk word. Die besef flits deur sy kop dat Anton


Скачать книгу